FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Gelukkige 100ste verjaardag, Roald Dahl!

Vandag vier ons die skrywer Roald Dahl se honderdste herdenking. En wêreldwyd word geleenthede gehou om dié skrywer te vier, en verskillende uitgewers het baie van sy boeke weer uitgegee.

Roald Dahl was ’n merkwaardige man. Hy was onder andere ’n vegvlieënier in die Tweede Werêldoorlog, mediese uitvinder, sjokolade-historikus en spioen. Hy is gebore op 13 September 1916, in Llandaff, Cardiff, Engeland en sterf op 23 November 1990 in Oxford aan ’n onbekende infeksie. Sy eerste storie vir kinders het hy in 1960 geskryf. Later, toe hy in Amerika gewoon het,was hy so geïnspireer deur die Amerikaanse kultuur dat hy James and the Giant Peach en Charlie and the Chocolate Factory geskryf het. Reg oor die wêreld het sy verhale aanklank gevind en het baie van sy boeke top-verkopers geword. Daar is al meer as 200 miljoen eksemplare van sy boeke verkoop. Sy verhale word ook in 58 tale vertaal. In sy loopbaan as skrywer het hy 39 boeke geskryf, waarvan 19 kinderboeke en 9 kortverhale was.

Een van Dahl se bekendste boeke, The BFG, se rolprentweergawe wat deur Steven Spielberg gemaak is, is in Julie vrygestel. Puffin Books het ook spesiaal ’n eksemplaar van The BFG (R160) gepubliseer om saam te val met die vrystelling van die rolprent. Dit het die feesvieringe om Roald Dahl te herdenk, in die wêreld afgeskop. Op verskillende plekke in die wêreld sal ander geleenthede gehou word om Dahl te vier en te gedenk.

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Van sy kinderboeke is nou ook in Afrikaans beskikbaar en word uitgegee deur Human & Rousseau. Die boeke is: Charlie en die Groot Glashyser, Charlie en die Sjokoladefabriek, Die GSR (Groot Sagnoedige Reus), Die Twakke, Fantastiese Mnr. Vos, James en die Reuse Perske, Matilda, sowel as Marius se Merkwaardige Medisyne.

Alhoewel sy kinderboeke gewild is, word dit ook as omstrede beskou. Die kritici, asook ouers het hom gereeld daarvan beskuldig dat hy kinders as wreed en wraaksugtig uitbeeld. Sy kommentaar was dat kinders ’n kru sin van humor het en dat hy skryf vir sy teikenmark.

 

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Vat byvoorbeeld sy boek: Marius se Merkwaardige Medisyne, (Human & Rousseau, R135) Marius is 8 jaar oud en woon op ’n plaas saam met sy ma, pa en ouma. Sy ouma geniet dit om Marius te terroriseer en vertel hom gedurig hoe sleg en lui hy is, dat hy eerder kool met slakke en wurms moet eet, omdat dit goed is vir hom en dat sy ’n heks is wat hom gaan toor. Een Saterdagoggend gaan Marius se ma dorptoe en los hom om na sy ouma te kyk, maar voor sy gaan herinner sy hom dat hy moet onthou om 11uur vir sy ouma haar medisyne te gee. Sy ma is skaars by die deur uit toe begin sy ouma weer met haar streke. Toe hy uiteindelik kan vlug, is hy skoon aan die bewe. Hy sit by die kombuistafel en wonder hoe hy sy ouma gaan terugkry omdat sy so lelik is met hom. Dalk ’n klapper onder haar stoel? Rotte in haar kamer? Maar nee, hy het nie ’n klapper of rotte nie. Dan skielik kom ’n plan by hom op, hy gaan vir ouma tower medisyne maak. Hy gooi alles wat hy in die huis, stoor en motorhuis in die hande kry, in ’n groot pot. Van tandepasta, skeerroom, haarverwyderaar, haarsproei, lipstiffie, vloerpolitoer, vlooipoeier, kerriepoeier, varkpille, masjienolie en nog vele meer. Hy kook alles saam op die stoof. Nadat dit effe afgekoel het, gooi hy dit in die medisynebottel en gee vir sy ouma ’n lepel vol in. Maar wat verder gebeur moet jy maar self lees! – Karien Labuschagne

Al wat ek kan byvoeg oor dié ikoniese skrywer is: Lank lewe die boeke van Dahl! En mag alle kinders (die wat al werk en groot is ook) deel in die prag van sy verbeelding in sy stories.