sr1009jurie_els_6_
Boeke

Uittreksel uit Jurie Els se outobiografie

Die sanger Jurie Els se outobiografie, Ver van Vrede, is van 1 September op die winkelrakke. Hy het die laaste hoofstukke terug by sy huis in Nieu-Seeland voltooi ná die hofsaak waarin hy onskuldig bevind is aan klagtes van onsedelike aanranding op die jong sanger Robbie Klay toe dié nog nie 16 jaar oud was nie.

“Ek weet dat enigiemand wat nog twyfel of meer wil weet van wat in die hof gesê is, nou die boek kan optel en uitvind. Dis ook belangrik dat my kinders, eendag as hulle ouer is, kan lees wat werklik gebeur het,” vertel Jurie in die September-uitgawe van die tydskrif SARIE.

Hy wys daarop dat die boek ook heelwat humor in het. Dit gaan nie net oor Robbie en die binnewerkinge van die Afrikaanse musiekbedryf nie, maar vertel ook van Jurie en Hestrie se liefde en hoe hy verskeie kere verlief geraak en een keer amper getrou het voordat hy sy droomvrou ontmoet het.

Hier is ’n uittreksel waarin hy vertel oor sy amper-trouvrou wat hy in 1986 ontmoet het toe hy ‘n proef-onderwyser was.

By Vrede Hoërskool ontmoet ek vir Madelein Strydom. Sy is ’n jong Engels-onderwyseressie uit Virginia se wêreld. Sy is 22, nes ek. Sy’s pragtig, baie mooi gebou en het ’n wilde bos lang rooibruin krulhare wat my mal maak . . . Ons raak vinnig verlief en dis die begin van ’n lang verhouding. Maande lank is ons onafskeidbaar. Ons bestee elke oomblik wat ons kan in mekaar se geselskap . . .

In 1987 kry ek ’n permanente onderwyspos en begin skoolhou by die Hoërskool Menlopark. Madelein kom een naweek na my toe in Pretoria en ek gaan die volgende naweek na haar toe in Vrede. So hou dit maande lank aan. Almal begin sê:  “Nou het Jurie sy trouvrou ontmoet.” Madelein dink ook so. Maar ek raak bang. Ek het nog te veel drome om te vang, ek kan nie in hierdie stadium van my lewe al aan trou dink nie. Ek verduidelik aan Madelein dat ek van kleins af reeds weet dat ek musiek wil maak en nog eendag beroemd gaan word. Ek wil nie in die onderwys bly tot ek oud is nie. Sy deel nie my sentimente nie. Sy voel trou is belangriker as ’n spul drome wat ek dalk nooit eens gaan verwesenlik nie. Haar gevoel is dat ek tevrede behoort te wees met my toekoms in die onderwys.

Die gevolg is dat ons saam besluit om ons verhouding te beëindig. Dit maak bitter seer. Tog kan ek nou fokus op dit wat ek in my lewe wil bereik. Ek besluit dat ’n verhouding nie weer in my pad gaan staan nie. Ek wil musiek my lewe maak en ek gaan voluit daarvoor. As ek dit dan alleen moet aanpak, is dit reg met my. Ek sal aan trou en kinders dink nadat ek my drome gevang het.

 

* Lees die volledige uittreksel in die September-uitgawe van SARIE (vanaf Maandag 23 Augustus te koop).

* Ver van vrede – my volle verhaal deur Jurie Els, NALEDI, R179. Bestel joune by On The Dot deur 0861 668 368 te skakel.

Jurie se outobiografie, Ver van Vrede