FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Eunice Basson oor haar eerste digbundel

Haar eerste digbundel het laat in haar lewe verskyn, maar die liefde vir poësie en letterkunde het reeds vroeg in haar lewe ontstaan.

Haar debuut, Leiboom (Quellerie, R155) het laat verlede jaar op die rakke verskyn. Dit is verdeel in drie afdelings. Die eerste afdeling bevat natuurgedigte, in die tweede afdeling is geweld in die alledaagse lewe die ondertoon en in die derde afdeling is die gedigte meer biografies van aard. Ek is nie ’n gesoute leser van poësie nie, maar wat ek van hierdie gedigte hou is dat daar ’n storietjie in elke gedig vertel word. Die gedigte is toeganklik, maar praat oor komplekse temas. Vir my is een van die roerendste gedigte in die bundel “Hoe skryf jy oor jou ma”. Die treffende tweede strofe is as volg:

“Hoe skryf jy oor jou ma,
Haar wêreld binne wêrelde,
die vrou wat my kleintydverdriet
kon raakvat en tot niet maak’
haar grootmens-verliese
met betaamlike stiltes kon dra?”

Hierdie bundel is vir lees en weer lees! Ek het per e-pos met Eunice gesels oor gedigte en haar debuut-bundel.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Vertel kortliks wie jy is en wat jy doen.
Beroepsgewys is ek ’n akademikus en my vakgebied is dié van kunshistorikus. Ek het my akademiese opleiding aan die Universiteite van Pretoria en Unisa voltooi en is na ’n kortstondige lopie as navorser by die voormalige Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing   aangestel as dosent by UP. In die laat tagtigerjare is ek in die Departement Kunsgeskiedenis en Visuele Kunste by Unisa aangestel waar ek in 2011 uitgetree het om juis meer tyd vir my ander belangstellings in te ruim. Ek is steeds betrokke in my vakgebied, maar deesdae veral by studieleiding op nagraadse vlak, en ek tree ook op as eksterne eksaminator.

Hoe het dit gekom dat jy so laat in jou lewe ’n digbundel publiseer?
Aan die eenkant is daar altyd die idees (en drome) om by die dinge uit te kom wat mens werklik interesseer soos om tyd te skep om te kan skryf, en aan die anderkant is daar die harde werklikheid soos deur ’n beroepslewe vereis. In die akademiese wêreld val die klem daarop om nagraadse kwalifikasies te verwerf, om jou publikasielys in geakkrediteerde tydskrifte vir elke jaar by te hou, voorgraadse-, maar veral nagraadse studieleiding te inisieer en uit te brei, om ’n bydrae en ’n verskil te maak in die gemeenskapsprojek waarby jy betrokke is, en so kan ek uitbrei. Daarby saam het my ouers, wat vyf blokke van my af in hul huis gewoon het, bejaard en broos geword wat noodwendig die ‘bestuur’ van ’n tweede huishouding meegebring het. Dit het baie fyn voetwerk geverg asook ’n soort ‘onopsigtelike’ begeleiding om nie die normale gang van hulle lewens te ontwrig nie. Ongelukkig het die onvermydelike dag aangebreek toe hulle, reeds diep in hulle tagtigs, na ’n aftree-oord moes verhuis. Daar is egter niks soos ’n bestekopname en ’n paar sommetjies rondom tydsverloop nie. Net daar en dan het ek myself vir die MA in Kreatiewe Skryfkuns by UP gaan inskryf.

Het jy altyd gedigte geskryf reg deur jou lewe?
Nee, maar ek het notas bygehou van temas, gesprekke of idees wat my opgeval het en dit in ’n lêer bewaar. So nou en dan wanneer die inspirasie of tyd toegelaat het, het ek na my notas teruggekeer, maar dit werklik eers weer met mening uitsorteer toe ek vir die kursus ingeskryf het.

Waar kom jou liefde vir gedigte vandaan?
Ek wil dit breër stel as my belangstelling in die letterkunde wat bepaald van my pa af kom. Van kleins af is ons as kinders aan sy ruim boekery rondom die Afrikaanse Letterkunde blootgestel en het hy gereeld in die aande vir my en my broers voorgelees uit Sangiro, die Hobson broers, PJ Schoeman, AG Visser, Leipoldt, Die Skatkis, ensovoorts. Ons het absoluut vryheid gehad om dit te lees wat ons interesseer.

Lees jy poësie en het jy gunsteling-digter?
Ek lees beslis rond en bont binne die Afrikaanse poësie en probeer ook redelik byhou by wat in die internasionale Engelse wêreld gepubliseer word. The Guardian publiseer heel dikwels interessante onderhoude en artikels oor kontemporêre digters wêreldwyd. Ek vind dit baie inspirerend. Dit is moeilik om een digter se werk uit te sonder, maar Wilma Stockenström se werk bly deurlopend boeiend.

Vanwaar die titel, “Leiboom” vir jou bundel?
My ouers was beide lief vir tuinmaak. As kind moes ek in die snoeityd dikwels my pa help om die lote van plante op te lei en met sisaltou teen ’n struktuur te vestig. Die beeld van my pa en hoe hy my geleer het om te snoei en plante op te lei het my altyd bygebly. Sy sterk vormende invloed op my het hierdie titel, die Afrikaans vir die Franse woord ‘espalier’, tot gevolg gehad.

Hoe het jy die bundel aangepak, met spesifieke temas in gedagte of het jy net geskryf wat in jou hart opkom?
Van die gedigte in die bundel het onder meer uit momente in my tuin ontstaan, maar ek het natuurlik ook my ou notas opgesoek en van daardie temas ontgin. Ek het nie op spesifieke temas gewerk nie, maar die outobiografiese invalshoek was onvermydelik.

Het jy ’n gunsteling gedig in jou bundel?
Moontlik ‘Miena’, of ‘Lugkastele’ of miskien ‘Reën in die Wildtuin’.

Werk jy aan ’n volgende bundel?
Ja, ek het reeds agter my rekenaar ingeskuif en aan idees begin torring. Dit is ’n heel sinvolle oefening om die momentum en die dissipline om elke dag te werk, te behou, al vee mens die volgende dag daardie ‘goue’ versreël met minagting van die tafel af!