FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Gegrond op die waarheid

Ek het al dikwels gewonder oor hierdie paar woorde, ‘gegrond op die waarheid’. Daar verskyn legio boeke en rolprente wat hierdie etiket kry.

Soms lees ek ’n boek oor iemand se lewe of geskiedkundige gebeure wat beskryf word as ‘gegrond op die waarheid’ en ek staan verstom oor insidente wat uitgelaat is of wat vanuit ’n andersoortige perspektief aangebied word. In rolprente gebeur dit eintlik meer dikwels. Dan wonder ek op watter waarheid dit gegrond is? Is dit toelaatbaar om in ’n memoir iemand se lewe effe minder swart en wit te herskryf? Om so bietjie die rowwe kante af te vyl en ’n dramatiese, maar geredigeerde weergawe te gee. Om die geskiedenis so bietjie te manipuleer dat dit die silwerdoek pas sodat kykers emosionele verbintenisse kan maak. Ek vra maar net.

Onthou om ons winkel op Kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn te bestel.

Here I am, PJ Powers saam met Marianne Thamm (Penguin, R195)
Die dramatiese eerste hoofstuk van PJ Powers se lewensverhaal het my vasgevang soos ’n vis aan ’n hoek en ek moes net aanhou lees. Sy skop haar verhaal af met hoe sy amper sterf weens haar verslawing aan drank. Sy beskryf hoe sy in ’n desperate poging om alkohol in die hande te kry sover gaan om haarsproei te drink. Dit word so geskryf dat jy as leser verslaaf raak aan die woorde op die bladsy. Die hele boek lees gemaklik en teen ’n vinnige tempo. Penelope Dunlop wou van jongs af niks anders word as ’n sangeres nie, en sy het hierdie droom met absolute vasberadenheid nagejaag en dit ’n werklikheid gemaak. Haar loopbaan begin toe sy sewentienjaar was en haar groot roem het gekom as PJ Powers, die hoofsanger van die groep, Hotline en die groep se groot treffer, Jabulani. Die groepe het gekom en gegaan. Sy het geld gemaak en verloor. Sy het saam met onbekendes gesing, maar ook saam met van die grootste sterre in die wêreld. Vandag is PJ Powers steeds deel van die musiekwêreld. ’n Boeiende memoir wat openhartig die goeie en die slegte van ’n lewe in die openbaar deel. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

One night in winter, Simon Sebag Montefiore (Century, R250)
Hierdie verhaal speel af in Moskou in 1945. Tydens die oorwinningsparade om die einde van die oorlog te vier, word twee tiener skoolkinders doodgeskiet. Dit lyk soos ’n selfmoordpakt tussen twee tieners, albei met hooggeplaaste ouers. Die polisie-ondersoek bevind dat hulle lede van ’n geheime klub, toegewy aan die Russiese digter, Alexander Pushkin, is. Soos die ondersoek vorder, kom die polisie af op ’n dokument wat die hele saak verander en Stalin persoonlik betrek. Al die “Fatal Romantics”-klublede word verdink van hoogverraad, en kinders so jonk as twaalf en ses jaar oud word gearresteer.
Hierdie historiese roman is gegrond op werklike gebeure wat meesterlik in ’n fiktiewe verhaal ingeweef word. Dit bied ’n duidelike beeld van Stalin se politieke heerskappy en illustreer hoe hy vrees gebruik het om die Russiese volk te oorheers.Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Black Widow White Widow: Is Al-Qaeda operating in South Africa?, De Wet Potgieter (Penguin, R230)
De Wet Potgieter se loopbaan as een van die land se voorste ondersoekende joernaliste, is in 2013 tot stilstand geruk nadat sy internasionale scoop oor die doen en late van Al-Qaeda in Suid-Afrika in die Daily Maverick (aanlynkoerant) verskyn het. Hy is gedwing om ’n verdere twee artikels te onttrek en die Daily Maverick moes bontstaan om ’n regsgeding uit Moslem-geledere te systap.
Na die bloedbad in die Westgate Mall in Nairobi laat verlede jaar, waar ’n vrou met ’n vals Suid-Afrikaanse paspoort as een van die hoof verdagtes uitgewys is, het die wêreld se media skielik by De Wet kom aanklop vir inligting. Hy vertel nou vir die eerste keer die hele storie.
Heel interessant beskryf hy nie net die ondergrondse bedrywighede van Samantha Lewthwaite, aka die White Widow nie. Hy vertel ook van die sogenaamde Black Widow, die Afrikaanse Hanlé Brink, wat haarself in die donker wêreld van spioenasie begewe het en sleg tweede gekom het.
Hy het twee jaar lank navorsing oor Al-Qaeda se bedrywighede in Suid-Afrika gedoen en hy haal verskeie kenners oor internasionale terrorisme in die boek aan. Dit kos soms konsentrasie om by te bly, maar ek kon die sagtebandboek nie neersit voor ek al 195 bladsye in een dag verorber het nie.
Dis ’n skrikwekkende prentjie wat ontvou, want korrupsie vier hoogty in die staatsdiens en dis al wat nodig is om ’n aanslag op Afrikalande van hier af te loods. Al is Osama Bin Laden lankal dood, was hy nie al ou wat so ’n aanslag kon beplan nie. – Susan Puren

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die oorlog kom huis toe: Vroue en gesinne in die Anglo-Boereoorlog*, onder redaksie van Albert Grundlingh en Bill Nasson (Tafelberg, R350)
Die lyding en sterftes in konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog het ’n onbetwisbare merk op die psige van die Afrikaner gelaat. Dié gesaghebbende boek is gepubliseer in die 100ste bestaansjaar van die Vrouemonument in Bloemfontein, wat destyds opgerig is ter nagedagtenis aan die lyding in die kampe. Dis ’n versameling skrywes deur vooraanstaande akademici, onder die bekwame redaksie van historici Albert Grundlingh en Bill Nasson. Die inhoud is nie net onberispelik nagevors nie, maar boonop so boeiend aangebied dat jy dit nie kan neersit nie. Daar is onder meer eerstehandse vertellings van mense wat die kampe oorleef het, en meer as 300 foto’s van die kamplewe en artikels uit die oorlog, soos kinderspeelgoed en rantsoenkaartjies.
Die doel van die boek was om antwoorde te gee op vrae soos hoe het die konsentrasiekampe ontstaan, aan watter toestande is die wit en swart kampinwoners blootgestel en wie was daardie vroue en kinders wat so strak in die kamera staar? Die antwoorde verstom. Die hoofstuk oor Nonnie de la Rey, vrou van die bekende genl. Koos de la Rey, was vir my veral aangrypend en insiggewend. Sy was die toonbeeld van die moed en krag wat die ganse Boereoorlog gekenmerk het. Die elfde en laaste hoofstuk is ’n vertaling van Emily Hobhouse se toespraak wat by die inwyding van die Vrouemonument voorgelees is. Daarin besing sy die bydrae van die vroue in die oorlog:
“En hul invloed sal verder uitkring. Hulle het die wêreld gewys dat daar nooit weer gesê kan word dat ’n vrou geen burgerregte verdien omdat sy nie aan oorlog deelneem nie. Hierdie standbeeld staan as ’n ontkenning van daardie aanname … My vriende, dwarsdeur die wêreld is die vrou se tydperk aan die kom; haar dag breek aan.”

(*Die boek is ook in Engels beskikbaar onder die titel The War at Home: Women and Families in the Anglo-Boer War.) - Anine Capraro

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Endless Forms Most Beautiful, Sean B. Carroll (Quercus, R139,95)
Die planeet waarop ons lewe is gevul met ’n groot en fassinerende verskeidenheid van lewensvorme. Dit wissel van die bykans onsigbare tot reuse diere waarvan die neuse 1.8 meter lank kan wees. Hoe al die lewensvorme tot stand gekom het, bly ’n raaisel wat baie mense al lank laat kopkrap. Carroll verduidelik wat die term evolusionêre biologie behels en hoe dit bygedra het tot die totstandkoming van die verskeidenheid lewensvorme wat ons vandag om ons het. Die verskeidenheid is nie die resultaat van nuwe gene wat ontstaan het om nuwe eienskappe te voorskyn te bring nie. Dis eerder ’n geval waar ou en bestaande gene vir ’n heel nuwe doel gebruik word. Talle kleurfoto’s en sketse help om die relatief ingewikkelde proses meer verstaanbaar te maak.
Die boek sal jou met nuwe oë en groter waardering na die omgewing om jou laat kyk. Lees ook die boek om uit te vind of ’n zebra swart is met wit strepe en of dit wit is met swart strepe. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The other side, Hillary Rohde (Jacana, R195)
Toe Hillary Rohde in 1964 vanaf Kaapstad na Londen gereis het, het sy geen idee gehad watter draaie die lewe met haar gaan loop nie. Sy wou net wegkom van haar oorbeskermende ma en haar kunsstudies in Londen gaan voortsit. Min het sy geweet van die hippie-era en dwelms in Londen, dat sy Mick Jagger en Andy Warhol gaan ontmoet, dat sy op die sonnige strande van Formentera sou woon, dat sy sou aansluit by ’n rondreisende groep gypsies, en dat sy uiteindelik sou nesskop in een van die mees afgesonderde dele van Skotland waar sy noodgedwonge sou moes leer spin en weef om die pot aan die kook te hou.
Benewens die beskrywings van al haar avonture, fokus die boek op hoe Hillary ’n sakeryk opgebou het deur die ontwerp, vervaardiging en verkoop van luukse handgebreide kasjmierwoltruie wat verkoop is in die topwinkels dwarsoor die wêreld. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Red Queen, Philippa Gregory (Simon & Schuster, R212)
Margaret Beaufort is die erfgenaam van die rooi roos van Lancaster, maar glo vas dat haar Huis die ware heerser van Engeland is en dat sy bestem is vir groot dinge. Maar dis ’n moeilike pad wat voorlê en reeds as jong dogter raak sy betrokke by die intriges van die adel en almal wat meeding om besit van die troon. Op veertien word sy deur haar ma in ’n huwelik gedwing met ’n man, twee keer haar ouderdom.
Margaret is vasbeslote om haar eensame lewe te verander en sy doen alles in haar vermoë om te verseker dat haar seun, Henry eendag koning van Engeland sal word, ten alle koste.
Dis ’n verhaal van sameswering, passie en ambisie. Philippa Gregory gee lewe aan die storie van ’n trotse en vasberade vrou wat glo dat sy alleen bestem is om die verloop van geskiedenis te vorm, deur haar vroomheid en afkoms.
Dit verg nogal kophou om die draad van die storie te volg, omdat daar so baie intriges, komplotte en karakters is. – Chris Botha

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The summer without men, Siri Hustvedt (Sceptre, R175)
Soms loop mens ’n boek raak wat al jou verwagtinge oortref. Enige boek van hierdie skrywer is ’n vreugde, maar die een is iets besonders.
’n Klassieke Hustvedt-kragtoer oor elke fase van vrouwees: kleuter, pre-puberteit, volwasse, middeljare, asook vroue in verskillende fases in ’n aftree-oord, tot by die natuurlike einde op ’n hoë ouderdom.
Die verteller, Mia Frederickson, is ’n bekroonde digter en stort fisies en geestelik ineen as haar man, Boris, aankondig hy het ’n ‘pouse’ in hul huwelik van 30 jaar nodig. Hy is gefassineerd met ’n baie aantreklike Franse kollega, tot Mia se ontsteltenis. Wanneer sy uit die psigiatriese hospitaal ontslaan word, gaan kuier sy by haar bejaarde ma in Minnesota waar sy geen man wil sien nie.
Hustvedt skryf oor haar gunstelingonderwerpe, soos filosofie, teorie van die letterkunde, neurologie en psigiatrie, asook die genre van romantiese komedie, aangesien sy haar ma-hulle se boekbespreking moet inlei en hulle Austen se ‘Persuasion’ lees. ’n Boek wat elke vrou sal raak, ongeag haar ouderdom. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Up in the air, Betty Riegel (Simon & Schuster, R155)
In hierdie outobiografie vertel Betty Riegel hoe sy vanuit ’n werkersklasagtergrond in Engeland gevorder het tot die glanswêreld van ’n lugwaardin vir Pan American Lugredery in Amerika.
In die vroeë sestigerjare was lugvaart nog ’n baie duur aardigheid wat vir net die ryk en beroemdes beskore was. Daarom moes ’n Pan Am-lugwaardin aan baie streng vereistes voldoen en net die beste en mooiste meisies is gekies om daar te werk. Hulle moes leer om ’n sewegangmaaltyd in ’n vliegtuigkombuis voor te berei en voor te sit aan die kieskeurige passasiers. Hulle moes ook leer hoe om mengeldrankies te meng en te bedien, terwyl hulle die hele tyd vriendelik moes wees en beskikbaar moes wees om met die passasiers te gesels. Dit alles terwyl hulle ’n verpligte stokstywe korset dra!
Die boek is vol interessante staaltjies oor die ervaringe van ’n lugwaardin in die vroeë jare van kommersiële lugvaart. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Bloody Lies, Thomas & Calvin Mollett (Penguin, R230)
Die skrywers Thomas en Calvin Mollett vra hulself af deur wie en waarom ’n jong student, Inge Lotz, op 16 Maart 2005 in haar toegangbeheerde woonstel digby Stellenbosch grusaam vermoor is. Daar was geen teken van inbraak nie en Inge was slegs in ’n moulose frokkie en ’n kort slaapbroekie geklee, wat suggereer dat sy haar aanvaller goed geken het en allermins ’n aanval verwag het. Sy was op daardie stadium in ’n verhouding met Fred van der Vyfer, terloops nie haar eerste vriend nie, wat van moord aangekla en vrygespreek is.
“How did the defence seem to overcome insurmountable odds to win this case?” staan daar op bladsy 167 nadat die skrywers die bewysmateriaal en getuienis in die moordverhoor weer deeglik bekyk het. Dit is duidelik dat hulle hulself geen moeite gespaar het om agter die waarheid te kom nie. Die verdediging het o.a. aangevoer dat die polisie gelieg het. Maar was dit werklik die polisie? Een oorsese getuie, ’n sogenaamde “expert witness” word byvoorbeeld ontmasker as ’n geroetineerde leuenaar.

Byna tien jaar later is die moordenaar steeds op vrye voet. Wat was die wáre motief, vra mens jou af. Die boek bevat genoeg inligting sodat skerpsinnige lesers twee en twee bymekaar kan tel. ’n Nogal vreemde sektariese geloof en jaloesie het moontlik ’n rol gespeel. Volgens getuienis wou Inge nie weer na die betrokke kerk gaan waarvan haar vriend ’n lid was nie. Seks met vorige vriende moes openhartig bely word. Mens wonder – Inge se bors is immers deur die blykbaar woedende moordenaar oopgesny. ’n Pakkende, deurtastende boek, hoogs aanbeveel. - John van den Berg