FOTO: Instagram (@tcmerveayhan)

Boeke

Heerlike plaaslike skrywers ingesluit op HomeBru-lys

Suid-Afrikaanse skrywers is die rede waarom boekwinkels nog kan bestaan.

So het Benjamin Trisk, hoofuitvoerende beampte van Exclusive Books gesê by die jaarlikse bekendstelling van die groep se Homebru-lys. Die tema was duidelik eg Suid-Afrikaans. Suid-Afrikaanse skrywers se boeke is gevier met tipiese plaaslike lekkernye soos plaatkoekies, klein vetkoekies en samoesas – net so eg soos heerlike stories in Afrikaans en Engels.

Mari Rheeder vertel meer oor Exclusive Books se bekendstelling van die Homebru-lys.

Trisk het die Suid-Afrikaanse outeurs bedank vir hulle werk, omdat ʾn winkel soos syne nie kan bestaan sonder hulle nie. Die bekendstelling is die eerste een onder Exclusive Books se nuwe bestuur. Deel van Trisk se visie is dat hulle skrywers se vorige werke beskikbaar stel in hul winkels, omdat die boekbedryf nie kan funksioneer sonder hierdie werke nie.

FOTO: Jonx Pillemer

FOTO: Jonx Pillemer

Vanjaar is daar opwindende boeke ingesluit op die Homebru-lys. Een wat aandag geniet is The Crazy Life of Larry Joe deur Joanne Jowell. ʾn Trots, Suid-Afrikaanse, ware verhaal van Larry Joe, ʾn eks-bendelid en eks-gevangene wat sy lewe omgekeer het deur sy passie as sanger uit te leef. Larry Joe, uitgevat in ʾn rooi fluweelbaadjie met sy kitaar in die hand, het gesing en bietjie meer gesels oor sy lewe.

Ben Williams van die Sunday Times het die vraag gestel: “Is die boek besigheid in gevaar danksy digitale omskakeling?” Hierdie kwessie is bespreek deur Eugene Ashton, verkope en bemarkingsdirekteur van Jonathan Ball Publishing, Terry Morris, besturende direkteur van Pan Macmillan, Allison Lowry, skrywer, redakteur, asook Kevin Shenton, ontwerp-direkteur by Triple M. Design. ’n Hewige debat het gewoel rondom die werksaamhede van Amazon.com. Verbruikers kan boeke direk op die web koop op dié webtuiste. Die algemene gevoel onder die debatvoerders was dat jy in die kuberruim nie boeke kan kies, kan voel en ervaar soos wat jy dit in ʾn boekwinkel kan doen nie. Die Amazon Kindle ontwerper, Robert Brunner voel dat boeke oor 20 jaar skaars sal wees, daarenteen is die debatvoerders se opinie dat boekwinkels en spesifiek Exclusive Books soos ʾn tweede huis is, “ons verkoop dinge van waarde, want ons glo in boeke en die bestaan daarvan”.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die HomeBru -lys bevat 48 titels waaronder die wenner van die Sunday Times se Alan Paton-prys, A Rumour of Spring: South Africa after 20 years of Democracy deur Max du Preez en die Fiksie pryswenner, The Spiral House deur Claire Robertson. Nog noemenswaardige titels op hierdie lys sluit in, The shining girls deur Lauren Beukes, Winterkos in Provence deur Marita van der Vyver, Dubbelspel deur Wilna Adriaanse, Krokodil aan my Skouer deur Christiaan Bakkes en Wolf Wolf deur Eben Venter. ʾn Ander bekroonde boek wat deel uitmaak van hierdie lys is Goeiemôre, mnr. Mandela. Hierin vertel Zelda le Grange, Nelson Mandela se jarelange persoonlike assistent, haar verhaal. Hierdie boek is beskikbaar in beide Engels en Afrikaans.

HomeBru is daar om ikoniese Suid-Afrikaanse skrywers te vereer vir hul werk asook om stories, plekke en gebeure eie aan Suid-Afrika ʾn plekkie in die son te gee.