FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Finaliste van ATKV-Woordveertjies 2016 aangekondig.

Die finaliste van die ATKV-Woordveertjies 2016 is pas aangekondig. Die wenners word op 9 September bekend gemaak.

SARIE en sarie.com het oor ’n paar van die benoemdes en hul boeke geskryf.

Lees hier die onderhoud met Schalk Schoombie oor sy boek, Boomkastele (Human & Rousseau), wat ’n finalis is vir die prosaprys.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die verdwyning van Billy Katz deur Chris Karsten (Human & Rousseau) is aangewys as ’n finalis in twee kategorieë: prosaprys en spanningslektuur.
Die verdwyning van Billy Katz, Chris Karsten (Human & Rousseau, R250)
Lesers van Karsten se Abel-boeke sal verheug wees om te hoor hy het nou ’n verhaal geskryf waarin Ella Neser met reg die hoofrol vertolk. Sy het ons geboei in die Abel-trilogie en ons wou meer weet oor haar. Sy is ’n boeiende karakter met wie lesers maklik identifiseer. In hierdie jongste verhaal begin sy weer werk as speurder ná sy drie maande tuis herstel het nadat sy die Abel-saak finaal afgehandel het. Is sy reg vir ’n nuwe saak, een waar sy die spoor moet vat van vier geamputeerde voete? Waar kom die voete vandaan en waar is die res van die liggame? Sy is maar nog bewerig en onseker oor hoe sy dinge gaan hanteer. Maar werk bly werk en sy moet die saak begin ondersoek. Sy krap met die hulp van ’n voormalige speurder ’n onheilige nes van skokkende, en tragiese gebeure oop. Die storie word stelselmatig onthul, totdat al die dele mooitjies in mekaar pas. Die karakters word weer uitmuntend beskryf, op so ’n manier dat jy jouself kan indink presies hoe hulle lyk. En Karsten weet net hoe om die plot die heeltyd lewendig te hou sodat jy die boek in een dag wil verslind. Natuurlik sal ek graag in ’n volgende boek meer wil lees oor Ella se verhouding met die voormalige speurder! – Phyllis Green

Toe Elvis ophou sing deur Juanita Aggenbach (Protea Boekhuis) is ’n finalis vir die prys vir liefdesromans.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Toe Elvis ophou sing, Juanita Aggenbach (Protea Boekhuis, R195
Die uitwerking van drankmisbruik op kinders se latere denkpatrone is waaroor dit hier gaan, sê die agterblad van dié boek. Dit klink na ’n verhandeling vir ’n doktorsgraad, maar  dis ’n diep menslike roman, geskryf vanuit die ervaringswêreld van ’n dogter wie se pa ’n alkoholis is. Die leser ervaar haar vrees, haar hartseer en hoe haar grootoog- onskuld uiteindelik vernietig word. Dis waarskynlik die persoonlike verhaal van elkeen wat in ’n disfunksionele huis grootgeword het of steeds daarin vasgevang is.
Melanie en haar mense is ’n gewone Afrikaanse gesin vol belofte en drome totdat brandewyn en Coke ’n wrede stokkie daarvoor steek. Die karakters is eg, die plekke bestaan en die storie speel af teen die agtergrond van ware nuusgebeure wat die leser sal herken. Dis ’n onvoorspelbare en pynlike reis saam met ’n kind wat uiteindelik as volwassene daarin slaag om die onbewuste juk af te skud wat sy vir jare saamgedra het. – Susan Puren

Nog ’n finalis in dié kategorie is Gelyke kans deur Santie van der Merwe (LAPA Uitgewers).

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Gelyke kans, Santie van der Merwe (Lapa Uitgewers)
Die ondenkbare gebeur – Jessica se man, Anton, kondig aan dat hy wil skei want hy het iemand anders lief – ’n veel jonger vrou wat saam met hom werk. Jessica is verpletter en weet nie hoe om aan te gaan met haar lewe nie. Aangesien haar kinders almal oorsee is en haar besigheid sonder haar kan aangaan, besluit sy om vir ’n rukkie na haar strandhuis te gaan. Daar loop sy haar ou jeugliefde, Joe, raak. Joe, wat haar hart gebreek het toe hy ná matriek net verdwyn het.

Die verhaal speel af vanuit die perspektief van sowel Jessica as Anton en dit gee baie meer diepte aan die karakters. Dit laat die leser met nogal meer begrip vir almal en ook vir die gelyke kans wat hulle mekaar jare gelede belowe het.

Hierdie aangename debuut is allermins ’n voorspelbare liefdesverhaal.  – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Irma Venter se Skarlaken is benoem vir die prys vir spanningslektuur. Sy ding mee met Chris Karsten en Martin Steyn in hierdie kategorie.

Lees hier die onderhoud met Irma Venter oor haar boek, Skarlaken (Human & Rousseau)

 

Kliek hier vir ’n volledige lys van al die Woordveertjie-finaliste in die verskillende kategorieë.

Hou sarie.com dop vir meer nuus oor skrywers en boeke.