FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Geskenkboeke vir natuurliefhebbers

Kersfees is om die draai en dis tyd om weer vir die spesiale mense in jou lewe geskenke te koop.
My gunsteling-geskenk om te ontvang, maar ook om te gee, is boeke! Ek waardeer dit altyd as iemand die moeite gedoen het om spesiaal vir my iets te gaan uitsoek wat hulle dink ek moet lees, omdat dit oor ’n onderwerp gaan waarin ek belangstel, of omdat dit iets is wat ek behoort van kennis te neem, of net vir die blote plesier daarvan. Ek is gek oor die natuur en ek gaan al hierdie boeke op my geskenklysie sit!

Baobabs of the World, The Upside-down Trees of Madagascar, Africa and Australia, Andry Petignat & Louise Jasper (Struik Nature, R230)
Vir my is daar iets magies aan kremetartbome. Wanneer ek die bome sien, voer dit my weg na ’n oertyd en verbeel ek my plantvretende dinosourusse is besig om aan die blare te peusel! In hierdie uitstekende gids word die wonderwêreld van kremetartbome in Afrika, Madagaskar en Australië ontsluit. Ek het nooit besef die bome kom voor in die noordelike deel van Australië nie. In die eerste deel van die boek word die klassifikasie, algemene beskrywing, die bome se geskiedenis, verspreiding en die rol wat die bome in die mens se lewe speel, uiteengesit. Die tweede deel handel oor elkeen van die agt verskillende spesies en bevat botaniese beskrywings, besonderhede oor die habitat, verspreiding en gebruike. Die boek is fantasties toegelig met kleurfoto’s, lynsketse en kaarte. Ek is nou nog meer gefassineerd deur hierdie bome! ’n Lieflike boek vir enige boomliefhebber.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Impossible Five, In search of South Africa’s Most Elusive Mammals, Justin Fox (Tafelberg, R230)
Meeste mense wil die Groot Vyf sien as hulle ’n wildtuin besoek. Ja, daar is ’n uitsonderlike bekoring aan ’n kraagmannetjie wat brul, of ’n trop olifante met kleintjies. En wie wil nie ’n renoster sien nie! Maar daar is diere wat mens ontwyk, omdat hulle skugter is en omdat van hulle nagdiere is. In hierdie boek stel Fox die leser voor aan Suid-Afrika se “Onmoontlike Vyf” – die Kaapse bergluiperd, aardvark, ietermago, wit leeus wat natuurlik voorkom en die rivierkonyn. Fox besoek reeds sedert kleintyd wiltuine en al is hy ingenome om die Groot Vyf te sien, probeer hy ook om skaarser diere soos klein bruin voëltjies (LBJ’s), vreemde insekte en skugter nagdiere soos nagapies, sivetkatte en muskeljaatkatte te sien. Deur die jare het sy lysie van skaars diere gegroei en dit is hoe hierdie boek gebore is. Hierin beskryf hy sy soektog na elkeen van hierdie vyf ontwykende diere. Hy het ’n onderhoudende verteltrant en die boek is gepak met interessante feite, sonder dat dit droog en vervelig aangebied word.  Vir Fox was dié soektog iets wat sy lewe aangeraak het en wat hom verryk het op ’n manier wat hy nooit sou kon dink nie. Die diere het vir hom die simbool geraak vir die behoud van ons natuur. Wat ’n uitmuntende vertelling.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Retronaut Guide to Keeping Pets, Wolfgang Wild (Octopus Publish Group, R225)
Die prettige boekie gee jou ’n kykie in die verlede. Die boek het ontstaan uit die Retronaut blog, ’n baie visuele webwerf waar uitsonderlike foto’s gewys word uit die verlede. Wolfgang Wild het nog altyd ’n fassinasie gehad met die verlede. Hy vertel in die voorwword hoe sy groot droom as kind was om terug te kon gaan in die verlede, omdat dit altyd baie meer eksoties lyk as dit wat hy in die hede ervaar. In hierdie eerste boek in die reeks word gekyk na watter diere mense in die verlede as troeteldiere aangehou het. Wanneer mens deur die boekie blaai, kan mens sien waarom Wild dink die verlede is meer eksoties. Die foto’s is uiters vermaaklik. Daar is foto’s van olifante, seeleeus, zebras, en wag daarvoor, krokodille! Almal in die rol van troeteldiere. Natuurlik is daar katte en honde ook. Ek is veral mal oor ’n foto wat dateer uit 1951 van die MGM vervaardiger Sidney Franklin Jnr waar hy chauffeur speel vir sy nuutste ster, die Hollywood leeu, Fearless Fagan. Wild sê ’n baie waar ding, wat ek gaan aanhaal uit sy boek: “Nothing is fixed, everything can be changed, remixed, recurated. And that includes ourselves.” Al is hierdie boekie lighartig en op die oog af net daar vir plesier, dra dit by tot hoe mens die verlede vir jouself opnuut skep en op ’n ander manier ervaar.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Guide to the Animals of Southern Africa, Lynne Matthews (Jacana, R225)
Matthews se teikenmark is jong lesers. Op ’n eenvoudige en baie duidelike manier stel sy die natuur aan hulle bekend. Sy verduidelik kernbegrippe soos die klassifikasie van diere, hoe die Latynse name van diere werk, wat ’n habitat behels, dieet van verskillende diere en hoe diere aangepas is by die omgewing, kommunikasie tussen diere, hoe diere voortplant en bespreek in elke afdeling bewaringskwessies. Elke afdeling (soogdiere, voëls, paddas en reptiele, insekte en ander ongewerweldes) word volgens hierdie kernbegrippe bespreek. Die teks is deurspek met brokkies interessante inligting, die boek is visueel uitgelê sodat jong lesers aanklank kan vind daarby. ’n Nuttige gids wat die veld en sy diere ontsluit.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Lewende Planeet: Verstaan en Bewaar Diversiteit, Q A International (Protea Boekhuis, R225)
Hierdie leersame boek fokus op jong lesers en stel hulle bekend aan die aarde se uiteenlopende landskappe en interessante bewoners van die planeet. Hulle kry ook wenke van wat elkeen van ons kan doen om die planeet se diversiteit te help bewaar. Die boek is geïllustreer met kleurfoto’s en kaarte. Byna 350 dier- en plantspesies word kortliks beskryf. Die navorsing vir hierdie boek is gedoen deur kenners aan die Montréal Biodôme. Die vertaling is gedoen deur Amelia de Vaal. Inligting word leersaam, maar toeganklik aangebied. Die naslaanboek is geskik vir kinders tussen 8 – 14 jaar, maar dis die ideale naslaanwerk vir enigeen wat belangstel in die natuur, ongeag jou ouderdom. Die boek is ook beskikbaar in Engels as Living Earth: Understanding and Conserving Biodiversity.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Bedside Ark, David Muirhead (Struik Nature, R160)
Hierdie boek is nie ’n tradisionele gids of ’n naslaanboek oor diere nie. Nee, sê Muirhead, hy wil hê jy moet ongewone feite oor die diere in die bladsye van die boek ontdek, goed wat jy nie van die diere geweet het nie. “It’s a motley collection to be sure, not the sort of methodical list Noah laboriously ticked off on his clipboard.” Dis juis hierdie aspek van die boek wat dit so ’n lekker boek maak. Vir my voel dit asof hy met my gesels en die inligting in ’n ontspanne gesprek oordra; mens kan sy stem hoor in hoe hy skryf. Die diere onder bespreking is uiteenlopend: aardvark, heuningby, seekat, dassie, hamerkop, klipspringer, boomslang en nog baie ander. Om een of ander verklaarbare rede het ek nog altyd ’n sagte plekkie gehad vir jakkalse, tenspyte daarvan dat hulle dikwels as skaapstelers beskou word en nie eintlik welkom is op plase nie. Die hoofstuk oor die jakkals was vir my baie interessant, veral oor hoe hulle ’n maat soek en wat die familiedinamika is. Die boek is gepak met heerlike brokkies inligting waarmee jy enige gesprek oor die natuur kan opkikker.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Wild as it Gets, Wanderings of a Bemused Naturalist, Don Pinnock (Tafelberg, R240)
As jy hou van vreemde feite en stories oor die ongewone in die natuur, dan is hierdie boek vir jou. Pinnock skryf oor ’n verskeidenheid onderwerpe, onder meer oor die geheime lewe van katte, vlieënde grondboontjies, die wonder van olifante, en ongetemde wildernisse. Sy skryfstyl is meesleurend en hy neem jou op ’n visuele reis wanneer hy sy onderwerpe beskryf. Ek staan verstom oor hoe hy sy reis na die Mountain of God soos ’n prentjie vir my skilder. Dit voel of ek saam met hom na die Afrika landskap kyk en die duisende wildebeeste, zebra’s en Thompson’s gaselle sien waar hulle migreer. “Being in the midst of nearly two million creatures chasing rain can’t be described adequately. It’s more a feeling of awe and a sense of privilege at being able to see a wild, ancient ritual of life way beyond our urban imagination.” Pinnock se boek gryp my verbeelding aan en mens kan nie anders as om geboei te word deur sy woorde nie.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Natuurlewe van Suider-Afrika, ’n Veldgids tot diere en plante van die streek, onder redaksie van Vincent Carruthers (Struik Nature, R300)
Hierdie gids is ’n ou bekende by baie natuurliefhebbers en reis saam wanneer hulle na wildtuine en ander natuurgebiede reis. Dis nou omvattend bygewerk en bevat bykomende illustrasies en verspreidingskaarte vir alle inskrywings op spesievlak. As jy net een boek wil saamry, dan is dit hierdie een, want dit dek meer as 2 000 van Suider-Afrika se plante en diere. Bondige beskrywings lig die belangrikste eienskappe vir uitkenning uit en elke plant en dier word geïllustreer met akkurate sketse in volle kleur. Die gids is ingedeel in laer gewerweldes, spinnekoppe en ander spinagtiges, insekte, varswatervisse, paddas, reptiele, voëls, soogdiere, grasse,biesies, varings en swamme, veldblomme, en bome.