Boeke

Handige handleiding oor tieners vir ouers

Trou is nie perdekoop nie, ‘n ou gesegde wat in vandag se lewe steeds baie waar is.  Hierdie gesegde is vir my veral van toepassing op ouerskap, want dis ‘n reuse uitdaging.

As jy tieners in die huis het, sal dit geen verrassing vir jou wees nie. Hierdie tydperk in ‘n jongmens se lewe kom met ‘n klomp uitdagings. En ouers voel dikwels magteloos. Daar is die lyflike veranderings en dan is daar nog die emosionele uitbarstings wat soms toegeskryf kan word aan hormone. Maar daar is ook ander faktore wat ‘n tiener se lewe moeilik maak. Maats kan baie druk op mekaar sit; of dit nou gaan oor ‘n neusring, selfoon, die regte uitrusting, drank en dwelms of wat ook al. Dis ‘n mynveld waarin ouers fyn moet trap. Hoeveel dissipline en beheer is genoeg? Hoe hanteer ek my kind se uitbarstings? Is ek net oorbeskermend teenoor my kind? Hoe konfronteer ek my kind oor sy gedrag?

In Linda Friedland se handige handleiding,  Ag, Ma, Whatever! (Tafelberg, R195) bespreek sy kwessies wat tieners en ouers raak. ‘n Hele klomp kenners het gehelp met die raad en het insette gelewer oor wat die beste manier is om hierdie situasies te hanteer. Ek het per e-pos met Linda gesels oor die boek en ouers se grootste bekommernis rondom tieners.

Jou vorige boeke gaan almal oor gesondheidsorg en medisyne. Waarom wou jy ‘n boek skryf waarin jy raad aan ouers gee oor tieners?
Ek het vier boeke in die gesondheidsveld geskryf, waarvan die laaste Omvattende gids vir gesinsgesondheid was. By een van die lesings wat ek in Hong Kong gegee het, het iemand gevra ek moet die ouers van die Hong Kong Internasionale Skool toespreek oor gesinsgesondheid. Hierdie ouers het egter baie meer belang gestel in kwessies rakende ouerskap, eerder as gesondheid, en spesifiek kwessies aangaande tieners. Ek het toe besluit al is daar baie in die VSA hieroor geskryf, is daar ‘n behoefte aan ‘n baie praktiese gids met insette van baie wêreldkenners oor tieners.

Jy het self kinders. Hoeveel van die advies is persoonlike ervaring?
Ek dink die boek bevat die integrasie van my persoonlike ervaring asook die raad en leiding wat ek by van die beste kenners gekry het. Daar is wel ‘n hele paar van my persoonlike ouerskap-staaltjies in die boek.

Wat is van die moeilikste situasies wat jy met jou eie kinders moes hanteer?
Alhoewel alle ouers uitdagings die hoof moet bied tydens hul kinders se tienerjare, het ek geen groot trauma van my tieners gehad nie. Eintlik geniet ek die uitdagings. Jy kan dink  in ‘n gesin van vyf kinders, elkeen met hul eie persoonlikheid en dinamika, is daar heelwat vurige oomblikke. Boonop is meeste van my kinders uitgesproke en baie passievol.

In die boek verwys jy na helikopter-ouers en tier-ouers. Wat is die verskil in hul benadering tot opvoeding en moet mens streef om ‘n tier-ouer of ‘n helikopter-ouer te wees?
Helikopter-ouers staan heeltyd gereed en duik konstant in om te probeer om hul kinders te beskerm, te kontroleer en te beheer. Hulle is die ouers wat, selfs wanneer tieners oud genoeg is om bietjie onafhanklik en outonoom te wees, sal rondhang by elke skoolgeleentheid en sosiale geleentheid ens. Elke keer as hulle dink hul kind word onregverdig behandel, wil hulle ingryp. ‘n Tier-ouer aan die ander kant stel hoë eise en verwag goeie prestasies en sal druk op die kind sit sonder ophou. Daar is nie ‘n regte manier van om ‘n ouer te wees nie en dikwels vereis moeilike kinders ‘n ander aanslag. Ek dink ons het almal so bietjie van helikopter en ‘n bietjie van tier, maar sommige ouers gaan net oorboord en is dan totaal beherend of  het weer geen beheer nie. Die belangrikste ding vir ons as ouers is om bewus te wees van die eie self. Hoe meer ons menslike gedrag verstaan, spesifiek ons eie gedrag en ons waarde sisteem, hoe meer sal ons toegerus wees as ouers.

Jy praat ook oor die verskil tussen generasie Y en Z. Wat is die beste aanslag vir ouers van generasie Z?
Adolessensie is en sal altyd ‘n uitdaging wees vir kinders, sowel as vir hul ouers, of dit nou generasie Y of  Z of selfs toe “baby boomers” tieners was. Dis ‘n tyd waartydens die status quo uitgedaag word en daar baie vrae gevra word. En 10 tot 15 jaar gelede het tieners hul ouers en onderwysers op dieselfde manier uitgedaag. Vir generasie Z is die virtuele en elektroniese wêreld iets waarmee hulle grootword en dis ‘n integrale deel van hul lewens. Ons lewe in ‘n geweldige anderste wêreld met gevare wat daar buite lê en wag (met die internet) ver verby die tiener se skool of woonbuurt. As ouers moet ons in hulle wêreld wees – ons moet betrokke wees en die elektroniese en digitale ontwikkeling verstaan. Ek dink ook die druk op hierdie generasie Z is baie groter as 15 jaar gelede.

Wat is die grootste probleem wat tieners in die gesig staar en wat kan ouers doen om hul kinders te help hiermee?
Moeilik om een uit te sonder. Eksperimentering met dwelms en dwelmverslawing is uiteraard ouers se grootste vrees. Ek sal sê die gevare van die internet, kuberboelies ens. is ook ‘n baie aktuele kwessie en kinders het leiding en toesig nodig. Maar die hoeveelheid ingryping van ‘n ouer hang saam met die ouderdom van die kind. ‘n Twaalfjarige kind het meer leiding, toesig en grense nodig rakende sosiale media, die internet en selfone as ‘n sewentienjarige wat aanspraak kan maak op meer privaatheid en minder beheer van sy ouers. Maar daar is ‘n groot voorwaarde – hulle moet die ouers se vertroue verdien en as hulle dié vertroue misbruik, verloor hulle dit en moet daar meer toesig en beheer wees. Die tweede kwessie is om jou oorloë te kies! Die werklikheid is dat selfone vandag ‘n verlenging van ‘n tiener is, amper soos ‘n ledemaat. Wees realisties oor hoe en wanneer jy wil hê jou tiener moet afskakel. ‘n Ouer wat konstant vir die tiener sê om sy foon af te skakel of op te hou om heeltyd te Facebook gaan net geïgnoreer word.

Wat is jou grootste bekommernis rakende jou eie kinders?
Uit onderhoude met ouers is dit duidelik dwelmmisbruik is die grootste kwessie. Eienaardig genoeg, nie vir my  gesin nie. Die rede daarvoor is dat ons ‘n naby familielid het wat ‘n vreeslike dwelmprobleem van tienerjare af gehad het. My kinders het eerstehands gesien wat dwelmrehabilitasie behels en was selfs saam met die familielid na ‘n NA (Narcotics Anonymous) byeenkoms. Hulle is intens bewus van die gevolge van dwelmmisbruik en dat dit tot die dood kan lei. My tieners het ‘n afsku aan dwelms en enige eksperimentasie (selfs dagga) en die leefstyl wat daarmee saamgaan. Ek voel baie sterk oor eksperimentasie, alhoewel meeste tieners dit probeer. “There by the grace of God go we” – want verslawing kan met enige familie gebeur. So, my grootste kommer is my kinders se persoonlike veiligheid en om toe te sien dat hulle toegerus is met sterk innerlike krag en ‘n waardesisteem van eerlikheid, deernis en integriteit.

Elke generasie voel die probleme wat hulle in die oë staar is die grootste. Is dit so of is dit net ‘n persepsie?
Nee en ja. Nee, want adolessensie sal altyd ‘n prikkelbare tyd wees vir tieners en ouers. Nie alleen is dit ‘n tyd van liggaams- en hormoontransformasie nie, maar ook van massiewe breinontwikkeling. In die verlede het tieners ouers en onderwysers net so beproef en was daar ook eksperimente met dwelms, drank en seks, en noemenswaardige eetsteurnisse en depressie onder tieners. Ja, want die virtuele en digitale wêreld waarin ons nou leef is baie anders en daar is baie gevare via die internet wat deesdae getrotseer moet word. Ek dink ook die druk op tieners is baie groter as 15 jaar gelede.

Waar kom die titel van die boek vandaan?
Die boek begin met ‘n voorwoord wat die storie vertel van my “magstryd” met my dertienjarige dogter (nou al 22!) en haar versoek om ‘n naeltjiering te kry. In retrospek is dit baie snaaks, maar toe was dit nie so snaaks nie en ‘n situasie wat sterk ouerleiding geverg het. Kry die boek, lees die storie, dis op die eerste bladsy!