Boeke

Top-5 humorboeke

Humor is mos die een ding wat kan help om dreigende situasies te ontlont, of om swaarmoedige geleenthede op te kikker. Maar dis ook ‘n element wat ‘n mens baie keer aan die dink sit oor die lewe. Die week se boekkeuse bevat al die elemente om jou of te laat lag, of te laat dink. Onthou om ons boekwinkel te besoek om van die boeke te bestel.

In die mond van die wolf, Paul C. Venter (Lapa, R130)
Dis een van die lekkerste bundels kortverhale wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Venter het nou maar een maal ‘n slag om ‘n storie te vertel, op so manier dat jy eintlik nóg meer wil lees oor die karakters se lewe ná die kortverhaal. Op ‘n manier laat dink hierdie stories my so ‘n bietjie aan PG du Plessis se Koöperasiestories en Herman Charles Bosman se Groot Marico-stories. Venter se stories gaan oor die Ouveld, oftewel die Karoo. Hy deel dit met humor en met empatie. Baie van die karakters waaroor jy in die eerste verhale lees, duik weer op in latere verhale en so kry jy ‘n geheelbeeld van ‘n kontrei se lief en leed en hul doen en late. Lees maar self oor karakters met name soos Kortjas Uys, Gulp Breytenbach en Johannes Woestyn, en natuurlik oor die Italianer Salvatore Lombino en hoe sy grondjie sy naam gekry het. Jy kan nie anders as om ingetrek te word in die mense se lewens nie. – P.G.

 

Louoond Louoond, Jeanne Goosen (Protea Boekhuis, R120)
Hierdie is ‘n heruitgawe van die novelle wat in 1987 verskyn het. Teen die agtergrond van onophoudelike reën en die musiek van Callas en Chopin bewoon die verteller haar kombuis. Terwyl sy kook, besin sy oor die wêreld – godsdiens, politiek, evolusie, kuns. Sy “bevraagteken die lewe in mineur”. Sy is ook ‘n skrywer, wat haar jongste manuskrip, Kombuisblues, in die louoond bêre en nie haar uitgewer se oproepe beantwoord nie. Dan is daar nog die vlieë en spinnekoppe, die bloeddorstige Dobermanns, die Armeense vrou, die ANC-huishulp, E. en Hermien. Dit is ‘n vertelling vol humor en wysheid wat net vra vir ‘n verhoogverwerking. – Ilse van Staden
Along came Dylan

Along came Dylan, Stephen Foster (Short Books, R144,95)
Stephen Foster besluit al wat kort in sy hond, Ollie (‘n kruising tussen ‘n Saluki en ‘n windhond), se lewe is ‘n maat met wie hy op dieselfde vlak kan kommunikeer, dus ‘n ander hond. Foster word deur almal aangeraai om ‘n tefie te kry, maar hy val vir Dylan, ‘n reuntjie en volbloed Saluki. Die nuwe hondjie word genoem na ‘n ander beroemde Dylan met die voornaam Bob.

Die dag toe Dylan in die kombuis toegemaak word nadat hy stout was, besef Foster hoe profeties hy was in dié naamkeuse. Dylan, die hond, se toonlose gesang kon sowat 2 blokke ver gehoor word en vergelyk goed met dié van die ander Dylan. Kort voor lank wonder Foster waarin hy hom begewe het. Nie net het hy vir Dylan, ongehoorsaam en skynbaar onleerbaarbaar nie, maar Ollie begin al meer neuroses ontwikkel en word al hoe meer onsosiaal. Geen eekhorinkie of hasie is veilig as Dylan op een van sy twee daaglikse wandelinge geneem word nie. Hy beskou dit as sy plig om hulle die skrik op die lyf te jaag. Teen sowat 30 km per uur storm hy deur die veld, langs die strand af of deur die Universiteit se grond en daar is min wat hom keer as hy eers begin.

Die verhaal begin waar Foster se vorige boek ‘Walking Ollie’ gestop het, maar is ‘n verhaal op sy eie wat jou sal laat skater van die lag vir Dylan se ervaringe. – Karien Labuschagne

That loving feeling That Loving Feeling, Carole Matthews (Headline Review, R129)
Juliet Joyce is in haar vroeë veertigerjare. Sy voel sy is vasgevang in ‘n huwelik waarvan die vonk verlore gegaan het. Haar eksentrieke ma van 70 verlaat haar man (Juliet se pa) en trek by Juliet in. Dit doen natuurlik nie baie vir Juliet se geestestoestand en haar eie huwelik nie.
Boonop maak haar dogter en seun dit ook nie vir haar maklik nie. Tipies kinders gebruik hulle haar en die huis asof dit hul goeie reg is, terwyl hulle geen aanstaltes maak om werk te soek nie – ma en pa sal maar help.
Die dogter kry wel werk, wat sy geheim hou. Die seun kan nie besluit of hy nou eintlik mans of meisies verkies nie. Voeg daarby ‘n man wat vir afloerdery gearresteer word en ‘n pa wat op 72-jarige ouderdom besluit hy verkies die ander geslag en vir hom ‘n (veel jonger) lewensmaat kies, en jy het ‘n resep vir moeilikheid.
Ná baie jare soek ‘n vorige kêrel vir Juliet op en sy kom te stane voor DIE groot versoeking.

‘n Lekkerlees tong-in-die-kies boek wat Carole Matthews-aanhangers regtig sal geniet! Erna du Toit

Walking to the moon  Walking to the moon, Kate Cole-Adams (Quercus, R194,95)
Die woorde van hierdie boek gryp jou vas. Jy lees in afwagting op die klimaks. ‘n Boek wat jou laat wonder en dink.

‘n Jong vrou, Jess, word wakker uit ‘n koma. Die oorsaak van haar koma is nie bekend nie. Mediese behandeling maak geen verskil aan haar toestand nie. En sy weier om haar man en dogtertjie te sien. Sy werk baie teësinnig saam met die dokter om haar psige te ondersoek. Sy besef ook sy sal self die onbekende pad moet loop wat aanleiding gegee het tot die verlammende, afbrekende depressie wat veroorsaak het dat haar liggaam ophou funksioneer het. Sy moet self antwoorde soek in die verlede, om dit wat nou seer maak, heel te maak. Jess se lewenspad is ‘n boeiende verhaal, wat jou aandag hou. Die hoogtepunt is inderdaad ‘n bietjie onverwags, maar tog baie gepas. – Nikki Strassburg