FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Emosionele aftakeling en mishandeling meer algemeen as wat jy dink

Emosionele aftakeling en mishandeling is ’n onderwerp wat dikwels in die nuus is in Suid-Afrika waar geweld hoogty vier.

Daar is konstant berigte in die media oor veldtogte wat geloods word om mense bewus te maak hieroor, sodat hierdie onding in die samelewing stop gesit kan word. Meer dikwels lees ons stories waar iemand vervolg word weens gewelddadige optrede teenoor ’n huweliksmaat, geliefde of selfs teenoor kinders. Die Namibiese skrywer, Elsa van der Merwe, werk ook as ’n hipnoterapeut en sy word daagliks in haar praktyk gekonfronteer met sulke tragedies. Sy glo emosionele aftakeling en verkragting binne verhoudings moet blootgelê word, sodat mense gehelp kan word om los te breek uit ’n bose kringloop van geweld. Haar roman, Marionette (selfuitgegee met behulp van Naledi, R203) gaan juis hieroor.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Willemien Niemann staan na 30 jaar se getroude lewe voor ’n kruispad. Moet sy haar man los na jare van aftakeling en emosionele teistering, of moet sy by hom bly ter wille van haar kinders en haar erfplaas? In dié ontstellende verhaal word Willemien se aftakeling grafies beskryf. Haar situasie raak al die mense op die plaas, van haar matriekseun, tot die werkers in die huis en die werkers wat in die wingerde werk. Hul lojaliteit lê by haar en almal probeer haar op ’n manier beskerm teen haar man. Sy duiwels het diepgewortelde redes en daar is nie ’n eenvoudige verduideliking vir waarom hy optree soos hy doen nie. Hierdie verhaal gee insig in die stelselmatige manier waarop iemand emosioneel so afgebreek word dat hulle kwalik ’n besluit kan neem om uit hul benarde situasie te probeer onstnap. Ek het per e-pos met Elsa van der Merwe gesels.

Vertel my meer van jouself, wie is jy, wat doen jy?
Ek het elke emosie wat ’n mens kán ervaar, deurleef . . . en kry steeds elke dag meer insig waarom dit nodig was en is. Ek’s ’n gebore Namakwalander, het gematrikuleer in Stellenbosch en toe daar my BA-graad en HOD voltooi. Daarna het ek skool gegee op Swakopmund en later in Windhoek. In 1986 is ek getroud met Werner en deur die genade (en met baie harde werk) is ons steeds bymekaar!

Ons oudste dogter, Nicolene, het op 1-jarige ouderdom (Maart 1990) verdrink in ons swembad. Ek was die dag alleen tuis en het baie lank geneem om dit te verwerk. Vandag verstaan ek meer omtrent elke siel se rol in ons menslike ervaring en kon ek vrede maak met die verloop. Ek was toe drie maande swanger met my tweede kind en die traumatiese swangerskap het ook ernstige nagevolge vir haar gehad. Odette is ses maande later (Des 1990) gebore en is hiperaktief sedert geboorte. Vandag het sy en Anthon, haar man, ’n driejarige dogtertjie, Mieke, wat haar anker is en van my ’n ouma maak. Dis die wonderlikste geskenk ooit, aangesien dit die eerste kleintjie is wat ek help grootmaak sonder al die vrese.

My seun, Chris, is in 1992 gebore en het pas sy laaste vak geskryf vir sy diploma in Toerisme. Ons is geweldig trots op hom, want hy is ontsettend disleksies en veg op sy beurt om daardie stigma te oorkom.

Dit het my 10 jaar van oorleef ter wille van die kinders en die skryf van my eerste boek, Rookkringe, geneem om weer te kon kop oplig en aangaan met my lewe. In 2010 het ek, in ’n poging om ander kinders te help met dieselfde probleme as my eie, gekwalifiseer as gesertifiseerde hipnoterapeut en sedertdien bedryf ek ’n praktyk in Windhoek.

Jy dra die boek op aan jou grootword-grond, Karoovlakte. Waarom?
Want ’n plaas maak jou mens en leer jou eerstehands hoe afhanklik jy van God is, maar ook hoe fantasties Hy ons toegerus het vir die reis. Ek lees gister Gunilla Norris se aanhaling: “Within each of us there is a silence, a silence as vast as the universe. And when we experience that silence, we remember who we are.” Daai stilte is op ’n plaas!

Waar het jy die saadjie vir hierdie verhaal gekry?
In my praktyk sien ek daagliks vroue wat in verskillende fases van mishandeling leef. Sommige word emosioneel afgetakel en ander word onderwerp aan huishoudelike geweld. Ek was geskok om te sien hierdie euwel vind in normale huishoudings plaas. Ons wil mos maar glo dis iets wat anderkant die treinspoor gebeur. Ek het besluit dis ’n tema wat hard aangespreek móét word – onder die Afrikaner veral – aangesien selfs diegene naaste aan my weier om die omvang te erken. Ek hoop elkeen wat Marionette lees sal iets van haar-/homself herken en besef presies wat alles word as mishandeling en manipulasie gereken.

Hoeveel van jou persoonlik is in jou hoofkarakter, Willemien?
Willemien se grootword-herinneringe en die plaaslewe is biografies. Ook haar emosies, want ek dink dis opportunisties om oor emosies te skryf wat jy nog nooit self ervaar het nie. Opgevoede, geleerde, sterk vroue word ook aan mishandeling onderwerp. Mishandeling neem geleidelik toe en as die slagoffer uiteindelik besef wat aangaan, is dit reeds te laat.

In ’n sekere mate glo ek almal van ons loop deur onder emosionele afbrekende gedrag. Ek dink nie mans bedoel dit noodwendig as sulks nie, want dis ’n grootword-norm wat hulle aangeleer het in hul ouerhuise. Verder versterk godsdiens die onderdanige-vrou-gedagte en word almal op hul plek gehou met die Bybel/Koran of ander heilige geskrif. Voeg hierby die militêre ervarings waaraan my generasie mans blootgestel was en jy het ’n resep vir manipulasie.

Het jy die karakters op mense gegrond wat jy ken, of is hulle fiktief?
My karakters is almal op die een of ander wyse gekoppel aan my. Lea en Maria is gegrond op die twee Kleurlingvroue wat my help grootmaak het. Die Gal-familie was werksaam op die plaas en het vandag nog kontak met my ouers, Lea (Lena) veral. Willemien se familie is ook geskoei op my eie familiestruktuur, juis omdat ek die ondersteuningsnetwerk wou beskryf, maar ook hoe verskillende kinders binne dieselfde gesin kan verskil.

Wat is vir jou die kerntema van hierdie verhaal en waarom wou jy dit skryf?
Emosionele mishandeling, manipulasie en huishoudelike geweld is die kerntema, ook hoe dit elkeen binne die gesin, familie en werkomgewing raak. Ek glo dis tyd dat dit wat agter toe deure gebeur, in die oopte ingeruk word en gesien word vir wat dit is. Elke vrou moet selfs die geringste nuanse daarvan raaklees en dit herken vir wat dit is. Mans ook. Dis nie om ’n feministiese standpunt te bevorder nie, inteendeel, dis om ’n menswaardigheidbeginsel te versterk: Elke mens het die reg om te dink, te voel, te sê. En géén een se reg is verhewe bo ’n ander s’n nie, ongeag geslag, geloof, ras of kultuur.

Jy werk as ’n hipnoterapeut. Is skryf vir jou ’n vorm van terapie?
In ’n mate, ja. Ek wou sedert my kinderdae skryf en het grootgeword in ’n huis waar my ouers gelees het en lees as een van die pilare van opvoeding gesien is. (Hulle was beide oud-onderwysers.) Skryf dwing my om emosies te verwoord tot dit sin maak. Ek sien dit in my praktyk – mense maal goed in hul koppe rond en eers as hulle genoodsaak is om dit hardop te verwoord, kry hulle werklik perspektief. Miskien skryf ek nie vir die terapie nie, maar vir die perspektief.

Werk jy aan ’n volgende boek?
Rookkringe is uit druk en ek sal dit graag wil hersien en weer uitgee – met die grysheid kom meer wysheid!
My tweede roman, Kringloop, is klaar, maar geen uitgewer sien kans daarvoor nie. Die tema is die mens se soeke na jouself en God. Dit leun swaar op die veronderstelling dat godsdiens bloot die mens se interpretasie van God is. Ons veroordeel so maklik ander gelowe. As ons fokus op die ooreenkomste eerder as die verskille, kan ons ander ook ’n plek in die son gun. Dit kort nog skaaf en skuur sodat dit nie te akademies oorkom nie.