FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Hoe jy twiet en Facebook het ’n impak op jou lewe.

Jamie Burchell leef haar lewe op sosiale media. Sy twiet en Facebook alles wat sy doen.

Fiona Snyckers het hierdie karakter geskep om hierdie storielyn te dra in haar boek, Now Following You (Modjaji Books, R220) om lesers eerstehands te laat ervaar hoe die nuwe digitale era iemand se lewe affekteer. Vir Jamie is sosiale media hoe sy leef. Dis haar gemeenskap waarmee sy haar lewe deel, die goeie en die slegte. Dis waar sy raad vra by vriende, maar ook raad uitdeel. Bowendien deel sy haar blog op sosiale media met die hoop om so ’n uitgewer vir haar boek te kry. Elke enkele dilemma in haar lewe word in die kuberruim losgelaat. Dis waar sy antwoorde op haar vrae kry. Maar dis nie al wat sy kry nie! Sy kry ook ’n bekruiper (stalker). ’n Storie is nie juis iets sonder romanse nie, en dié kom in die vorm van ’n alleenloper pa met die aller oulikste aangenome seuntjie . . . Tom is eintlik die hond, en klein Ben is die halsbandjie wat Jamie aantrek. Tom is Jamie se teenpool; hy is nie ten gunste van sosiale media nie, want hy glo dit hou ’n gevaar in. Dan is daar ook nog Jamie se vennoot in die bakkery en koffiewinkel, Pumla, met wie sy ’n gespanne vriendskap het.

Die verhaal is boeiend en jy raak betrokke, of jy wil of nie, by Jamie se doen en late. Snyckers skryf slim en gebruik ook Jamie se twiets, blog en Facebook in die oorspronklike vorm, wat die verhaal meer geloofwaardig maak. Sy raak verskeie kwessies aan, die nuwe digitale era, vriendskap, verhoudings oor die kleurgrens heen, verhoudings tussen ouers en volwasse kinders en selfs die nastrewe van ’n beroep. Sy vleg al die drade mooi ineen om ’n heerlike storie te vertel met ’n goeie skeut romanse by! Ek het per e-pos met haar oor Now Following You gesels.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf


Vertel vir ons in ’n neutedop so bietjie meer van jouself.
Ek het op Rhodes en Wits studeer. Ná my studies, het ek as ’n joernalis gewerk. Ek is die skrywer van die Trinity-reeks verhale en die reeks Sisterz-verhale vir selfoon, sowel as ’n verskeidenheid kortverhale. Ek skryf reeds van my kinderjare af, maar my eerste boek is in 2009 uitgegee.

Hoe het Now Following You vir jou begin? Met ’n karakter of iets wat gebeur het wat die plot afgeskop het?
My eie pogings in sosiale media het my baie laat belangstel in mense wat hul hele lewe in die kuberruim deel sonder om enigiets terug te hou. Ek was nuuskierig oor die moontlike gevolge van dié gebrek aan perke aanlyn. So, die idee was eerste daar, voordat dit ’n karakter geword het.

Het jy baie navorsing gedoen en hoe het jy dit aangepak?
Ek het baie tyd op sosiale media deurgebring en het baie persoonlike blogs gelees. Ek het ook bekend gemaak dat ek belangstel in stories oor vroue wat ongemaklik laat voel is of wat gestalk is aanlyn. Mense was baie vrygewig met die deel van hul stories, spesifiek waar die onwelkome aanlyn gedrag uit die kuberruim oorbeweeg het na die werklike lewe.

Die digitale era het die wêreld verander. Wat is die nuwe normaal in die digitale era waar daar so baie slaggate is?
Dit het die norm geword vir mense van alle generasies om ’n sosiale media teenwoordigheid te hê. Aan die eenkant het jy grootouers wat Facebook gebruik om kontak te behou met kleinkinders wat in verskillende lande oorsee woon, terwyl baie jong kinders jok oor hul ouderdom sodat hulle kan aansluit by verskillende sosiale platforms. Ons kan nie maak asof die digitale wêreld nie bestaan nie. Vandag is dit ’n vereiste van baie beroepe dat jy bekend is met die gebruik van sosiale media, omdat dit vir maatskappye nodig is om ’n digitale teenwoordigheid te hê.

By die bekendstelling van die boek het jy gesê dat daar niks sexier is as ’n goeie pa nie. Hoe hou dit verband met hoe jy Tom se karakter geskep het?
Tom is ’n enkelpa wat vasberade is om sy seun alleen groot te maak. Hy is die heeltyd ingenome met en gefassineerd deur sy seuntjie en sal enigiets doen om hom gelukkig en veilig te hou. Dit was hierdie deel van sy persoonlikheid wat my die meeste pret gegee het om te skets, en dit het gemaak dat ek verlief geraak het op hom terwyl ek hom geskep het.

Jamie leef haar lewe grotendeels op sosiale media. Het sy haarself nie opgestel om misbruik te word nie?
Dis vir my juis een van die sentrale kwessies van die boek. Om ’n vrou te blameer vir ongewenste aandag wat sy aantrek op sosiale media is soos om ’n vrou te te veroordeel wanneer sy ’n minirok in die openbaar dra. Vroue moet toegelaat word om te dra wat hulle ook al wil sonder enige vrees van aanranding, en hulle moet hulself aanlyn kan gedra soos wat hulle wil sonder die vrees van misbruik of bekruiping (stalking).

Jamie het ’n interessante verhouding met Pumla, wie sy in die boek beskryf as haar ‘frenemy’. Waarom het jy twee sulke uiteenlopende karakters gekies om saam in besigheid te gaan?
Ek dink ons het almal genoeg plaaslike boeke gelees wat swart en wit vroue in hegte, moeitelose vriendskappe met mekaar uitbeeld. Ek het gedink dit sal interessanter wees om ondersoek in te stel hoe twee vroue die kruis-kulturele mynveld hanteer – met al die gepaardgaande konflik en misverstande – terwyl hulle steeds ’n werksverhouding moet behou en self ’n (somtyds gespanne) vriendskap.

Het jy ’n aktiewe lewe op sosiale media?
Ek is nie meer so aktief soos ’n paar jaar gelede nie. Twitter spesifiek het ’n moeilike en vyandige ruimte geword wat nie meer so verwelkomend is as wat dit eens was nie. Ek is baie versigtiger op sosiale media as wat ek was. Miskien is ek net nie so braaf soos my karakter, Jamie, nie!

Wat wil jy hê moet lesers leer uit Now Following You?
Dat die wêreld vinnig verander en ons almal probeer terselfdertyd gewoond raak aan sosiale media. Ek sal daarvan hou om ’n wêreld te sien waarin vroue nie geteiken en aangeval word omdat hulle menings het nie, en waarin hulle nie as slagoffers geblameer word vir die aksies van aggressiewe en onverdraagsame mans nie.

Wat is die beste raad wat jy gekry het oor die gebruik van sosiale media?
Dit was meer ’n geval van leer deur die voorbeeld van mense wat aanlyn soos grootmense optree. Dit beteken om twee keer te dink voor jy twiet, om te argumenteer op ’n respekvolle manier, en om nie iets aanlyn te sê wat jy nie in die persoon se gesig sal sê nie.