FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Digter Ilse van Staden se debuutroman oor ontgogelde veearts

Bekroonde digter Ilse van Staden se debuutroman in Afrikaans het ná ’n lang reis die lig gesien. Van Staden, self ’n veearts, skryf oor iemand wat haar geloof in dié beroep verloor het.

Hilda is die ontgogelde veearts waarom die verhaal draai in Goeie dood wat saggies byt (Protea Boekhuis, R220). Sy is ’n introvert, iemand wat nie haar ideale, versugtinge en wense hardop kan verwoord nie. Sy verloor so op soveel ervarings, ondersteuning en selfs vriendskap. Hilda herinner my aan van die vrouekarakters in Van Staden se kortverhaalbundel Tafel vir Twee wat in 2000 by Protea Boekhuis verskyn het. Dié vroue was ook introverte waarvan die karaktereienskappe uitstekend geskets is. Met Hilda is dit weer so. ’n Baie groot deel van haar bewustheid speel in haar kop af en uit haar gedagtegang leer ons haar intiemste gedagtes ken. In gesprekke probeer sy op die agtergrond bly en spreek nie sterk menings oor sake uit nie. Die onsekerheid oor haar eie vermoëns, die ontgogeling oor wat dit verg om ’n suksesvolle veearts te wees, ry Hilda. Sy kan haarself nie vergewe vir elke dier wat sy al in haar loopbaan verloor het nie. Dis hierdie gewetenswroeging wat haar lewe begin oorheers, bewustelik en ook in haar onbewaakte oomblikke. Hilda sleep jou saam op haar verhaal van gewaarwording en jy kan nie anders as om intens betrokke te voel by haar nie. Haar pyn is soms tasbaar. Die roerende vertelling oor ’n geknelde siel bly lank in jou kop draai nadat jy die laaste bladsy toegemaak het. Glo my, die einde kom soos ’n vuishou in jou maag.

Ek het per e-pos met Ilse gesels oor haar roman.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 

Jy woon nou in Australië. Hoe het dit jou lewe verander?
Daar is natuurlik die groter sosiale sake soos min misdaad, effektiewe publieke instansies, goeie en vriendelike diens oor die algemeen, en dies meer. Afrikaans is oral; ons het baie Afrikaanse vriende en kennisse hier. Wat ek wel mis, is Afrikaanse boeke. Jy kan nie net in ’n boekwinkel instap en deurblaai nie en aanlyn het óf ’n beperkte verskeidenheid óf die posgeld is baie duur.

Hulle sê “Come humble or be humbled.” Dit was tot ’n groot mate vir ons waar. Jy het hier as mens nie méér waarde net omdat jy ’n paar grade agter die blad het of ’n professionele beroep beoefen nie en daar word nie op jou neergekyk as jy ’n skoonmaker of ’n loodgieter is nie. Ek het vir die eerste jaar as veearts gepraktiseer, maar nou is ek ’n tuinier. Vir mens self voel dit soms soos ’n val in die modder, maar niemand anders is eintlik gepla nie.

Kyk jy nou anders na die lewe en het dit jou skryfwerk enigsins geraak?
Ek het baie meer simpatie met en insig in die lewens van arbeiders, vreemdelinge en migrante, iets wat ek wens ek in Suid-Afrika gehad het. Die Aussie-houding van “no worries, mate” laat mens ook besef dat dinge nie altyd so stresvol en ernstig hoef te wees nie. Ek weet nie of dit my skryfwerk noodwendig geraak het nie. Wat ek wel vreemd bevrydend vind, is om in Engels te skryf. Ek is tans besig met my tweede Engelse roman en geniet dit ontsettend om so bietjie kaalvoet deur die rooitaal te draf.

Jy skryf gedigte en kortverhale. Was die skryf van ’n roman vir jou moeiliker/makliker? Of is die proses vir jou dieselfde?
Dit was vir my soms moeilik om tred te hou met wat ek reeds geskryf het en wat waar moet inpas, veral omdat die verhaal nie chronologies geskryf is nie. Gelukkig het ek ’n superredakteur gehad (Amelia de Vaal) wat uiteindelik die kloutjie weer by die oortjie kon bring. Ek het ook soms momentum verloor, veral omdat daar so baie onderbrekings en redigerings was, dan sit jy met ’n storielyn wat doodloop en jy kan jou leser nie uit ’n definitiewe einde kul soos jy dalk met ’n korter genre kan doen nie.

Is jy ’n gedissiplineerde skrywer wat elke dag skryf? Of skryf jy net wanneer die muse roep?
Op die oomblik werk ek meeste dae voldag, dus is daar nie veel tyd vir asemhaal en pen opneem nie. Ek het nou geleer om ook prosa weer pen-op-papier te skryf (gedigte kon ek nog nooit op ’n rekenaar skryf nie). Ek vat my notaboek saam werk toe en skryf miskien ’n paragraaf of twee tussen tuine of saans ná ete of net voor slaaptyd. Dis seker nie baie produktief nie, maar elke sin tel op.

Waar het hierdie verhaal vir jou begin? Met ’n karakter of iets wat gebeur het?
Ek het dit seker twaalf jaar terug reeds begin skryf. Ek dink dit was uit moedeloosheid dat mense nie besef dat daar meer aan veeartsenykunde is as ’n slim ou wat “lief is vir diere” nie. Voor ek die roman begin het, het ek ’n artikel vir die tydskrif VetsLife geskryf hieroor, frases waarvan ek uiteindelik net so in die roman gebruik het.

Jy is ook ’n opgeleide veearts. Hoeveel het jy uit eie ervaring geput vir Hilda se verhaal?
Heelwat. Ek sien dit soos ’n brediekokery. Mens gebruik in jou storie baie van die feitelike bestanddele (murgbene, aartappels, groenbone), maar in ander proporsies en met ander kruie en speserye en jy kook dit dalk ’n bietjie langer of skroei dit aan die einde. En dan lees mense dit maar met ’n knippie sout. Of ’n bietjie rooipeper.

Hilda is ’n introvert en sukkel om haar gevoelens uit te spreek. Hoe beïnvloed dit haar karakter en haar interaksie met ander?
Sy mis uit op vreugdes en ondersteuning. Sy is dikwels net op haar eie perspektief en gevoel aangewese om sin te probeer maak van ’n saak, tot so ’n mate dat hierdie perspektief vir haar die enigste waarheid word.

Die konsep van genadedood vir diere is lankal reeds deur die mens aanvaar. Maar Hilda wroeg nogal oor elke dier wat sy verloor. Is dit waarom sy uiteindelik die keuse maak wat sy maak?
Genadedood vir diere, hoe traumaties ook al vir Hilda, is ’n keuse en iets wat sy met die goedkeuring van die eienaars doen. ’n Dier wat sy nie kan red van die dood nie of wie se dood sy sonder opset veroorsaak, is ’n mislukking. En dit is mislukking en die gewaande veroordeling deur ander wat haar finale besluit dryf.

Een van die onderliggende temas is die ontgogeling van ideale. Waar kom dit vandaan?
Persoonlike ervaring, beide in veeartsenykunde en elders. Die geheim, het ek uiteindelik geleer, is om nie in stof en as te gaan sit wanneer ’n ideaal in duie stort nie. Mens kies bloot ’n nuwe droom.

Hoe het jy aan die titel gekom?
Dit kan ek sowaar nie onthou nie! Dis reeds meer as ’n dekade lank die “working title”. Ons het baie gewroeg oor die titel en ek het talle alternatiewe voorgestel, maar daar is op die ou einde besluit om daarby te hou.