FOTO Facebook

FOTO Facebook

Boeke

Eksklusiewe uittreksel uit Goudduiwel deur Duane Aslett

Die verhaal gaan oor agent Rex Reynecke wat ’n ondersoek vir die Valke lei. Dit gaan baie goed tussen hom en sy meisie, Alicia. Maar haar broer verdwyn onder verdagte omstandighede – as die hoofverdagte in ’n moordsaak.  Dit lyk asof daar ’n verband is tussen sy verdwyning en die Anglo-Boereoorlog se Krugermiljoene. Rex moet hom te hulp snel om hom van die duistere Ysterhoutlaer te red. Die aksiebelaaide roman het genoeg intrige, wilde jaagtogte en spanning om jou enduit te laat lees.
Die boek word op Aardklop bekend gestel waar Duane Aslett met Thys Human in gesprek sal wees.

Lees die eksklussiewe uittreksel uit Goudduiwel  deur Duane Aslett (Queillerie, R250) hier.

Goudduiwel

31 Mei 2008, Skukuza

Uitasem staak die twee operateurs hul geswoeg en bring die pomptrollie in die middel van die treinbrug oor die Sabierivier tot stilstand – ’n ongewone ligging vir die amptelike seremonie wat op die punt is om voor die gonsende skare af te speel.

Niel Campher vee ’n blaartjie van sy swart aandpak se lapel af. Dan verstel hy die rooi lint op die derde knoop van sy gladgestrykte wit hemp en glimlag in sy binneste – die rooi lint is bevestiging van sy adellike herkoms. Hy sluit hom aan by die gaste wat ’n ent langs die spoorlyn afgestap het om die seremonie van nader te beskou.

“Are you enjoying yourself, your majesty?” vra ’n kort, ronde man wat langs Niel kom staan het met ’n swaar Afrikaanse aksent. Sy grys hare gloei amper wit in die skemerlig.

“Very much so, thank you, sir,” antwoord Niel met die Sweedse aksent waaraan hy weke lank gewerk het. Hy volg dit op met die breë, adellike glimlag wat hy voor die spiel ingeoefen het. “Your country has a fascinating history … and an interesting blend of cultures.”

Hy gewaar uit die hoek van sy oog hoe Sydney Soundy en die ander hooggeplaastes van SANParke en die SA Munt van die treinbrug af terugkyk in die gaste se rigting, waarskynlik om die opwinding uit te rek. Hoewel Niel nie die medalje in Sydney Soundy se hand kan sien nie, weet hy die muntstuk wat minute gelede in die Selati-restaurant geslaan is, sal binnekort die lug in geskiet word om af te tuimel na die Sabie se kabbelende, donker waters.

Dit het verskeie pogings geverg om dié munt te slaan – in dieselfde antieke handpers wat die Kruger-regering tydens ballingskap in die Anglo-Boereoorlog gebruik het – maar eindelik kon die amptenare van die SA Munt dit in die lug hou terwyl hulle die gaste se applous breëbors inneem. Daarna het hulle op die pomptrollie geklim en die halwe kilometer tot in die middel van die treinbrug afgelê.

“Miss Pernald did not join you for your visit to our beautiful country?”

Die ligte rilling wat by die aanhoor van dié vraag deur Niel se liggaam trek, verbaas hom. Hy het dan gemeen hy is goed voorberei vir vanaand se funksie. Hy het sy hare effens langer agter sy ore laat groei, soos die kroonprins van Swede syne dra, en dit met jel gladgestryk na aanleiding van ’n foto van die prins in ’n aandpak. Gekleurde kontaklense het sy blougrys oë in bruines omgetower en ’n week oue baard verberg die verskil tussen sy en die kroonprins se kakebeenlyn.

Dit help ook dat prins Carl Philip tans drie weke lank opleiding by die Sweedse Nasionale Weermagkollege ondergaan, waarna hy blykbaar tot die rang van kapten in die Sweedse Vloot bevorder sal word. Geen mediaberigte oor die prins se doen en late sal Niel dus vandag verraai nie. Verder maak hy daarop staat dat Suid-Afrikaners taamlik vertroud is met die monargieë van die Verenigde Koninkryk en Monaco, maar redelik oningelig oor dié van die Skandinawiese lande. Hy het dus gemeen die gaste by vanaand se geleentheid sal nie op hoogte wees met die Sweedse Koninkryk nie – maar toe kom verras hierdie ronde mannetjie hom.

Ten minste het Mannetjie nog nie sy identiteit as kroonprins bevraagteken nie. Seker deels omdat Niel se neus met behulp van ’n professionele grimeerder effens aangepas is. Hy onthou hoe hy haar “ontmoet” het nadat hy haar eers ’n ruk lank op Facebook dopgehou en toe ’n paar dae agtervolg het om die perfekte geleentheid vir hul kennismaking te skep. So, toe een van sy handlangers soos afgespreek haar handsak steel en hy wat Niel is dit kort daarna triomfantlik aan haar terugbesorg, het dinge seepglad verloop. Hy was haar ridder op die wit perd en haar onervarenheid in die slaapkamer het van hom ’n nog groter held gemaak – tot so ’n mate dat hy nou nog haar kaal borste voor hom kan sien hang terwyl sy die neus op sy gesig fatsoeneer. Hy sal haar nog so ’n week lank aan die lyn hou voor hy haar loslaat.

Hy merk dat Mannetjie steeds op sy antwoord wag.

“Uhm … I am afraid Emma could not make the trip due to … other commitments. And I am here on a clandestine visit to your National Defence Force as part of my own military training. I am soon to be promoted to the rank of kapten in the Swedish Navy and wanted to learn more about the warfare techniques employed during the Bush War. We don’t have this kind of terrain in Sweden, so I find it fascinating … Alas, it seems the ceremony is about to begin …” Niel wys in die rigting van die treinbrug.

Die skare rek hul nekke in afwagting toe Sydney Soundy se blik verskuif na die water wat onder die treinbrug deurvloei. Die Sabie skitter plek-plek in die skemerte, sonder enige teken van die krokodille wat ongetwyfeld geduldig op hul prooi wag. Niemand sal dit waag om daardie muntstuk te gaan uitduik nie, dink Niel.

Mannetjie klap op sy nek waar ’n muskiet klaarblyklik besig was met sy aandete en bekyk dan sy handpalm om te sien of dit ’n kolskoot was.

“Fortunately the malaria-carrying buggers operate below knee level,” sê hy glimlaggend en Niel wonder wié se kniehoogte, want Mannetjie opereer heelwat nader aan die grondoppervlak as die deursneepersoon.

Sydney Soundy loer vir oulaas na die skare, skiet dan die muntstuk hemelwaarts en kyk hoedat dit ’n afwaartse trajek na die glinsterende waters inslaan en met ’n ligte plons in die dieptes verdwyn. Opwinding bruis deur die skare en spontane applous gaan op toe die pomptrollie stadig in die stasie se rigting begin terugbeweeg.

Niel baan saam met die ander sy weg na die Selati-restaurant op die perron van die voormalige Skukuza-spoorwegstasie, waar glase vonkelwyn en skinkborde met versnaperinge gereed staan ter viering van die Nasionale Kruger-wildtuin se 110-jarige bestaan.

“So, do you have any plans to settle down in marriage in the near future, your majesty?”

Niel was onder die indruk dat hy Mannetjie afgeskud het, maar nee. My eie muskiet wat om my ore gons, dink hy en wens hy kon ook sy plathand inspan.

“No, I have recently taken up motor racing and will be competing in the Porsche Carrera Cup this year, which will hardly allow any time for planning a wedding and settling down,” antwoord hy gemaak vriendelik.

“And is King Carl Gustav not concerned that you may get hurt participating in such dangerous sporting activities?” vra Mannetjie ernstig.

Nou kos dit inspanning om nie sy irritasie te wys nie.

Niel het voor die verrigtinge aangedui dat sy besoek aan Suid-Afrika ’n stil en private affêre is en dat daar dus nie vanaand ’n groot ophef daarvan gemaak moet word nie.

Inteendeel, het hy laat val, hy en juffrou Pernald het verhoudingsprobleme en die besoek bied hulle die geleentheid om buite die kollig hul verhouding te oordink. Tot dusver is sy wense nagekom.

Au contraire, he is thrilled that I seem to have inherited the passion for motor sport from my godfather, Prince Bertil. Now, if you’ll please excuse me, I need to use the restroom.”

“Of course.”

Verlig stap Niel in die rigting van die toilette. Hy sal Mannetjie die res van die aand vermy en wanneer die silwergedenkmedaljes aan die eregaste oorhandig is, sal hy hom uit die voete maak voor hy dalk sy rieme styfloop. Hy wil egter nie nou al padgee en die kans verbeur om een van die slegs 110 medaljes te besit nie. Die lewe is goed, dink hy terwyl hy sy plastiekneus in die spieël bekyk. Daniël Petrus Campher – of, soos hy vanaand bekendstaan, die kroonprins van Swede – is oseane ver verwyder van die knopknie-kaalvoetseun wat met sy tweedehandse fiets Stilfontein se strate moes aandurf. Daantjie, soos hy toe genoem is. ’n Naam wat hy gehaat het, in ’n dorp wat hom verdruk het.

Na hoërskool het hy Stilfontein verlaat en homself in Niel Campher omskep. En dié verhuis eersdaags na ’n nuwe multimiljoenrand-dakwoonstel met ’n panoramiese uitsig op Sandton.

En hoe gemaklik leef hy nie onder die radar nie? Vandat die Skerpioene begin geluide maak het dat hulle Jacob Zuma vir korrupsie gaan vervolg, veg hulle vir eie oorlewing. Die man wat hier staan, is onbelangrik en die gewone polisie is veels te dom om hom vas te trek.

Ja, Niel Campher reik steeds hoër. Niel Campher is onstuitbaar …