FOTO: Phyllis Green

Boeke

Gewone mense inspireer in “Tannie Pompie se oorlog.”

Hierdie boeiende boek vertel die storie van gewone mense wat deel was van die Bosoorlog in die sogenaamde “Driehoek van die Dood”, die gebied rondom Tsumeb.

Lamprecht vervleg die stories van die boeregemeenskap, 61 Meg, die polisie en die kommando vloeiend met die geskiedenis van Tsumeb. Die ontstaan van Tsumeb en hoe dié dorp altyd op die rand van ’n oorlog was, vorm die grondslag van latere gebeure in die “Driehoek van die Dood.” In Tannie Pompie se oorlog: In die driehoek van die dood (Tafelberg, R185) word ’n duidelike beeld geskilder van hoe die geskiedenis hom telkemale herhaal en hoe gewone mense altyd die slagoffers is in gebeure wat wyer strek as net hul onmiddellike omgewing. Pompie van der Westhuizen is die spil waarom die verhaal gebou word. Op die plaas het sy die militêre radio’s hanteer en nes sy dikwels die enigste konneksie was tussen vegtende troepe in die veld en die basis, wanneer swak sein kommunikasie bemoeilik het, is haar verhaal die konneksie wat al die verskillende rolspelers met mekaar verbind.
Pompie se man en skoonseun is in ’n militêre operasie dood toe terroriste agterna gesit is en die eenheid in ’n lokval gelei is. Sy was die skakel wat die name van al die oorledenes, ook haar man en skoonseun, moes deurgee aan die basis, omdat niemand anders in die veld kontak met die basis kon bewerkstellig nie.
Oor die verhaal sê Lamprecht: “Die ding wat my aangryp en bybly, met die leer ken van hierdie mense en hul verhale, is iets wat ek dink kenmerkend is van elke oorlog: Hoe gewone mense buitengewone dinge vermag en deurleef en OORLEEF in hierdie maalkolke van konflik waarin hulle beland. Die Tannie Pompies is vir my die ware helde van hierdie lewe – nie die politici of generaals of wat ookal nie. Ek weet nie of ek ooit fiksie sal kan skryf nie. Hierdie boek bewys weer vir my wat ek deur die jare in joernalistiek ervaar het, die waarheid is vreemder as fiksie, dis meer dramaties as fiksie.”

Die manier hoe die karakters die storie vertel en die drama van die gebeure wat beskryf word, hou jou aan die lees tot op die laaste bladsy. Lank nadat mens die boek toegemaak het, bly die verhaal mens steeds by. Ek het met Deon Lamprecht gesels oor hoe hy aan die verhaal gekom het en oor die skryf daarvan.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Wie is jy en hoe het jy in joernalistiek beland?
Ek kan nie onthou dat ek ooit iets anders as joernalistiek wou doen nie. Ek het grootgeword op die myndorp, Welkom in die Noord-Vrystaat. Destyds het ons ouers altyd koerante gelees en ek het koerante altyd verslind. Vandat ek kan onthou, wou ek sien hoe lyk die wêreld buite my myndorp. Ek wou na interessante plekke gaan, interessante dinge beleef, mense ontmoet en stories skryf daaroor.

Hoe soort kind was jy en het jy goeie opstelle geskryf op skool?
Ek was eintlik maar ’n stillerige boekwurm, maar het ook fiets gery, kleilat gespeel en in die strate gespeel. Ek het maatjies gehad, maar omdat ek ’n laatlammetjie was, het ek altyd geluister en gekyk. Die een ding waaroor ek op skool nie in die moeilikheid was nie, was my opstelle. My Afrikaanse en Engelse onnies het van my gehou, die res het my net slae gegee.

Dis jou eerste volwaardige boek. Waarom wou jy dit so graag skryf?
Ek het gewerk by plaaslike koerante, dagblaaie, Sondagkoerante en ek’s nou soort van in die enjinkamer by tydskrifte. As jy nuus skryf vir dagblaaie, het jy baie keer nie kans om skouers oop te maak nie. Jy is eintlik soms ’n bietjie in ’n dwangbaadjie van spertye, lengtes en en hoe berigte verpak moet word. Ek’s lief vir artikels skryf, daar kan jy bietjie skouers oopmaak. Ek het altyd in my agterkop gehad dat ek eendag ’n boek wou skryf, maar het dit op ’n stadium laat vaar. Annie Olivier van Tafelberg (wat saam met my by Beeld gewerk het) het my eenkeer gebel en gevra of ek nie ’n boek wou skryf nie. Ek het half vergeet daarvan. Toe ek by Rapport gewerk het, het ’n klomp veterane van 61 Meg Bataljon my redakteur gekontak met ’n storie. Hulle was op pad om al die ou slagvelde, van Cassinga na Cuito Cuanavale te besoek en wou weet of sy iemand wil saamstuur. Sy het my gevra en ek het eers daaroor gaan dink. Ek is eintlik ’n introvert en die idee om vir twee weke saam ’n klomp ouens in ’n bakkie vasgekeer te wees, was vir my bietjie rof. Tog het ek besluit om te gaan. Met ons vertrek het ek agtergekom daar is ’n konneksie, want die veterane was van my ou eenheid waar ek Grensdiens gedoen het. So het ek oor die storie van Tannie Pompie geval, wie se storie baie verweef is met my ou eenheid s’n. Die voorval waarin haar man en skoonseun dood is, het gebeur in die jare net voor my grensdiens. By my terugkoms het ek ’n reeks van vier artikels oor dié reis geskryf. Die Tannie Pompie-ding het nooit lekker daarby gepas nie en ek het nie daaroor geskryf nie. Dit het my altyd gepla. Dis hierdie storie wat ek toe vir Annie gepitch het en nou is daar eindelik ’n boek.

Die feit dat jy deel was van 61 Meg Bataljon, het dit jou nader aan die storie laat voel?
Ek sou nie die boek geskryf het as daardie konneksie nie daar was nie. Baie van my generasie was op die Grens. Ek het nie nostalgiese gevoelens oor die Bosoorlog nie. Dis ’n deel van my lewe. Daar was goeie en slegte dinge daaraan. Ek het nooit teruggedink aan die oorlog voor hierdie reis na Angola nie. Ek het aangegaan met my joernalistieke loopbaan. Daarin het ek baie meer te doen gekry met geweld en dood as op die Grens. Waar ander ouens na diensplig teruggegaan het na die lewe van ’n onderwyser of ’n klerk of so iets – daai militêre ondervinding bly hom sterker by. By my het ander ondervindings getref. Op die toer saam met die ouens het ek vir die eerste keer werklik eers aan daardie goed gedink en aan die storie van Pompie en mense soos sy.

Jy vervleg die feite oor die geskiedenis van Tsumeb met die mense in jou verhaal. Die boek vertel van hoe die dorp totstand gekom het en die plaaslike bevolkings wat daar gewoon het. Moes jy baie navorsing doen en hoe het jy dit aangepak?
Mense het al verwys na die boek as ’n Grensoorlogboek, maar dis nie vir my een nie. Ek beskou dit as ’n menslike verhaal wat in daardie era afspeel. Vir my gaan dit in die eerste plek oor die mense. Ek het begin deur Namibië toe te gaan en met mense te praat. Ek was twee keer daar vir trips van so twee weke elk.
Toe ek as ’n jong dienspligtige soontoe gegaan het, het ek nie gedink aan die destydse Suidwes as deel van Suid-Afrika nie. Dit was ’n vreemde land. Ek het eers, toe ek met hierdie mense gesels wat nou nog daar is, besef hulle het aan hulself gedink as Suid-Afrikaners. Hulle het baie sterk gevoelens oor Suid-Afrika. Ouens soos ek het soontoe gegaan, ons het baklei, nie baklei nie, whatever gebeur het, ons het teruggekom en ons het aangegaan met ons lewens hier. Daai mense het daar gebly. Hulle het deur die oorlog gegaan. Hulle huise is aangeval; hulle moes hul huise beskerm. Toe ons Suid-Afrikaners onttrek het, het hulle agtergebly en moes aanpas in die nuwe land van hulle.
Omtrent al die Grensoorlogboeke waarvan ek gehoor het, is geskryf deur Suid-Afrikaners wat daar was en teruggekom het en toe geskryf het oor die tyd wat hulle daar was, nie deur mense wat daar gebore is en daar bly nie. Daar’s generaals en politici hier wat skryf vanuit ’n politieke of strategiese oogpunt en daar is ouens wat skryf oor die trauma. Maar ons hoor nooit van hierdie mense wat deel van die firing line was nie.

Maar hoekom die geskiedenis van die dorp so sterk laat figureer?
Hierdie dorpie is die burgerlike area wat meeste geslaan is met Swapo-infiltrasies. Tsumeb was die hoofteiken. Dit het my laat wonder waarom juis Tsumeb. Hoe het dit geskiedkundig gebeur dat hierdie dorpie in die middel van die bos geplaas is op hierdie insurgente se roetes? Namibië is ’n ylbewoonde land. Pompie-hulle sou nooit teikens op Swapo se roete gewees het nie as Tsumeb nie daar was nie. Daar’s verskeie redes waarom Tsumeb altyd aangeval is. Een was omdat daar teikens was. Dit help nie hulle gaan val ’n plek aan waar net klippe en vlieë is nie. Tsumeb is hierdie vreemde stukkie koloniale Duitsland in die Afrikabos. Die redes hoekom dit ontstaan het en die feit dat hierdie dorpie soveel keer op die rand van een of ander konflik was sedertdien, het my gefassineer – daai geskiedenis van konflik, patrone wat hulself herhaal. Die Ovambo’s teen die San, dan die San-spoorsnyers later teen die Ovambo’s van Swapo, boere teen Duitsers, boere en Duitsers later saam teen die Ovambo’s.

Daar is baie mense in hierdie verhaal. Moes jy vir jou ’n diagram of ’n ding opstel sodat jy die drade van elkeen bymekaar kon hou? Hoe het jy die drade bymekaar gehou?
Nogal moeilik. Ek het begin deur vir myself prentjies te teken. Die werkende titel van die boek was “Tsumeb op die rand van ’n oorlog.” Dit was vir my hierdie plek wat altyd op die rand van oorlog was en dan klimaks dit met die twee weke waarby Pompie-hulle betrokke was. Ek het maar prentjies geteken om te kyk waar almal in pas.Daar was aanvanklik meer stemme. Dit was vir my ’n groot armoede dat Pompie dood was, dat ek nooit met haar kon praat nie.

Hoe het jy besluit wie hou jou in en wie nie? Daar is soveel interessante karakters in die boek, Lukas Nel, Reinhard (landmyn afgetrap met sy voete en dit behou), Kaalvoet Izak, die eksentrieke boer Tickly Tessler.
Daar was baie meer. Hulle is maar net ’n paar. Omdat ek nie toegang tot Pompie gehad het nie, was ek dankbaar dat ek afgekom het op die paar velle wat sy geskryf het. Ek wou nie net op Riana (Pompie se dogter) staatmaak nie. Ek het nog stemme gaan soek wat my kon help om Pompie se storie en alles wat in daai twee weke gebeur het aan my te vertel. Almal van hulle het dinge deurgemaak en het ’n reg om in die verhaal te figureer. Maar Pompie was vir my die spil van alles en simbolies van wat gebeur het.

Jy skryf ’n baie interessante karakterskets van haar in die boek. Die woord wat by my opkom as ek aan haar dink, is ‘diensbaar’.
Diensbaar is militêre vaktaal. In die army vra jy nie skiet daai geweer nie, jy vra is hy diensbaar. Dit was vir my ’n interessante woordkeuse vir ’n boervrou om te kies om haarself te beskryf. Dit was natuurlik omdat sy gedoen het wat sy doen in ’n militêre milieu met mans rondom haar. Dis seker maar hoekom sy daardie woord gekies het.

Hierdie mense het vreeslike aanslae beleef, soos Reinhard wat ’n landmyn afgetrap het en dit oorleef het.
Ek is mal oor al die mense met wie ek gesels het, maar ek hou veral baie van Reinhard. Deur die boek het ek ook agtergekom die ritme wat 61 Meg en die kommando’s in daardie oorlog gehad het. Dis soos ’n rugbyspan wat wegwedstryde en tuiswedstryde het. Tuiswedstryde is wanneer hulle verdedigende rugby speel wanneer Swapo ingekom het. Die wegwedstryde is wanneer hulle ingegaan het in Angola met oorgrens operasies. In ’83 toe ek as dienspligtige daar was, het ons baie naby gekom aan die plek waar die Ratel uitgeskiet is, die een waarin Pompie se mense omgekom het, baie naby aan waar Reinhard die landmyn afgetrap het. Ek het agter ’n outjie geloop wat op ’n landmyn getrap het en net daar doodgebloei het. Dis vir my ongelooflik dat Reinhard oorleef het.

Jy beskryf die Swapo kamp in Angola in detail. Het jy toegang gehad tot iemand van Swapo wat jou hiermee kon help?
Ek was twee jaar voor die trip saam met die veterane ook in Angola, maar met viertrekvoertuie en motorfietse. Ons was op Luanda toe en weer terug deur die middel van die land en ons was by Lubango ook. Ek het die Cristo Reibeeld gesien. Maar toe het ek nog niks geweet van Pompie of ’n terroristebasis nie. So, ek ’n gevoel gehad vir die plek. Op die veterane trip het ek gepraat met Swapo ouens in Windhoek waar ons gebraai het saam met ’n klomp ou Swapo’s wat nou grootkoppe in die Namibiese Weermag is. Een van die ouens was in daai basis. Deur Roland de Vries het ek ook toegang gehad tot sketse en inligting wat hy gehad het. ’n Terroris wat deur Roland-hulle gevang is, het onder ondervraging gedetailleerde sketse gemaak van die basis. Van daardie inligting af het ek die basis beskryf. Een van Roland de Vries-hulle se doel met die trip was om die ou vyand te embrace en aan hulle die respek te gee wat hulle toekom deur hulle persoonlik te ontmoet. Daar was respek vir hierdie ouens wat 400 kilometer geloop het om te kom veg. As hulle gewond was, was daar geen helikopter om hulle op te pik nie. Die enigste kere wat hulle mediese behandeling gekry het, was as hulle in Suid-Afrikaanse hande geval het. Anders het hulle in die veld dood gegaan aan hulle wonde.

Was daar een groot ding met die skryf van die boek wat jou by bly?
Ek wou die boek doelbewus kompak hou, met ’n vinnige tempo. Dit moes lees soos ’n roman. Ek wou oorspronklik myself en eie ervarings in die verhaal bring, maar ek het nie. Ek het wel in die inleiding verduidelik waarom ek hierdie boek wou skryf. My eie ervarings het nie bygedra tot Pompie se storie nie. Ek wou eintlik net hierdie gewone Suidwesters se storie skryf.

Hoe lank het dit jou geneem om die boek af te rond, is jy ’n netjiese skrywer of redigeer jy baie? Het jy ’n ritueel wanneer jy skryf?
Ek is ’n netjiese skrywer weens my joernalistieke ervaring. Wanneer ek skryf, moet elke woord reg en netjies wees, elke paragraaf en idee moet reg wees voordat ek kan aangaan na die volgende een toe. Ek kan nie ’n koerantberig skryf as die intro nie vir my perfek is nie. Ek kan nie aangaan na die volgende paragraaf nie en dit was dieselfde met die boek. Ek pak altyd reg en maak die tafel netjies voor ek begin skryf.
Dit het vier jaar geneem om die boek te voltooi. Toe ek die eerste keer oorgegaan het na die plase tussenSwakopmund en Tsumeb, het ek baie gery en baie onderhoude gedoen. Nadat ek teruggekom het, voor ek die onderhoude kon transkribeer, is my sak met die bandopnemer uit my kar gesteel. Baie amper het ek die hele projek net daar gelos. Dit was langer as ’n jaar voordat ek verlof kon kry om terug te gaan en al die onderhoude weer te doen. Dit was eintlik ’n goeie ding, want ek het beter mense en beter onderhoude gekry wat my perspektief gegee het. Die eerste keer het ek op Olivia gefokus, maar ek was nie tevrede met die onderhoud nie. Met my terugkeer wou Olivia nie weer praat nie. Toe gaan ek na Riana toe en daardie dag het Riana seker vir die eerste keer werklik oopgemaak. Ek het in my koerantloopbaan al baie onderhoude met mense gedoen wat trauma ervaar het, maar ek het nog nooit so iets ervaar nie. Dit was vir my baie uitmergelend. Dit was hartbloed van hierdie mens wat oor my uitgeloop het. Ek is senuweeagtig oor hoe veral Riana op die boek gaan reageer. Ek is baie bewus daarvan dat ek skryf oor mense wat nog leef en moes heeltyd ’n lyn loop tussen eerlik skryf en skryf soos dit is, sonder om nog onnodige trauma te veroorsaak.