Boeke

Hulp vir skrywers wat self wil uitgee

Daar is nou ’n plaaslike uitgewer wat Suid-Afrikaanse skrywers kan help om self hul boeke uit te gee.

andrew phillipsPenguin Random House Suid-Afrika het saam met Author Solutions die handelsmerk, Partridge Africa op die been gebring om skrywers in Suid-Afrika en Afrika te help om self hul boeke uit te gee. Daar is verskillende dienste wat die uitgewery verkoop, soos konsultasie met  ’n professionele uitgewer, hulp met uitleg en ontwerp, teksredigering, verspreiding en selfs publisiteit en bemarking. Andrew Phillips staan aan die hoof van dié handelsmerk. Hy vertel meer oor homself, oor self-publikasie en oor die wêreld van boeke.

Wat het jou aangetrek na ’n beroep in die uitgewersbedryf en hoe het jou pad geloop tot by bestuurder van Author Solutions?
Ek het my werkslewe begin by McGraw-Hill in opvoedkundige uitgewery. Ek het ingenieurshandboeke verkoop in die Midde-Ooste. Dit was nie baie opwindend nie, want ek het maar sowat 500 boeke per jaar verkoop. Ek was nege jaar daar. Toe is ek na Electronic Art, ’n rekenaarspeletjiemaatskappy. Dit het niks met enigietsanders in my lewe te make nie, maar ek wou graag iets doen wat meer gerig was op verbruikers. Daarna is ek terug na Brittanje in die uitgewersbedryf by Dorsley Kingsley Books vir 7 jaar, voordat ek aanbeweeg het na Penguin waar ek omgesien het na Indië, Afrika en die Midde-Ooste.

Is dit ’n aanpassing vir jou om oor te skakel na self-publikasie?
Dis ook nuut vir Penguin. Hulle het Author Solutions in Junie 2012 bekom. Toe gebeur die samesmelting van Penguin en Random House en dis rondom daardie tyd dat ek na die VSA is om aan die stuur van Author Solutions te staan.

Waarom belê Penguin geld en kundigheid in ’n self-publikasiemaatskappy in Suid-Afrika?
Dit kan as visioenêr beskryf word en ek dink in die wêreld van Penguin het almal gedink dis ’n inspirerende ding om te doen. Miskien was dit nie die ooglopende stap om te neem nie, maar self-publikasie groei ontsettend. Ek dink dit maak nou al 20 % uit van boekverkope in die VSA. Party skrywers was baie suksesvol en is ontdek in die self-publikasiesfeer soos EL James en Amanda Hocking.

In tradisionele media is mense soms skepties oor self-gepubliseerde boeke, juis omdat daar nie ’n redakteur betrokke is nie. Hoe gaan Partrdige Africa bydra om hierdie persepsie te verander?
Die grootste verskil tussen tradisionele uitgewers en self-publikasie is dat daar geen kuratorskap is nie. Niemand by Author Solutions neem kuratorskap van die inhoud nie. So uit daardie oogpunt is daar nie ’n kwaliteitsfilter oor die inhoud nie. Ons glo die skrywer het sy eie opinie oor sy werk en ons taak is net om die skrywer te help om sy werk te publiseer.

Wat bied Partridge Africa skrywers wat self hul werk wil uitgee en hoe werk dit?
Ons bied verskillende dienste waaruit die skrywer kan kies van watter hy wil gebruik maak. Die proses begin by ’n wenk dat ’n skrywer ’n boek wil publiseer. Die wenk kom van verskillende bronne: iemand kon aanlyn gesoek het vir maniere hoe om hul boek uit te gee en het op een van ons drukkersname vir self-publikasie geland. Of ’n skrywer het ’n manuskrip aan Penguin gestuur en dis afgekeur vir publikasie, maar hulle dink die boek het waarde. Dan stuur hulle ’n poskaart aan die skrywer om te vra of hulle belangstel om self uit te gee en indien wel, kan hulle Partridge Africa kontak. Op die Penguin South Africa webwerf is daar ook ’n skakel na Partridge Africa. Die skrywer kan dan ’n vorm invul met sy besonderhede en dan sal een van ons verkoopsmense hom skakel en verduidelik hoe hy sy boek self kan uitgee. Ons het 12 verskillende pakkette van dienste waaruit die skrywer kan kies watter dienste hy wil gebruik.

Is dit goedkoop om ’n boek self uit te gee?
Jy kan alles self doen by ’n uitgewer soos lulu.com waar jy die manuskrip oplaai in ’n e-boekformaat vir verspreiding en dis verniet. As jy die meeste dinge self kan doen, soek jy net iemand wat jou kan help met dit wat jy nie kan doen nie, soos om die omslag te ontwerp. Dan soek jy ’n ontwerper om dit te doen en jy betaal vir die diens. Dan is daar ook die opsie om glad nie betrokke te raak by die ontwerp, verspreiding en publisiteit nie, maar om al hierdie dienste te koop by Partridge Africa. Dis in hierdie veld waar ons onsself posisioneer en ons is glad nie skaam om mense te laat betaal vir hierdie dienste nie. Die skrywer kan self besluit vir watter dienste hy bereid is om te betaal. Die belangrike ding is dat hy in beheer bly en kan kies of hy die dienste wil aanvaar of nie. Ons het ook ‘n doen-dit-self-opsie en ons het opgemerk dat skrywers dikwels begin met hierdie roete en dan besef hulle hoeveel werk dit is. Nogal baie van hulle koop dan eerder dienste by ons, sodat ons hulle help met sekere goed. Hoeveel ’n skrywer spandeer om sy boek uit te gee word bepaal deur sy begroting en dit waarmee hy hulp nodig het.

Wat maak hierdie veld so opwindend?
Ons het 180 000 skrywers by Author Solutions en hulle het meer as 225 000 werke gepubliseer. Ons het 21 000 mense per jaar wat deur die proses gaan. Die opwindende ding van hierdie veld is dat jy skrywers bemagtig om hul eie doelwitte te bereik. Daai doel kan wees om hul storie te skryf, of hulle het ’n spesifieke boodskap wat hulle wil deel. Dikwels gaan dit nie vir hierdie skrywers oor hoeveel boeke hulle verkoop nie, maar eerder net om die boek uit te gee. Mense wat godsdienstig is wil dikwels hul verhaal van verlossing met ander deel, en ons sien dit by die drukkersname wat in die godsdienstige/spirituele veld self-publiseer. Die motiverings en doelwitte van skrywers verskil van mekaar, maar in die proses vind ons dalk net die volgende EL James.

Het daar onlangs skrywers oorbeweeg van self-publikasie na die tradisionele uitgewers?
In die jaar wat ek by Author Solutions was, het Penguin VSA 7 titels vanuit verskillende genres oorgeneem. Die een oor uitstellery (procrastination) is opgetel deur Tarcher, ’n uitgewer wat spesialiseer in mind body and spirit-genres. Drie boeke deur ’n skrywer van apokaliptiese verhale is ook opgetel deur Penguin, sowel as nog ’n ander holocaust boek. Ons het mense wie se werk dit is om te kyk na die inligting rakende verkope van self-gepubliseerde boeke en as dit lyk of dit kan uitgegee word deur die tradisionele uitgewer stuur ons dit aan na Penguin of die ander uitgewers.

Is jy optimisties oor die toekoms van boeke?
Beslis. My ondervinding is dat nuwe genres nuwe lesers skep. Die groei in self-publikasie wys hoeveel mense daar is wat skryf en hulle trek almal lesers. Daar is ook groei in die verkope van kinderboeke. Mense lees beslis nog baie. Hulle lees miskien nie soveel op papier soos wat ons graag wil hê nie, maar die belangrikste is dat hulle wel lees.