Mariël le Roux. FOTO: verskaf

Boeke

Engel gee vrou opdrag om haar baba te vermoor

Isabella Malherbe het gehoor hoe ’n engel vir haar sê sy moet haar baba vermoor.

Maar dié engel het net in haar kop bestaan. So ook die wilde katte wat sy ná haar dogtertjie se geboorte in haar huis opgemerk het. Rachel, die Malherbes se huishulp, maak alarm by Gideon (Isabella se man) en by die buurvrou, Bes, wanneer sy agterkom Isabella tree vreemd op. Gideon vra hulle om onopsigtelik ’n ogie oor Isabella te hou. Die twee voorkom ’n tragedie wanneer hulle haar keer om haar pasgebore baba te versmoor.

Dié dramatiese gebeure vorm een van die kerntema’s in Mariël le Roux se jongste roman, Isabella (Tafelberg, R280) wat draai om die lewe van haar hoofkarakter, genaamd Isabella. Wanneer postnatale psigose by Isabella gediagnoseer word, verduidelik dit waarom sy so vreemd opgetree het. Die diagnose verander haar en Gideon se verhouding vir ewig. Twyfel het ingekruip en nesgeskop tussen hulle en ook gemaak dat Isabella haar eie gevoelens en oordeel nie meer kon vertrou nie. Moederskap word deeglik ondersoek vanuit verskeie oogpunte in hierdie boeiende verhaal. Le Roux raak aan ’n hele klomp komplekse temas, van disfunksionele gesinne en hoe dit die betrokkenes se lewens permanent beïnvloed, die gebrek aan kommunikasie in verhoudings, die impak van mislukte aspirasies op mense se lewens, tienerswangerskappe en aanneming.

Die verhaal speel af op ’n myndorp en die omgewing en die inwoners van die kleindorpse gemeenskap word treffend beskryf. Deur Isabella leer ken jy al die ander inwoners se diepste geheime en hoe die inwoners van so ’n gemeenskap aangewese op mekaar is. Vir die goeie, maar ook vir die slegte dinge wat gebeur. Isabella is ’n roerende verhaal oor ’n vrou wat terugkyk oor ’n lewe vol wroeging, sonder dat die verhaal jou desperaat laat voel. Vroue sal sterk aanklank vind by die hoofkarakter wat kwessies moet hanteer wat vroue intens raak. Ten spyte van die ernstige temas wat aangeroer word, is dit ook ’n vermaaklike verhaal vol interessante mense wat sorg vir ligte en empatiese oomblikke.

Ek het met Mariël le Roux gesels oor hoe sy skryf.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Jy het laat in jou lewe begin skryf. Hoe het dit gebeur?
Ek het na die eerste keer wat ek afgetree het, begin skryf. Ek het ’n paar keer afgetree, want ek het elke keer weer gaan werk vir ’n jaar of twee om af te los. Maar ek het besluit ek wou meer maak van my lewenslange stokperdjie, want ek skryf graag. Sowat 40 jaar gelede het ek ’n vriendin ontmoet, ’n Hollandse dame wat haar lewe hier in Suid-Afrika deurgebring het ná die Tweede Wêreldoorlog. Sy was saam met haar ma en twee susters in die Japanse kampe op Java. Sy het vir my sulke notas gegee wat sy geskryf het oor hoe haar lewe verloop het  totdat sy in Suid-Afrika gekom het. Drie jaar daarvan was sy in die kampe. Ek het haar toestemming gevra om haar verhaal te skryf en dis Wilhelmina, Kampkind op Java wat my eerste boek was. Dis waar ek in 2007 begin het.

Hoe skryf jy, het jy ’n roetine?
Ek het geen roetine nie, maar ek skryf gewoonlik in die oggend in my studeerkamer. Die kleinkinders noem dit ouma se art room, want dis waar ons prentjies teken en goedjies maak.

Waarom die titel, Die Naamlose, vir jou een boek, want al jou ander boeke het ’n voornaam as titel?
Ek het hulp gehad met dié titel, want ek het dit aanvanklik Die Katkoppie genoem. ’n Baba wat swak genetiese materiaal was, is gebore – die brein het nie ontwikkel nie. Een van die ou verpleegsters saam met wie ek gewerk het, het dit ’n katkoppie genoem en dis wat ek toe die boek noem. My redakteur het die titel afgekeur. In die boek is daar vier groepe mense wat nie werklik ’n sê het nie, waarvan die katkoppie een was. My redakteur het toe voorgestel dat ons die boek eerder Die Naamlose maak.

Dié boek het ’n tweede prys in ’n literêre wedstryd gewen. Het dit jou beïnvloed oor hoe jy jou volgende boek aangepak het?
Die prys het my natuurlik totaal oorweldig. Ek is nie eintlik mededingend van aard nie. Die prys het geen invloed gehad op hoe ek Klara aangepak het nie. Die verhaal was toe al in my kop geskrywe.

Jy skryf oor vroue karakters. Wat trek jou aan na vroue karakters?
Ek dink ek kan in ’n vrou se kop inklim. Ek sal nooit probeer om in ’n man se kop te klim nie. Dis vir my ’n totale ander wêreld. Ek het vreeslik bewondering vir mense soos Francois Smith wat in ’n vrou se kop ingeklim het met Kamphoer en nou weer Marita van der Vyver wat met Misverstand in ’n man se kop ingeklim het. Ek het baie respek vir hulle. Dis vir my maklik om met vroue te identifiseer.

Meeste van jou verhale speel af in ’n landelike of kleindorpse agtergrond. Waarom daardie tipe milieu kies vir jou verhale eerder as ’n groot stad?
Dis my eie agtergrond. Ons het in Durbanville gebly. Dis ook maar ’n klein dorpie, al is dit deel van ’n groot stad. Met die laaste boek – ek het ’n harde wêreld gesoek vir die verhaal, want dis ’n harde storie. Die mense moet van goeie stoffasie wees om op die plek te kan oorleef en ek het dit gekry by die myne. Ons is myne toe, juis omdat ons dogter baie werk gedoen het vir die myne. Sy was kort-kort daar en dan kom sy huis toe en sy vertel hierdie stories van die wonderlike mense wat daar bly en die harde bestaan wat hulle het. Toe ek begin met Nommer 4, dit was eers die titel, toe het ek dit in my kop gehad dat ek moet wegkom van die plaas af, want Die Naamlose en Klara speel af op plase. Ek wou bietjie wegkom daarvan en dis hoe ek by die myndorp uitgekom het.

Is jy van nature iemand wat mense en dinge dophou? Hoe skep jy jou karakters?
Ek het ongeveer 30 jaar langs kraambeddens deurgebring. As jy daar sit, die dame het gewoonlik of ’n ma of ouma wat haar met die geboorte help, dan sit jy vir ure langs die bed en jy gesels. Die mense vertel jou daar stories in detail, tot op die murg van die waarheid. Dis waar meeste van my stories vandaan kom. Ek kyk mense goed deur. Dis deel van my werk om detail raak te sien en daarom sien ek mense se eienskappe. Mense wat my verhale lees, herken soms mense uit my verlede in van die karakters. Daar is in die nuwe boek ’n verbeeldingsmaatjie wat te voorskyn kom, John Wycher. Die John Wycher het in my huis meer poeding geëet as enige van my eie kinders. Hy was die verbeeldingsmaatjie van ons oudste seun. So, ja, ek gebruik baie van die mense wat oor my pad kom.

Waarom skryf jy uit die eerstepersoonverteller se oogpunt?
Ek het oorspronklik die storie in die derde persoon geskryf. Toe is dit ’n klaaglike mislukking. Daar was nie vonk in nie. Toe het ek oorbegin en die storie in die eerste pesoon geskryf. Vir my was dit ’n verlossing om Isabella te word en uit haar oogpunt te skryf. Die ander karakters kom baie gemaklik. Ek sien iemand en ek kan hulle beskryf en inweef in die verhaal.

Jy skryf in diepte oor verhoudings in die verhaal, maar met die klem op disfunksionele gesinne. Waarom?
Dis ’n groot belangstelling van my, hierdie trauma wat ’n disfunksionele gesin of ’n kind het wat dan vir die res van hul lewe saam met hulle gaan. Daardie trauma word nie gesond nie. Jy pas aan, jy kry terapie, maar jy vergeet dit nooit nie. Beide Gideon en Isabella kom uit disfunksionele gesinne en dit veroorsaak vir hulle probleme. Dit fassineer my hoe hul onderskeie agtergronde uit twee verskillende soorte disfunksionele gesinne hul verhouding geraak het.

  • Die Naamlose, naaswenner van die Sanlam Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2009 is pas heruitgegee met ’n nuwe omslag.

    FOTO: verskaf

    FOTO: verskaf