FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

“Ek is ’n skryf-vampier” – Dibi Breytenbach.

Dié regsgeleerde skryf nie maklik in daglig nie. Haar dag begin wanneer sy soggens halfdrie die lig aanskakel om nuwe karakters en hul stories op papier lewe te gee. Dis in die vroeë oggendure wanneer sy skryf, want anders is daar net nie tyd daarvoor in haar gestruktureerde lewe nie.

In haar jongste boek, Vrediger (Lapa Uitgewers, R215) weef sy ’n boeiende spanningsverhaal met ’n aweregse hoofkarakter. Willem Maarschalk is nie ’n ridder op ’n wit perd nie, al skoei hy sy lewe op die van ’n ware outydse ridder.

Op die omslag van Vrediger word hy so beskryf: “Maarschalk is geen soldaat nie; net ’n kruppel prokureur met ’n ridderlike ingesteldheid wat in die verkeerde eeu gebore is.” Hy het gevlug uit die stad nadat sy huwelik in duie gestort het en hy ’n praktyk op Hlonyane in Zoeloeland gekoop. Daar kan hy sy wonde lek terwyl hy elke dag die pyn van sy beserings en letsels ná sy motorfietsongeluk moet hanteer. Maarschalk “is heeltemal te laat gebore [... ] In die regte eeu sou hy perdgery het en nie motorfiets nie, net soos William Marshal, sy Engelse naamgenoot en rolmodel van agt honderd jaar vantevore. Dié ridder sou op ’n spierwit perd gery het.” Nou moet hy omsien na die belange van sy grootste en belangrikste kliënt, die ryk suikerbaron Johannes Kleinveldt. Ten spyte van die ongeluk voel Maarschalk steeds soos ’n ridder op sy ysterperd.

In die dramatiese openingstoneel van die verhaal word Maarschalk gekonfronteer met ’n groteske moord op Kleinveldt se plaas. Die boer het hom eerste in kennisgestel, nie die polisie, nie want die plaaslike politiek is ontstuimig en die boer wantrou die polisie se onpartydigheid. Kan Maarschalk sy kliënt beskerm, terwyl die polisieondersoek sleur? Nes dinge in ’n rigting ontwikkel word Kleinveldt bloedig vermoor in sy eie huis. Is dit ’n plaasmoord of wat gaan werklik aan? Die verhaal ontvou stuk-stuk uit Maarschalk se vertelling en daar is verskeie verrassende kinkels wat jou aan die lees hou tot die laaste blad. Op daardie punt beleef Maarschalk vrede, maar vir hoe lank? Ek kon nie die blaaie vinnig genoeg omblaai van die onvoorspelbare verhaal met sy onridderlike hoofkarakter nie en het dit vinnig opgeslurp. Ek hoop daar is in die toekoms nog ’n verhaal waarin Maarschalk ’n rol sal speel.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Ek het per e-pos met Dibi Breytenbach gesels.

Wie is jy en wat doen jy?
Ek is ’n regsgeleerde wat al die afgelope twintig jaar in die strafregstelsel werk. Ek is getroud met nog ’n regsgeleerde en ons het twee tieners in die huis.

Hoekom het jy begin skryf en waarom juis spanningsverhale?
Goeie vraag. Ek skryf nog aan en af my hele lewe lank. Trouens, as ek vandag terugdink aan my heel eerste beroepskeuse was dit dié van ’n skrywer. Ek moes egter eers ’n “regte”werk kry (skrywer Carla van der Spuy sê mos ek het ’n regte werk …!) en so het ek in die howe beland.

Natuurlik is dit iets waaroor ek vandag uiters dankbaar is, want mense en hul beweegredes fassineer my eindeloos. In die howe leer ’n mens mense op hulle mees basiese en weerlose vlakke ken. Ek dink egter ek moes eers ’n bietjie meer volwasse word en ook meer empatie aanleer voordat ek regtig kon begin skryf.

Waarom spanningsverhale? Ek vermoed die genre het mý gekies. Ek is ’n ywerige leser van spanningsverhale vir ontspanning. Daarby is ek baie in die hof. Ek dink enige regsgeleerde wat tyd in die howe deurgebring het, sal saamstem as ek sou sê dat hierdie soort storielyne deel van ’n mens se DNS word. Om te vra “hoekom, wat, waar, hoe, wanneer” en veral “wat as” raak tweede natuur.

Waarom die eenwoord titels van Saliger en Vrediger?
Saliger en Vrediger is beide ironiese titels. Saliger hamer op onheilighede wat in die naam van heiligheid gepleeg word. Vrediger aan die ander kant het onder andere betrekking op die hoofkarakter se algehele onbewustheid van die donker kant van sy gekoesterde bestaan.

Waar het die inspirasie vir Vrediger vandaan gekom?
Die Magna Carta! Toe ek verlede jaar begin werk het aan die manuskrip was dit die agthonderdste herdenking van die Magna Carta waarin die koning van Engeland, John die Eerste, ook bekend as ‘Bad King John’ en ‘John Lackland’ deur sy baronne gedwing is om hul regte tot grond en eiendom te erken. Dit het natuurlik nie lank gehou nie, maar die gees van die idee dat niemand bo die reg verhewe is nie, selfs nie eens die koning nie, kon nie weer in die bottel teruggedruk word nie.

Dit was ’n era propvol intrige en interessante karakters wat vir alle praktiese doeleindes net so op vandag se omstandighede van toepassing gemaak kan word. Ek het koning John se naam geleen vir die karakter van die boer, Johannes Kleinveldt. Sonder om die storielyn weg te gee, kan ek noem dat koning John ’n baie getroue en goeie adviseur gehad het met die naam van William Marshal. Dié ridder het werklik gelewe. Die ironie in ‘Vrediger’ word onder andere gevind in die teenstrydighede tussen die karakter van William Marshal en dié van die hoofkarakter in die storie, Willem Maarschalk.

Moes jy navorsing gedoen het vir die verhaal en hoe het jy dit aangepak?
Beslis. Ek het myself verdiep in Middeleeuse geskiedenis. Google was tot ’n groot mate my vriend. Daarby het ek baie staatgemaak op die BBC se herdenkingspublikasies van die Magna Carta. Ek het die biografieë wat Elizabeth Chadwick, Richard Brooks en Thomas Asbridge oor William Marshal geskryf het, ook al drie verslind. Die ou kêrel was ’n indrukwekkende karakter!

Is jy ’n gedissiplineerde skrywer met ’n vaste roetine?
Om vir Carla van der Spuy weer aan te haal – ek het ’n “regte” werk ook. Dit laat my met relatief min skryftyd wat EK maar goed moet bestuur. Omdat ek eintlik van ’n lui ingesteldheid is, verkies ek om eerder elke dag ’n klein bietjie werk te doen as ’n groot klomp op een slag en daarom werk die woordtellingtegniek vir my. Ek probeer elke dag voor ek gaan werk ten minste 1 500 woorde skryf wanneer ek aan die eerste “draft” van ’n manuskrip werk. Alhoewel dit beteken dat ek redelik vroeg moet opstaan (02h30), vind ek dat as ek dit nie so doen nie, ek glad nie sal skryf nie. Die res van my dag is te gestruktureerd. Om die waarheid te sê is ek al so gekondisioneer dat ek dit moeilik vind om in daglig te skryf. Ek is soos ’n skryf-vampier.

Maarschalk is nie die perfekte ridder op wit perd nie. Waarom hom “imperfections” gee?
Arme Maarschalk. My hart bloei vir hom. Hy is eintlik ’n goeie ou wat sy weg probeer baan deur ’n tyd in ’n land wat te vinnig verander het vir hom om by te bly. Sy maniere is ouderwets en hy het ’n sterk chauvinistiese streep, maar hy probeer ten minste sy ridderlike plig doen. Hy is iemand met wie ek persoonlik kan identifiseer; iemand saam met wie ek moontlik op skool of universiteit kon wees. Ons oumas en oupas was jong mense in die Tweede Wêreldoorlog en hulle oumas en oupas was jong mense in die Anglo Boereoorlog en ons geslag is eintlik baie ouderwets grootgemaak. Ons voorbeelde het baie besliste geslagsrolle gehad. ’n Man moes ridderlik wees en ’n vrou moes ’n dame wees. Dit is teen hierdie agtergrond wat ’n mens Maarschalk moet beoordeel. Hy sukkel om sy voete in die een-en-twintigste eeu te vind. Dit vorm deel van die ironiese inslag van die storie.

Was hy jou gunsteling in die boek of is daar ’n ander karakter wat vir jou uitstaan?
Ek het ’n baie sagte plekkie vir Koot, die verstandelik gestremde broer van die plaasboer, Johannes Kleinveldt. Hy’s ’n eksentrieke dog relatief onskuldige siel. Die karakter van Hendrik, wat in “Saliger” ’n meer prominente rol gespeel het, is ook vir my spesiaal. Ek hoop om iewers in die toekoms ’n boek aan hom te wy.

Was dit makliker om die boek uit ’n manlike perspektief te skryf?
Inderdaad. Die tema van ridderlikheid is baie duidelik in “Vrediger” en dit sou vir my tot ’n mate vals gewees het om die verhaal uit ’n vroulike perspektief te skryf. Een van die ironieë wat sterk na vore kom, is hoe irrelevant die tradisionele beskouing  van die hulpelose “damsel in distress” in die moderne konteks geraak het. Die karakter van Nyx Swan, ’n kandidaatprokureur en Maarschalk se prokureursklerk, weier byvoorbeeld deurlopend om hom toe te laat om hom soos ’n ridder te gedra.

Is dit emosioneel moeilik om grafiese misdaadtonele te skryf?
Dit is ’n moeilike vraag. Ja en nee. Ja, want sulke tonele is, soos die Engelse sê, not a walk in the park. Dit daar gelaat. Nee, want ek, soos baie ander professionele lui in die stelsel, moes uit noodsaak die vermoë ontwikkel om ’n afstand tussen myself en die toneel te plaas sodat ek my werk kan doen. Dit is soos om die prentjie tydelik deur iemand anders se oë te sien. ’n Mens gaan huil maar agterna in jou binnekamer.

Werk jy tans aan ’n nuwe verhaal?
Ja, ja en ja! Ek hoop om die manuskrip voor die einde van September vir keuring voor te lê. Tans is ek nog goed op skedule en behoort, as alles goed gaan, binne die volgende maand deur die eerste draft te wees.