Boeke

Geleende Kersfees

Nelia hou die vier van hulle deur die venster dop terwyl hulle in die kar klim. Die reën van netnou het druppels op die glas gelaat wat die figure vervorm. Sy byt op haar tande. Dit voel vir haar haar lewe lank of sy deur vensters na mense kyk. Sy’t haar vervies vir Cara, nou die dag, toe dié juis oor die venster-ding met haar gepraat het.

“Nóú’s jy buite en kyk soos ’n weeskind na die lig wat by iemand anders se plek uitstroom, nóú’s jy arme alleenkind wat binne moet bly en kyk hoe almal buite speel.” Hou tog op om so jammer te voel
vir jouself, was die subteks, soos so dikwels wanneer sy met Cara praat.

Haar suster was nog altyd streng. Ousus bly Ousus, of julle 12 en ses of 40 en 34 is. Sy vou haar arms en kyk hoe hulle wegry, en sy raak van voor af moerig vir Cara, wat ’n ander mens is vir haar. Vir die res van die wêreld, vir Tom, die kinders, daai ma van Tom, die hele spul, is sy gedienstig, Cara, darling.

Haar bui bedaar terwyl sy skoonmaak: Die macaroni waarmee Tommie sy naam en dié van sy gunsteling-aksiehelde op die kombuisvloer uitgespel het, die toiletpapier wat Manda soos streamers kruis en dwars van die badkamer af oor die hele boonste vlak van die skakelhuis gestrooi het. Maar dan begin dit weer, daardie donkerte wat oor haar sak, die leemte in haar maag, die wete dat sy dalk nooit sal hê wat haar suster het nie – man, kinders.

Hel, 34 is ’n bietjie laat in die game as daar nog nie eers ’n man op die horison is nie. Sy het al vir Cara probeer verduidelik, by haar troos gesoek, maar as sy nie vir haar lag nie, dan gluur sy haar aan en sê sy weet nie wáárvan sy praat nie. Bleddie ondankbare koei, dink Nelia dan.

Cara wen haar al klaar op oor Kersfees, dié jaar by Tom se ma. Sy troos haar net daaraan dat hulle dáár gaan wees, en nie hier in haar eie huis, wat dan onder inspeksie sal wees nie.Tilda het ’n kapsel soos Emsie Schoeman en ’n glimlag soos Wilna Snyman in haar beste Madel Terreblanche-oomblik. Haar rug verstyf elke keer as die kinders aan haar meubels raak. Sy’t vier kinders grootgemaak, maar jy sal nie so sê as jy na haar huis kyk nie. Niks is dan flenters nie. Dinge is nog
wit. Geen van haar wynrooi rusbanke is met Jik beverf nie.

Haar goeie vriendin Rita het probeer troos. “Man, dink daaraan. Die vrou het darem al ’n kwarteeu gehad om die ergste te herstel. Rusbanke word oorgetrek. Gras groei weer. En weet jy, die formule vir Polyfilla is intussen vervolmaak …”

Soos sy met ’n bondel wasgoed onder die een arm en die skootrekenaar onder die ander by die
slaapkamer instap, merk Cara haarself in die spieël. Sy gaap haarself aan. Haar hare lyk kompleet soos Sandra Prinsloo s’n in Die Naaimasjien, dink sy. G’n wonder Tom …Sy sluk. Nou ja, dit gebeur mos maar, die man is ook moeg, maar dít help seker nie.

Skielik kry sy ’n bevlieging om haar kaste reg te pak. Wat vet of vaal laat lyk, moet uit. En hopelik loop sy iets raak wat sy na die gewraakte Kersete kan dra, want ’n nuwe uitrusting koop, kan sy tog nie, nie met die kinders wat elke jaar duurder presente moet kry nie. Daar is natuurlik haar eie
spaargeld, maar dis mos vir ’n eendag-reëndag,’n krisis,’n tweede wittebrood, eendag.

En daar tuimel hy uit die kas. Daai bikini. Die een wat sy toe nooit gedra het nie, want teen die somer ná sy hom op special gekoop het, het haar eerste bababoep dáár gestaan. Maar hier is hy nou. Met ’n kaleidoskoop van tops en serpe en rompe om haar voete glip sy in die tweestuk. Sy is verbaas om te sien dit pas beter as wat sy kon raai. Báie beter. Daar peul degies oor die kante, maar darem nie te vreeslik nie, en ag, vader tog, sy gaan tog nooit soos Anri lyk nie. Maar die kleur,
saffierblou, lyk fantasties.

“Jy gaan waantoe?”
“Ag, jy weet, Thailand. Dis ááklig alleen by die huis, niks om my besig te hou dié tyd van die jaar nie.”

Cara verskuif die gehoorbuis. Totdat sy ’n nuwe kabel koop, bel sy maar met die landlyn, want asof dit nie klaar ’n malhuis was nie, het die kat vanoggend die laaier se kabel verwoes. Volgens Manda was dit dan só kiiiiejoet om dop te hou.

“Jy besit ’n wínkel. Kérsfees kom,” sê Cara bot.
“Nou juis, Kersfees kom nader en almal gaan aan oor hulle en hulle kinders dit en hulle en hulle kinders dat, en ek kan dit nie meer vat nie! Anyway, ek gaan betyds terug wees vir Kérsfees, die 20ste is ek al terug, dis net tien dae!”

Cara probeer geluidloos sug. Ná ’n pouse sê Nelia: “Ag, in elk geval, jy weet hoe dit is, ek moet in elk geval ’n paar goed vir die winkel kry …”
Weer stilte.

“Hmm. Ja. Mos maar moeilik om geen verpligtinge te hê nie, nè,” sê Cara, en daar smyt die twee tegelyk die foon neer.

Byna twee weke later. Manda staan en huil in die kombuis dat haar bokstertjies bewe. Sy frommel oor haar oë. Vakansie, en Cara speel permanent skeidsregter en verpleegster. Sy tel die kind op en
sien sy’t ’n klapmerk teen die wang. Tommie sis en blaas aan die ander kant van die vertrek. Hy suig sy vinger en Cara weet uit ervaring daar’s ’n bloedrooi bytmerk.

Sy vryf Manda se rug en gooi vir Tommie ’n nou-goed-jou-kleinhelpen-kom-tog-ook-maar-hier-kyk. Hy kom staan styf teen haar been en wanneer sy sy kop begin streel, gaan hy ook aan die huil.

Later werk sy aan ’n Exceldokument terwyl die kinders speel, en nou’s dit die hond. Agter die reuk van biltong aan spring hy met sy pote op die geelhouttafel. Daardie enorme Great Dane-pote van hom met die lang naels… Die kinders het tog so geneul oor hom, dié oulike ou hondjietjie met die geknakte ore, en nie een van hulle het hulle ooit kon verbeel hy gaan ’n jaar later so groot soos die hele patio wees nie.

Soos Nataniël ’n slag iewers gesê het, vra Cara haarself: “Hoekom moet ons so súffer?” Om’n wilde werfhond te tem hoef jy net ’n opgerolde koerant na hom te wys, het haar ma haar geleer. Slegs die baldadigste brakke vereis bygeluide: Klap jou koerant teen die rand van ’n tafel en jy’t vrede. En so staan Cara met haar gesig op ’n plooi getrek en die koerant in die lug wanneer Tom by die huis inbars.

Die hond laat los die biltong en galop met ’n wapperende tong na hom toe. Cara se gesig val. Dis nés al die kere wanneer die kinders haar hel gee, totdat hulle soos engeltjies op Pappa toesak wanneer hy van die werk af kom.

“Jis-jis!” Hy stop nie, strompel net voort met ’n sak braaihout in die arms. Van die patio af roep hy: “Jis, Lief, Ma se geyser het geblaas, het jy gehoor? Die hele plék is onder water. G’n manier dat ons almal dáár ge-Krismis gaan kry nie. Nou hou ons dit hier.”

“Sherbet, Liefie, is jy oukei?” vra Tom wanneer hy inkom en sien hoe sy wydsbeen, oopmond op die vloer sit. “Wag, ek bring vir jou ’n ou teetjie, bly net hier.”

Nog net vyf dae voor Kersfees. Nelia kom môreaand terug. Perfek. Sy rol die blou bikini in ’n handdoek op en gryp ’n buisie vogroom. Haar foon biep. Sy’t intussen ’n nuwe kabel gekry. “Jip, sal nie vergeet nie, lughawe, môre, sien dan! xx C” antwoord sy terwyl sy haar hare, nuutgekleur en
gestileer, streel.

“Jy lyk fantasties!”
Sy praat die waarheid. Nelia is bruingebrand en sy lyk jare jonger. Nie vir lank nie, dink Cara.
“Dit was amazing, ek kan nie wag om die foto’s vir jou te wys nie!”
“Nee, lekker, ek sien uit,” sê Cara, “maar kan nie nou nie. Hier’s die sleutels. Maak oop jou mail. Ek het vir jou ’n foto gestuur van waar die kar geparkeer is. Hier’s die sleutels, en hier’s die huissleutels, en ook in jou mail is ’n volledige dokument oor die kinders se roetine en al daai. Hulle’s baie opgewonde om jou te sien.”

Nelia se mond hang oop, maar Cara gee haar ’n druk en klik-klak weg met haar reistassie wat agter haar aansleep.

Twee dae later kom Cara af op ’n Wi-Fi-kol, en daarmee gaan haar Kerskaartjie uiteindelik uit: ’n
iPhone-selfportret van haar onder ’n palmboom. Die drankie is Kersboomgroen en spog met ’n wit-en-rooi buigstrooitjie. Die bikini laat haar oë blouer en blinker lyk as wat Nelia in jare gesien het.

Die boodskap is bondig, maar uitbundig: “Geniet die familiefees!”