FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Help, ek het ’n buite-egtelike verhouding!

Dis ’n feit dat duisende mense elke jaar hul lewensmaat verneuk met iemand anders. Mens kan maar net kyk na hoe die statistieke oor egskeiding in Suid-Afrika gestyg het.

Volgens Statistiek SA se 2014 syfers het egskeidings in die land met 3,4% toegeneem teenoor die vorige jaar. Boonop is die meeste egskeidings aanhangig gemaak deur vroue, ’n allemintige 58% teenoor 34,4% wat deur mans begin is. Die verslag verduidelik ook dat meeste paartjies wat geskei het ongeveer 9-10 jaar getroud was. Dit laat mens wonder wat die redes is waarom die huwelike verbrokkel het? As mens kyk hoeveel daar in die media geskryf word oor verhoudings met mense ander as jou huweliksmaat, dan is dit logies dat buite-egtelike verhoudings (affairs) ’n bydraende faktor moet wees. Maar hoe gemaak as jy in so verhouding is en jy wil daaruit kom, maar jy kan nie? En hoe gaan jy jou hart weer reg dokter? En wat is die kans dat jy weer vir iemand anders gaan val vir ’n soortgelyke verhouding. Wees nie bevrees nie, daar is hulp!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Affair, Sue Hickey & Philippa Sklaar (MF Books, R200)
Die boek het ontstaan omdat so baie mense gevra het daarvoor.  Hickey sê in die voorwoord dat buite-egtelike verhoudings deel is van die tyd waarin ons leef. In hierdie boek plaas sy die affair onder die loep. Sy kyk na die tipe verhoudings wat daar is en die tipe mens wat ’n buite-egtelike verhouding begin. Wat is die gevolge van die verhoudings, wat kan jy doen om daaroor te kom? Elke afdeling word met gevallestudies toegelig. Die gevallestudies is mense wat na vore gekom het om hul verhaal te vertel toe hulle gehoor het sy skryf die boek, of dit is mense met wie sy in haar praktyk gekonsulteer het.

So lyk die uiteensetting van die boek:
Part one: What constitutes an infidelity, types of affairs, profiling the cheaters.
Part two: Responding to the affair: Stay out of the sewer; Poverty is a passion killer; The home-wrecker; The divorce.
Part three: Trust, forgiveness and the challenges of communication.
Part four: Solutions for healing yourself.

Dis doodnatuurlik om aangetrokke te raak tot ander mense, al is jy in ’n huwelik. Maar, sê Sue, dit beteken nie dat jy op die aangetrokkenheid moet reageer nie. Wanneer jy in ’n huwelik is, moet jy die commitment van jou verhouding eer. ’n Affair is nie die waarheid nie, want dit is ’n verhouding wat op leuens en oneerlikheid gebou word. Dis die opwinding van so verhouding wat mense daarna dryf. Sy verduidelik ook dat die meeste buite-egtelike verhoudings in trane eindig, en baie skade aan ’n huwelik berokken. Dié huwelik is nie noodwendig gedoem nie. Die betrokke partye moet self besluit of dit die moeite werd is om vir die verhouding en vir die persoon te veg.

Maar as alles uitmekaar val, wat dan? En dis wat hierdie boek is, ’n praktiese werkboek wat mense kan help om deur die hartseer van ’n affair te werk.  – Phyllis Green

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Ten things I’ve learnt about love, Sarah Butler (Picador, R162)
Alice en Daniel is die hoofvertellers. Dis ’n roman vir alle pa’s en dogters. Die lyste van “Ten things” tussen die vertellings illustreer hoe hulle poog om die angs en onstuimige dele van hul lewens in Londen te organiseer. Alice, die dertigjarige reisiger en die jongste van drie susters, is net betyds om haar sterwende pa te groet, maar daarna is nie net haar toekoms nie, maar ook haar verlede onseker.

Daniel, ’n siek sestigjarige boemelaar met ’n neurologiese afwyking, is al vir jare werkloos, maar hy het dertig jaar gelede wel ’n vaste werk en ’n passievolle verhouding gehad. Al wat hom nou aan die lewe hou, is die soeke na sy dogter.

Die spanning bou op en jy wonder of Alice die waarheid aangaande haar verlede gaan uitvind en, indien wel, of dit tot haar voor- of nadeel gaan wees. ’n Onvoltooide, frustrerende roman wat my bedruk laat voel het.  – Linda Volschenk

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The good luck of right now, Matthew Quick (Pan MacMillan, R360)
Bartholomew Neil woon al sy lewe lank by sy ma. So wanneer sy sterf as gevolg van breinkanker  sukkel hy om dit te hanteer. Hy het nie vriende of familie nie en ken net vir Father McNamee, ’n priester wat baie tyd saam met Bartholomew en sy ma deurgebring het. Dié dat hy briewe vir sy ma se gunsteling-akteur, Richard Gere, begin skryf. Jy leer vir Bartholomew ken deur dié briewe – hoe hy deur berading ’n vriend maak, uiteindelik die meisie by die biblioteek waarop hy vir jare al verlief is, ontmoet, en op ’n reis gaan waar hy meer oor homself en die pa wat hy nooit geken het nie leer as wat hy ooit verwag het. So ook word jy deel van sy emosionele groei, terwyl hy vir die eerste keer in sy lewe onafhanklik is. My gunsteling-eienskap van Quick se boeke (hy het ook The silver-linings playbook geskryf) is al die wonderlike, unieke misfit-karakters waarmee jy te doen kry. Die oplewering is ’n moet-lees vir enigiemand wat hou van iemand wat ná baie gesukkel eindelik ’n gelukkige einde kry.      – Liesl du Toit

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Discreet Hero, Mario Fargas Llosa (Faber & Faber, R245)
Felicito besit sy eie vervoermaatskappy. Sy twee seuns werk vir hom en alhoewel hy albei baie lief het, het hy sy bedenkinge oor sy oudste seun met sy unieke voorkoms. Het sy vrou die waarheid gepraat al die jare terug toe hulle moes trou? Hy het ook ’n geheime verhouding met ’n jonger vrou op wie hy smoorverlief is. Felicito is ’n harde werker wat goed vir sy familie voorsien, maar alles verander die dag toe hy die slagoffer van afpersing word.

Rigoberto is afgetree en beplan ’n oorsese vakansie saam met sy vrou en seun. Sy planne word in die wiele gery toe sy voormalige baas en goeie vriend  besluit om op die ouderdom van tagtig met sy jong huishulp te trou. Sodoende weerhou hy sy geldgierige seuns van al sy skatte en sal hulle niks erf nie. Terwyl sy vriend op wittebrood gaan, bly Rigoberto agter om vure dood te slaan tussen die seuns wat hul erfporsie eis, prokureurs en die media.

Die storie speel af in Peru en alhoewel die twee hoofkarakters ver van mekaar af woon, kruis hul paadjies met mekaar op ’n interessante manier.  Dit is ligte vermaak en propvol humor en karakter eie aan die kultuur en mense van Peru, uit die pen van ’n Nobel pryswenner. – Danica Gouws

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Op soek na God se hart,  Lindie Strydom (Christelike Uitgewersmaatskappy, R110)
Hierdie boek deur Lindie Strydom is ʼn wenner. Die boek vertel van haar lewensreis waarin sy God se hart probeer vind. Die boodskap wat soos  ʼn goue draad deur die boek loop, is dat bekering maar net die begin van Christenskap is. Daarna volg  ʼn lewe van volkome toewyding en gehoorsaamheid,  ʼn lewe van gee, opoffering en die uitleef van God se liefde. Dit keer die hele konsep van naasteliefde op sy kop en verduidelik wat dit beteken om te “gee” op die regte manier. Strydom is  ʼn bekwame skrywer wat te midde van  ʼn tyd waarin vurige teologiese debatte dikwels die botoon voer, die eenvoud van Christenskap verduidelik. Om God se hart te ontdek, beteken om voortdurend vrae te vra en ook fyn te luister na God se stem. Dit is ʼn proses van groei en leer om te vertrou te midde van moeilike vrae wat nie altyd eenvoudige antwoorde het nie. Die boek is  ʼn fees vir die oog, die uitleg is puik en dit sal ʼn welkome geskenk vir ʼn geliefde wees. Hierdie is ʼn boek met diepte en ʼn heerlike leeservaring. – Anne Marais

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Matchmaker, Elin Hilderbrand (Hodder & Stoughton, R285)
Op die oog af lyk dit asof die 48-jarige Dabney Kimball Beech alles in die lewe het. Sy het grootgeword, woon en werk op die eiland Nantucket, is die laaste 22 jaar die direkteur van die Nantucket Kamer van Koophandel en is die vrou van die briljante John Boxmiller Beech – of Box – ’n bekende ekonomiese professor aan Harvard. Dan het sy ook ’n wonderlike dogter Agnes, wat verloof is aan CJ, wat nie reg is vir haar nie. Wat Dabney so spesiaal maak, is haar “matchmaking” vermoë, 52 paartjies  en almal is steeds bymekaar.

Maar Dabney se sorgvuldig opgeboude wêreld verbrokkel skielik met ’n e-pos van Clendenin Hughes, haar eerste liefde, wat die eiland 27 jaar gelede verlaat het. Clen kom terug en Dabney staan voor ’n kruispad. Sal sy die regte pad kies, of sal haar skielik kwynende gesonheid haar besluite beïnvloed?

Hierdie verhaal herinner ons dat eerste liefdes nooit sterf nie. Aangrypend en hartverskeurend! – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Strangler’s Honeymoon, Håkan Nesser (Mantle, R225)
Iewers in ’n Skandinawiese land raak ’n jong meisie in ’n verhouding met haar ma se nuutste kêrel betrokke, ’n priester wroeg met ’n geheim wat hy vir niemand kan vertel nie, en iemand is besig om met moord weg te kom. Die afgetrede baasspeurder Van Veeteren word teen sy sin ingesleep by die polisie se misdaadondersoek; veral toe ’n priester geheimsinnig onder ’n trein beland en die lyke van verwurgte vrouens een vir een begin opdiep. Dis ’n goeie storielyn wat die leser vasgenael hou tot die einde. Diegene wat van Stieg Larsson gehou het, sal ook die skryfwerk van Nesser, ook een van Swede se vooraanstaande skrywers, geniet. – Danica Gouws

 

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Wonderboom, Lien Botha (Quellerie, R250)

Hierdie distopiese toekomsverhaal speel af in ’n wanfunksionerende samelewing; die tiran Albino X swaai septer oor Suid-Afrika, en weens sy drakoniese wette gaan die sosiale orde ten gronde en heers hongersnood oraloor. Magriet is ’n vyftigjarige violis met groeiende demensie, verbonde aan die hof van die genoemde despoot, en as hy van haar kwynende geheue uitvind, sal hy haar doodmaak en haar opgestopte lyk by sy grieselrige kunsversameling voeg. Om van haar lot te ontvlug, dros sy van Bettysbaai na die Magaliesbergstreek, waar die laaste van haar familielede bly. Die boek wemel van verwysings na surrealistiese skrywers se werke, en stel besondere hoë eise aan die leser. Met uitsondering van enkele veranderings, is dié akademiese roman inderwaarheid Botha se tesis, wat onder leiding van professor Etienne van Heerden voorgelê is ter vervulling van die gedeeltelike vereistes vir die toekenning van haar Meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Vakansiehuis met swembad, Herman Koch vertaal deur Daniel Hugo (Protea Boekhuis, R200)
Op die oog af is Marck Schlosser ’n wonderlike huisdokter, maar eintlik vind hy die menslike liggaam afstootlik en hou hy sy gedagtes met ander dinge besig wanneer hy met ’n pasiënt werk. ’n Groot persentasie van sy pasiënte is mense wat in die kunste is: skrywers, komediante, TV-persoonlikhede en akteurs. Een is Ralph Meier, ’n teaterakteur met ’n groot en indrukwekkende persoonlikheid en ’n postuur wat daarby pas. Wanneer Ralph onder Marck se sorg sterf, word hy aangekla van mediese nalatigheid en moet hy voor ’n mediese tugkomitee verskyn.

 

Die verhaal word vertel deur Marck self, en wanneer Ralph se weduwee Marck ’n spul kras woorde toevoeg, vermoed jy dadelik dat daar meer as ’n verkeerde diagnose agter die dood skuil. Was Ralph dalk tè vriendelik met Marck se vrou, of het dit iets te doen met wat gebeur het tydens ’n gesamentlike vakasie by die see?

Hierdie is ’n sielkundige riller – daar is egter geen gruwelmoord en ’n soektog na die skuldige nie. Hier voel jy die boosheid en gevaar in die alledaagse dinge aan en sien jy die donker kant van die mens. ’n Interessante leeservaring. – Alma Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The last kiss goodbye, Tasmina Perry (Headline UK, R385)
’n Jong argivaris ontdek ’n foto wat in 1960 geneem is, terwyl sy foto’s in die museum se argiewe soek vir ’n uitstalling. Op die foto is ’n man en ’n vrou wat van mekaar afskeid neem. Sy herken die man wat ’n bekende ontdekker was.  Maar die vrou is onbekend. Daar is soveel emosie tussen die twee persone, dat sy besluit om navorsing te begin doen  oor die onbekende vrou in die foto. Haar eie huwelik is besig om uitmekaar te spat. In haar soeke na die identiteit van die vrou trotseer sy haar eie pyn oor haar mislukte huwelik. Die twee verhale loop parallel met mekaar en jy lees die pad altwee vroue se verhoudings geloop het. Die argivaris ontdek uiteindelik dat die vrou op die foto ’n joernalis was en dat daar ’n groot geheim agter die foto skuil.
’n Heerlike verhaal wat lekker lees en sterk aanbeveel word vir romantiese siele.  – Annette Muller