FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

“Ek het nie geweet wat om te verwag nie”

Met haar eerste besoek aan Eugene de Kock in Pretoria Sentraal-gevangenis was Anemari Jansen nie seker wat om te verwag nie.

Toe haar boek, Eugene de Kock: Sluipmoordenaar van die staat (Tafelberg, R250) op my lessenaar beland, was ek ook nie seker wat om te verwag nie. Ek het die hofsaak rondom De Kock in die koerante gevolg en het ’n spesifieke beeld in my kop geskep oor wie en wat hy is. En toe kom daar die verrassing nadat ek Jansen se boek gelees het. Dit het my ’n ware kykie gegee in die agtergrond van hierdie man wat in die algemeen as Prime Evil bekend staan. Sy het die verhaal by sy kinderdae gaan haal en stelselmatig haar pad deur sy lewe gewerk. Dis ’n boeiende boek en nie alles wat jy lees, is maklik om te verteer nie. Van die gebeure wat beskryf word, is grusaam en vul jou met weersin. Maar soos wat De Kock se geskiedenis onthul word, besef jy niks is ooit net swart of wit nie. Mense is kompleks en daar steek meer in hoekom hulle is soos hulle is as net die ooglopende redes. Jansen sê oor hierdie proses: “Ná drie jaar se spoorvat om Eugene se lewe te dokumenteer, dink ek anders oor baie dinge. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Nie vir Eugene de Kock nie en ook nie vir my nie.” Vir my ook nie. Jansen het my laat dink oor baie dinge, die boek is die lees werd.

Ek het per e-pos met Anemari Jansen gesels.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Jy skryf in die eerste hoofstuk “In 2011 het ek my in die niemandsland van ’n ongeleefde lewe bevind en my daardie jaar voorgeneem om myself uit te daag.” Waarom het jy gevoel jy het ’n ongeleefde lewe?
Ons kinders was byna uit die huis, ek was sewe en veertig en het besef dat ek die geleentheid het om nuwe uitdagings aan te pak.

Was die skryf van hierdie boek die uitdaging, en was dit vir jou op ’n persoonlike vlak dit werd?
Absoluut. Ek het aan twee boeke gelyk begin werk, my roman Glipstroom wat in 2014 gepubliseer is deur Human &Rousseau, asook die Eugene de Kock boek. Beide was ’n uitdaging en die skryfproses het my onherroeplik op nuwe paaie gestuur.

Jy sê ook dat jy net uit nuuskierigheid ’n eenmalige besoek saam met Piet Croucamp aan die tronk wou bring. Waarom het dit in meer as net die enkele besoek ontwikkel? Wat het jou geprikkel?
Na die eerste besoek aan Pretoria Sentraal gevangenis het ek besef dat ek nie veel van Eugene de Kock weet nie. Ek het hom toe gaan Google. ’n Primordiale beeld van boosheid het verskyn, so reg in die kraal van genl. Mannetjies Mentz in Christoffel Coetzee se boek Op soek na Generaal Mannetjies Mentz. Dit het nie gestrook met die mens wat ek voor my gesien het die vorige week nie. Dit het my geboei. Ek wou meer weet.

Hoe het jy die skryf van die boek benader, en kon jy geredelik toegang kry tot inligting en mense?
Ek het drie jaar lank navorsing gedoen. Deur my kontak met Eugene het ek heelwat oudlede van die SAP ontmoet (van generaals tot operateurs) en daaruit het onder andere ’n reeks artikels gevolg oor lede van die voormalige onluste-eenheid, Eenheid 6, vir die e-tydskrif Nongqai. Ek het ’n hongerte ervaar om meer te weet oor die dinge wat eintlik aan die gebeur was, terwyl ek besig was om groot te word in apartheid Suid-Afrika.

Wat was die moeilikste van die boek vir jou?
Ek sou sê die gedeeltes oor Vlakplaas waar ek objektief met materiaal oor wreedheid en moord moes werk.

Was dit ’n emosionele proses om ook introspeksie te doen oor jou eie Afrikaner-wortels en herkoms?
Die skryf van die boek was ’n inisiasieproses vir my. Ek het grootgeword, die lewe in die oë gekyk en geleer dat daar ’n wonderlike en vreesaanjaende wêreld op jou wag as jy maar net bereid is om te waag en die eerste tree uit jou gemaksone te neem. Van die ontmoetings wat uitstaan was diè met Pumla Godobo-Madikizela (sy het die boek A human being died that night geskryf na aanleiding van haar ontmoetings met Eugene na die WVK) en Candice Mama (dogter van een van Vlakplaas se slagoffers, Masilo Mama). Ook interessant is dat ons ’n vrouespan was wat aan hierdie mansboek gewerk het: my uitgewer Annie Olivier en redigeerder Annemarie Mischke.

Het jy verwag dat jy van Eugene de Kock sou hou?
Ek het eerlikwaar nie geweet wat om te verwag met daardie eerste besoek nie.

Watter politieke insig het sy verhaal aan jou gegee?
Dat ’n mens nie moet staatmaak op dit wat die media aan ons opdis nie, maar self ondersoek gaan instel om tot beter insig oor ons land en sy uitdagings te kom.

Was daar ’n punt tydens die skryf van die verhaal, waar jy gevoel het jy kan nie aangaan nie?
Nee, glad nie.

Wat wil jy hê moet lesers oorhou uit hierdie verhaal?
Die besef dat ons almal maar mense is wat die saad van goed en kwaad in ons saamdra. Begrip, vergewensgesindheid en versoening is nodig.

Wat lê nou vir jou voor skryfsgewys?
Ek het so ’n idee of twee beet, maar natuurlik is navorsing vir eers my voorland.