FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Ek vind genesing na my lewe as ’n seksslaaf

Jare gelede is sy as jong meisie ontvoer en as ’n seksslaaf aangehou. Vandag probeer Elanie Kruger ander mense help om nie dieselfde paadjie te loop nie.

In die boek, Van Skoolbank tot Bordeelbed (Jonathan Ball Uitgewers, R200) skryf Jaco Hough-Coetzee ’n gedramatiseerde weergawe van die gebeure toe Elanie Kruger net 16 jaar oud was.
Hy verduidelik hoe die skryfproses verloop het: “Sowat 80 % van die situasies in die storielyn is gegrond op Elanie se verlede en getekstualiseer in my woorde. Nuwe situasies moes egter geskep word ter wille van ’n volledige, dramatiese storielyn. Byvoorbeeld het Elanie geen idee hoekom haar broer se vriend haar daardie aand by die bordeel gaan aflaai het nie. Ek moes dus sy handeling motiveer met ’n fiktiewe storielyn. Die slothoofstuk is ook fiktief. Dit was vir my belangrik om haar emosie destyds as 16-jarige seksslaaf in die boek weer te gee. Verder het ek probeer om die tydsera in Bloemfontein in die vroeë 1990’s, waar die verhaal grootliks afspeel, so getrou as moontlik te skets. Vandaar die veelvuldige verwysings na destydse straatname, geboue en plekke, asook die musiek en flieks wat toe gewild was.”
Dis ’n skokkende en aangrypende verhaal van mishandeling en gruwelike skending van menseregte. Jy kan nie anders as om geraak te word deur haar verhaal nie en staan verwonderd aan die einde van die boek dat sy alles oorleef het en die moed en oortuiging het om haar verhaal self te vertel. In die tweede deel van die boek praat sy self oor haar gevoelens en hoe dit haar jare geneem het om die gebeure te verwerk en weer heel te word. Sy wil hierdeur uitreik na ander slagoffers om hulle aan te moedig om genesing te vind.

Ek het per e-pos met Elanie Kruger gesels oor haar lewensreis.

Waarom wou jy die boek skryf?
Mense moet besef mensehandel gebeur nie net oorsee nie, maar daagliks in Suid-Afrika reg om ons; dit het meer as 18 jaar gelede met my gebeur en dis nog steeds aan die gang. Elke ses ure word ’n kind vermis in Suid-Afrika en mensehandel het ’n aandeel daaraan. Jare gelede wanneer ’n kind vermis is, was dit hoofopskrifte, nuusberigte, en op melkkartonnetjies. Vandag hoor ons net nie meer daarvan nie, en wat doen jy as ouer as jou kind vermis word, waarheen gaan jy? Wie skakel jy? Wat doen jy? Dis belangrik dat ouers en kinders besef wat mensehandel is en hoe groot dit in Suid-Afrika is.

Het jy streng by die gebeure gehou soos wat dit gebeur het in die eerste deel van die boek, of is van die gebeure gedramatiseer?
Ons het meestal by gebeure gehou omdat dit so was, tussen 15 tot 20 mans ’n dag, wat jou slaan, vasmaak aan beddens, jou verkrag oor en oor vir ’n paar rand! My liggaam was daagliks gemartel. Wanneer jy nie wou doen wat ’n kliënt wou gehad het nie, is jy aan jou hare nakend na die ontvangs toe gesleep waar baie kliënte gesit het en dan is jy deur die eienaars verkrag en gemartel. Ons wou, en het dit so eerlik en brutaal gemaak as moontlik, want dit is realiteit.

Nadat jy gehelp is om uit die bordeel weg te kom, het jy daarna nog kontak gehad met die mense wat jou gehelp het?
Ek het, maar nie vir lank nie. Ek moes aanbeweeg en ’n nuwe lewe opbou. Ek moes my skoonmaak van alles en probeer die stukkies optel. Ek is dankbaar vir mense soos hulle wat uitreik en probeer help. Hulle lewens was ook in gevaar: sou die eienaars ooit uitvind hierdie mense help slagoffers soos ek, was dit net moeilikheid vir hulle

Wat was die moeilikste van jou stryd om van dwelms bevry te word?
Die onttrekkingsimptome was die ergste. Ek het myself bevry in die hotel nadat ek ontsnap het. Soms sou ek in die stort of bad wakker word met koue sweet wat afloop. Tot vandag kan ek nie alles onthou van daai paar dae wat ek myself skoon gemaak het nie. Die pyn waardeur my liggaam gegaan het, was ’n werklikheid sodat ek myself kon bevry. Die eensaamheid! Die alleenheid, maar ek het dit gedoen! Jy weet nie wat om volgende te verwag as jy by jou bewussyn is nie: naarheid, hoofpyn, liggaamspyne, en dan die aggressie wat gepaard gaan daarmee. Dis asof jy iemand anders is, asof iemand anders binne in jou baklei vir dit wat hy soek!

Is dit steeds ’n proses van aanvaarding en werk aan jou eie waarde, of het jy wat gebeur het agter jou gesit en fokus op die toekoms?
Mens kom nooit oor so iets nie. Dit gaan alles oor vergifnis, vergewe jouself, die mense wat jou aangehou het, die kliënte en oor ’n keuse. Ek het ’n keuse gehad, bly ek daar sal ek doodgaan, vlug ek het ek ’n kans! Ek het vir baie jare met die etiket op my voorkop rondgeloop….”ek was ’n prostituut”. Dit het my waardes en uitkyk op die lewe geknak, totdat iemand eendag net eenvoudig vir my gesê het, ek was ’n slagoffer en ek moes myself bevry. Ek moes myself weer ontdek en leer liefkry, die rou en seer moes ek eenkant toe skuif en myself ontdek. Dis bitter moeilik, maar tyd genees altyd. Vir jare het ek nagmerries gehad oor sekere aande, en dit het my lewe baie swaar gemaak. Ek moes myself bevry van alles.

Was dit vir jou maklik om weer ’n man in jou lewe toe te laat en te vertrou, in ag genome hoe mans jou misbruik het in die bordeel?
Dit was, maar met tyd moes ek leer vertrou. Dis nie maklik nie, selfs vandag nog. My huwelik het sy draaie en seer en soms is dit moeilik om te onderskei tussen liefde en “lus” of dan nou die behoefte aan seks. Ons almal as mens wil tog geliefkoos word en bemin word, en dit was vir jare baie moeilik om te onderskei. Ek is geseën met ’n wonderlike man wat my al vir jare dra en ondersteun en goed verstaan!

Om as spreker op te tree oor dit wat met jou gebeur het en om die slaggate aan mense uit te wys, wat beteken dit vir jou?
Dis wannneer jy vir mense die werklikheid vertel, paar voorbeelde gee en van sake waarmee ons al gewerk het, daardie realiteit. Wanneer jy besef as jy met ’n gehoor van ouers en kinders praat, jy iemand in daardie gehoor se lewe al klaar red.

Wat is die grootste les wat jy geleer het uit alles wat met jou gebeur het?
Om nie die wêreld te vertrou nie. Dat geld ’n mens baie naar en lelik maak, dat die mens in ’n ander mens se oë nikswerd kan word weens geld. Dat die behoefte aan geld ’n ongelooflike marteling is, en dat die menswees vir ’n ander NIKS kan beteken juis vir GELD nie.

Hoe het jy en Jaco Hough-Coetzee die skryf van die boek aangepak? Het jy nota’s gegee of was dit onderhoude?
Ek het my manuskrip self geskryf vir my uitgewer (Jonathan Ball) en daarna het hulle die skrywer gekry. Ek en Jaco het paar keer ontmoet; dan het hy vrae gevra uit die manuskrip en daaraan gewerk. Soms het ons telefonies gesels, dan sou hy ook vrae vra en ek sou antwoord. Jaco het van my manuskrip af gewerk en dit net verwerk in ’n roman.

Het die skryf van die boek ook vir jou meer vrede in jou lewe gebring?
Absoluut, dit het genesing en vrede gebring. Ek moes wel maar weer sekere situasies beleef en tye van bittere stryd, maar deur dit het ek genees en gesond geword. Ek kon alles neerpen en myself skoonmaak binne. Dit het lank gevat, maar ek hoop en GLO dat my boek baie kinders en ouers sal aanraak, en dat hulle sal besef dat dit nie net oorsee gebeur nie, maar reg onder ons neuse, daagliks!

Elanie Kruger tydens 'n onderhoud op Kwêla - klik op die video om die onderhoud te kyk

Elanie Kruger tydens ‘n onderhoud op Kwêla – klik op die video om die onderhoud te kyk