Welcome to the real world

Boeke

Hulp vir ‘n nuwe jaar

Januarie is ‘n goeie maand om besluite te neem wat jou sal help om ‘n gesonder leefstyl te handhaaf.

Ek weet dat ek my jaar beslis begin deur op te let na wat ek eet en ook om ‘n poging aan te wend om meer aktief te wees. In plaas van die hysbak gebruik, probeer ek eerder om die trappe te klim. Dit klink seker of dit maar ‘n baie klein poging is, maar dis ‘n begin! Dis net om daardie eerste stappe eers te neem en dan is dit om by jou besluite te hou. Hierdie week het ek na ‘n paar boeke gekyk waarin raad gegee word wat sal bydra tot ‘n beter leefstyl. Twee is gemik op jonger lesers, mense wat nou aan die begin van hul volwasse lewe staan en wat dalk ‘n paar vrae het oor hoe om sekere situasies aan te pak. Van die ander kyk na hoe jy beplan vir finansiële onafhanklikheid. En dan is daar ‘n boek waarin trauma deurgetrap word. Dis een waarby almal van ons baat kan vind. Ek wens julle almal ‘n goeie jaar toe en mag jy volhou met die voornemens wat jy maak vir ‘n beter leefstyl.

Welcome to the Real World, Alex Ferguson-Williams en Lisa Kretschmer (Zebra Press, R170)
Hierdie oulike gids is gemik op jongmense wat die wye, wilde wêreld van ‘n grootmens se lewe vir die eerste keer aandurf. Dis gepak met handige wenke wat kan help met probleme soos wat om te doen as jy jou foon verloor het; hoe om aansoek te doen vir ‘n identiteitsdokument en ‘n paspoort. As jy vir die eerste keer in jou lewe aan ‘n verkiesing kan deelneem, verduidelik dit die proses van demokrasie, wie die Onafhanklike Verkiesings Kommissie is en watter stappe jy moet volg om te kan stem. Daar is raad vir ‘n uiteenlopende spul goed. Baie daarvan sal jy dalk nooit nodig hê of gebruik nie, maar dis baie goed om wel die agtergrond te hê. Wat baie waardevol is, is die kontaknommers en verwysings na toepaslike organisasies wat hulp bied in verskillende velde.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Your First Year of Work, Shelagh Foster (Bookstorm en Panmacmillan, R150)
Elke ouer moet hierdie boek vir hulle kind koop. Elke skoolbiblioteek moet hierdie boek aanhou, selfs universiteitsbiblioteke. Dit is letterlik ‘n gids van a – z van hoe jy as pas afgestudeerde student jou soektog na ‘n betalende werksposisie behoort aan te pak. Dis prakties en in eenvoudige verstaanbare taal geskryf. Die voorbeelde wat gebruik word om situasies uit te beeld is uistekend en toepaslik. Shelagh Foster het hierdie gids geskryf na aanleiding van die duisende e-posse wat sy van werksoekers gekry het. Die e-posse was in meeste gevalle so swak bewoord, boonop met spelfoute in en baie informeel. Sy het besef dat jongmense nie weet hoe om die proses van om werk te soek op ‘n professionele wyse aan te pak nie. En siedaar, hier is daar nou ‘n uitstekende gids wat as riglyn dien.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Become your own financial advisor, Warren Ingram (Zebra Press, R190)
Die eerste ding wat my van hierdie skrywer beïndruk is dat hy al die inkomste uit hierdie boek skenk aan die Seredipity Trust. Hy en sy vrou het die nie-winsgewende organisasie begin om jongmense te help om vir hul opvoeding te kan betaal. Maar hier is die ding: die hulp is nie vir die briljante uitblinkers nie, dis vir verdienstelike studente wat hard werk  en graag ‘n blywende bydrae wil lewer. Wat maak hierdie boek die moeite werd om te lees? Ingram verduidelik die beginsels van hoe jy jou geldsake moet aanpak en bestuur sodat jy sorgvry sal kan lewe later in jou lewe op so manier dat jy dit regtig verstaan. Vir my was dit soos ‘n lig wat aangegaan het, want hy gebruik nie vreemde terme wat jou kan verwar nie. Hierdie boek is vir gewone mense wat graag wil leer hoe om te belê vir hul geldelike onafhanklikheid. Dis ook ‘n boek waarin jy weer en weer gaan delf .

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Trauma, Riglyne vir slagoffers, Dr. Tessa van Wijk (Naledi, R176)
Die skrywer sê in die inleiding sy het hierdie boek geskryf vir almal wat stukkend voel en wat net weer een oggend wil opstaan en lus voel vir die lewe, om net weer ‘n bietjie te kan lag. Die boek is geskryf as ‘n handleiding waardeur jy moet werk, met oefeninge wat jy moet doen om jou te help om deur jou eie pyn en trauma te werk. Sy skryf ook dat om gesond te word ‘n bewuste keuse is en dat as jy die keuse gemaak het, gaan jy hard moet werk aan die genesingsproses. Sy verduidelik ook dat daar nie kitsoplossings is nie. Sy verduidelik eerstens wat trauma beteken, wat die verskillende fasette daarvan is en dan bespreek sy verskillende traumatiese situasies, soos plaasmoorde, verkragting, egskeiding, posttraumatiese stressindroom en die middeljarekrisis en nog meer. Sy gee dan oefeninge wat jou kan help om deur die trauma te werk. Dis nie ‘n boek wat jy woerts-warts gaan lees nie. Dis ‘n boek waardeur jy oor tyd gaan moet werk, stap-vir-stap sodat jy die mure van emosionele pyn kan afbreek.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Gesond, Gelukkig. Sonder giere!, Lisa Morrone (Christelike Uitgewersmaatskappy, R119,95)
Deesdae is daar soveel mense wat met hul liggaamsgewig sukkel. Wie van ons het nog nie gemor oor ‘n paar ongewenste vetrolletjies nie? Ons word van oral gebombardeer met advertensies vir maermaak-rate en om nie eens te praat van eetplanne, spesiale masjiene wat ontwerp is om jou maerder te maak en allerlei oefenprogramme nie. Boonop word daar jaarliks statistieke gegee oor watter nasie die vetste ter wêreld is. Kommerwekkend is dat Suid-Afrika die derde vetste nasie is. In hierdie boek skryf Morrone dat ons elkeen self verantwoordelikheid moet neem vir ons liggaam en ons gesondheid. Sy gee hierin ‘n  praktiese en maklik deurvoerbare plan wat mense sal help om hul lewenswyse te verander deur te fokus op: gewigsverlies, voeding, postuur, krag, soepelheid, breinkrag en ontspanning. Die leefstylveranderings is gebaseer op wyshede uit die Bybel. Dis nou die tyd om te begin belê in jou toekoms. Al die komponente van die boek word eenvoudig verduidelik, en daar is foto’s, diagramme en sketse ter verduideliking ook.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Integriteit, Dr. Henry Cloud (Lux Verbi, R169)
Integriteit is ‘n kwaliteit wat die hoeksteen behoort te vorm van elke mens se karakter. Karakter bepaal hoe jy dinge wat met jou in jou lewe gebeur  hanteer. Kan ons integriteit beskryf as eerlikheid? Nee, sê dr. Cloud, dis meer as net eerlikheid. In hierdie boek neem hy integriteit van hoek tot kant onder die loep en bekyk die ses karaktereienskappe waaroor mense met integriteit beskik. Hy bespreek dit na aanleiding van  die stories van bekende sportfigure en sakeleiers waarin integriteit gedemonstreer word. Dis ‘n boek waardeur jy gaan moet werk, sodat jy by al die fyner nuanses van integriteit kan uitkom.