FOTO: verskaf

Boeke

Geskenkboeke vir meisies

Daar is deesdae ongelooflike, oulike boeke vir meisies. Ek weet regtig nie hoe mens kies wat jy wil lees en wat nie!

My plan werk so: ‘n Paar maande voor Kersfees begin ek vra wie het wat gelees en wat wil hulle nog lees. Dit gee my gewoonlik ‘n goeie idee watter tipe boeke ek vir die meisies en seuns in ons familie kan gee. Ek hoop net altyd dat hulle my nie voorspring en voor Kersfees die boeke op my lysie lees nie!

As jy hou van handwerk, stories of dans dan sal jy iets uit hierdie lysie boeke kan kies. Onthou om onselektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke aanlyn teen afslagpryse te bestel. Pryse is voorgestelde pryse en kan verskil van winkel tot winkel, afhangende beskikbaarheid van boeke.

Wraak, Daniëlle Bakhuis (Lapa Uitgewers, R110)
Vandat sy hom die eerste maal gesien het, is Kristie tot oor haar ore verlief op Henk, die skool se hunk. Maar uiteindelik gaan haar oë oop en kom sy agter op wat se vark sy verlief was. Sy besef hy dink net heeltyd aan homself (en sy voorkoms!), en dat enigeen daardie glimlag kan gee waarvan sy so gehou het. Daarom besluit Kristie om vir Henk af te sê, maar hy hou net mooi niks hiervan nie en besluit om wraak te neem. Hy plaas ʼn baie lelike video van haar op YouTube. Sy besluit om hom terug te kry met ’n onvleiende foto wat sy eenmaal van hom geneem het. En toe wil hy haar wéér terugkry. En so hou dit aan. Waar sal dit eindig en sal een van hulle twee dalk in groot moeilikheid beland? Hierdie baie spannende boek het my heeltyd laat wonder wat volgende gaan gebeur (en wie gaan wen).  – Nina Swart, 12 jaar van Bela-Bela

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Glamdivas: Lienka, Solet Scheeres (Lapa Uitgewers, R110)
Lienka weet nie meer wat om te doen nie. Sy sterf van nuuskierigheid, want haar pa en ma sluip nou al die hele vakansie rond soos brakkies wat iets stouts gedoen het. Nie sy of haar broer weet wat aangaan nie, en haar ouers swyg. Boonop het haar ouers ’n baie belangrike aankondiging gemaak en haar broer, Sarel, tree regtig baie vreemd op. Haar kêrel, Dian, is glad nie meer so “drop dead  gorgeous” soos altyd nie en sy weet nie hoe om dit vir hom te sê nie.
Talia, Didi en Lienka is van kleins af beste maats. Hulle noem hulself die Glam Divas, en die groepie kan allerhande probleme in die modewêreld oplos: hulle reël partytjies, ontwerp klere en gee modewenke. Maar nou sal hulle moet uithaal en wys om die groot African Unicorn-ontwerp-kompetisie te beklink.
Hierdie was vir my ’n heerlike luilekkerleesboek, vol lekkerte en swaarkry. – Nina Swart.
(Daar is nog ander titels in die Glamdivas-reeks om uit te kies.) 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 Die boom se naam is Bojabi, Piet Grobler & Dianne Hofmeyr ( Human & Rousseau, R145)
‘n Afrika-storie wat gaan oor ‘n towerboom met groot sappige vrugte in ‘n plek waar alles droog is en die diere honger ly. ‘n Yslike luislang keer dat die diere die lekker vrugte pluk voordat hulle die boom se naam uitvind by Koning Leeu, ver, ver weg. Sebra dink hy kan die vinnigste hardloop om uit te vind wat die boom se naam is, maar hy val en vergeet. Selfs Olifant is so besig om te dink dat hy nooit enigiets vergeet nie dat hy tog ook nie die boom se naam kan onthou nie. Apie dink hy is so slim, maar vergeet ook. Skillie Skilpad wat stadig en versigtig is, is die held, want met ‘n rympie onthou hy die boom se naam. So maak Skillie seker dat die diere kan eet en eet aan die lekker, sappige vrugte van die towerboom – Bojabi. Almal vier fees saam met hul held, Skillie. ‘n Mooi kort storie, met ‘n les en oulike prentjies, veral van die kleurvolle luislang.   Cailin Spickett, 9 jaar van Pretoria

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Groot Storieverteller Diereboek, oorvertel deur Bob Hartman & Krisztina Kállai Nagy (Human & Rousseau, R169,95)
Hierdie pragboek versamel 36 dierestories vanoor die hele wêreld wat lewendig oorvertel word,met prentjies wat mooi by elke storie pas. Daar is ou, ou stories soos die slinkse Vos wat Kraai se kos op ‘n slim manier steel; die slim Haas wat weereens uit Vos se kloue ontsnap, tot diere uit die verbeelding en ook nog ‘n paar nuwe dierestories deur die skrywer. Party stories leer ‘n les soos hoe mens moet optree teenoor ander. Ander stories is lekker verbeelding-stories oor die diere, soos hoe Haas sy stert verloor het en hoekom Skilpad bles is. Elke storie is pret om te lees en dit is veral lekker as iemand dit vir jou voorlees.  – Cailin Spickett

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Storieman, Omnibus 3, saamgestel deur Leon Rousseau (Human & Rousseau, R145)
Die eerste Storieman-reeks is in die vroeë tagtigs bekendgestel, en dit het my op presies die regte tyd getref.  Dis ’n versameling van die heerlikste stories, van tradisionele sprokies (Hansie en Grietjie) tot internasionele bekendes (soos Ursula Moray Williams se Gobbolino-katstories) en verhale uit eie bodem (Die heks van Hexrivier en Die geleende velskoene van Helena J.F. Lochner) alles met asemrowende volkleurillustrasies en puik voorgelees deur van die land se beste stemkunstenaars.
Buiten dat die stories die verbeelding aanwakker, verbreed hulle jou kind se algemene kennis en woordeskat. Dis leer op die plesierigste manier denkbaar. Dis soos om groente in hulle herderspastei te versteek, maar baie, baie lekkerder.
Wat vir my ook interessant is, is om te sien hoe hier en daar nogal groot woorde verskyn. Soveel keer dink ons dat ons verplig is om eenvoudige taal met kleuters te gebruik, maar Storieman bewys dis hoegenaamd nie nodig  nie. In Van Hunks en sy pyp dra die duiwel ’n “lakense pak” (pak van ’n luukse, dik, outydse wolstof), in Aspoestertjie “mopper” (brom en grom) die nare susters wanneer hulle ontevrede is, en in Die gelukkige prins vlieg die swaeltjie oor beide “die ryk en die sjofele buurte”.  As jy nou nie geweet het wat beteken “sjofele” nie, weet jy dat dit in teenstelling met “ryk” staan, en as jy steeds twyfel, dan kyk jy na die prentjie. Dis werklik gaaf dat Storieman nie net die kind se woordeskat en verwysingsraamwerk uitbrei nie, maar ook, plek-plek, die ouer s’n. Wat ’n wonderlike manier om die taal te laat leef, en voortleef! – Maya Fowler
Storieman Omnibus 4 en 5 is ook reeds beskikbaar.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Beste storieboek ooit, Richard Scarry (ProteaBoekhuis, R225)
Scarry se boeke is baie gewild en steeds in aanvraag. Dis gemik op kinders tussen 3 en 8. In hierdie boek is 70 boeiende stories en rympies. Dis ‘n kleurvolle boek vol Scarry se kenmerkende illustrasies van diere. Dis ‘n prettige manier vir ouers om kinders bekend te stel aan sekere woorde en hoe om te tel. Heerlike voorlees-boek vir ouers, maar ook ‘n boek waarin kinders self dinge kan ontdek. – Phyllis Green

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Kuns & aktiwiteite vir Meisies, onder redaksie van James Mitchem (Penguin Books SA, R144,32)
‘n Lieflike boek met meer as 100 dinge om te maak en te doen. Die projekte is eenvoudig genoeg en ook nie gevaarlik nie sodat meisies dit self sal kan doen. Vir die wat graag in die kombuis woeker, is daar resepte vir eet- en drinkgoed.  Meisies kan ook hul eie haarknippe en juwele maak en versierings maak vir hul tekkies en ander kledingstukke. Oulike boek waarin verskillende handvaardighede bevorder word. Die projekte benodig ook nie vreeslike duur en gespesialiseerde toerusting om dit uit te voer nie.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

My Groot Boek oor Dans, Lorrie Mack (LAPA Uitgewers, R170)
Die boek vertel kortliks die geskiedenis van dans en kyk dan spesifiek na die verskillende tipes dans, van ballet, moderne dans, baldans tot briekdans. Daar word ook vertel wie van die bekende choreograwe en dansers is wat in hul veld presteer. Die boek sluit af met ‘n handige woordelys waarin dansterme verduidelik word. Bondige inligting en pragtige kleurfotos maak dat jy weer en weer in die boek wil rondblaai.