FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Heerlike boeke vir luilekker vakansiedae vir oulaas

Ja, dis vakansie en vir oulaas kan jy nog heerlik ontspan voordat 2017 afskop. Rus goed uit, want volgende jaar beloof om in meer as een opsig wilder as wild te wees.

Dink maar aan die droogte, die ekonomie en die politiek … Kom ons praat eerder oor ’n onderwerp wat meer positiewe vooruitsigte het: boeke en goeie verhale. My voorneme is om in 2017 meer te lees en verhale wat die moeite werd is wyd en syd aan te beveel. My wens vir jou is dat jy tyd sal hê om volgende jaar jouself te verloor in ’n boek. Ek het hier ’n hopie uitgehaal vir daardie laaste vakansiedae, terwyl jy nou nog kan ontspan!

Staatsrotte, Mike Nicol (Umuzi, R230)
Spanningsvrate kan verheug wees dat Nicol se boeke nou in Afrikaans vertaal word, want hy skryf lekker! Ek het in 2008 kennis gemaak met dié Suid-Afrikaanse skrywer toe ek sy boek, Payback, gelees het. Dit het my bekend gestel aan die wêreld van spioenasie en die “spoke” wat daarby betrokke is. Hy skets ’n baie realistiese verhaal van ’n wêreld waarin gekonkel word, en waar jy wonder wie jy kan vertrou. In hierdie jongste verhaal, Staatrotte, speel die spoke, oftewel staatsrotte, weer ’n sentrale rol in die gebeure. Hy betrek aktuele kwessies, korrupsie en mensehandel, by die verhaal wat teen ’n stewige pas afkatrol. En bowendien kan jy niks wat gebeur net aanvaar nie, jy moet alles bevraagteken, want wie sit nou werklik agter die gebeure? Die karakters is kleurvol en fassinerend, die intriges boeiend en die gebeure hou jou op die punt van jou stoel. Jy gaan ver soek vir meer aksie wat so boeiend geskryf is. Uitmuntend uit die Engels vertaal in Afrikaans deur Theunis Engelbrecht. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Offerande, Chanette Paul (Lapa Uitgewers, R260)
In Offerlam het Caz Colijn na België gegaan om meer oor haar en haar dogter se ware herkoms te leer, maar word toe onwetend meegesleur in ’n stroom van geheimsinnige gebeure. Sy het haarself bevind in die middel van ’n raaiselspel wat dekades gelede in koloniale Kongo begin het. Nie net was sy die teiken van ’n groep ekstremiste nie, maar ook die Belgiese polisie se hoofverdagte in ’n saak van moord. In Offerande speel Caz se storie nou uit. Haar erfporsie bevat toe meer as wat sy gedink het en dit veroorsaak dat sy weer geteiken word deur die ekstremiste. Al wat sy kan doen, is om te probeer ontslae raak van die ongeslypte diamante wat deel vorm van haar erfporsie. Sy beland weer in België waar sy die skurke weer moet trotseer, die keer om haar dogter te red. Gaan sy slaag en hoe gemaak met die diamante? As jy Deel een van Caz se verhaal gelees het, sal jy sin maak van Deel twee. Lees eerder altwee boeke, sodat jy ’n volledige prentjie van ’n ingewikkelde spanningsvolle verhaal kan kry. – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Maestro, Marié Heese (Human & Rousseau, R330)
’n Roman (so te sê biografies van aard) oor die vormingsjare van die beeldhouer en argitek Gianlorenzo Bernini, gebore in 1598, sy ouers se eerste seun en sesde van dertien kinders. Nog voor sy tiende verjaarsdag besef sy pa en geledere uit die Vatikaan dat die jonge Bernini geniaal is en ’n buitengewone kunstalent het  – kan hy die volgende Michelangelo wees? Bernini stel net in een ding belang: Om die beste beeldhouer van marmer in die wêreld te wees.

Die skrywer neem ons op ’n reis deur Bernini se lewe, elke stap is ’n nuwe hoofstuk in die boek vanaf sy grootwordjare tot hy op die ouderdom van 41 in die huwelik tree en ’n keerpunt in sy lewe bereik. Deur die kunstenaar se oë sien ons die daaglikse lewe in Rome van die 1600’s, die Kerk wat tegelyk korrup en tog so toegeeflik teenoor sy kunstenaars is, en hoe Gianlorenzo algaande sy stem as beeldhouer vind. Bowenal sien ons hoe koorsagtig hy dìt wat by hom spook, soos sy woede en ander sondes, verewig in sy kuns in beelde van marmer wat ons tot vandag toe nog kan besigtig.

Maestro is ’n uitsonderlike geskiedkundige roman oor ’n geniale beeldhouer van die sewentiende eeu, eeue lank bykans vergete. ’n Viering van kunstenaarskap en menswees.

Wat ’n voorreg om van sy bekendste werke  te kon naslaan op Google so tussen die gelesery deur! Gianlorenzo Bernini se lewensverhaal sal my altyd bybly. – Nadia de Jongh

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

A man called Ove, Fredrik Backman (Hodder & Stoughton, R200)
Ove is ’n nors omie met ’n baie spesifieke uitkyk op die lewe en ’n streng daaglikse roetine waarvan hy nooit afwyk nie. Hy hou nie juis baie van mense nie, veral nie mense wat draf, bure wat nie behoorlik kan parkeer en winkelassistente wat nie duidelik kommunikeer nie.

Soos die leser egter Ove beter leer ken, raak dit duidelik dat hy tog ’n groot hart het. Mens kan nie help om lief te raak vir hom nie. Soms het die mens se lewenspaadjies ’n groter invloed op wie hy is as wat ons besef. Ook Ove leer dat hy nie alleen oud hoef te word nie en dat hy steeds van waarde vir ander kan wees.
Dit is ’n hartstorie wat lekker en maklik lees en soms vir ’n traan of twee sorg. – Danica Gouws

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The little old lady who broke all the rules, Catharina Ingelman-Sundberg (Pan Macmillan, R162)
Nege-en-sewentigjarige Martha Anderson en haar vier beste vriende woon in die Diamond House ouetehuis. Hulle is toenemend ongelukkig oor die besparingsmaatreëls wat deur die nuwe eienaars van die tehuis ingestel word. Die laaste strooi is wanneer daar nie geld vir Kersversierings is nie. Hulle sien in ’n dokumentêre televisieprogram hoe lekker gevangenes in die tronk bly en besluit hulle gaan lekkerder in die tronk woon as in die ouetehuis. Maar hoe maak mens om in die tronk te kom? En hoe kan vyf oumense wat almal met looprame loop in die tronk kom? Die eerste stap is om uit die ouetehuis te ontsnap, sodat hulle kriminele loopbane kan begin.

Hierdie prettige verhaal is uit die Sweeds vertaal. Dit breek ’n lansie vir alle ouer mense wat deur hulle gemeenskappe geïgnoreer word. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Story of Beautiful Girl, Rachel Simon (Cornerstone, R179)
Lynnie word op agt-jarige ouderdom afgelaai by ’n inrigting waar sy spesiale sorg kan kry. Sy kan nie praat nie en maak net verskeie geluide. Sy is baie geheg aan haar sussie Hannah, maar sy sien haar eers weer baie jare later as volwassene.  Haar ma sien sy slegs een maal weer terwyl sy in die inrigting is; haar pa sien sy nooit weer nie. Lynnie is ’n uitstekende kunstenaar en haar pragtige kunswerke vertel in storievorm van haar ervarings. Kate, een van die versorgers, ontferm haar oor Lynnie en sorg vir heelwat bederftydjies.  Lynnie ontmoet Homan. Hy is doofstom en het sy eie gebare taal ontwikkel wat net Lynnie verstaan.  Saam beleef hulle baie spesiale en teer oomblikke. Wanneer Lynnie ongeveer agtien jaar oud is, word sy een nag verkrag deur een van die bewaarders. Homan kry dit reg dat hulle saam ontsnap wanneer dit tyd is vir Lynnie om die lewe te skenk aan die baba. Hulle word gedwing om die baba by Martha, ’n afgetrede onderwyseres, te los. Martha is ’n weduwee en kinderloos. Lynnie word teruggeneem na die inrigting en Homan ontsnap weereens.

Martha noem die dogtertjie Julia en maak haar groot soos ’n eie kind.  Julia is veertien toe Martha sterf. Deur wonderwerk op wonderwerk kom eers Lynnie ná meer as dertig jaar weer by Homan uit en toe later Julia by Lynnie.

Voorwaar die ideale boek om op film vas te lê. – Jenny du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Time of Our Lives, Jane Costello (Simon & Schuster, R175)
’n Vyfster-hotel in Barcelona, vlugte in besigheidsklas; dit kan net een ding beteken … die perfekte vakansie! Regtig?  Beste vriendinne Imogen, Meredith en Nicola begin, wat hulle dink, die beste vankansie van hul lewens gaan wees. Imogen, ’n enkelouer met ’n veeleisende werk, het in jare nie ’n behoorlike vakansie gehad nie. Sy kan nie wag om ’n paar ontspannende dae op die strand deur te bring nie. ’n Krisis by haar werk veroorsaak dat haar foon onophoudelik lui. Sal sy in staat wees om die taai situasie te hanteer en haar vakansie te geniet? Sal Meredith vir oulaas ’n paar dae rus voor haar baba se geboorte en sal Nicola haar verhoudingsprobleme kan uitpluis?

Die verhaal is propvol pret en die vriendinne kry hulself in ’n hele paar almintige situasies. Die kinkels en draaie in die verhaal voer jou mee.  Ek het dikwels hardop gelag. –  Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Sjokolade soene, Kristel Loots (Lapa uitgewers, R219,99)
Sjokolade het towerkrag, daarvan kan Jessie Jansen getuig. Vandat haar man weggeloop het met ’n jong bokkie is daar ’n gat in Jessie se binneste. En sjokolade vul daai gat. Dis net jammer dit vul ook die res van haar lyf. Soos haar vriendin tereg sê: “Jy’t so ’n mooi lyf, daar’s net te veel daarvan.”  Dit is egter presies waarna Bruno Baumann soek – gewone vroue. Love Incorporated, die Baumann familiebesigheid, werk aan ’n nuwe reklame veldtog en soek gewone voorstedelike vroue om hul nuwe onderklerereeks te bemark. Die maatskappy se boodskap: gewone vroue met kurwes, sproete en plooie kan net so mooi wees soos die modelle wat gewoonlik gebruik word. En so begin Jessie se nuwe lewe, veral wanneer sy langs Bruno in sy Thunderbird beland. Al weet sy Bruno verkies die jong blaartjies sonder die bagasie, kan sy nie help om te droom nie.

Beslis nie ’n verhaal wat verveel nie! – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Shame,  Melanie Finn (Orion UK, R305)
Pilgrim Jones vlug na Afrika ná die dood van ’n paar kinders op ’n klein Switserse dorpie.
In Afrika word Jones gekonfronteer met basiese vereistes om daagliks te oorleef. Die kontras met haar lewe as ’n bevoorregte persoon in ’n welaf land kontrasteer skerp met die armoede in Afrika. ’n Polisieman verseker Jones dat Afrika-kinders skaamtelose diewe is, ‘erger as diere’.

Jones verstaan nie hoe Dorothea haar man kan toelaat om hul kinders by hom te hou nie en Dorothea gee ’n glimpsie van haar eie lewe wanneer sy haar vra om nie te dink sy is oningelig nie, en beskuldig Jones daarvan dat sy net hierdie wêreld raaksien, maar dat daar ’n ander een ook is.

Jones glo dat iemand haar agtervolg, selfs tot in die kern van Afrika. Finn laat die spanning opbou en maak die ontknoping van gebeure in Switserland, asook die misterie van Jones se agtervolger stuksgewys bekend.

Finn skryf so boeiend oor verskillende mense se skandes en skaamtes, dat die onvergeetlike storie moeilik is om toe te maak voor jy klaar is. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Robbie se broer se roer en ander jagstories, Pienkes du Plessis (Human & Rouseau, R190)
Dis Pienkes du Plessis se derde bundel kortverhale en hierdie een bevat 13 lekkerlees stories. Met sy kenmerkende fyn humorsin vertel hy van vuurmaak, braai, kamp opslaan, sleepwaens pak, onderonsies met wilde diere en hy deel staaljies uit die verlede. Alhoewel die meeste stories heerlik lighartig is, is daar ook een of twee wat miskien ’n traan in die oog sal bring.
Dis nostalgiese stories vir om die kampvuur, en vir lekker lag. Elkeen van die verhale is, met uitstekende karakterisering, om een of ander kleurvolle karakter gebou. Een van die redes waarom die stories so lekker lees, is Du Plessis se gemaklike skryfstyl. Indien jy op soek is na ligte vermaak en van die buitelewe hou, is die boek vir jou bedoel. Dis stories wat met ’n koppie koffie of glasie wyn geniet kan word. Pienkes (Gert van Eeden) du Plessis is in 1935 in die Noord-Kaap gebore. Hy was onderwyser, omroeper en regisseur en het al dosyne kortverhale, radiodramas en vervolgverhale geskryf. Hy woon tans in Somerset-Wes. – Gert