FOTO: Instagram (@thenotoriusnugs)

Boeke

Gogga maak vir baba bang

Eintlik hoef jy nie vir gogga bang te wees nie. Meeste spinnekoppe is onskadelik en hou vir ons baie meer voordele in. Hou moed, hier is ’n nuwe boek!

As jy steeds bang is vir spinnekoppe, raadpleeg die baie handige Field guide to the Spiders of South Africa deur Ansie Dippenaar-Schoeman (Lapa Uitgewers, R350) waarin jy meer oor dié interessante agtpotige gediertes kan leer. Hierin word Suid-Afrikaanse spinnekopfamilies en hul spesies beskryf. Op die volkleur foto’s kan jy ook sien hoe elkeen lyk. Beste van alles, jy kan die spinnekoppe van nader beskou sonder dat jy regtig in aanraking met hulle kom. Al die foto’s is deur gewone mense geneem en hulle bydrae maak hierdie boek ’n waardevolle visuele naslaanwerk.

Ansie Dippenaar-Schoeman

Ansie Dippenaar-Schoeman

Ansie Dippenaar-Schoeman doen al vir ongeveer 46 jaar navorsing oor spinnekoppe. Sy werk onverpoos voort om mense in te lig oor die waarde van spinnekoppe.

Ek het per e-pos met haar gesels oor haar lewenstaak.

 

Waar kom jou belangstelling in spinnekoppe vandaan?
Ek het baie belanggestel in biologie op skool moontlik weens ’n baie goeie biologie-onderwyser op Bronkhorstspruit. Na matriek het ek oor die radio gehoor van die navorsing wat gedoen word by die destydse Landbou Tegniese Dienste en ek het aansoek gedoen vir werk daar. Ek is in 1965 aangestel as ’n tegniese assistent en was baie gelukkig om by ’n navorsingspan in te skakel wat navorsing gedoen het oor termiete. Ek was verantwoordelik vir die spinnekoppe en daar het die groot belangstelling begin.

Hoe het jou beroep in hierdie veld begin?
Ek het gou uitgevind dat matriek nie genoeg gaan wees vir ’n navorsingsberoep nie en het deeltyds deur UNISA verder gestudeer om my BSc (Dierkunde en Sielkunde hoofvakke) te voltooi. Ek het ook deur die Universiteit van Johannesburg (toe RAU) my verdere grade behaal, terwyl ek heeltyd gewerk het. Ek het deur al die range gevorder en kon verlede jaar as ’n spesialis navorser na 46 jaar diens aftree by die Landbounavorsingsraad (LNR).

Wat maak spinnekoppe so belangrik dat jy ’n hele gids oor hulle saamgestel het?
Mense is baie gefassineerd deur “gevaarlike” diere en spinnekoppe is seker die enigste een waarmee hulle dikwels daagliks in aanraking kom. Ek het gou agtergekom dat daar ’n groot leemte bestaan aan inligting en het deur die jare gepoog om mense in te lig oor spinnekoppe. Dit het ek gedoen deur boeke (hierdie is my negende boek), lesings, algemene praatjies en ook radiopraatjies. Ons bemark spinnekoppe aan die boere en publiek as hul beste vriende. Spinnekoppe kom oral voor en hulle is heeltyd besig om rond te loop om kos te soek. Meeste van hul kos bestaan uit plaaginsekte wat ons dikwels groot skade kan berokken. En spinnekoppe is uitstekende natuurlike beheeragente, veral noudat almal weer meer groen word . . .

Meeste mense is bang vir spinnekoppe. Waarom moet hulle ’n spinnekop nie summier doodmaak as hulle een sien nie?
Ons vind dat hoe meer mense weet van spinnekoppe en die baie belangrike rol wat hulle speel as natuurlike beheeragente, hoe minder is mense geneig om alles net dood te maak.

Ons is tans besig met die nasionale opname van Suid-Afrikaanse Arachnida (SANSA) en ons het ’n databasis waar ons foto’s oplaai op ons webwerf onder die fotograaf se naam. Vir hierdie virtuele museum het ons reeds meer as 4 000 foto’s ontvang van die publiek wat graag wil meedoen. In die proses gee ons vir hulle inligting oor die spinnekoppe wat hulle afgeneem het. Ons is verbaas hoe graag die mense wil deelneem aan so ’n projek. Al die pragtige foto’s in die boek is ook deur die publiek geneem.

Watter spinnekoppe is die mees algemene wat ons in ons huise sal kry en is hulle gevaarlik?
Baie van die spinnekoppies in ons huis is nie endemies nie, dws hulle trek saam met mense rond dwarsoor die wêreld. Buite is die bruin knopiespinnekop met hul rooi uurglasmerkie op die pens ’n baie bekende gesig. ’n Ander een wat mense groot laat skrik, is die ou groot reënspinnekop wat in huise in beweeg voor en tydens reënbuie. Die enigste een in huise waarvoor mense versigtig moet wees, is die sakspinnekop wat lelike byte kan veroorsaak. En in sekere dele van ons land is dit die vioolspinnekop. In al my jare van werk met spinnekoppe het ons geen bevestigde gevalle van sterftes weens spinnekopbyte gehad nie. Dikwels is dit ander siektetoestande en sekondêre infeksies wat mediese probleme veroorsaak.

Vir wie het jy hierdie boek geskryf?
Hierdie boek bevat foto’s en inligting oor sowat die helfte van ons spinnekoppe. Ek het probeer om verteenwoordigende inligting te gee wat die morfologie, gedrag en verspreiding van 800 spesies insluit. Dit is ’n “prentjies boek” en kan deur enige persoon gebruik word. Ons vind dat die publiek en die fotograwe dit baie gebruik. Maar ook vir ander navorsers bevat dit belangrike inligting.

Waarom is die boek net in Engels beskikbaar?
Een van ons vorige boeke, Goggagids, is wel in Afrikaans en Engels gedruk. As gevolg van die koste van die volkleurboek het die uitgewers besluit om hierdie uitgawe in Engels te druk. Miskien kry ons later iets soortgelyks in Afrikaans?

Het jy ’n gunsteling spinnekop?
Ja, my spesialisveld is die pragtige krapspinnekoppe (Thomisiddae). Dit is spinnekoppies wat jy gewoonlik op plante, veral blomme, kry. Hulle is pragtig kleurvol en het interessante gedrag. Ons kry nog baie nuwe spesies in Suid-Afrika en ek het al verskeie nuwes beskryf.

Is spinnekoppe ’n bedreigde spesie?
Ons is tans besig om elke spinnekopspesies se bewaarstatus te bepaal. Dit is grootliks spinnekoppe soos bv. die valdeurspinnekoppe wat veral deur stadsontwikkeling en landbou bedreig word. Baie van ons valdeurspinnekoppe is uit Gauteng beskryf en meeste van die areas waar hulle voorheen voorgekom het, is nou ontwikkel. Van die groter bobbejaanspinnekoppe word ook deur die handel in troeteldiere bedreig.

Is jy steeds betrokke by navorsing oor spinnekoppe?
Hoewel ek verlede jaar afgetree het, is ek nog steeds by studente en verskeie projekte betrokke. Ons is veral besig om nog inligting in te win oor ons biodiversiteit en die versamel en beskrywing van nuwe spesies. Ek sou graag nog ’n boek wil doen oor die krapspinnekoppe. As die gogga of liewer die spinnekop mens eers gebyt het . . .

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf