FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Hoe begin mens ’n gesprek?

Interessante mense se lewensverhale maak goeie leesstof en dis ook dikwels ’n aanknopingspunt vir ’n gesprek.

Ek is seker julle was al by ’n geleentheid waar almal eers so effe ongemaklik rondstaan, al soekende na hoe om ’n gesprek aan die gang te kry. Totdat iemand sê: “Het jy gehoor van so-en-so wat dit-en-dat gedoen het?” Dis dalk ’n sakeleier wat op die koudste nag van die jaar R100 000 betaal het om saam met ander sakelui in ’n kartondoos op straat te slaap sodat die geld vir ’n goeie doel gebruik kan word om haweloses se lewens te verbeter. Of dis daardie akteur wat per fiets regoor Afrika gery het om blikkieskos in te samel, ook vir liefdadigheid. Net daar begin die gesprek vlam vat en gou praat almal lekker saam, want daar is ongelooflik baie interessante mense om ’n ietsie oor te vertel! Hierdie week het ek boeke gekies oor mense wat interessante dinge in hul lewens vermag.

Postmortem: The Doctor Who Walked Away, Maria Phalime (Tafelberg, R185)
Haar droom was om dokter te word en dit het Maria Phalime gedoen. Maar die professie kon haar nie behou nie en sy deel die groot besluit met die leser. Haar ervarings by die GF Jooste-hospitaal in Manenberg waar messteek- en koëelwonde nie iets ongewoons is nie, sorg dat jy die boek nie neersit nie. Die skryf- en verteltrant is gemaklik. Lang ure werk en die verantwoordelikheid vir ernstige siek mense, ook HIV-pasiënte, bring mee dat die eise al hoe meer raak. Na haar bedanking begin sy onderhoude voer met kollegas wat ook die professie verlaat het. Die verskillende menings en situasies wat beskryf word, is geensins vervelige akademiese vertellings, maar gee insig. As jy ooit gewonder het, hoe ’n dokter voel of dink, wat deurnag in ’n groot hospitaal werk en lewens red, is dit leesstof vir jou. – Alida Vos
* Die boek was op die kortlys vir die Sunday Times
Literary Awards 2015 se Alan Paton Award

Love Sex Fleas GodLove Sex Fleas God, Bruce Clark (Umuzi, R180)
Duidelik is Clark se vrou ’n werkende ma en hy ’n tuisbly-pa; die eerste helfte van die boek is deurspek met humoristiese beskrywings rondom hulle ontmoeting en huwelikslewe, die geboorte van hul kinders en die daaropvolgende aanpassing by ouerskap. In die tweede gedeelte maak Clark egter ’n regsomkeer; hy beskryf sy aardige jeugjare, die afwesigheid van ’n vaderfiguur, sy gebrekkige opvoeding en die bisarre verhouding tussen hom, sy suster en sy ma (dié was klaarblyklik ’n fanatieke aanhanger van Sciëntologie). Alhoewel hierdie skryfsel merendeels die indruk skep dat Clark twee afsonderlike stories opgesnipper het en deur middel van spoeg-en-plak probeer saamvoeg het tot ’n afgeronde geheel, hou sy debuut nogtans die aandag gevange en verdien dit om gelees te word. – Emsie Viljoen

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Lessons from the boot of a car: For entrepreneurship, and for life, Reg Lascaris (Portfolio Penguin, R250)
Keep on sucking” en “Nobody is indispensable” is twee van die talle pittige lewenswyshede wat Lascaris in hierdie boek deel. Die versameling lesse spruit uit Lascaris se ervaring van sowat 30 jaar in die advertensiebedryf, as stigter van die bekende Hunt Lascaris agentskap. In die begin het hy en die handjievol vennote nie eers ’n kantoor gehad waarin hulle potensiële kliënte kon onthaal nie. Die probleem is opgelos deur hul aanbiedings per motor na die kliënte te neem – vandaar die boek se titel. Vandag is TBWA/Hunt/Lascaris ’n internasionaal erkende advertensie-agentskap, en jy sal baie van hulle mees beroemde Nando’s-, BMW- en City Lodge-advertensies oombliklik herken.

Lascaris blaas nie sy eie beuel in hierdie boek nie. Hy is baie eerlik oor foute wat hy en die onderneming deur die jare gemaak het, en hy gee advies vir waarvoor om versigtig te wees. ’n Lekker-lees boek wat entrepreneurs veral sal inspireer om aan te hou probeer, of soos Lascaris dit sou stel: “Keep on sucking!” – Carike Claassens

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Last days of the bus club, Chris Stewart (Profile Books, R210)
Chris Stewart woon al vir twintig jaar op ’n klein plasie, El Valero, in die suide van Spanje. Hy het al verskeie boeke gepubliseer wat op komiese wyse vertel van sy lewe op die Spaanse plasie. Die titel van die boek verwys na die informele benaming vir die groepie pa’s (The Bus Club) wat elke oggend hul kinders by die busstop kom aflaai, maar noudat sy dogter, Chloe, se skooldae ten einde loop, is hierdie tyd van sy lewe amper verby.

Die stories wissel van ’n komiese vertelling van ’n praatjie wat hy by sy dogter se skool gee en per ongeluk vir die kinders vertel dat hy biseksueel is, tot sy beskrywing van die probleme met sy hoenders en die vloed wat die brug weggespoel het.

Chris Stewart besit die vermoë om die verveligste onderwerp prettig te beskryf. – Retha Burger

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Flappers: Six women of a dangerous generation, Judith Mackrell (Macmillan, R194)
Mackrell, ’n danskritikus, vang die rusteloosheid van die flapper-era vas in haar vertellings. Sy verberg geen skande nie, maar wys hoe hierdie vurige vroue die sosiale reëls van hulle tyd oortree het.
Die waaghalsige ses was smeulend, sprankelend en argeloos oor die gevare van alkohol, morfien en ander substansies. Die mees omstrede van hulle was Zelda Fitzgerald, die ikoniese eggenote van Scott, outeur van The Great Gatsby. As über-flapper was sy uitlokkend, ekshibisionisties en het van oppervlakkigheid ’n leefwyse gemaak.
Die oudste een was Nancy Cunard, die bekende Britse erfgenaam wat die lewe “quite impossible” gevind het en na bewering verhoudings met Aldous Huxley en T.S. Eliot gehad het. Diana Cooper, gevierde jazz-danseres, was nog ’n ekstreme flapper. Die jong, eksotiese Josephine Baker was ook bekend as Swart Venus met haar besondere skoonheid, wat haar finansiële omstandighede dramaties verbeter het.
Die groep was bemind en berug oor hul energieke verbreking van elke taboe. ’n Fassinerende bundel oor ’n vergane tyd van glorie. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Ek het gemartel, Elaine Bing (Lapa Uitgewers, R190)
Ek haal my hoed af vir Elaine Bing wat hierdie projek aangepak en deurgevoer het.

As ’n sielkundige met ’n akademiese belangstelling in mense wat gruweldade gepleeg het, het sy ’n pad gestap met drie voormalige polisiemanne van die apartheidsera en deur ’n reeks onderhoude het sy ’n tesis geskryf om hul kant van die storie te vertel.

Die tesis is in boekvorm saamgestel en bestaan grootendeels uit die onderhoude wat woordeliks aangehaal word. Dis skokkend om te leer van die martelings wat plaasgevind het. Daar word vertel van al die afgryslikhede sonder om doekies om te draai en daar’s nie verniet ’n waarskuwing op die omslag vir sensitiewe lesers nie.

Alhoewel die boek nie poog om die polisiemanne te verdedig nie, is dit duidelik dat hulle hul dade berou en vandag aan ernstige post-traumatiese stres ly. Dis onstellend om van hierdie mans se misdade te lees, maar dit kan op ’n sielkundige vlak insiggewend wees as jy belangstel in die psige van mense wat sulke gruweldade pleeg of vir diegene wat dalk self daar was. – Danica Steyn

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die helder dae, Danie Botha (Tafelberg, R190)
Dis ʼn heerlike versameling outobiografiese verhale, rubrieke en essays van Danie Botha. Botha is in 1947 in die Brandtwachtvallei naby Worcester gebore waar hy ook sy skoolopleiding voltooi. In 1970 behaal hy ʼn BA Honneurs in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch en vir bykans 30 jaar (1972-2000) is hy boekeredakteur by Tafelberg Uitgewers. Na sy uittrede werk hy steeds op vryskut basis as boekeredakteur vir verskeie uitgewers. Hy was ook betrokke by verskeie dramaproduksies en letterkunde- en kunsprogramme by die radio en doen ook toneel- en boekresensies vir Die Burger. Oor die afgelope 45 jaar het sy pad met verskeie baanbrekers en karakters in die Afrikaanse letterkunde en teater gekruis. Op ʼn eerlike, openhartige en spitsvondige wyse vertel hy van sy jeugjare en professionele lewe en die mense wat deel was daarvan. Die laaste afdeling in die bundel is ʼn versameling van sy rubrieke wat in die Kerkbode verskyn het. Die boek is ʼn moet lees vir enigeen wat belangstel in die Afrikaanse letterkunde en teater. – Gert Venter

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Conqueror, Conn Iggulden (HarperCollins, R190)
Kublai Khan is die kleinseun van Genghis Khan. Dit was veronderstel om ’n goue era te wees van vooruitgang onder Guyuk Khan, maar dan word die ongewilde Guyuk vermoor. Kublai se oudste broer Mongke word as Khan gekroon. Mongke stuur Kublai om China (The Sung) the gaan verower.

Die verhaal volg Kublai se groei van ’n geleerde tot een van die magtigste krygers en leiers in die geskiedenis. Kublai droom van ’n ryk wat strek van see tot see. Om dit te vermag, moet hy sy eie broers in ’n bloedige burgeroorlog aanpak.

Die geskiedkundige verhaal vloei gemaklik en boei die leser tot die einde. – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Confessions of a sociopath, M.E. Thomas (Pan Books, R160)
In hierdie ongewone boek, vertel Thomas met sosiopatiese waaghalsigheid van haar eie lewe. Sy skryf hoe maklik dit sou wees om ’n moord te pleeg onder spesifieke omstandighede.
Thomas ontleed haar kinderjare en die oorsaak van haar andersheid, wat sy toeskryf aan beide oorerwing en omgewing. Haar ouers en sibbe word sonder simpatie uitgebeeld.

Grepe uit haar lewe as volwassene is baie vreemd, soos dat sy ’n vriendskap beëindig wanneer ’n vriendin nie meer prettige geselskap bied nie, omdat haar familielid aan kanker ly.

Sy beskryf met grenslose selfvertroue hoe sy haar gewoonlik daarop toespits om mense te bekoor, maar dat dit moeilik was toe sy met akute appendisitis gehospitaliseer moes word. Mettertyd begin mens wonder oor moontlike sosiopate in jou lewe – ’n swaer, stiefouma, dalk daardie verlangse neef. – Mariette Postma

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Back to the Bush, Another Year in the Wild, James Henry (Macmillan, R220)
Angus MacNaughton keer vir ’n tweede jaar terug na die Sasekile Privaat Wildreservaat. Hy skryf steeds sy weeklikse joernaal. Die jaar begin op ’n positiewe noot vir hom en sy broer Hugh. Hugh is in beheer van een van die kampe en is verlief. Maar as hy bevorder word, begin dinge verkeerd loop, veral oor die manier waarop hy mense begin behandel.

Angus is minder sinies, omdat hy ook verlief is. Maar as die liefde skeefloop, hanteer hy dit baie sleg. Dan raak hulle suster Julia verlief op Angus se aardsvyand, Alister Jones.

Verder is daar die ‘gewone’ probleme soos moeilike gaste, bobbejane wat die kamp oor neem, ’n olifant wat gaste en personeel se lewens in gevaar stel. Dis humor op sy beste en ek het elke oomblik van die boek terdeë geniet. – Karien Labuschagne