FOTO: verskaf

Boeke

Eksklusiewe uittreksel uit Die Griekwastad-moorde – Deel 2

Jacques Steenkamp se boek, Die Griekwastad-moorde: Die misdaad wat Suid-Afrika geruk het, word eersdaags vrygestel. SARIE.com het die eerste twee hoofstukke eksklusief gekry.

Lees die eerste hoofstuk van dié aangrypende verhaal HIER

Hoofstuk 2: Naauwhoek

Daardie Vrydagaand, ongeveer ’n uur nadat Don Steenkamp die moorde aangemeld het, het ek ’n SMS ontvang van een van my kontakte in ’n regse organisasie. Ek het André Nienaber, die neef van die voormalige leier van die AWB, Eugène Terre’Blanche, by die moordverhoor van laasgenoemde ontmoet en sedertdien het hy my op hoogte gehou van elke plaasaanval. Die SMS het gelui dat nog ’n wreedaardige plaasmoord naby ’n Noord-Kaapse dorpie plaasgevind het.

Sonder enige werklike bewyse het Nienaber en ander net aangeneem dat wat op Naauwhoek gebeur het, net nóg ’n gewone swart-op-wit-plaasaanval was. Alhoewel ek altyd dankbaar is vir enige nuttige nuuswenk wat ek ontvang, het ek al uit ondervinding geleer dat ’n mens nooit sommer net iets moet aanneem nie. Ek het ’n SMS vir my nuusredakteur, Liezel de Lange, gestuur oor die driedubbele moord op ’n plaas in Griekwastad en toe die res van die aand rustig saam met my kinders deurgebring.
Maar in die Noord-Kaap het die polisie hulle intussen vanuit verskeie dele van die provinsie na die dorpie gehaas. Nadat ek by die saak betrokke geraak het, het ek deur onderhoude en hofdokumente agter die kap van die byl probeer kom oor die gebeure op daardie Vrydagaand …

Kolonel Dick de Waal, wat reeds vyftien jaar lank die hoof van die Noord-Kaapse eenheid teen georganiseerde misdaad is, was daardie aand van diens, maar sy vrou, generaal Henriëtte de Waal, was die diensgeneraal vir die provinsie en Wildt het haar in kennis gestel van die moorde. Toe sy nie die beampte wat daardie naweek aan diens was in die hande kon kry nie, het sy haar man om hulp gevra. Die hoogs ervare De Waal het sy span gekontak en hulle beveel om hom so gou moontlik by Griekwastad se polisiestasie te ontmoet.

De Waal, ’n doodgewone man in sy vroeë vyftigs, het die befaamde reputasie dat hy altyd die skuldige vastrek. Hy is reeds meer as drie dekades in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) werksaam en het in die streek grootgeword. Ek het te hore gekom dat De Waal en advokaat Hannes Cloete, die staatsaanklaer wat uiteindelik hierdie saak sou kry, saam op skool was en nog nooit ’n saak verloor het waaraan hulle saamgewerk het nie.

De Waal het in ’n polisiehuishouding in Upington in die Noord-Kaap grootgeword. Sy pa was ’n speurder wat aan hoëprofielsake gewerk het. Tydens vakansies en naweke het die jong De Waal sy pa op ondersoeke vergesel. Met sy oukêrel as inspirasie het De Waal by die polisiediens in Upington aangesluit. Daarna het hy rondgetrek en uiteindelik in 1994 by die eenheid teen georganiseerde misdaad in Kimberley beland. Hy het in 1996 die bevelvoerder van die eenheid geword en beklee nog steeds hierdie posisie.

De Waal is mal oor sy werk omdat dit hom die geleentheid bied om elke dag ’n verskil te maak. Hy glo dat ons land se misdaadsituasie nie buite beheer is nie en dat dit sy taak is om te verseker dat misdadigers nie skotvry daarvan afkom nie. Hy beskou Cloete, sy jare lange vriend, as een van die beste en mees toegewyde staatsaanklaers in die land.
Naas sy werk geniet De Waal dit om tyd saam met sy vrou en seuns by die huis deur te bring. Om in kroeë en klubs uit te hang, val nie onder sy gunsteling-tydverdrywe nie en hy word voortgedryf deur die behoefte om misdadigers te vang en suksesvolle skuldigbevindings te verseker.

De Waal het die aand ’n voorlopige verslag van die Griekwastad-polisie ontvang, wat aangedui het dat dit ’n plaasaanval was. Hy het gereedgemaak om na die dorp te vertrek en toe sy seun gevra om saam te ry en op die uitkyk te wees. Die N8-hoofweg, wat deur Kimberley sowel as Griekwastad loop, is ’n verlate stuk pad met amper geen verkeer nie. Die enigste werklike gevaar is die rondloperkoedoes, wat jaarliks vir ’n groot aantal padongelukke en sterftes verantwoordelik is. Maar hierdie keer was De Waal nie van plan om by die reëls – in hierdie geval die spoedgrens – te hou nie.

De Waal en sy seun het die aand van die moorde teen 21:00 in Griekwastad aangekom nadat hy die rit van 150 km sonder enige voorval voltooi het. Verskeie lede van sy span was reeds daar. De Waal was nie op daardie stadium daarvan bewus nie, maar met twee-en-dertig jaar se ondervinding het hy op die punt gestaan om waarskynlik die grootste moordondersoek van sy loopbaan aan te pak.

Toe hy met die 2 km van die hoofweg wat deur die dorp loop, afry en voor die polisiestasie stilhou, het hy onmiddellik die groot aantal motors in die straat en die skare by die Proviand-restaurant oorkant die straat opgemerk. De Waal het die polisiestasie binnegegaan, hom voorgestel en gevra of hy óf met die beampte aan diens óf met speuradjudantoffisier Mofokeng kon praat.

“Ek verstaan daar’s ’n oorlewende?” het De Waal aan Wildt gesê, wat hom voorgestel het as die diensbeampte in beheer. “’n Seun wat op die lyke afgekom het? Is hy hier?” “Nee, kolonel,” het Wildt gesê. “Die seun is by die restaurant oorkant die pad. Moet ons hom gaan haal?”

De Waal het hieroor nagedink en met ’n skud van die kop aangedui dat hy eerder self sou gaan. “Dankie, maar ek sal later oorstap. Kan jy kortliks vir my verduidelik wat gebeur het?”

Wildt het sy kollega, Rooy, geroep en hulle het vinnig met mekaar beraadslaag voor Rooy aan De Waal voorgestel is.

“Kolonel, die seun het vol bloed by die aanklagkantoor ingehardloop gekom. Sy hande en bene was ene bloed,” het Wildt gesê en na sy eie hande en bene gewys.

“Hy het geskree dat ons moes vinnig maak omdat sy ouers en suster sopas op hul plaas geskiet is.”

Die polisieman het na die hoofweg buite gewys en verder vertel wat gebeur het. “Die seun het toe buitentoe gehardloop en ons het hom gevolg. Dis toe dat hy die vuurwapens oorhandig het.”

“Vuurwapens?” het De Waal agterdogtig gevra. “Ja, kolonel. Die seun het die vuurwapens uitgehaal waar dit op die bakkie se agtersitplek gelê het. Hy het gesê dit behoort aan sy pa en dat hy die vuurwapens by die hek opgetel het.”

“Het hy gesê wanneer hy dit gedoen het?” het De Waal gevra.

“Ja, kolonel. Hy het gesê dat hy die vuurwapens langs die pad sien lê het toe hy van die plaas af weggery het. Hy wou dit nie net daar los nie en het toe maar die vuurwapens polisiestasie toe gebring.”

De Waal het na een van sy kollegas, adjudantoffisier Koos Vermeulen, gekyk, wat intussen by die manne in die aanklagkantoor aangesluit het. In beide kollegas se oë was daar kommer te bespeur.

“So julle sê hy was vol bloed. Het julle al enige foto’s geneem of enige bewyse ingesamel?” het De Waal gevra.

Die twee polisiebeamptes het weer vinnig beraadslaag en toe het Wildt sy kop geskud.
“Ek dink nie so nie, kolonel. Ons speurhoof, adjudantoffisier Mofokeng, is tans op die plaas.

Hulle het ons hier gelos nadat die seun – sy naam is Don – ons van die misdaad vertel het.

Ons is nie beveel om enigiets te doen nie. Ons het na hom gekyk tot hy deur daardie vrou oorkant die pad geneem is.”

“Dankie,” het De Waal op pad uit gesê. De Waal en Vermeulen het in stilte oor die straat gestap en Proviand se perseel deur ’n swart ysterhek binnegegaan.

Lae, bruin klipmure omring die eiendom, wat tussen die plaaslike landdroshof en ’n leë eiendom geleë is. Die baie plante en blomme wat tussen die klippaadjies groei, was goed versorg en ’n besonderse fontein in die middel aan die voorkant van die gebou het die prentjie afgerond. Daar was ook ’n paar houtbankies en -tafels regs van die fontein en op beide kante van die gerestoureerde huis se stoep, waar gaste kon sit om die restaurant se uitstekende kos te geniet.

Terwyl hulle na die ingang geloop het, het die twee manne kennis geneem van die bekommerde en geskokte gesigte van sommige van die plaaslike inwoners, maar hulle is verwelkom deur die innemende glimlagte van die twee kelnerinne.

“Goeienaand, meneer. Kan ons help?” het een van die meisies gevra, wat niks ouer as negentien gelyk het nie.

“Ja, dankie. Ons is op soek na Don Steenkamp. Ek’s kolonel Dick de Waal. Is hy hier?”
“Ja, meneer, hy is hier. Volg my,” het sy geantwoord.

De Waal het die kelnerin die restaurant in gevolg. Sy het skerp na regs gedraai en ’n vertrek binnegaan wat skaars groot genoeg was om meer as drie of vier tafels te akkommodeer. Dit was nou oorvol met ’n skare mense en die hitte van die kaggelvuur het dit gesellig laat voel. Dit het De Waal slegs ’n sekonde geneem om die vyftienjarige Don in die skare, wat hy vermoed het uit familielede en vriende bestaan, te identifiseer. Hy het erg getraumatiseer gelyk en nie veel gesê nie, maar De Waal was nie van plan om enige kanse te vat nie. Iets omtrent die seun se weergawe van gebeure soos dit aan hom vertel is, het nie vir De Waal sin gemaak nie. Gevaarligte het begin flikker toe hy die seun reguit in die oë kyk en Don onmiddellik wegkyk.

Toe De Waal naderstap, het ’n man in sy vroeë dertigs, met breë skouers en blonde hare, opgestaan en met rooigehuilde oë na hom gekyk. Andries “Bulletjie” Steenkamp was die neef van die vermoorde Deon Steenkamp en hy was duidelik platgeslaan. Hy het ten spyte daarvan sy hand uitgesteek om De Waal te groet en hom voorgestel. Maar nie almal was bly om die polisie te sien nie. Afkeer was op sommige mense se gesigte te sien – hulle het duidelik gedink dat dit onvanpas is van De Waal om op daardie oomblik met Don te wil praat.

“Kan ek help?” het Andries gevra.
“Ja,” het De Waal gesê. “Ek wil die seun graag na die polisiestasie toe neem om bewyse in te samel en sy verklaring af te neem. Is daar miskien ’n lid van die gesin wat hom kan vergesel?” Andries het sy kop geskud en gesê:

“Don is die enigste oorlewende. Almal is verder dood.”

“My innige simpatie,” het De Waal sy medelye betoon, “maar ons moet dit regtig nou afhandel. Sal jy omgee om asseblief as sy voog op te tree?”

Andries het gehuiwer en diep asemgehaal. Hy was duidelik nie baie lus hiervoor nie, maar hy het tog vir Don gesê om De Waal na die polisiestasie te volg. De Waal het eenkant toe gestaan om die seun en Andries eerste te laat loop; hy wou van die geleentheid gebruik maak om Don se houding te peil en vir enige bewyse te soek. De Waal het onmiddellik gesien dat Don se hande en bene skoon is – die bloed wat die polisiebeampte genoem het, was meestal afgewas. Hy het ook ’n besering aan Don se nek, moontlik ’n krapmerk, opgemerk. En Don het ’n skoon T-hemp aangehad, wat die vraag laat ontstaan het oor wat van die hemp geword het wat hy aangehad het voor hy die polisiestasie binnegegaan het. De Waal het gewonder of hy die hemp in sy pa se bakkie gelos het.

Toe die groep die polisiestasie binnegaan, het De Waal vinnig iets vir ’n kollega daar naby gefluister voor hy die seun en sy voog na die stasiebevelvoerder se kantoor gelei het, waar hulle agter geslote deure verder kon praat.

’n Lid van De Waal se span het Wildt en Rooy ondervra of hulle die voertuig waarin die seun gery het, asook die area daar rondom, vir enige bewyse deursoek het. Dit het gelyk of die polisiebeamptes op die punt was om die rede vir die ondervraging te bevraagteken, maar hulle het dit gelos en gesê dat hulle vinnig ’n soektog sou uitvoer.
“Dankie en laat weet my asseblief as julle iets gekry het,” het De Waal se kollega gesê.
In die stasiebevelvoerder se kantoor het De Waal luitenant André McAnda gevra om Don te prosesseer. McAnda, die bevelvoerder van die Noord- Kaapse misdaadtoneelondersoekeenheid, is bygestaan deur konstabel Stephen Mohithli, wat ’n primêre residutoets op Don se hande gedoen het om te bepaal of hy enige vuurwapens afgevuur het.

De Waal het aan die seun verduidelik dat hulle besig was om hom te prosesseer vir enige bewyse wat hy dalk toevallig op die toneel kon versamel het. Don het nie te onwillig gelyk nie en hy sowel as Andries het De Waal toestemming gegee om voort te gaan. Verskeie foto’s is van die seun geneem, veral van die krapmerk aan sy nek en die oorblyfsels van droë bloed aan sy ken en linkerbeen. Alhoewel hy hom nie te deeglik skoongemaak het nie, was De Waal steeds nuuskierig oor hoekom Don so vinnig van die bloed wou ontslae raak.

“Ek verstaan dat jy vol bloed was toe jy by die polisiestasie aangekom het. Het jy jou gewas?” het De Waal gevra.

“Ja, oom. Ek was vol van my suster se bloed. Ek het daarvoor gegril. Ek moes dit afkry en daarom het ek gevra of ek my kon was,” het Don half verleë gesê.

De Waal het net sy kop geknik en aan McAnda gesê om DNS-monsters van onder die seun se vingernaels te neem. Dit is standaard polisie-prosedure wat daarop gemik is om potensiële verdagtes uit te skakel.

Na ’n aantal foto’s van die seun geneem en hy geprosesseer is, het McAnda en Mohithli op Don se bloeddeurdrenkte rugbybroek, wat hy nog steeds aangehad het, beslag gelê. Teen hierdie tyd is Don se T-hemp buite die polisiestasie gevind, en die twee is gewys waar dit gevind is.

Hulle is toe buite na die bakkie, waar McAnda foto’s geneem het van die vuurwapens en verskeie leë patroondoppies. Dit gaan die verstand te bowe dat Wildt en Rooy nie die vuurwapens by Don afgeneem het toe hy dit vir hulle gewys het nie. In plaas daarvan het hulle besluit om die vuurwapens in Steenkamp se Isuzu te los tot De Waal en sy span dit kon prosesseer. McAnda het die bewyse wat hulle ingesamel het, beveilig deur dit in die polisiestasie se bewysstukkluis en in sy motor toe te sluit.

Intussen het De Waal die seun gevra oor die T-hemp wat buite die polisiestasie gekry is. Don het verduidelik dat hy dit uitgetrek het omdat dit ook bloed opgehad het.

Op daardie stadium het De Waal vir Andries gevra of hy bereid sou wees om die aand na Don om te sien. Hulle was voorlopig eers klaar en moes nou by die misdaadtoneel uitkom. Andries het gesê dat hy nie beswaar het dat Don die nag by sy huis oorbly nie. Voor hulle die kantoor verlaat het, het De Waal hulle gewaarsku dat die seun die volgende oggend vroeg weer by die polisiestasie moes aanmeld.

“Ons benodig môre jou verklaring en jy moet ons na die toneel vergesel om ons te wys waar alles gebeur het. Is dit reg met jou, Don?” het De Waal beleefd gevra.

Don het na Andries gekyk voor hy sy kop geknik en gesê het dat hy daar sou wees. Die twee het toe die polisiestasie verlaat en na Proviand teruggekeer. De Waal het hulle agternagekyk en toe buitentoe gegaan om met sy kollegas en lede van die forensiese span, wat minute vantevore daar aangekom het, te praat. Hy het toe besluit om Wildt en Rooy weer te ondervra.

“Kolonel?” het Wildt afwagtend gevra toe De Waal hom by die toonbank nader.
“Weet jy of adjudantoffisier Mofokeng die huis binnegegaan het?”

“Ek dink so, kolonel. Ek het oor die radio gehoor dat hy die huis in is om te sien of daar nog enige oorlewendes was. Mofokeng het gesê almal is dood. Meneer Scholtz is ook nou daar,” het Wildt gesê.

“Meneer Joe Scholtz?” het De Waal gevra.
“Ja, hy’s ’n plaaslike boer, kolonel. Ken kolonel hom?”
“Ja,” het De Waal gesê.

Hy het Wildt bedank en gevra of hy hom en sy span die rigting na die plaas kon beduie. Hy wou nie langer neem as wat nodig was om by die misdaadtoneel uit te kom nie, want daar is baie gruispaaie wat na en van Griekwastad lei. Hy was nie lus om daardie tyd van die nag te verdwaal nie. Daar is toe gereël dat ’n patrollievoertuig De Waal en sy span na die plaas begelei.

De Waal het vinnig opdragte aan almal uitgedeel en dit aan elkeen baie duidelik gemaak wat hy verwag. Hy was nie gelukkig met die idee dat sommige van die plaaslike polisie reeds sy misdaadtoneel kon versteur het nie. Die risiko dat enige bewyse verlore kon raak, het met elke verbygaande sekonde vermeerder. De Waal het in sy voertuig gespring, waar sy seun steeds geduldig gewag het, met McAnda en verskeie ander polisiebeamptes op sy hakke agter die patrollievoertuig aan wat hulle na Naauwhoek moes begelei. De Waal het by homself gedink dat dit ’n interessante saak gaan wees, alhoewel nie die eerste een nie.

Op pad het De Waal gekyk hoe lank dit neem om van die polisiestasie tot by die plaas te ry. Halfpad Naauwhoek toe het hulle egter ’n verlate, wit 1400-Nissanbakkie aan die regterkant van die pad teëgekom. De Waal het aangedui dat die konvooi moet stop en uitgeklim om die voertuig te ondersoek. In baie gevalle steel misdadigers voertuie om tydens die pleeg van ’n misdaad te gebruik voor hulle dit weer kort daarna agterlaat. Terwyl De Waal nadergestap het, het hy wat gelyk het soos ’n rooierige handafdruk op die kant van die voertuig opgemerk. Hulle was só naby aan die misdaadtoneel dat De Waal nie die moontlikheid kon uitskakel dat dit ’n bloederige handafdruk is nie en hy het daarom gevra dat dit getoets word. Hy het toe in die voertuig gekyk, waar hy ’n soortgelyke rooi afdruk op die stuurwiel gesien het, wat ook weggestuur sou word vir analise.

De Waal het die voertuig se registrasienommer neergeskryf voor hy die bevel gegee het dat almal na hul voertuie terugkeer. Hulle het toe die kort afstand met die gruispad na die plaas afgelê, waar Mofokeng en Scholtz op hul aankoms gewag het.

Die oomblik toe hulle voor die hoofingang stilhou, het De Waal ’n notaboek en pen gegryp, en die aantal minute en benaderde afstand wat die rit geneem het, neergeskryf. Hy het sy seun beveel om te alle tye in die voertuig te bly en toe uitgeklim en na die stil, onheilspellende landskap om hom gekyk. Dit was baie donker – anders as in die dorp was daar geen ligte wat die omgewing verlig het nie. ’n Mens moes op die geringe lig van die sterre en die maan staatmaak om jou pad te vind.

Een van die voertuie se hoofligte het ’n uithangbord regs van die hek verlig. Die plaas en eienaar se naam was daarop, met die embleem van ’n perd aan weerskante. De Waal het opgemerk dat die polisiebeamptes wat eerste gereageer het, nagelaat het om die toneel af te sper, waarvoor hy onmiddellik opdrag gegee het. Twee polisiebeamptes het die alomteenwoordige geel band, wat elke misdaadtoneel versier, agter uit een van die voertuie gehaal. Hulle het die band, gemerk met die woorde “Crime Scene. Do Not Cross”, dwarsoor die voorkant van die hoofingang vasgebind. ’n Ander polisiebeampte het met die pad teruggery om die tweede hek na die plaas, wat ongeveer 100 m ver was van verskeie plaaswerkershuise, af te sper. Die Steenkamp-gesin se huis kon ook met hierdie kronkelpad bereik word.

De Waal het kortliks met generaal Jean Abrahams, wat op die misdaadtoneel teenwoordig was as sektorbevelvoerder vir die Kimberley-distrik, waarvan Griekwastad deel vorm, beraadslaag. Kortom bestaan ’n sektor uit verskeie polisiestasies in ’n sekere distrik en daar is ’n aantal polisiesektors in ’n provinsie. Elke sektor word deur ’n generaal bestuur, wat vir alles binne die sektor verantwoordelik is, insluitende die ondersoek van misdade en die ontplooiing van polisiebeamptes. De Waal het Abrahams kortliks oor hul bevindings tot dusver ingelig en het ook die ontplooiing van die honde-eenheid en nog ’n helikopter bespreek.

De Waal het toe na sy span teruggekeer en weer sy opdragte met hulle bespreek. Almal is weer eens gemaan om die voorgeskrewe oorpakke te dra om te keer dat bewysstukke versteur word.

“Goed, almal weet wat om te doen. Ek wil video-opnames hê van alle bewysstukke wat gevind word, asook van die toneel en die lyke. Roep my as julle enigiets kry wat julle dink ek moet van weet,” het De Waal gesê.

Verskeie van De Waal se kollegas was besig om die spesiale oorpakke wat aan hulle verskaf is, aan te trek terwyl hy voortgegaan het om opdragte uit te deel. Sy span het forensiese beamptes wat spesiaal opgelei is om sulke misdaadtonele te prosesseer, ingesluit.

“Ek wil vingerafdrukke van alles hê.

Dit sluit die slotte en enigiets anders in waaraan die moordenaar kon geraak het. Moenie vergeet om behoorlike fotografiese bewyse van hierdie items te neem nie. Oukei, laat ons aan die gang kom,” het De Waal beveel.
Voor die huis het De Waal hom vasgeloop in Mofokeng en Scholtz. Ná ’n kort gesprek was hy tevrede dat hulle die misdaadtoneel professioneel gehanteer het en nie enige bewysstukke versteur het nie.

Dit was konstabel Mohithli se taak om ’n video-opname van die binneen buitekant van die huis te maak. Die jong man se senuwees het gepla op sy roete om die donker huis. Toe hy die gebou binnegaan, het hy amper onmiddellik op die drie lyke afgekom. Sersant Johannes Mogale, van Upington se plaaslike misdaadrekordburo, het die taak gehad om foto’s van die hele gebied, in sowel as om die huis, te neem. Hy het later ook verskeie lugfoto’s van die plaas geneem. Slegs ná die forensiese take afgehandel is, het die res van die span die gebou binnegegaan.

De Waal het nou die huis binnegetree. Die agterdeur, wat oop was, het na ’n waskamer gelei, met ’n skottelgoedwasser, tuimeldroër en wasmasjien. Regs het ’n deur na die kombuis gelei, met ligbruin houtkaste en ’n dienluik waardeur die eetkamer sigbaar was. Reg voor was die stoof aan die regterkant, met ’n ontbythoekie skuins. Op die ontbythoekie se toonbank was vier vuil borde en messegoed asook ’n glasbak wat volgens Don afval bevat het. Toe De Waal verby die kombuiskaste loop en net voor die ontbythoekie links draai, is Deon se voete die eerste ding wat hy sien.

Die man het op sy maag gelê met sy hande onder sy bors ingevou. Hy het ’n blou rugbybroekie en ’n donkerblou rugbyhemp aangehad, met die woorde “South Africa” in wit op die rug. Sy lyk het regs van die houttafel en -stoele gelê, met ’n groen baadjie naby sy kop en regterskouer. Daar was bloed aan die regterkant van sy kop. Agter in sy kop was twee koeëlwonde wat gelyk het asof dit deur ’n kleinkaliber-vuurwapen veroorsaak is. Regs van Deon se lyk en aan die ander kant van die ontbythoekie was die oopplan-televisiekamer. Links was die televisiekas, met die muur daaragter wat die gang vorm wat na die kamers lei. ’n Klein koffietafel het voor die televisiekas gestaan, met banke in ’n L-vorm gerangskik tussen die kas en die ontbythoekie. Christel en Marthella het aan die kant van die koffietafel gelê, aan die ander kant van die televisiekas. Die meisie het op haar sy gelê, met haar regterelmboog in ’n ongemaklike posisie. Sy het ’n groen hemp en kortbroek aangehad. Haar lyk was naby dié van haar ma, wat op haar maag gelê het met haar kop naby haar dogter se voete. Daar was orals bloed. Marthella se gesig was amper onherkenbaar.

De Waal het bloed teen sommige van die kaste en op die telefoon, wat van die mikkie af en naby die vroue was, opgemerk. Ná noukeurige ondersoek het De Waal geskat dat die lyke van Christel en Marthella ongeveer 2 m tot 3 m ver van Deon se lyk gelê het. De Waal het die toneel vir enige tekens van versteuring gefynkam, maar kon niks vind nie. Hy het toe op verskeie items beslag gelê wat hy vermoed het met die moorde verband kon hê.

Dit was ’n lang nag – hy en sy span het tot dagbreek skouer aan skouer met verskeie ander eenhede van die polisie saamgewerk.

Afgesien van die polisiehelikopter wat ontbied is om die gebied vir moontlike verdagtes te fynkam, is die honde-eenheid ook ontplooi. Plaaslike speurders is opdrag gegee om met hul informante te praat in die hoop dat iemand iets oor die moorde kon gehoor het. Maar teen dagbreek was daar geen bewyse dat enigiemand, behalwe die vier lede van die Steenkampgesin, op die plaas was ten tyde van die moorde nie.

De Waal en sy span het die implikasies van hierdie bevinding breedvoerig bespreek met almal wat by die ondersoek betrokke was; dit het ook gesprekke ingesluit met advokaat Hannes Cloete en die adjunkdirekteur van openbare vervolging in die Noord-Kaap, Tania Birch, aan wie die saak toegeken is toe dit duidelik blyk dat dit ’n hoëprofielsaak gaan wees en dat die polisie reeds ’n verdagte het.

Vroeg die volgende oggend het De Waal en verskeie van sy kollegas vir Don en Andries by die Griekwastad-polisiestasie ontmoet, waar De Waal versoek het dat Don na die naaste hospitaal geneem moet word, ongeveer 76 km suidoos daarvandaan in die dorpie Douglas. Hy wou hê dat ’n dokter die seun deeglik moet ondersoek om beserings wat hy opgedoen het, veral die opvallende krapmerk aan sy nek, te dokumenteer. Weer eens was dit standaard-prosedure, en sou Don as ’n potensiële verdagte uitskakel.

Terwyl Don en Andries op pad hospitaal toe was, het De Waal sy forensiese span gevra om Deon Steenkamp se bakkie, wat steeds geparkeer was waar dit die vorige aand gelos is, te deursoek vir enige bewyse wat hulle miskien kon gemis het. Aangesien De Waal van plan was om na die plaas terug te keer, het hy eers die .22-geweer en die .357-Magnumrewolwer gaan haal wat Don die vorige aand aan die polisie oorhandig het. Met Don se terugkeer vanaf Douglas sou hy De Waal en Vermeulen na Naauwhoek vergesel om hulle met die ondersoek by te staan.

’n Paar uur later het De Waal, Vermeulen, Don en Andries na die misdaadtoneel vertrek. Don se gimkana-afrigter, Bennie Heckroodt, het hulle in ’n ander voertuig gevolg. Tydens die rit het die seun, wat agter gesit het, vir ’n verbaasde De Waal gevra wat hy moes doen om “alles” te kon erf. Hy het trouens baie vrae gevra en op een stadium selfs gespog oor hoe vinnig hy die vorige aand met sy pa se bakkie gery het. Wat De Waal sover kon aflei, was dat Deon Steenkamp verskeie plase en baie vee besit het, en dat die boedel miljoene beloop.

Op die plaas het De Waal vir Don gevra om hom te wys waar hy was toe die moorde plaasgevind het. Hy wou ook hê dat Don hom wys waar hy die lyke ontdek het en toe later die vuurwapens. Maar alles het skielik tot stilstand gekom toe die seun se advokate, Willem Coetzee en Sharon Erasmus, begin het om De Waal sowel as hul kliënt herhaaldelik te bel en beswaar aan te teken omdat ’n minderjarige besig was om die polisie met hul ondersoek te help. Dit het De Waal ’n rukkie geneem om aan Don, Andries en Heckroodt te verduidelik hoe belangrik dit is dat hulle voortgaan.

Gelukkig het die drie van hulle ingestem om voort te gaan en Don het toe in hul teenwoordigheid gewys waar hy in die skuur was toe hy die skote gehoor het. Hy het ook gewys waar hy die lyke en toe later die vuurwapens ontdek het.

Don het sy weergawe van die gebeure vol selfvertroue vertel en was selfs gewillig om vir foto’s by sekere “hot spots” te poseer. Die media was op daardie stadium nog nie ten volle bewus van die gebeure by Naauwhoek nie en Don se weergawe was al wat toe beskikbaar was. Al wat hy aan De Waal en sy kollegas gesê het, was dat hy in die skuur besig was, skote gehoor het en toe op die lyke afgekom het. Kort daarna is Marthella in sy arms dood.

Terug by die plaashuis het De Waal op nog vier vuurwapens in Deon Steenkamp se kluis beslag gelê. Nóg ’n bloedbevlekte T-hemp, donkerblou met drukwerk op, is in ’n slaapkamer gevind en gekonfiskeer. De Waal het die hemp die vorige aand opgemerk. Dit het uitgesteek onder ’n handdoek wat op die vloer tussen die bed en die kas gelê het. Iemand van sy span het vergeet om dit te neem en De Waal het nou beveel dat dit deel van die bewysstukke word. Die hemp was aan beide kante van die nek geskeur. Dit was duidelik uit die toestand van die hemp dat die persoon wat dit aangehad het in ’n worsteling betrokke was.

Nadat al die bewysstukke ingesamel is, is dit geprosesseer en na die forensiese laboratoriums gestuur om getoets te word. Die vuurwapens is vir ballistiese toetse weggestuur om te bepaal of dit afgevuur en in die moorde gebruik is. Don is weer onder die sorg van Andries, wat buite die huis gewag het, geplaas. Andries sou op sy plaas Lymput, wes van Griekwastad, na Don omsien totdat Paul Botha, Deon Steenkamp se buurman wat in Christel en Deon se testament as Don se voog in geval van hul dood benoem is en ’n afgetrede skoolprinsipaal was, sy verantwoordelikhede kon opneem.
De Waal het op die middaguur na die Griekwastad-polisiestasie teruggekeer, waar ’n aantal plaaslike en nasionale koerant- en radiojoernaliste teen hierdie tyd saamgedrom het. Naas hierdie groep was daar ook heelwat plaaslike inwoners, bruin en wit, wat die doen en late by die polisiestasie fyn dopgehou het. Teen hierdie tyd het die provinsiale polisiewoordvoerder, kolonel Hendrik Swart, reeds ’n kort verklaring aan die media uitgereik wat genoem het dat hulle nie “huidiglik” besig was om vir enige verdagtes te soek nie.

“Ons kyk na die beskikbare getuies se verklarings en ander leidrade wat op die toneel gevind is,” het Swart vir Volksblad ingelig.

Sy woorde het ’n media-opskudding veroorsaak. Skielik het die sogenaamde plaasmoorde in iets meer sinister verander. Omdat die polisie egter nie amptelik bekendgemaak het dat hulle inderdaad ’n verdagte of verdagtes vasgetrek het nie, kon almal maar net bespiegel oor die ware stand van sake. En was daar nou vir jou ’n gegons! Gerugte het die ronde begin doen dat Deon Steenkamp sy gesin vermoor het en sy seun se lewe gespaar het; ander het beweer dat Satanisme daarby betrokke was en dat Marthella die moorde gepleeg het.

Een gerug wat vir baie mense heel aanvaarbaar was, was dat Don Steenkamp aangeneem was en dat hy slegs op die dag van die moorde daarvan uitgevind het. Maar die feit bly staan dat die polisie nie besig was om vir enige ander verdagtes te soek nie. Die publiek sou gesamentlik moes asem ophou tot die ondersoek voltooi is en die polisie op hul bevindings kon reageer.

Intussen het die joernaliste wat in die rustige Griekwastad byeengekom het, gretig gewag om die enigste oorlewende van hierdie gesinstragedie te sien te kry. Alhoewel hulle hard probeer het om inligting uit De Waal en sy kollegas te kry, het dié niks laat blyk nie. Die polisie se gebrek aan samewerking het die media woedend en gefrustreerd gelaat – gewoonlik is hulle op hoogte gehou in geval van hoëprofielsake.

Maar hierdie keer sou dit nie so wees nie; hierdie saak was anders.

Don het later daardie middag uiteindelik by die polisiestasie opgedaag, vergesel van Bennie Heckroodt. Heckroodt is ’n lang, trotse en aantreklike man in sy vyftigs, met gryserige hare. Hy was nie alleen Don se gimkana-afrigter nie, maar ook ’n jare lange vriend van Deon. Don, wat ’n donkerblou kortbroek en baadjie aangehad het, het hande in sy sakke en kop onderstebo reguit die gebou ingestap. Heckroodt was langs hom.
Ek het die storie gedek vanaf Rapport se kantore in Aucklandpark, Johannesburg, maar het die gebeure noukeurig gevolg via die radiostasie OFM en Twitter. Ek het gou tot die gevolgtrekking gekom dat iets buiten ’n gewone moord die vorige aand op Naauwhoek plaasgevind het. De Lange het my gevra of ek dink dat daar iets vreemds of eienaardigs aan die saak was. Ons het nie oor elke moord op nasionale vlak berig nie, maar daar was iets omtrent hierdie raaiselagtige saak wat my laat regop sit het. Ek het onmiddellik begin om my navorsing oor die dorp en sy mense te doen. Baie vinnig het ek verskeie van die plaaslike inwoners se kontakbesonderhede gehad en dadelik op die telefoon geklim.

Dit was Paasnaweek, gewoonlik ’n stil tyd vir nuus, maar hierdie storie sou dit verander. Teen hierdie tyd het ek sommige van die details van die saak geken en omdat ek al meer as honderd moordsake oor die jare gedek het, het ek ’n redelik akkurate begrip gehad van wat ’n plaasmoordenaar se modus operandi normaalweg is. Hierdie soort misdadiger soek gewoonlik gewere, kontant, juweliersware, elektroniese toerusting en soms ’n voertuig. Hulle sou dikwels enige honde op die perseel vergiftig en sodra hulle toegang tot die plaashuis kry, sou hulle dit omkeer op soek na enige waardevolle items. In die geval van die Griekwastad-moorde was bogenoemde glad nie van toepassing nie. Ek het by myself gewonder: Watter soort misdadiger sou duisende rande in ’n kluis agterlaat?
Daar was ook die vuurwapens wat Don by die plaashek opgetel het. Sommige misdadigers is inderdaad onnosel, maar ek het nog nooit van enige misdadiger gehoor wat drie moorde pleeg en dan die vuurwapens naby die misdaadtoneel los vir die polisie om te kry nie.

Ek was oortuig dat daar meer aan hierdie saak was as net ’n gewone, driedubbele plaasmoord en het De Lange gaan opsoek, waar sy buite die gebou staan en rook het. Ek het haar vertel wat ek uitgevind het. Alhoewel sy verras gelyk het en effens opgewonde oor die inligting was, was dit ons redakteur, Bokkie Gerber, wat ons moes oortuig. Ons het Gerber in ’n gang in die gebou opgespoor en ek moes mooipraat om die storie op die voorblad te kry. Ek het my natuurlike instink vertrou en ek is vandag steeds bly daaroor.
Daardie middag, in Heckroodt se teenwoordigheid, het De Waal Don se verklaring in die stasiebevelvoerder se kantoor afgeneem. Don was baie senuweeagtig, wat seker verstaanbaar was. De Waal het aandagtig geluister hoe Don sy weergawe van die gebeure weer vertel: die ontdekking van die lyke en hoe hy van die toneel gevlug het om te gaan hulp soek.

Toe hy uitgevra is oor die twee vuurwapens wat hy in die skemer langs die hek gekry het, het Don verduidelik dat hy die vuurwapens gesien het toe hy van die huis af weggery het. Hy het stilgehou, die deur oopgemaak, oorgeleun vanaf die bestuurdersitplek en die vuurwapens opgetel.

Ná amper twee uur se ondervraging het Don die polisiestasie met rooigehuilde oë verlaat. Hy is onmiddellik deur verskeie familielede en vriende, wat geduldig buite vir hom gewag het, vertroos en omhels. Dit was vir hulle duidelik dat die ondersoekbeamptes nie die jong Don sagkens behandel het nie.

Intussen het die polisieondersoek begin spoed kry. Vir die media, wat min of meer in die duister gehou is, het die soeke na die waarheid regtig eers nou begin. Ons het geweet dat die polisie heelwat inligting oor die ondersoek van ons weerhou. Te midde van al die gerugte en bespiegeling moes ons eenvoudig uitvind of hulle inderdaad ’n verdagte het en of ’n arrestasie net om die draai was.

En indien wel, wat was die motief agter die moorde?