joost_afrikaans
Boeke

Eksklusiewe uittreksel uit Joost se boek: Deel 2

HOOFSTUK 31: INEENSTORTING (DEEL 2)

Terug na Deel 1

…Terug by die huis het Amor gesien hoe Pieter die Rapport sit en lees. Die koerant het ’n storie gehad oor die meisie van die berugte video. “Op die voorblad was ’n foto van haar. Sy het

met haar bene oop gesit, in ’n Springbok-trui met ’n nommer 9 daarop. Ek het net begin lag. Op daardie punt was dit alles net te veel. Ek dink sy het ’n direkte hou na my gemik op daai voorblad,  want ek het by tye op die verhoog gegaan met Joost se No. 9 trui aan.”

Die kinders se reaksie op hul pa se ineenstorting was interessant. Toe Amor vir Jordan vertel het dat Joost geval en sy kop gestamp het, en toe hospitaal toe moes gaan, het hy onmiddellik

gevra of sy pa in ’n ambulans gery het. Toe Amor ja daarop geantwoord het, het Jordan gevra: “Was jy bang, Mamma?”

“Ek het gedink dis buitengewoon intuïtief vir ’n vyfjarige om so ’n vraag te vra,” sê Amor trots. “Kylie was baie stil. Terwyl Jordan allerhande vrae gevra het, het sy my geïgnoreer. Maar toe ek hulle hospitaal toe neem, nadat die verpleegsters al die pypies en buisies van Joost verwyder het, het Jordan teruggetrokke geraak en Kylie was weer die kletskous. Hulle is nou oukei. Net bly om hulle pappa by die huis te hê.”

Joost sê dat Jordan hom aanhoudend vra of hy weer gaan weggaan. “Kylie hou aan inloer om seker te maak dat ek nog hier is,” lag hy.

 

Was jy bang, Mamma?”
- Jordan

 

Terwyl die hele drama ontvou het, het Amor ’n fout ontdek op die meesterkopie van haar nuwe CD, wat sy veronderstel was om af te teken omdat die vrystelling om die draai was.

“As gevolg van alles wat aan die gebeur was, het ek nie tyd gehad om dit te gaan haal, deur te luister en goed te keur nie. Toe dit by my afgelewer is, het ek daarna geluister op pad hospitaal toe en ’n haakplek in een van die snitte opgetel. Maar toe ek my platemaatskappy bel, het hulle gesê dat hulle al klaar die glasmeester vir die druk van die CD vervaardig het.”

Die glasmeester is ’n baie duur deel van die proses en Amor het begin voel asof die hele wêreld teen haar gedraai het. “Uiteindelik het ek vir Kosie, die HUB van die maatskappy, gebel en hy was fantasties. Hy het gesê ek hoef my nie verder te bekommer nie, hy sal alles uitsorteer.

“Maar die ergste van alles was die pers. Die fone het net nooit ophou lui nie. Ek het boonop Joost se selfoon ook gehad om na om te sien en hulle het vir hom boodskappe gestuur! Hy was

in intensief en daar het wraggies sms’e deurgekom waarin hulle vra vir ’n verklaring. Daardie Dinsdag was daar ’n brief in die Citizen wat dit so mooi opgesom het: ‘Wanneer sal die pers gelukkig wees? Wanneer hy in sy graf is? Of as die huwelik verbrokkel het en hulle skei? Wanneer gaan dit alles ophou?’ Dit lyk asof dit nooit gaan gebeur nie,” sê sy kopskuddend.

Terug by die huis, het Joost gevind dat hy baie moeg bly. “Ek het met my huisdokter, Henry Kelbrick, gepraat. Hy het gesê dis nie ernstig as jy net een aanval gehad het nie. Maar as jy nog een kry, dan is daar ’n ernstige probleem. So ons sal moet wag en kyk. Wat regtig irriterend is, is die pers wat aan Amor, Bridget (Joost se publisiteitsagent) en my begin karring het om uit te vind waarom die toksiene in my bloed getoets is. Ons het nooit besluit om enige toetse op my te laat doen nie. Die hospitaal het besluit watter toetse hulle moes doen.”

Dit het gelyk asof die media probeer sê dat Amor wou kyk of Joost dwelms gebruik het; hulle het geïnsinueer dat daar een of ander verband was tussen die neem van so ’n toets en die video waarin hy na bewering dwelms snuif.

Joost se reaksie daarop is bitter: “Daardie Saterdag het Barend van Graan, die HUB van die Blou Bulle, ook ná die rugby inmekaargesak. Maar die pers het hom nooit gevra waarom hy presies dieselfde soort toets gekry het nie. Dis net ongelooflik. O, en voormalige Springbok-flank Ruben Kruger het sy bewussyn verloor terwyl hy bestuur het, en hy het dieselfde toets ondergaan; wou enigiemand weet waarom hy getoets moes word?”

LEES DEEL 1

WEN ELKE DAG ‘N GETEKENDE EKSEMPLAAR  – KLIK HIER

* Uittreksel uit Joost – Spiëelbeeld (Zebra Press), R189.95. Beskikbaar vanaf 10 November.

Bestel die boek teen ‘n afslag-prys by SARIE se aanlynwinkel.

  • yvonne erasmus

    Ons kan net bid vir die Familie.
    Niemand is onfeilbaar.

  • K. Swart

    Die hele Joost debakel is al vandat dit begin het in ons kele afgedruk. Dis mooi en goed Sarie om met Amor te onderhandel, maar regtig man as iemand iets van Joost se gemors wil weet kan hul mos die boek gaan koop, hoekom dit in die lesers se kele af forseer. Glo dit of te nie maar daar is tog mense wat tot barstens toe keel vol is om in al wat tydskrif en koerant is te lees van die gemors wat hy aangevang het en ook van ons wat absoluut koud gelaat word deur sy doen en late. Seblief tog keer terug na die interressante tydskrif wat jul nog altyd was, wat van ‘n artikel or Nolene van 3Talk, sy en telke ander persoonlikhede is tog ‘n absolute inspirasie.

  • Joewina

    AGGE NEE SARIE…DAAR DOEN JULLE WAT ALMAL DOEN…
    N ARTIKEL OOR JOOST EN AMOR! SARIE IS SO N WONDERLIKE TYDSKRIF EN
    ONS AS DAMES WAT DIT LEES WIL BAIE GRAAG OPBOUENDE ARTIKELS LEES
    EN NIE N SMERIGE STORIE VAN HULLE 2 NIE ASB! EK DINK ALMAL HET NOU AL GENOEG VAN HULLE GEHAD! DAAR IS BAIE ANDER WONDERLIKE MENSE EN GEWONE MENSE OM OOR TE SKRYF. MOET ASB NIE AFDAAL NA DIE ANDER TYDSKRIFTE SE VLAK TOE NIE. EK HOOP DUS DIE LAASTE KEER WAT EK MOET STAAN EN WONDER OF EK DIE SARIE GAAN KOOP OF NIE.

  • Susan

    Kan ons nie maar ASB die hele storie begrawe nie!!!
    Los die mense uit. Dit is tog nie ons besigheid wat Joost of wie ook al doen of nie nie nie. gun hulle ook ‘n bietjie sonskyn

  • Marianna

    Laat die een wat geen sonde gedoen/gedink/begeer/gewens het die eerste klip gooi.Gee vir Joost en sy familie asb kans om aan hulle huwelik te werk, as Amore hom nog ‘n kans gaan gee wie is ons om aan te hou karring.
    Baie gebede en sterkte aan die familie ,’n huwelik enige huwelik is harde werk en waar vertroue geskend is,gaan dit nog meer neem om dit weer te herstel.Julle is in ons gebede

  • Heleen

    Ek is ongelooflik teleurgesteld in Sarie dat julle sowaar ook aan die Joost en Amor-publisiteitsfoefie deel neem. Die man is afstootlik, vals en skaamteloos. Hoekom ondersteun Sarie sy boek en deel dit aan lesers uit? Daar is mos tydskrifte wat hierdie goedkoop sensasie kan verkoop, ek het nooit kon droom Sarie sal tot op daardie vlak wil daal nie.

  • B Nel

    Wat Joost gedoen het is gelykstaande aan moord. Hy sal nie tronk toe gaan nie, maar vir die res van sy lewe die wonde dra van sy eie keuses. Slegs opregte gebrokenheid voor ons Here kan ‘n verskil maak aan hom en sy huwelik. Ongelukkig sien ons dit nog nie by hom nie. Dit laat mens net dink dat daar steeds baie ondeursigtigheid is. As enige duistere saak in die lig kom het die duisternis nie meer mag daaroor nie. So jammer Joost verstaan dit nog nie. Ons is almal nou so moeg vir hierdie gemors en vra asseblief die media om dit te staak. Hul is net sulke mense soos enige ander so los hul tog maar nou. ‘n Mooi storie van doodgewone mense wat gelukkig is en voorbeeldig lewe het baie meer waardein hierdie tyd van pyn.

  • Linda

    Baie dankie Sarie, dat julle ‘n opbouende storie publiseer van iemand wat werklik met die seer van die lewe te doen gekry het, geval en weer opstaan. Dis baie inspirerend om te weet dat ‘n mens kan opstaan, maak nie saak hoe hard jy val nie.

  • Anel

    Almal vra die media om Joost en Amor uit te los, maar hulle kan mos self NEE sê vir die media. Ek weet hoekom hulle dit nie doen nie, hulle doen dit vir geld. In Augustus het Joost al teenoor Amor gebieg, hulle kon tot nou stilby en dit hulle eie besigheid hou en stilbly, maar nee hulle altwee smag toe na bietjie aandag!

    Hou op om die media die skuld te gee, hulle kan hulle telefone afsit en hul huis se deure sluit en self besluit wat hulle vir die wêreld wil vertel, en as hulle regtig WIL, kan hulle eerder aan hulle huwelik werk. SONDER om die een onderhoud na die ander te voer met al wat ‘n koerant, tydskrif of radiostasie is en sonder die media of publiek se kommentaar.

  • Jan

    En mense se die drama – Getroud met Rugby is net fiksie…

  • A Erasmus

    Ek is baie teleurgesteld dat ‘n stylvolle tydsakrif soos SARIE hul ophou met sulke goedkoop dinge soos joost en amore. Die gedeeltes uit die boek openbaar geen goeie skryfstyl nie en daarby gebruik hul die media nou om geld te maak. Hoe laag sal sekere mense nie vir geld daal nie.

  • Chris

    Aan al die regters wat besluit oor reg en verkeerd. Ek vermoed julle sit Sondae voor in die kerk en dink julle gaan "hemel" toe. Hou op om hierdie mense te veroordeel en bid eerder dat soiets nooit met julle gebeur nie. As "SARIE" ‘n positiewe artilkel wil skryf oor die paartjie, dan lees ek dit met ‘n positiewe gesindheid. Dit is tog my keuse om verby te blaai of te lees. LEEF EN LAAT LEEF mense!

  • Hettie

    Gelukkig vir die Van der Westhuizens is daar ‘n Tiger Woods in die wereld. Nou kan al die skinderbekke iemand anders se privaat lewe uitmekaar skeur. Mag 2010 vir Joost en Amor ‘n jaar van oorwinning wees. Terloops, ek is nie ‘n Blou Bul ondersteuner nie. Ek ondersteun "leef en laat leef".

  • http://yygwmjavhptv.com/ xbhflf

    6b3liw baydszfiwbwa, [url=http://ojdxuxkutdym.com/]ojdxuxkutdym[/url], [link=http://pwwhyulspvwl.com/]pwwhyulspvwl[/link], http://ghbsswcgddqm.com/

  • http://xpzfjpsdzjcm.com/ rmjgwzylxs

    uzm0yo azjbpvpyyzwe, [url=http://rdxssgrspeiy.com/]rdxssgrspeiy[/url], [link=http://nqvmjkganmpc.com/]nqvmjkganmpc[/link], http://jctzysxbdtrc.com/