swan_thieves
Boeke

Heerlike bederf spesiaal vir Moedersdag!

Dis net die regte soort bederf vir enige vrou wat mal is oor lees. Daar is agt boeke ter waarde van R1 700 in die gelukspakkie. Dis ‘n SMS wedstryd. SMS Penguin, gevolg deur jou naam, van, e-pos- en posadres na 34687. (‘n Tarief van R2 per SMS geld). As jy ‘n wenner is, sal jy teen 14 Junie 2010 gekontak word. Sluitingsdatum: 30 Mei 2010.

Lees hier drie resensies van die boeke wat jy kan wen. Bestel ook die boeke aanlyn by SARIE se boekwinkel.

The Swan Thieves, Elizabeth Kostova (Little Brown, R220)
Kan jy jou indink dat jy so obsessief raak oor ‘n kunswerk wat jare gelede geskilder is, dat jy dit in ‘n kunsmuseum gaan probeer vernietig. In breë trekke is dìt die hooftema van hierdie boeiende verhaal. Dis my eerste kennismaking met die skrywer, Elizabeth Kostova, maar ek wil sommer dadelik haar eerste boek, The Historian, ook lees. Sy het ‘n pragtige skryfstyl en boei jou van die eerste bladsy af. The Swan Thieves se verhaal speel in die hede af en vertel van die sielkundige Andrew Marlowe se uiters vreemde pasiënt, die befaamde skilder, Robert Oliver. Oliver is opgeneem in ‘n inrigting, omdat hy ‘n skildery in die National Gallery of Arts met ‘n mes probeer takel het. Nou moet jy jou regmaak vir die intrige – dis Marlowe wat Robert se verhaal vertel, want Robert sprak g’n sprook. Hy hou vir hom stom en neem ook nie eintlik deel aan sy terapie nie. Marlowe raak so vasgevang in dié geval dat hy begin navors terug in die geskiedenis. Natuurlik nadat hy ‘n pakkie briewe uit Robert se kamer “geleen” het. Dan ontvou die geskiedenis van die skildery, The Swan Thieves, en almal wat toeka betrokke was in die spesifieke drama. Dis ‘n fassinerende boek met ‘n baie sterk storie, met ‘n klomp karakters wat almal baie oortuigend geskets word. Een van my gunsteling-boeke van die jaar!

The Ice Cream Girls The Ice Cream Girls, Dorothy Koomson (Sphere, R220)
Wat ‘n storie! Serena Gorringe word in haar tienerjare vasgevang in ‘n vernietigende liefdesverhouding met een van haar onderwysers. Hy is maar ‘n paar jaar ouer as sy, getroud, maar kastig van sy vrou vervreemd. Sy mag oor Serena is so groot dat hy haar selfs dwing om deel te word van ‘n liefdesdriehoek, waarin die derde speler nog ‘n tiener skoolmeisie is – Poppy Carlisle. Hy beheer die twee meisies met ‘n ysterhand, maar dan gebeur daar ‘n ontstellende ding. Hy word vermoor. En die twee meisies word onmiddellik as die hoofverdagtes geoormerk. Hulle word die Ice Cream Girls gedoop, na aanleiding van ‘n foto van hulle twee. Maar dis eintlik net die agtergrond tot die verhaal wat in die hede afspeel. Serena is nou al getroud, haar lewensmaat weet nie van haar betrokkenheid by die moord nie. Poppy word na jare in die tronk vrygelaat en wil haar wreek op Serena. Sy voel sy het onskuldig in die tronk gesit en dat Serena die eintlike skuldige is. Serena ontken dat sy die moord gepleeg het. Nou ja, wie het die moord gepleeg? Sjoe, die storie is vol menslike drama, intrige en emosie. ‘n Heerlike spanningsverhaal met ‘n geloofwaardige storielyn. Laat mens jou hart vashou as jy self tieners in die huis het!
Revenge Revenge, Sharon Osbourne (Sphere, R220)
As jy ‘n storie wil lees wat ‘n lekker sappige binnegeveg in die vermaaklikheidsindustrie beskryf, is hierdie debuut van Sharon Ousbourne net vir jou. Die verhaal draai om twee susters, een baie mooi en maer en die sussie wat gedruk word deur Mamma om te presteer. Ten spyte daarvan kry mooie Amber toe nie die gesogte televisierol nie, maar lelike eendjie, Chelsea – en dit sonder dat sy ‘n oudisie afgelê het. So begin die verbrokkeling van die verhouding tussen die susters wat eens baie geheg aan mekaar was. Chelsea se lewe in Brittanje neem ‘n aweregse draai na dwelm- en drankmisbruik nadat haar televisiereeks ophou. Intussen is Amber baie suksesvol in Hollywood. Vir hoe lank? wonder jy, want Chelsea is op pad Amerika toe om die drade van die familieverhouding weer te probeer optel. Wat volg, is ‘n lekker rugstekery, ‘n oor en weer vryery, ‘n toesmeerdery van familieskandale en nog baie meer. Ek het die storie baie geniet, juis omdat dit ontspannend is en lekker juicy. Dis nie ‘n boek wat enige literêre pryse gaan wen nie, maar hou jou aan die lees tot die laaste bladsy. Sharon Osbourne, is ek seker, skryf sommige sappige gedeeltes uit eie ervaring!