somersneeu
Boeke

5 Boekminute met Helene de Kock

Sy skryf al dertig jaar en in verskillende genres. Daar is geestelike boeke, ligte verhoudingsverhale, ernstige verhoudingsverhale en kortverhale. Die nuutste boek uit haar pen, Somersneeu (Human & Rousseau, R175) het so maand of wat gelede verskyn. Nes haar vorige boek, Dieper Water, is hier weer ‘n groep karakters wie se storie oor ‘n hele aantal jare vertel word.

In Somersneeu is Rouke Bruwer die spil waarom die verhaal gevorm word. Hy is ‘n jong en baie intelligente skoolseun. Saam met hom leer ons sy vriendekring en hul gesinne ken en ook die ander mense op die dorp. Daar is die Van Coller-neefs, Karina, en Julia. Dan is daar Barbara, Rouke se kunstenaarsma, en Eckard of liewer oom Eckard – familievriend en prokureur op die dorp. Maar hy is baie meer as dit, en hierdie kinkel word eers diep in die boek onthul.
Die verloop van al die sentrale karakters se daaglikse lewens word vervleg met gebeure uit hul verlede. Dit maak die storie boeiend tot aan die einde. Daar is ‘n hele paar onthullings, wat jou asem wegslaan, want ewe skielik maak dit sin waarom sekere karakters optree soos hulle optree. Die verhaal eindig waar Rouke al ‘n werkende jong predikant is en gekonfronteer word met die grootste uitdaging van sy lewe.

Phyllis Green het oor ‘n hele paar koppies koffie met Helene de Kock gesels oor Somersneeu en die karakters wat haar lewe nooit makliker laat word nie.

Jy is ‘n baie produktiewe skrywer en skryf in verskillende genres. Wat is jou gunsteling- soort skryfwerk?
Ek skryf die graagste ernstige verhoudingsverhale. Mense raak nie in ‘n vakuum verlief nie. Hulle is omring deur ander mense – vriende, familie, mense in hul gemeente, kollegas. . . Dit affekteer alles; van hoe hulle optree en hoe hulle situasies benader. Liefde is net ‘n element in my verhoudingsverhale.

Wat maak ‘n verhoudingsverhaal so ‘n uitdaging?
Die onvolmaaktheid wat aan elke mens kleef en om daardie onvolmaaktheid te oorbrug. Ek glo my karakters moet nie nét goed wees nie, hulle moet alle fasette van die mens se aard bevat. Maar die belangrikste ding is dat jy ‘n goeie storie moet hê. Sonder ‘n goeie storie het jy nie ‘n boek nie.

Het jy ‘n ritueel as jy skryf?
Ek skryf elke dag. Ek is baie gedissiplineerd. Ek sit en skryf elke oggend vir drie ure. Dan stop ek eers, kook kos, doen ander dinge. Dan lees en skryf ek weer tot sesuur saans.

Waar begin ‘n storie vir jou?
Verskillende plekke. Somersneeu bv. het ek jare gelede gebruik vir ‘n verhaal in SARIE en die titel het by my gebly vir ‘n meer omvangryke stuk skryfwerk. Somersneeu is niks vreemds in die Oos-Vrystaat nie. Dis ontydig. Dit het my getrek – die ontydigheid van die lewe, ‘n ontydige verliefdheid. So ontwikkel ‘n storie vir my.

Die begin van Somersneeu is onverwags. Dit staan amper apart van die verhaal, totdat mens die hele verhaal lees en besef wat die implikasie van hierdie lewensgreep is. Waarom juis dié begin?
Die begin sê: Hier gaan dinge gebeur in die boek. Die uiteindelike gebeure van die verhaal word alles deur die begin beïnvloed. Dit prikkel die leser om verder te wil lees. Dit het ook ‘n definitiewe effek op die storielyn en is die draaipunt in die verhaal. Al die karakters in die boek is direk en indirek betrokke by daardie eerste openingsblaaie van die verhaal. Ek hou van die taktiek en ek doen dit met my volgende boek, Debora en Seuns, weer.

Somersneeu se karakters is jongmense met jongmens-dilemmas. Waarom ‘n boek oor jongmense en hul probleme?
Spesifiek omdat daar so baie dilemmas by jongmense is vandag. Ek het self ook skool gehou en ek dink ek ken kinders. Van die probleme wat die karakters ervaar, is eintlik probleme van die breër samelewing. Ek dink baie van die jongmense se probleme vandag spruit daaruit dat daar geen grense meer is nie. Hulle het toegang tot alles en dit maak dit vir hulle baie moeilik. Die vraagstukke waardeur hulle worstel, is meer universeel en kan tot elke mens spreek.

Waar kry jy jou karakters?
Dis die X-faktor van skryf. Ek skryf uit eie ervaring. Ek het ‘n TV reeks gekyk, Criminal Minds, en dit het my baie laat dink. Die een karakter was so ‘n intelligente man en ek wou die eienskap gebruik. Daar is ook so bietjie van my seun in Rouke Bruwer se karakter. Ek is ook gelukkig dat ek nogal baie reis en dit kan ek alles inploeg in my skryfwerk. Karina het ek uitgedink. Sy moes so wees dat Rouke haar altyd sal lief hê. Julia weer het my aan ‘n student laat dink wat jare gelede saam met my in Klaradyn-koshuis was. Dis interessant hoe ek die boek ingedeel het ook. Deel een is geskryf uit Rouke se perspektief, deel twee uit dié van Karina en die laaste deel weer uit Rouke se perspektief.
Karakters moet ontkiem en groei in jou kop, dermate dat jy die karakters so goed ken dat jy niks meer van hulle ontdek nie. Al gebruik jy nie alles van hulle in die verhaal nie, dit gee jou ‘n baie goeie bron om uit te put.

Jou gunsteling-karakter in Somersneeu en waarom?
Rouke, miskien omdat ek hom verstaan en ek hou van hom.

En die karakter wat jou die meeste uitdagings gebied het?
Beslis Eckard. Hy is so bietjie geslote, maar baie interessant. Dis ook ‘n kwessie van dat hy nie gepraat het nie. Hy het baie van sy gevoelens ingehou.

Daar is nogal so ‘n kommunikasie-tema in Somersneeu, of eintlik eerder ‘n gebrek aan openlike kommunikasie by party karakters.
Dis vir my moeilik om te verstaan dat sommige mense nie kan praat nie. Ek het groot geword in ‘n ouerhuis waar oor alles gepraat is. Maar die gebrek aan praat is ‘n wesentlike probleem in die samelewing. Dis ook ‘n struikelblok in enige verhouding. Vat nou maar vir Rouke, hy dink oor sy gevoelens, maar spreek dit nooit openlik uit teenoor die mense wat daarby betrokke is nie. Ek dink dis hoekom dit ‘n tema is waaroor ek skryf.

Is daar iets waarmee jy uitsonderlik gesukkel het waaroor jy baie navorsing moes doen?
Elke boek se sukkel is anders. Ek skryf al langer as dertig jaar en ek dink elke keer my volgende boek gaan makliker wees. ‘n Skrywer arriveer nooit nie. Jy begin met elke boek van vooraf. Wat moeilik is, is om die ruimte waarin die verhaal afspeel, helder uit te beeld. As dit nie goed gedoen is nie, is daar nie ‘n storie nie. Ek moes heelwat navorsing doen oor teologie, fossiele en landbou vir hierdie boek.

Waaraan werk jy nou?
My volgende boek se naam is “Debora en Seuns”. Ek sukkel nog om die storie te kry, maar het klaar lekker karakters. Die boek word in drie dele geskryf. Ek begin met ‘n jong vrou, Kristel, en vertel die drie dele van die boek uit haar perspektief. En dan, moet ek jou sê, ek weet nog nie verder nie.

Wat is jou filosofie oor skryf?
Petra Müller het lank gelede vir my gesê dis ‘n beskouingsfout om onderskeid te maak tussen erns en genot. Dis baie waar. Ek lees van kleins af en het nooit opgehou lees nie – dit help my met skryf. Jy kan soveel skryfskole bywoon soos jy wil, jy kan tegnies vaardig raak, maar as jy nie kan skryf nie, kan jy nie skryf nie. Skryf is harde werk. En jy kan sê, ek haat elitisme in letterkunde.

  • http://tspgndboudbt.com/ ksiqvniiu

    d5cQsf ahksztovriny, [url=http://uahcyyodjrek.com/]uahcyyodjrek[/url], [link=http://ytlcvkkhdamy.com/]ytlcvkkhdamy[/link], http://npndowgdiarp.com/