FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Handleiding vir kateienaars

As jy ‘n kateienaar is, is daar nou ‘n handleiding in Afrikaans wat jou alles oor katte sal vertel.

Yolanda Wessels se boek, Katte, ‘n Handleiding vir verantwoordelike kateienaars in Suid-Afrika (Naledi, R245) het ontstaan uit haar eie liefde vir die wollerige, viervoetige diere. Sy het immers vier katte. Die handige gids is onlangs gepubliseer en is ‘n uitstekende naslaan bron oor alle katverwante navrae.  In die eerste deel van die handleiding verduidelik sy wat die voordele van ‘n kat as troeteldier is. Deel twee gaan oor al die aspekte van verantwoordelike eienaarskap. Die derde deel van die boek is ‘n uitgebreide mediese gids waarin sy meeste van die siektes wat katte affekteer, beskryf. Besonder van die boek is die aanhalings wat aan die begin van hoofstukke gegee word. My gunsteling is geskryf deur die Amerikaanse skrywer Ernest Hemingway: “A cat has absolute emotional honesty: human beings, for one reason or another, may hide their feelings, but a cat does not.” As jy al in jou lewe ‘n kat besit het, sal hierdie woorde vir jou sin maak! Ek het per e-pos met Yolanda gesels oor katte en skryf.

VLUU L100, M100  / Samsung L100, M100Wie is jy en waar woon jy?
Ek en my man, Jako, het twee woelwaterseuntjies, Marius en Wynand. Ons woon in een van die mooiste laslappielandskappe in Suid-Afrika, Bredasdorp in die Overberg. Ek is baie passievol oor die natuur en diere en veral hul welsyn.

Wanneer het jy begin skryf?
My belangstelling het op skool posgevat en ek het my eerste koerantartikels twee jaar na skool begin lewer vir ons plaaslike koerante. Na die dood van my geliefde katjie, Oscar, weens komplikasies met bosluiskoors, het ek ‘n behoefte ervaar om meer te wete te kom oor katte. Ek het vir Catslife begin skryf en lewer oor die jare bydraes aan verskeie publikasies oor ‘n verskeidenheid onderwerpe.

Waarom ‘n handleiding oor katte?
Ek is baie passievol oor katte (en groot katte, veral jagluiperds) en het die nodigheid gesien omdat daar nie ‘n handleiding in Afrikaans is wat uitsluitlik op katte fokus nie. Ek voel dié handleiding vul ‘n leemte in die mark waar kateienaars op ‘n eenvoudige manier die a-z van katte in ‘n enkele gids kan kry. Sodoende kan kateienaars hul katte beter verstaan en die beste versorging moontlik gee om hul lewenskwaliteit te verbeter.

Is jy ‘n kat mens en het jy katte?
O baie beslis! Ek is versot op dié akrobatiese spesie! Ek het vier katte, Pippa Plumé, Wiki, Lady Jemma en ons nuutste toevoeging, klein Bella.

Hoe het jy die navorsing aangepak vir hierdie boek?
‘n Dekade gelede het ek artikels begin skryf vir Catslife. Ek het eendag vir my man gesê ek het opgelet dat oor die jare het ek ‘n wye spektrum gedek en hy het die saadjie geplant van om dit saam te vat in boekvorm. Ek het alles begin saamstel en nuwe navorsing gedoen sodat die hoofstukke so volledig as moontlik is. Daarna het ek hoofstukke bygeskryf wat ek voel elke katliefhebber van bewus moet wees.

Wat was die interessantste ding wat jy oorkatte geleer het in jou navorsing?
Daar is ‘n klein persentasie katte wat na spening laktose-intolerant word. Die een hoofstuk handel oor interessante feite oor katte. Almal weet dat katte karnivore en jagters by uitstek is. Maar een van die interessantste feite is om getalle hierby te kon sit. ‘n Kat in Skotland, genaamd Towser, het gedurende haar leeftyd (1963-1987) ‘n ongelooflike 28 899 muise gevang! Daar is tot ‘n gedenkteken by die Glenturret Stokery (bekend vir Famous Grouse whisky) in Perthshire vir haar opgerig.

Baie kateienaars voer hul katte snoephappies. Is daar kos wat gevaar inhou vir katte?
Snoephappies kan matig gegee word solank dit nie die kat se etes of eetlus beïnvloed nie. Dikwels is snoephappies ook hoog in koolhidrate, wat katte aanmoedig om nog meer te eet. Tafelkos is meestal nie geskik vir katte nie en mag selfs skadelik wees vir hul gesondheid. Kosse wat liefs vermy moet word is sjokolade, kafeïen, uie, knoffel, sampioene, tamaties en xylitol.

Wat is die ideale gewig vir ‘n kat? En hoe sorg mens dat jou kat nie oorgewig raak nie?
Die ideale gewig vir ‘n volwasse kat hang af van die ras en geslag. Jy moet die kat se heup- en ribbebene kan voel, maar nie sien nie. Die middellyf moet duidelik sigbaar wees en die buik, van die ribbes tot die pelvis, moet slanker wees. Die hoofrede waarom katte oorgewig raak, is omdat hulle meer kilojoules inneem as wat hul gebruik vir energie. Let dus op hoeveel oefening die kat kry.  Sterilisasie en kastrasie verlaag die kat se metabolisme en die hoeveelheid kilojoules moet verminder word, asook dat ouer katte minder aktief is en daarom minder kilojoules benodig. Let op na die grootte en hoeveelheid porsies wat op jou kat se goeie kwaliteit katkos aangedui word en hou streng daarby. Daar moet spesifieke voedingstye wees en nie deurlopend kos beskikbaar wees nie.

Kan katte geleer word om sekere dinge te doen, soos om met ‘n leiriem te stap?
Dis nie onmoontlik nie, maar ietwat moeiliker as om ‘n hond te leer, bloot omdat die kat jou as hul troeteldier sien en nie andersom nie! Die beste is om ‘n jong katjie te leer waarmee jy ‘n liefdevolle, vertrouensverhouding het.

Waarom is party mense allergies vir katte?
Die allergeen, Fel D1, is ‘n glikoproteïen wat op die kat se vel, hare, speeksel en urine voorkom en tydens versorging klou dit aan die pels vas. Die liggame van mense met sensitiewe immuunstelsels beskou die allergeen as ‘n indringer en val dit aan soos wat dit bakterieë of virusse sou aanval.

Wat is jou mooiste persoonlike herinnering van katte?
My gunstelingherinnering is die soel, somersaande wat my katte na hartelus speel in ons agterplaas. Ek vind dit baie amusant en ontspannend as die katte rondhardloop en speel en duidelik gelukkige katte is wat al hul akrobatiese toertjies kan beproef!