FOTO verskaf

FOTO verskaf

Boeke

Haar eie tienerevarings is deel van haar storie

Vir Dihanna Taute is die storie wat sy geskryf het baie na aan die vel. Haar tienerboek het sy op eie ervarings gegrond.

Van die dinge wat met Lehandi gebeur in Ek en Prins Donkerkuif (Human & Rousseau, R135) het werklik met Dihanna gebeur toe sy ’n tiener was. Ek het dit geweldig geniet om oor die arme Lehandi se penarie te lees, maar dit het ook al die onsekerheid van tienerskap weer opgediep in my kop. En is ek dankbaar ek hoef nie soos Lehandi te verhuis van die platteland na die stad nie en die nuwe meisie sonder vriende in die nuwe skool te wees nie! Dis waar die verhaal afskop en dan vertel dit van hoe Lehandi moet aanpas, nuwe vriende moet probeer maak en hoe sy haar ma en pa se huwelik wat tot niet is, moet hanteer en dat haar pa ’n nuwe vrou in sy lewe het, en dat hy boonop weer ’n pa gaan word. Maar gelukkig bly alles nie beroerd nie, soos dit in die lewe gaan. Daar kom vriende oor haar pad, meer nog ’n kêrel … Dis ’n vermaaklike verhaal in los, ontspanne taal waarmee tieners kan identifiseer. Taute raak op ’n gemaklike wyse kwessies aan waarmee tieners vandag gekonfronteer word. Hierdie boek is die eerste van ’n reeks.

Ek het per e-pos met haar gesels.

FOTO: verskaf

FOTO verskaf

Vertel so klein bietjie van jouself?
Ek is die skrywer Dihanna Taute. Ek is in Welkom, in die Vrystaat gebore en het daar gematrikuleer en toe in Bloemfontein gaan studeer. Niks in tale nie. Ek is later getroud met ’n ingenieur en ons bly tans in Namibië saam met ons vier orrelpypies. Een dogter en drie seuns.

Hoe het jy begin skryf en waarom vir spesifiek vir tieners?
Ek het begin skryf omdat ek ná skool baie begin lees het en altyd ’n storie se einde na my smaak verander het. Later het ek besluit dat as ek die einde van stories kan verander dan kan ek die begin ook mos kan skryf. Ek het vir tieners geskryf omdat ek gevoel het daar is interessante dinge wat met my as tiener gebeur het waar rondom ek ’n storie kon bou. (In elke boek in hierdie reeks is daar iets in wat werklik met my as tiener gebeur het).

Hoe skryf jy? Is jy gedissiplineerd, skryf elke dag op dieselfde plek?
Ek is baie ongedissiplineerd wanneer dit by skryf kom. Ek skryf gewoonlik soos die kreatiewe gogga my byt. Ek probeer gewoonlik skryf wanneer my kinders by die skool is of in die aand wanneer hulle in die bed is. Maar dinge gebeur amper nooit soos ek beplan nie.

Dis jou eerste boek. Hoe het dit gevoel om jou boek op die winkelrakke te sien?
Dit was ongelooflik om my boek op winkelrakke te sien. Selfs nou nog voel dit asof ek droom.

Waar kom die inspirasie vir “Ek en Prins Donkerkuif” vandaan?
Ek en Prins Donkerkuif het ontstaan toe ek my eie tiener ervaring gebruik het. Die gedeelte waar Lehandi haar hart in haar huiswerkboek vasgepen het en haar boek gesteel word EN deur die onder sestien rugbyspan gelees is – dit het regtig met my gebeur. En my crush was ’n donkerkop.

Wat was die moeilikste van die skryf?
Vir my was dit die moeilikste om die ander karakters persoonlikheid te gee. Om my karakters te ontwikkel. Maar die storie self het maklik uit my pen gevloei.

Het jy Lehandi se karakter op iemand gebaseer?
Lehandi se karakter is so 50 persent ek, net met ’n tikkie meer houding en rebelsheid by.

Wat wil jy hê tienerlesers moet uit jou verhaal leer?
Ek sal graag wil hê dat tieners uit my verhaal moet leer dat al voel hulle dag donker en naby aan  die afgrond, dat dinge altyd uitwerk. Dalk nie soos hulle dit beplan het nie, maar soms soveel beter as wat hulle dit kon droom.

Gaan al die karakters hul opwagting maak in die volgende boek in die reeks, of ontwortel jy vir arme Lehandi weer?
Ongelukkig ontwortel ek weer vir Lehandi in die volgende boek, maar dit bring interessante en  nuwe karakters wat die volgende boek propvol humor maak.

Wat lees jy?
Ek lees amper enige iets solank dit fiksie is. My gunsteling-skrywers is Francois Bloemhof, Fanie Viljoen, Kristel Loots en Chanette Paul. En in Engels lees ek graag Danielle Steel, Nora Roberts en Francine Rivers. Ek lees, want dit is vir my lekker. In flieks gee hulle die prentjie, maar met ’n boek kan ek my eie prentjie skep.