FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Hulp met jou geldsake

 

Almal van ons kan doen met hulp met ons geldsake, veral wanneer die ekonomie druk en die vooruitsigte nie so rooskleurig is nie.

Jou hulp gaan kom van Maya Fisher-French, ’n sake-joernalis en die skrywer van
die praktiese handleiding, Maya on Money, Implement Your Money Plan, (Tafelberg, R195). Ek skrik gewoonlik as daar ’n boek oor geld op my lessenaar beland. Eerstens omdat ek bang is dis so ingewikkeld geskryf dat ek een of ander ekonomiese kwalifikasie nodig het om te verstaan waaroor geskryf word. Tweedens omdat ek verkies om my geldelike situasie te ignoreer en dit nie in diepte te ondersoek nie. As die geld in my bankrekening op is, is dit op en dan weet ek ek moet briek aandraai . . . Maar ek was verras deur hierdie boek. Toe ek eers begin lees het, kon ek dit nie neersit nie.
Hierdie boek oor geld is baie prakties uiteengesit en dis in eenvoudige taal wat finansiële terme maklik maak om te begryp. Maya skryf uit eie ervaring. Ek het aanklank gevind hierby, want haar persoonlike verknorsing is een waardeur baie van ons waarskynlik ook al is. Rentekoerse verhoog en ewe skielik is die terugbetalings op jou huislening hemelhoog, dan is daar nog skoolgeld, geld vir brandstof, kruideniersware en, en, en . . . In elke afdeling gebruik sy ook gevallestudies wat die onderwerpe soos begrotings, hoe om jou geld te beskerm, spaar, transaksies ens. beter toelig. Haar wenke is ook volhoubaar en nie bo gewone verdieners se vuurmaakplek nie. Hierdie boek is een waarna jy dikwels weer sal kan terugverwys.

Ek het per e-pos met Maya gesels.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Hoe het jy in sake-joernalistiek geland en water aspek van finansies het jou na dié veld aangetrek?
Dit was eintlik meer per ongeluk eerder as beplan. Oorspronklik wou ek regte studeer, maar ’n familievriend het my toe aangeraai om liewer ’n algemene BA te verwerf, om ’n breër opvoeding te kry en daarna te spesialiseer in regte. Toe ek by die universiteit aankom, sien ek hierdie interessante vak, Ekonomie, wat ek nooit op skool gehad het nie, maar ek was van die eerste dag af gek daaroor.
Aan die einde het ek hierdie eklektiese graad verwerf met Engels en Ekonomie as hoofvakke en filosofie, statistiek en Italiaans wat ek so padlangs opgetel het! Dit was juis hierdie ongewone kombinasie van vakke wat gemaak het dat ek my werk by Investec Bank gekry het – iemand wat syfers verstaan en wat kan skryf is glo uniek. Ek het deeltyds studeer en my honneursgraad in Ekonomie voltooi.
In my tweede jaar op universiteit het ek vir beroepsvoorligting gegaan. Hulle het joernalistiek voorgestel, maar my idee daarvan was die voorblad van The Star, agter ambulanse aanjaag. . . Min het ek geweet ek sou op 31-jarige ouderdom die sake-wêreld verruil vir sake-joernalistiek!
Ek het toe reeds vir ’n aandelemakelary gewerk en ook my eerste seun gehad. As ’n ma wou ek nie meer die lang ure werk nie en moes ’n nuwe loopbaanrigting vind. Ek het ’n kontak gehad by ThisDay-koerant wat in 2003 die mark betree het en hulle het my aangestel ten spyte van my gebrek aan joernalistieke opleiding. Ek dink dit was ongewoon vir hulle om ’n makelaar teë te kom wat ’n joernalis wou word.
Alhoewel ek geskryf het oor sake en persoonlike geldsake, het ek deur die jare meer geneig na persoonlike geldsake. Dit klink soos ’n cliché, maar ek voel regtig ek kan mense help, dat ek ’n verskil maak.
Ek het nog nooit teruggekyk nie, ek is mal oor wat ek doen.

Wat is die grootste les wat jy persoonlik oor geld geleer het?
Meeste van ons lesse leer ons uit ons foute. So, ek dink die twee grootste foute was om ’n baie groot gesinshuis te koop en om ’n oortrokke rekening te hê.
Met die geboorte van my tweede seun het ons besluit om ons huis (wat perfek was vir ons behoeftes) te verruil vir ’n groot een op ’n groot eiendom met ’n tuin “vir die kinders om in te speel”. Binne ’n jaar het ThisDay toegemaak en my man is boonop afgelê by sy werk. Dit was finansiële Armageddon.
Ons het dit reggekry om weer op ons voete te kom, ek skryf daaroor in die boek, maar ek het ook geleer die onkoste om ’n groot huis te bestuur kan meer wees as ’n huisverband en anders as ’n huisverband, betaal jy daai onkostes nooit af nie! Vandag woon ons in ’n baie kleiner huis met laer bestuursonkostes.
Ons het ook in skuld verval weens ons oortrokke bankgeriewe – en om nuwe motors te koop is seker my grootste taboe.

Grootste fout wat verbruikers oor die bestuur van hul geld maak?
Eerstens om nie te weet wat hul begroting is nie. Meeste mense bestee meer as wat hulle besef, en boonop op nie-essensiële items. ’n Begroting kan jou laat wakker skrik oor hoeveel geld jy mors.
Tweedens leef Suid-Afrikaners op heeltemal te veel skuld. Hulle het alreeds hulle toekomstige spaargeld bestee op kredietkaarte en motorpaaiemente.

Baie mense het ’n “word gou ryk”-mentaliteit. Is daar ’n resep om gou ryk te word?
Dit hang af wat mens bedoel met ryk. Om oornag miljoene te hê, moet mens die lotto wen of ’n groot erflating ontvang. Rykdom kom beslis nie deur belegging-swendelary (scams) nie. Maar ek dink jy kan ryk wees van dag een af; deur te fokus op wat vir jou waarde het en om dankbaar te wees vir dit wat jy het. Geld hou geen verband met geluk nie, want meer goed bevredig ons nie, dit maak ons net moeg.

Wat is die beste raad wat jy in jou lewe oor geld gekry het?
’n Vriend het eenkeer gesê “as jy doen wat jy bedoel is om te doen, dan sal geld jou vind” – dit was fantastiese raad toe ek my vryskut-loopbaan begin het. Ek fokus nooit op die geld nie, ek fokus daarop om betekenisvolle werk te doen; en die geld was nog altyd daar.
Baie van my raad oor geld kom uit persoonlike ondervinding van om die lewe te ervaar en uit betrokkenheid met lesers.

Die regering (en finansiële beplanners) probeer mense aanmoedig om meer te spaar. Hoe kan verbruikers, wat al reeds gebuk gaan onder gelddruk, spaar? Waar begin hulle?
Begin deur nie op krediet te bestee nie en betaal al daardie rekeninge af. Ek verduidelik die sneeubal-effek van skuld afbetaal in die boek. Dis ongelooflik hoe vinnig skuld afbetaal kan word en so stel jy geld beskikbaar vir spaar.
Oor ’n twee of drie maande periode moet jy alles neerskryf waarop jy geld uitgee. Eers dan sal jy sien waar die vermorsing is en waar jy kan bekostig om te besnoei. Mense is altyd verstom wanneer hulle hierdie praktiese oefening doen, want hulle besef nie hoeveel geld hulle uitgee sonder om te dink nie.

Lewe jy volgens die raad wat jy in jou boek gee?
Ja, ek doen. Ek het die pad gestap en ek het uit skuld ontsnap en ek wil nie daarheen teruggaan nie. Verlede jaar toe ons ons nuwe huis gebou het, moes ons ’n persoonlike lening aangaan vir die eerste keer in 10 jaar. Ek het dit gehaat en seker gemaak ons betaal dit onmiddellik terug. Ons het ook ons noodfonds uitgeput, en dit was ’n prioriteit. Soms raak mens onder druk en raak mens die spoor effe byster, maar mens moet gedissiplineerd wees en net weer terugkom op die regte pad.
Ek wens ons het vroeër begin om te verstaan wat die impak van besteding op ’n groot huis ens. op ons potensiële spaargeld gehad het, maar ek is gemaklik met hoe ons geldsake nou daaruitsien. Buiten vir ons huis het ons geen ander skuld nie. Ons is geldelik op die regte pad rakende aftrede. Ons sit saam en doen ons begrotings omtrent elke maand. Ons het ook lewensversekering ens.
My grootste ondeug is om uit te eet. Ek is seker ek bestee meer as meeste mense daaraan, maar dis in my begroting ingereken en in hierdie stadium kan ek dit bekostig. Met bekostig bedoel ek dat ek eerste gesorg het vir my finansiële toekoms.

Na wie kyk jy op in die wêreld van finansies?
Ek is intellektueel beenaf op verskeie ekonome. Ek is steeds lief vir die intellektuele sy van hoe die wêreld se ekonomieë werk, maar in terme van die wêreld van handel, bewonder ek Frank Magwegwe, Hoof Uitvoerende Beampte van Momentum Retail. Sy persoonlike storie is inspirerend en hy het ’n ware passie om mense te leer, hy verstaan die uitdagings. Ons het meer mense soos hy nodig in die industrie.