FOTO verskaf

FOTO verskaf

Boeke

Gedink jy het moeilikheid met jou skoonma? Dink weer!

Die arme Jane Cambon se skoonma is ’n skoonma uit die hel. Altans so voel dit vir Jane.

In Carol Drinkwater se boeiende verhaal, The Forgotten Summer (Penguin Random House, R230) kan Jane in haar skoonma, Clarisse Cambon, se oë absoluut niks reg doen nie. Die haatdraendheid teenoor haar het reeds jare gelede begin toe Jane as kind saam met haar pa op die Cambons se wynplaas, Les Cigales, gekom het. Haar pa het die Cambons se wyn in ander Europese lande versprei. Maar wat het gebeur dat Clarisse vir Jane nie kan verdra nie? Jare later is Jane getroud met Clarisse se enigste seun, Luc; natuurlik glad nie met haar goedkeuring nie.

Clarisse is eintlik ’n merkwaardige vrou. Sy, Luc en haar skoonsuster het jare gelede uit Algerië gevlug en hulle in Frankryk gevestig waar hulle die wynplaas opgebou het tot ’n suksesvolle bedryf. Die verhaal is vol menslike drama en intrige en Drinkwater is ’n slim skrywer wat die storie so laat verloop dat jy tot aan die einde moet lees om al die familiegeheime te ontdek. ’n Tragiese ongeluk veroorsaak dat Jane en Clarisse baie meer aangewese is op mekaar en dis juis dan wanneer die verlede onthul word. Die verhaal speel nie chronologies af nie, maar dis glad nie steurend nie. So word jy die heeltyd aan die raai gehou oor watter rol die verlede in Clarisse se houding speel, die hede en wat die uiteindelike uitkoms van Jane se lewe is. Dit was ’n heerlike leeservaring oor lekker volronde karakters. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

A Reunion of Ghosts, Judith Claire Mitchell (HarperCollins UK, R285)
Die Alter-susters, Lady, Vee en Delph, woon saam in hul familie-woonstel naby die Hudsonrivier in New York. Die susters is in hul veertigs en besonder geheg aan mekaar. Elkeen worstel egter met haar eie probleme. Lady is 49 en geskei, Vee is op 46 ’n weduwee en op 42 is Delph nog ’n oujongnooi.

Hierdie verhaal is geskryf as ’n enkele selfmoordbrief van dié drie susters en vertel van die vloek wat hulle glo hulle geërf het: ses selfmoorde in drie geslagte – die laaste daarvan hul eie moeder.  Hulle is oortuig daarvan dat die sondes van die vaders besoek word aan die kinders, die derde en vierde geslag. Elke suster se verhaal word verweef met die geskiedenis van hul voorouers en veral hul oupagrootjie s’n. Lenz Alter was ’n Duits-Joodse wetenskaplike wat chloorgas ontwikkel het wat in die Tweede Wêreldoorlog deur die Nazi’s gebruik is. Die susters glo dit is die oorsaak van die vloek.

Die verhaal maak gebruik van geloofwaardige geskiedkundige gebeure wat daarin verweef word. ’n Donker, dog snaakse blik op familie en hoe ons nooit heeltemal kan ontsnap van wie ons is en waar ons vandaan kom nie!  - Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Contagion, Joanne Dahme (Running Press, R151 e-boek)
Dis die 1880’s. Op die oog af is Rose Dugan se lewe perfek. Sy en Patrick is jonggetroudes. Hy is ’n suksesvolle ontwikkelaar in Philadelphia. Dan besluit hy Philadelphia se waterwerke is verouderd en dit moet opgegradeer word na ’n filtrasiesisteem. Hy sit ’n tender in by die stadsraad. Sy redes vir die opgradering sluit in dat dit uitbrake van siektes soos ingewandskoors wat deur water oorgedra word, sal verhoed. Rose, saam met ’n groep vroue staan sy tender teen, omdat die opgraderings kosbare argitektuur en kunswerke gaan verwoes.  Die waterwerke in Philadelphia is uniek, want dis deel van ’n park vol beelde en muurskilderye. Sean, ’n ingenieur by die waterwerke, probeer die vroue help om die park en waterwerke te beskerm. Rose ontvang ’n reeks dreigbriewe waarin gesê word Patrick moet sy planne stop of daar sal gevolge wees. Patrick vertel vir Rose dat hy die polisie sal kontak, maar dat hy seker is die dreigemente in die briewe sal nie uitgevoer word nie. Wanneer ingewandskoors uitbreek en almal se lewens in gevaar is, besef Rose die erns van die saak. Dan probeer sy uitvind wat werklik aangaan. Is dit kontaminasie of het iemand met opset die water besmet? Die boeiende verhaal hou ’n hele paar verrassings in. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Heartbreaker, Tania Carver (Little Brown, R305)
Hierdie verhaal deur Tania Carver sal jou van begin tot einde gevange hou. Gemma Adderley is ʼn slagoffer van huishoudelike geweld. Sy skraap uiteindelik die moed bymekaar om die huis te verlaat saam met haar sewejarige dogter, Carly. Sy skakel Safe Harbour,  ʼn skuiling vir mishandelde vroue. Hulle stuur  ʼn persoon om haar op te laai en dit is die laaste wat hulle van haar hoor. Die volgende dag word haar dogter dwalend in die strate gevind. ʼn Paar weke later word Gemma se lyk gevind met ʼn verwyderde hart.  ʼn Tweede slagoffer met  ʼn soortgelyke geskiedenis word gevind. Alles dui daarop dat die moordenaar  ʼn verbintenis met die vroueskuiling het. Dit blyk ook uit die profiel wat sielkundige, Marina Esposito, van die verdagte saamstel, dat hy ʼn wrok jeens mishandelde vroue koester. Phil Brennan is die speurder wat die saak ondersoek. Saam met sy vervreemde vrou, Marina, werk hulle verbete om die moordenaar vas te trek. Phil worstel egter met demone van sy eie. Te midde van werkstres en die begeerte om met sy vrou te herenig, ontwikkel hy ʼn obsessie om die moordenaar vas te trek. ʼn Naelbyt-riller met goed verweefde intrige. Leesgenot vir oud en jonk. ʼn Moet vir Carver se aanhangers.     – Anne Marais

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Jakob’s colours, Lindsay Hawdon (Hodder UK, R300)
’n Digterlike, poëtiese boek oor die lewens van ’n pa en sy seun, Jakob, wat van Engeland na Switserland en Oostenryk reis onder die moeilikste omstandighede denkbaar. Hulle is sigeuners en deel van die groot slagting (Holocaust). Alfonso se liefde vir Lor is die eerste aanduiding van sy groot behoefte om te sorg vir diegene na aan hom. Sy liefde vir sy seun wys in sy pogings om Jakob gereed te maak vir die lewe, wanneer hy hom leer hoe om ’n haas te slag en wanneer hy mooi kleure rondom hulle aan hom uitwys. Hy raak bewus van die uitwerking van kleur:

“We travel onwards to those saffron fields, timing it right with that blue harvest, that you best be picking before that yellow sun goes setting in that big sky …” is die begin van ’n onvergeetlike gedeelte oor kleur in die natuur.

Jakob bly verantwoordelik die oudste kind tot die einde, wanneer hy voor ’n hartsverskeurende keuse te staan kom.

Agterin die boek is wetenswaardige feite oor die sigeurens wat al op verskeie skokkende maniere benadeel is.  – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Remember me this way, Sabine Durrant (Mulholland Books, R409)
’n Jaar ná haar man se dood kom Lizzie Carter agter dat sy Zach dalk glad nie so goed geken het nie, want waarom sou daar vars blomme wees op die plek waar hy verongeluk het.  By die blomme was selfs ’n naam – Xenia. Trouens wanneer sy begin rondsnuffel raak sy oortuig hy leef nog. Sy vind allerlei tekens wat daarop dui. Sy kontak van sy ou universiteitsvriende en stel vas dat hy nooit ’n student was nie, maar in ’n winkel in die universiteitstad gewerk het. Sy kom ook agter dat ’n vorige meisie van hom in ’n fratsongeluk dood is.

Dan daag Onnie – ’n jong meisie wie se ouers Zach geken het, op ’n dag by haar huis op, op soek na blyplek.  Onnie verklap ’n paar dinge wat daarop dui dat sy Zach eintlik baie goed geken het en Lizzie raak al hoe meer ongerus en omgekrap.  Sy begin op die spoor loop van sy grootwordjare en soos haar soektog vorder, neem die spanning toe.

Dié riller is knap geskryf met genoeg verrassings wat jou vasgenael laat lees. Die skrywer kan maar enige tyd weer ’n sielkundige riller aanpak. – Alida Vos.

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Skin Deep, Casey Watson (HarperCollins UK, R210)
Dit sit beslis nie in alle ouerpare se broek om pleegouers te wees vir kinders met spesiale behoeftes nie. Maar dit is wel waarvoor Mike en Casey Watson uitgeknip is. Hulle kyk al vir baie jare na kinders wat in die oorgangsperiode is van verwydering uit die ouerhuis na permanente pleegsorg of dan aanneming. So beland Phillippa, oftewel Flip, dan op hul drumpel. Sy word uit haar ouerhuis verwyder omdat haar enkelma ’n alkoholis is en hul huis afgebrand het weens haar nalatigheid.

Die padjie wat die Watsons saam Flip loop vir die tydjie wat sy daar is, is uitdagend om die minste te sê. Omdat sy FAS (fetus alkohol sindroom) het, lyk haar gesiggie anders en is haar grootste wens dat mense sal sê dat sy mooi is.  Sy is onafskeidbaar van haar Barbie pop omdat die juis so mooi is. Ten spyte van die harde werk wat sy verg, kruip sy diep in Mike, Casey en Tyler (hul aangenome seun) se harte.  Wanneer die maatskaplike werker dan wel ’n permanente huis vind vir Flip, neem hulle baie swaar afskeid van haar. Die boek gee mens nogals ’n beter insig oor wat pleegsorg alles kan behels. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

The Taxidermist’s daughter: In death there can be beauty, Kate Mosse (Orion Books, R285)
Spanning bou dwarsdeur die verhaal op. Die leser word aan die raai gehou en kan die boek moeilik neersit. Constantia Gifford is die dogter van ’n taksidermis wat eens op ’n tyd suksesvol was en sy eie museum besit het. Sy versorg haar ontnugterde pa wat sy bitterheid oor sy verval wegdrink en deur duister geheime van die verlede geteister word. Dit gaan hulle almal inhaal. ’n Moord vind naby hul ou huis by die Fishbourne Marshes in Sussex plaas. Later is daar nog moorde. Connie moet vreemde gebeurtenisse en geheime ontrafel, maar ’n ongeluk van jare vantevore het die grootste deel van haar geheue uitgewis. Herinneringe kom in flarde terug, totdat sy die volle prentjie van boosheid en wraak, maar ook liefde kry. – Malene Breytenbach

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

The Unlucky Lottery, Hakan Nesser (PanMacmillan, R218)
Hierdie speurverhaal, uit die Sweeds vertaal, begin met vier bejaarde vriende wat die lotery wen en dié aand bymekaar kom om dit te vier. Daardie selfde nag word een van hulle, Waldemar Leverkuhn, in sy bed vermoor, en sy vriend, Felix Bonger, verdwyn spoorloos.  Inspekteur Münster, wat waarneem terwyl sy mentor, Hoofinspekteur Van Veteren, op langverlof is, sukkel om kop of stert van die saak te maak.  Wanneer nog ’n inwoner van dieselfde woonstelblok vermoor word, wend Münster hom tot Van Veteren vir hulp om die raaiselagtige saak op te los.
Hierdie is die sesde boek in die Van Veteren speurverhaalreeks, alhoewel hy as ’n randfiguur in hierdie boek figureer. Dit bied ’n aangename, vars benadering tot die speurverhaalgenre, dis net jammer dat die vertaling soms bietjie geforseerd voel. – Retha Burger