FOTO: verskaf

Boeke

Geskenke vir die kreatiewe lesers

Kersfees is om die draai en dis heerlik om geskenke te ontvang, maar ook om te gee.

Ons het raad vir die talle “kopkrap” oomblikke oor watter geskenke gepas sal wees vir jou vriende en familie. As jy iemand in jou kring het wat lief is daarvoor om iets met hul hande te maak of om kreatief te wees, is hierdie boeke die antwoord op jou soeke. Vir die bouers, verwers, skilders, naaldwerksters en juweelmakers is daar ’n paar handige boeke met planne, instruksies en idee’s. Boonop is dit dikwels lekker om sommer net deur sulke boeke te blaai en te lees van dinge wat gemaak kan word. Ek is sommer lus om nou dadelik iets met my hande te gaan maak, terwyl julle meer kan lees oor my boekkeuses.

deur Mari Rheeder

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Mark toe, Sam Scarborough (Random House Struik, R130)
Oulik, maklik en prakties. Met hierdie boek kan kinders entrepreneursvaardighede aanleer terwyl hulle sommer uiting aan hul kreatiwiteit gee. Kies uit ’n groot verskeidenheid produkte: om te gebruik, mee te speel of om te eet en drink. Van die oulike items om te maak, is voëltjievoerders, klerehangers, speeldeeg, vingerpoppe, jellielekkernye en toffie-appels. Scarborough gee selfs wenke hoe om jou stalletjie te versier, hoe om produkte te prys. Die stap-vir-stap verduideliking hoe om elke produk te maak, sal verseker dat julle in ’n japtrap voorberei vir markdag. Die foto’s maak dit maklik om die instruksies te volg. Jy en jou kind kan kwaliteittyd saam spandeer terwyl julle die produkte maak vir jou kind se volgende markdag.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Houtwerk vir almal, Peter Alkema (Random House Struik, R250)
Wat ek weet van houtwerk is nie besonders baie nie, maar met hierdie boek kan selfs ’n groentjiesoos ek iets maak. Alkema se inspirasie om met sy hande te werk kom van sy pa en met hierdie boek wil hy graag vir sy eie kinders ’n erfenis nalaat, ’n liefde vir houtwerk. Om voornemende houtwerkers te help, gee hy ’n volledige lys van gereedskap, asook ’n deeglike beskrywing waarvoor elkeen gebruik word. Tegnieke en belangrike elemente soos laste en afwerkings word ook prakties beskryf. Hier is mooi en praktiese voorwerpe wat gemaak kan word, soos ’n boekrak, speelgoedkis en tuinhuise. Hierdie mooi boek is ideaal vir die koffietafel, maar sal ’n ereplek in die werkswinkel hê.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Juwele: Maklik en mooi met min, Karen Adendorff (Lapa Uitgewers, R165)
Hierdie is nie net nog ’n kraleboek nie, maar ’n interessante boek wat jou wys hoe om jou eie krale te maak uit klei, knope en tou. Krale word gekombineer met brei-, hekel- en naaldwerk, sodat gewone uitrustings omskep word in iets heeltemal uniek. Die boek is baie prakties en gee volledige lyste van benodigdhede saam met maklike, volgbare instruksies. Die foto’s wat elke projek stap-vir-stap illustreer, maak dit eenvoudig omdie meer ingewikkelde projekte te volg. Wees gereed vir hope komplimente oor jou nuwe juwele, onthou net om te sê: “ek het dit self gemaak.”

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 Seep, Skuim & Skrop, Nicole Seabrook (Random House Struik, R200)
As jy mooi gaan kyk wat alles in kommersiële skoonmaakmiddels, velsorg-, haar-, medisinale- en babaprodukte voorkom, kan dit jou nogal skok. Van hierdie produkte bevat middels wat uiters skadelik kan wees. Dít het Nicole Seabrook, ’n gekwalifiseerde aromaterapeut, geïnspireer om haar eie skoonheidsreeks te maak. In hierdie boek gee sy maklike wenke oor die skep van jou eie skoonheidsprodukte en seep wat natuurlik en organies is. Dis maklik en bekostigbaar om hierdie produkte te maak. Sy gee basiese resepte waarmee jy dan kan eksperimenteer deur verskillende goed by te voeg soos laventel, heuning en avokado. Toe sy begin het om haar eie produkte te maak was baie van die bestanddele moeilik bekombaar in Suid-Afrika. Gelukkig het die situasie verander en gee sy ’n lys van verskaffers waar bestanddele nou beskikbaar is.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hoe nou gemaak, Johanna de Wet (Protea Boekhuis, R265)
Gedink boererate is ouderwets en van nul en gener waarde? In hierdie gids word boererate vir in en om die huis, vlekke, peste, reuke en nog meer, boeiend oorgedra. Sommige van die boererate is lagwekkend en sorg vir vermaak, of die raat nou werk of nie. Die boek word ingedeel in afdelings wat maklik herkenbaar is en kwale is alfabeties gerankskik vir maklike- en vinnige naslaan. Lekker wenke om geld te spaar word ook gegee. “Wie sou ooit kon raai dat karton eierhouers ideale vuuraanstekers kan wees?” Die boek is prakties, eenvoudig en maklik leesbaar en kan jou baie gee om oor te gesels, al gebruik jy nie die raat nie. Dis ’n heerlike geskenk vir enige tuisteskepper. Maar dis ook ’n boek wat jou lekker nostalgies kan laat terugdink aan ouma en oupa wat dinge op ’n ander manier gedoen het.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 The best pocket guide ever for eliminating debt, Jillian Howard (Random House Struik, R100)
Met meer as vyf miljoen Suid-Afrikaners wat diep in die skuld is, is dit duidelik dat ons iets verkeerd doen. As jy raad nodig het hoe om van skuld ontslae te raak, sodat jy ’n skuldvrye-lewe kan lei, is hierdie boek net vir jou. Elke hoofstuk hanteer ’n spesifieke vraag en gee maklik toepasbare wenke. ’n Hele hoofstuk word gewy aan hoe om begrotings op te stel, ’n tegniek wat skuld alreeds aansienlik kan verminder. ’n Handige, klein boekie wat moeilike, finansiële terme op ’n eenvoudige manier uiteensit. Dis inderdaad boekies wat jy sommer in jou sak kan saamdra. Die reeks bevat drie ander titels: The best pocket guide ever for: Wealthbuilding investment, A financially secure retirement, Minimising insurance.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 Learn to sew with Lauren, Lauren Guthrie (Octopus Publisher Groups, R353)
As jy al ooit wou leer hoe om met ’n naald en gare en ’n masjien ’n paar skeppings op te tower, is Lauren se boek ’n baie goeie plek om te begin. Toerusting, verskeie materiale, naaldwerktegnieke en hoe om patrone te gebruik, word op ’n eenvoudige manier verduidelik. As jy nog nooit ’n soom ingewerk nie, kan jy leer, want sy wys presies hoe jy dit moet doen. Projekte word gerangskik volgens moeilikheidsgraad wat beteken dat jy van some inwerk en kussingslope maak, kan vorder tot handsakke en rokke maak. Elke projek word volledig beskryf met afmetings, materiale wat benodig word en enige toerusting wat gebruik moet word. Die boek is pragtig en sal aanklank vind by die meeste vroue met sy groot foto’s en maklik volgbare instruksies. Alle patrone is ingesluit by die boek.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Water–(verf)–kuns, Monique Day-Wilde (Metz Press, R150)
As mens dink aan waterverf, pop daar onmiddellik deursigte, sagte pastelkleure in mens se kop op. In hierdie boek wys Day-Wilde dat jy baie intenser kleure kan kry met waterverf. Sy bespreek verskillende materiale waarop geverf kan word, kwaste, verwe en alles waarmee jy prente kan skep. Sy wys hoe jy vere, sand, opgefrommelde papier, riffelkarton, spons, tandeborsels en oorstokkies kan gebruik om teksture te skep vir interessante effekte. Dis ’n handige gids waarmee jy verskillende projekte kan aanpak. Dis gemik op kreatiewe mense wat graag kunstig wil wees. As jy glad nie ’n stokmannetjie kan teken nie, is die boek dalk bietjie bo jou vuurmaakplek, maar jy kan steeds probeer. Daar is eenvoudige projekte wat dalk meer haalbaar is as die waar jy meer vaardighede benodig.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Enigeen kan groente kweek, Diana Anthony (Metz Press, R220)
’n Basiese boek oor hoe om groente te kweek. Die boek is in verskillende hoofstukke verdeel vir maklike gebruik. Die hoofstukke sluit onder meer in: ontwerp van die tuin, plan van die tuin, hoe om groente te kweek in verskillende klimaatstreke, in potte verskillende soorte groentes en hoe om hulle te bewaar. Dis ’n interessante en behulpsame boek veral vir mense wat vir die eerste keer ’n eie groentetuin wil kweek.
Maar vir ervare tuiniers mag die boek ’n frustrasie wees – maar elkeen moet vir homself besluit! Wat my gefrustreer het, is dat byvoorbeeld hoofstuk 2: “Ontwerp ’n ornamentele kostuin” meer as 30 bladsye lank is met uitleg idees en foto’s wat ek al in verskeie oorsese boeke gesien het. Daar is ook geen kaart wat die verskillende klimaatstreke in Suid-Afrika aandui nie. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

MAAK COOL GOED, Winnie McHenry (LAPA Uitgewers, R179,95)
Die boek is veral vir kunstige mense wat besorg is oor herwinning, want dit wys hoe wegggooigoed gebruik kan word om praktiese ‘cool’ goed te maak. Dit kan mens lekker besig hou in vakansies met die maak van bv. ’n CD-, foto- of pennehouer of selfs ’n koeldrankbottel geskenkboksie as mens onverwags een nodig kry vir ’n maatjie se verjaarsdag, of om lekkers in te hou by ’n partytjie. Die maak van hierdie cool goed word eenvoudig, stap-vir-stap verduidelik, die materiaal is maklik om in die hande te kry. Daar word aangedui as jy jou ouers se hulp nodig het vir waar skerp messe en ander gevaarlike voorwerpe gebruik moet word. Ek het self al omtrent agt van die cool goed gemaak en dis ook lekker om saam met ’n maatjie wat kom kuier te werk aan iets wat ons kan gebruik. Daar is ook instruksies vir die maak van papier-machè en baie idees vir kunsprojekte by die skool. Alles word baie goed geïllustreer. – Cailin Spickett