FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Hou jonger lesers besig

Net wanneer ek dink ek kan nie meer aangaan nie, dan is daar ’n langnaweek wat my moed gee om aan te gaan. Almal van ons is deesdae so besig.

Ons pak ons dae vol, plekke om heen te gaan, dinge om te doen, kuiers om te kuier, en laaste in die ry, boeke om te lees. O ja, moet nie van werk vergeet nie! Dis seker, as jou lewe soos myne is, jou eerste prioriteit. Al die ander bedrywighede moet daar rondom ingepas word. Hoeveel keer het jy al gehoor iemand sê: “As jy iets gedoen wil hê, vra ’n besige persoon.” Dis inderdaad ook so. Ek ken sulke mense, hulle lyk asof hulle sonder moeite alles raakvat en elke ervaring geniet ook nog! Nee wat, hierdie naweek plaas ek boeke heel voor in die ry. Al die ander dinge gaan nou maar moet wag. Daar is eenvoudig net te veel lekker boeke wat wag om gelees te word.

Die leeslysie hieronder is gemik op jonger lesers. Daar is dalk net ’n paar titels waarmee jy jou kinders besig kan hou, terwyl jy vir jouself ’n bederftydjie afknyp.

Eggo’s in die skimberge, Kobie Krüger (Tafelberg, R120)
Mattie voel eensaam; haar pa werk die hele tyd en haar stiefma en susters maak asof sy nie bestaan nie. Net haar vriend, Henk, ook ’n alleenmens, neem haar ernstig op. Sy neem toevlug in haar slaapkamer, waar sy lank dink oor haar alleenlewe en ook al lank die geheimsinnige Skimberge vanuit die hoë eikeboom voor haar kamervenster beskou. Mattie is seker dat die Skimberge ’n groot geheim inhou, want daar val sterretjies uit die hemel reg bokant hierdie berge.
Mattie en Henk gaan ondersoek instel en vaar met ’n vlot in die rivier af, tuimel oor die waterval en verdwaal in ’n woud waar hulle ’n fabelagtige elwewêreld betree. Hulle maak kennis met die ongewone inwoners, snaakse gediertes, feë en selfs hekse, maar almal is vriendelik en stel die maats bekend aan hul mensvreemde lewens. Die twee maats beleef ’n fantasie-avontuur vol verrassings, en raak verdiep in die geheime van die Skimberge. Die groot geheim van die sterrereën word oplaas opgeklaar.
’n Pragtige, lang verhaal om mensewesens vir ure besig te hou en uit hul menswerklikheid te neem op ’n fantasietog vol verbeelding – of is dit? – Cailin Spickett
Haar pa, Arthur, sê:
JRR Tolkien sou instemmend glimlag oor hierdie ryke verbeeldingsvlug opgedis as ’n smaakvolle, kindervriendelike fantasie-storie wat lewe kry in eg ‘Tinkerbell–styl’.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Gerook, Eldridge Jason (Lapa Uitgewers, R130)
Ek weet nie wat om anders te sê as “wow” oor hierdie boek nie. Dit was sekerlik een van die beste tienerboeke wat ek nog ooit gelees het. Dis die storie van Cobie, wat vir die Desember-vakansie by sy ouma op Vaalberg gaan kuier. Hy kom gou agter Vaalberg is nie so vaal soos die dorp se naam nie, want saans – as ordentlike mense veronderstel is om te slaap – verander Vaalberg in ’n gevaarlike tik-nes. Cobie was al voorheen met dwelms deurmekaar, maar hy het duidelik nog nie sy les geleer nie.

Hy wonder of dit net sy verbeelding is, of hou iemand hom dop? Wie is die geheimsinnige Lady Zee wat op Mxit met hom wil gesels? En wie of wat is die “vaak apies” waarvan almal praat? Sal Cobie al die raaisels kan oplos en erger nog: sal hy lewendig uit dié gemors kom?

Hierdie boek het my regtig baie geleer oor die wêreld van dwelms en al die gevare wat dit vir tieners inhou. En dit het my laat besluit: dis iets waarmee ek niks te doel wil hê nie. So ’n “vaak apie” is ek darem regtig nie!   - Nina Swart

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Middernag en ander spokerige stories, saamgestel deur Santie Nel (Human & Rousseau, R130)
Verhale oor die bonatuurlike, veral oor dooies wat van die “ander kant af” met die lewendes kontak probeer maak omdat hulle nie rus kan kry nie en dan bly spook, boei baie mense. Dié versameling van 20 spookstories van hierdie aard is geskryf deur 16 verskillende skrywers. Die karakters in die stories bevind hulle in ’n wye verskeidenheid interessante omstandighede of voor struikelblokke waarmee baie van vandag se kinders sal kan identifiseer: van geskeide of oorlede ouers, ’n nuwe dorp en skool; vakansies waarop hulle nie wil wees nie; koshuise en boelies. Dis dan ook weens van die omstandighede dat daar gespook word!

Die boek sal ’n indruk maak op die jonger leser (7 – 10 jaar), maar alhoewel die voorblad aandag trek, is die bangmaak in die stories middelmatig en dalk bietjie te lig in die broek vir die meer wêreldwyse ouer kinders. – Dian Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

My hart is vol graffiti, Tania Brink (Lapa Uitgewers, R80)
Lara is ’n voorbeeldige meisie. Sy doen altyd alles reg, kry net A’s, en boonop het sy die perfekte ou wat alles vir haar reg doen. Die skryf van ’n artikel vir ’n tienertydskrif, “Graffiti: kuns of krimineel” bring haar in aanraking met ’n totaal ander, opwindende wêreld, geheimsinnig en ‘nie-altyd-Lara-reg’ nie. Lara beland in ’n tweestryd en kom agter dat daar ander insigte is as die spreekwoordelike “gekke en dwase skryf op mure en glase”, in haar lewe, asook met die artikel. Sy is altyd pligsgetrou en voorbeeldig, maar sien haarself as tog so vervelig en wil tog so graag iets avontuurlustig doen, iets buitengewoon – soos om ’n muur te spuitverf. ’n Storie vol kontraste – Lara in ’n tweestryd met haar voorbeeldige lewe; die perfekte ou, hoofseun materiaal, teenoor een wat opwindend leef, skaatsplank ry en mure verf en dan die “Graffiti –kuns of krimineel”, wat alles saambind in ’n boeiende storie vol uiteenlopende karakters en moeilike besluite. Cailin Spickett

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Nina en die funky eksperiment, Elizbè van der Colff, Illustrasies deur Chris Venter (Tafelberg, R125)
Die twee vriendinne, Nina en Jessie, is aan lesers bekendgestel in Nina en die wacky hare wat ’n ATKV-Kinderboektoekenning ontvang het. In hierdie storie word die twee nuuskierige, vindingryke graad vyf-meisies, Nina en Jessie, die skole Eksperimente-Ekspo kompetisie waarby hulle ’n bruisdrankie inskryf, skoolatletiek wat boonop verfilm word, twyfelagtige energiedrankies wat sommiges uitmuntend laat presteer, aknee en ’n uitheemse padda, saamgevoeg in ’n avontuurlike speurverhaal met benoude oomblikke, onverwagte draaie en verrassende gevolge. Die rooi-en-swart pet op Nina se solder word weer opgesit – en wat Nina daarmee ‘sien’, moet ontrafel word om ’n gemene uitbuitery te voorkom. ’n Heerlike storie wat baie goed uiteen gesit is met mooi toepaslike illustrasies, in die kol vir jong lesers. – Cailin Spickett

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Onder water, Martie Preller (Lapa Uitgewers, R110)
ʼn Ongelooflike boek wat ek baie geniet het. Christien se lewe is besig om te verander. Haar ouers is ewe skielik vreeslik geheimsinnig en van die ander mense op die dorp ook. Haar beste vriendin wil skaars met haar praat, want sy (die vriendin) bring nou heeldag tyd met haar nuwe kêrel deur. Boonop kry Christien aanhoudend nagmerries. Haar ouma daag ook uit die bloute op en vertel vir Christien ’n klomp familiegeheime.

Haar enigste troos is haar nuwe vriend Jay, vir wie sy elke dag e-posse stuur. En gelukkig is Jay anders as ander seuns, want hy stuur vir haar prente van katte of sommer prente van die sterre. Wie is Jay regtig en gaan sy hom ooit ontmoet? Waaroor is almal so geheimsinnig? Hoekom is haar ouma hier en wat is haar geheim? Gaan sy wat Christien Visagie is ooit uitvind wat alles aangaan? Hierdie boek het my tot die einde laat wonder wat volgende gaan gebeur.   – Nina Swart

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Spesiale (en geheime) agent Peter van der Wind en die Chinese draak, Carina Diedericks-Hugo (Lapa Uitgewers, R80)
Peter van der Wind is ’n twaalfjarige seun en woon op Stellenbosch. Wat hom bietjie anders maak as ander 12-jariges is die feit dat hy kan vlieg en dat hy ’n geheime agent is vir die Suid-Afrikaanse regering. Vlieg? Ja, maar hoe hy dit regkry is nie iets waaroor hy graag praat nie. Al wat ek kan sê is dat die vliegery iets te doen het met kool, spinasie, blomkool en broccoli eet en die gasse wat hierdie groentes vrystel.

In hierdie avontuur moet hy as agent ’n geheime Chinese skip gaan ondersoek wat in Suid-Afrikaanse waters opgemerk is en die raaisel rondom die legende van die Chinese draak oplos.

Ek het baie van hierdie boek gehou – veral die skryfstyl – dis presies soos ons kinders praat. Awesome! - Dian Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Superheroes vlieg net saans, Jaco Jacobs (Lapa Uitgewers, R80)
“Ma, Miek het ’n muis!”, roep sy. “Hy sê dis ’n witmuis, maar dis groen. Is dit ’n witmuis as hy groen is, Ma?”

Hercules is die natuurwetenskapklas se witmuis. Altans, hy WAS ’n witmuis. Miek is in die sop, want Hercules is GROEN en dis hy wat daarvoor verantwoordelik is. Maar hy wou net vir Hercules red van ’n gewisse dood en in elk geval, was dit net koekkleursel. Niks wat Hercules seergemaak het nie. Om dinge te vererger het Miek ook nog nie ’n projek vir entrepreneursdag nie. Hy hoop maar Juffrou Makhetha se luislang sluk hom in, want dis al wat hom sal red. Maar dan gebeur die vreemdste ding: ’n superhero in ’n geel gewaad land in Miek-hulle se agterplaas . . .

’n Jeugverhaal vol pret en avontuur wat ek baie geniet het. – Dian Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Tania en die towerfluitjie, Helen Brain & Nicky Webb, Illustrasies: Rico Schacherl (Human & Rousseau, R120)
Tania se lewe is vol opwinding met diere rondom haar ma se veeartspraktyk. ’n Ondeunde apie, haar broer se troeteldier, ’n hele klomp honde, elk met sy eie karakter en hul eienaars, insluitende Tania se vreeslike irriterende niggie, ook met haar supergehoorsame hond, speel almal ’n rol in dié vermakerige storie   Almal se honde word ingeskryf vir die Gehoorsaamste Hond-kompetisie waar Tania tog so graag haar heldin, die agtermekaar skoolhoof, wil beïndruk deur hierdie kompetisie te wen. Ongelukkig is haar hond, Vlooie, seker die wildste, onopleibaarste, ongehoorsaamste brak in die omgewing. Haar broer se plan om jeukpoeier te maak, die verwaande TV-veearts, dokter Katzenellenbogen en sy rare uitvinding, ’n towerfluitjie wat hondegedrag beheer, dra alles by tot die chaos op die groot dag van die kompetisie, met ’n heel verrassende uitslag. ’n Lekker lees, prettige storie met raakvat illustrasies. – Cailin Spickett

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Thomas@vrees.net, Carina Diedericks-Hugo (Lapa Uitgewers, R100)
Thomas Steyn is in graad 9 en woon in Kaapstad. Hy is ’n doodnormale ou wat hou van pizza, sport en sy rekenaar . . . en Alex, sy meisie. Hy dink sy skoolhoof is walglik en sy stiefma, Louisa, is nie so sleg nie en dan is daar die Marais-tweeling by die skool wat hom boelie. Alles is op die oog af normaal. Maar daar broei moeilikheid en dis nie in die vorm van die Marais-tweeling nie. Thomas se pa is ’n advokaat wat besig is met ’n hoë profiel-saak teen ’n Russies mafiabaas. Wanneer Thomas per ongeluk ’n gesprek tussen sy pa en ’n onbekende persoon hoor, besef hy daar is iets of iemand waarvoor sy pa bang is. Skielik word veiligheid opgeskerp by die Steyn-huishouding en Thomas besef dat die skurke hul familie teiken en skielik gebeur dinge . . . Waarom gebeur alles altyd met hom? Hy dink soms hy is vliegpapier vir “freaks”.

’n Baie oulike stories! – Dian Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Trompie Omnibus 3, Topsy Smith (Human &Rousseau, R110)
Omtrent 30km van Johannesburg af, aan die voet van ’n berg, lê die dorpie Kwaggaberg. Mense jaag vinnig hier deur en dink dis ’n mooi plekkie, maar darem te afgeleë. As die inwoners hoor hoe reisigers wat soms in die hotel oornag, smalend praat van Kwaggaberg wat so stil en dood is, skud hulle net kop, kyk veelseggend na mekaar en sê met ’n sug: “hulle ken nie van Trompie nie!”

En ken ons nie vir Trompie, Blikkies, Dawie en Rooies nie. Wanneer jy Omnibus 3 lees, behoort jy al te weet, waar Trompie en die Boksombende is, is altyd avontuur. Alles wat die vier, en Boesman die brak, aanpak, word altyd met die beste intensies gedoen, maar dis nie noodwendig hoe dit uitdraai nie.

Hierdie omnibus het drie stories in: Trompie die kragman, Trompie die hartedief en Trompie die held en soos verwag kan word, is dit vol avontuur. Maar daar is darem altyd ’n les te leer. Ek is mal oor Trompie en sy vriende! – Dian Liebenberg

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Woestyngevangene, Andrea Abbott (Tafelberg, R110)
Wat sal jy doen as jy in die woestyn wegraak? Die twaalf jarige Leo Knight gaan saam ’n groep student op ’n sterrekykekspedisie in die Namib Woestyn. ’n Hewige storm bars skielik los en Leo word per ongeluk agtergelaat.
Die Namib is massief en hy hoop dat iemand hom sal kom soek, maar geen hulp daag op nie. Wat egter wel opdaag, is ’n rondloperhond wat asof uit die niet verskyn. Leo besluit om die hond te volg ter wille van oorlewing. So begin ’n reis wat Leo se deursettings- en uithouvermoë tot die uiterste beproef. Hulle moet gevaar trotseer en hul kanse op oorlewing lyk al hoe skraler. Sy ma se hewige teenkanting en vrese oor die reis was dalk nie so ongegrond soos hy gedink het nie.
Hierdie boeiende storie is ’n moet vir jonger lesers. – Alma Liebenberg