FOTO: verskaf

Boeke

Francine Rivers oor die skryfproses en haar lewe

Francine Rivers het al 20 boeke geskryf wat in meer as 30 tale regoor die wêreld vertaal is. Net in Suid-Afrika alleen is al meer as ’n miljoen van haar boeke verkoop. Sy is bekroon met drie Rita-toekennings vir haar skryfwerk.

Onlangs toe sy Suid-Afrika besoek het, het sy vertel hoe belangrik skryfwerk in haar lewe is. Sy skryf oor persoonlike vrae waarmee sy worstel en gewoonlik is dit dilemmas waarmee ander mense ook kan identifiseer. Sy was hier om haar jongste boek, Die Brug na Haven (Christelike Uitgewersmaatskappy) bekend te stel.

Waar begin ’n storie vir jou?
’n Boek begin altyd vir my met ’n vraag, daarna kom die karakter en eers dan kan ek die storie begin skryf. Dikwels weet ek nie waarheen ek met ’n verhaal gaan nie, want God wil my iets leer deur die skryf van die storie. Ek het gewoonlik ook ’n idee hoe ek die verhaal wil eindig, maar ek is nooit seker wat tussenin gaan gebeur nie. Die skryfproses gebeur baie natuurlik en die verhaal neem sy loop soos wat ek vorder. Ek is geneig om baie lank te skryf en daarom hou ek van die redigeringsproses. Dan kan ek die storie goed bymekaar trek.

Jou man, Rick ondersteun jou baie met jou skryfwerk. Vertel meer oor julle verhouding.
Ons ken mekaar al vandat ons in 5th grade was en is regtig baie goeie vriende. Hy sou met iemand anders uitgaan en dan kom hy na my huis toe na die tyd. Sy ma het altyd vir hom gevra waarom hy nie die ander meisie los en met my uitgaan nie en dan was sy antwoord altyd dat ek te baasspelerig is. Ons het saam groot geword en ek dink ons verhouding is daarop gegrond dat ons mekaar toelaat om ons drome uit te leef. As dit nie vir hom was nie, sou ek nie eers my eerste manuskrip na ’n uitgewer gestuur het nie. Hy het my bly vra waarom ek nie skryf nie en wat het met die manuskrip gebeur, totdat ek geantwoord het dat dit in die kas is. Sy goeie raad was dat ek dit aan die uitgewer moes stuur, want die uitgewer sou nie aan my deur kom klop om te vra vir die manuskrip in die kas nie. Maar net soos hy my aanmoedig, so doen ek dit ook met hom in sy besigheid. Ons verhouding was egter nie sonder probleme nie.

Hoe het die probleme julle verhouding geraak?
Ons het baie baklei. Ons het altwee baie sterk wille. Dit was aanvanklik ’n wipwaentjie-verhouding met hoë hoogtes omdat ons so verlief was, maar ook lae laagtes in terme van ons albei se kwessies. Hy het dikwels nie begrip gehad vir die dinge waardeur ek gegaan het nie, die oorblyfsels van my skuldgevoelens oor my aborsie (ek het as student n wettige aborsie ondergaan), en ek leer steeds dinge oor sy Viëtnam-ervarings wat hy vroeg in ons huwelik nie met my kon deel nie. So dis letterlik om die verhouding laag-vir-laag af te skil en deur dinge te werk. Toe ons verhouding met Christus reg was, het ons persoonlike verhouding ook versterk en ons het baie nader aan mekaar gegroei. Deel daarvan is die Bybelstudie-groep wat ons by ons huis hou. Ons dominee het dit vir jare aangebied, maar Rick doen dit nou. Ons gebruik dit ook om deur probleme te werk, maar dis nie maklik nie. Ons het nou ’n nuwe uitdaging, want Rick is gediagnoseer met Parkinson se siekte en hy raak baie depressief. Ek kan my vreeslik kwel oor goed, en ek moet dit nogal beveg en net weet ek moet op God vertrou.

Jy sê dat skryf vroeër jare jou laat ontsnap het uit jou daaglikse lewe, maar het dit jou regtig laat ontsnap?
Aanvanklik het dit nie so gevoel nie, maar dit het ’n ontsnapping geraak. Ek het so nege of tien boeke vir die algemene mark geskryf waarvan ongeveer 5 miljoen eksemplare verkoop het. Ek het ’n sterk beroep gehad. Dit het my fokus geword en my kinders het saam met my in my kantoor geleef. My werk het té belangrik geraak. Dit was asof dit meer vir my beteken het as enigiets anders; ek het dit gebruik om te ontsnap van dit wat besig was om in my huwelik te gebeur, en met die feit dat die kinders die heeltyd om my was. Dit het weer die pyn uit my verlede na vore gebring.

Aan die begin van jou huwelik wou jy nie kinders hê nie, juis omdat jy die aborsie gehad het. Jou boek, The Atonement Child, het gehandel oor aborsie. Hoe het jy uiteindelik vrede gemaak met jou aborsie?
Deur dit in die gesig te staar. Eers toe ek deur post-aborsie klasse gewerk het, het ek emosioneel gesond geword. Ek moes letterlik gaan kyk na hoe God na sonde kyk, sonde is sonde. En ek moes kyk na die verhoudings waarin ek was, die besluit om ’n aborsie te gehad het. Ek moes eerlik wees oor die impak wat my aborsie op my lewe en die mense in my lewe gehad het. Ek moes leer dat God my waarlik vergewe het en dat dit vir my ook tyd was om die kwessie finaal af te handel. Ek moes nie daaraan bly klou nie. Die jaar van die boek was ’n baie moeilike een, want ek wou my aborsie openbaar maak, maar Rick wou nie hê ek moes dit doen nie. Hy was bang mense sou my veroordeel. Ek het net gevoel as ek ’n boek skryf met aborsie as tema, dan moet ek eerlik wees oor my persoonlike situasie ook.
Rick het elkeen van my boeke geredigeer, behalwe The Atonement Child. Hy wou dit nie eens lees nie. Ek was weg met ’n praatjie toe die eerste eksemplaar wat gedruk is by ons huis afgelewer is. Hy het dit gelees en toe ek tuis kom, het hy gesê ek moet in die openbaar oor my aborsie praat en dat hy 100 % agter my staan. Daarna het hy ook post-aborsie klasse gaan bywoon sodat hy die dinge waarmee ek geworstel het, ook beter kon verwerk en hanteer. Dit het ons baie nader aan mekaar gebring en het ook die rigting wat ons huwelik ingeneem het, verander. Ons het die tipiese Kaliforniese ding gedoen en weer getrou – op die strand met sonop met ons kinders rondom ons. Ons het geleer dat jy enigiets kan oorkom as jy dit in geloof deurwerk.

Dit het egter lank geneem om te kom tot die punt waar jy die boek kon skryf.
Ongeveer agt jaar as ’n Christen en dit was ook ’n manier om deur die kwessie te werk. Ek glo dat God my lei om elkeen van my boeke te skryf, al wil ek soms nie oor ’n onderwerp skryf nie. God bring opdrifsels in jou lewe na vore wanneer jy gereed is om dit te hanteer. As jy nie is nie, dring hy aan dat jy dit steeds doen. Ek raak emosioneel wanneer ek oor hierdie boek praat, want dis nie net my ervaring nie, maar ook my ma s’n. Sy het ook ’n aborsie gehad, maar dit nooit verwerk of enigsins bespreek nie. Sy het nooit emosioneel genees daarvan nie. Dis my wens dat niemand ooit die skuldgevoel en skaamte moet verduur wat ek ervaar het nie. Die boek wat ek daarna geskryf het, The Last Sin Eater, het juis gegaan oor skuldgevoel en veroordeling. Skuldgevoelens het my vir jare gevange gehou, maar toe God my laat besef het ek kan die skuld na hom neem, toe eers kon ek ware vergifnis beleef. Dan eers begin die proses van heling. Dis wanneer ons klou aan goed wat dit ons inperk.

Hoe besluit jy oor watter vrae jy in jou boeke gaan skryf, want elke boek gaan oor ’n spesifieke dilemma?
Aan die begin was daar baie persoonlike goed. Nou is dit goed wat ek raaksien wanneer ek reis en wat vrae by my laat opkom. Wat is besig om te gebeur in die kerke, wat is ’n kerk? In Amerika is die fokus baie op die gebou, groter en beter en die programme wat aangebied word. Die kruis word verwyder, want iemand kan aanstoot neem, en ons wil hê mense moet inkom om die boodskap te hoor. Ons is besig om die boodskap te versag, weereens om niemand te ontstel nie. Al hierdie goed wat ek sien, stuur my in ’n rigting – nie dat ek noodwendig presies weet waarheen nie. Ek is op die oomblik ook baie geinteresseerd in die hel, ’n onderwerp waaroor ons deesdae ook nie meer praat nie. Ek het omtrent 10 boeke daaroor gelees. Ek het baie vrae . . .

Is dit moeilik om in die kollig te wees?
Ek is nie regtig in die kollig nie. Wanneer ek wel praatjies lewer, dan is dit amper asof dit nie ek persoonlik is nie, maar eerder die skrywer wat daar staan.

Wat wil jy hê moet lesers onthou as hulle jou jongste boek, Die Brug na Haven, klaar gelees het?
Jy kan altyd huistoe kom na God toe. Dis die verhaal van ’n verlore mens, maar wanneer jy aan die einde kom, is Hy altyd daar, wagtend met oop arms.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Brug na Haven, Francine Rivers (Christelike Uitgewersmaatskappy, R199,94)
Hollywood – 1957. Lena Scott is een van Hollywood se blinkste nuwe sterre. Sy het gekry wat sy altyd wou hê. Sy is IEMAND. Of is sy? Het sy nie te veel opgeoffer nie?
Dan is daar Abra – die pasgebore baba wat dominee Zeke onder Haven se brug optel en huistoe vat. Na vyf jaar as pleegouer moet hy haar weggee aan die Matthewsgesin. Abra, die tiener, voel verwerp, en vol rebelsheid teenoor mens en God loop sy weg. Wat gelyk het soos vryheid, word nou ’n tronk. Trots en skuldgevoelens weerhou Abra egter daarvan om terug te keer na Haven. In haar soeke na liefde het sy weggedraai van almal wat lief was vir haar soos Mitzie, die orrelis. In Abra se donker oomblikke is dit die gesange wat Mitzie haar ingedril het en ds. Zeke se Godswoorde, wat in haar gedagtes eggo. Kan mens wegkruip vir God? Sal Abra die brug oorsteek en teruggaan na Haven?

Dis ’n verhaal van versoekings, onvoorwaardelike liefde en die genade van God. ’n Inspirerende lees! – Alma Liebenberg