ilse
Boeke

5 Boekminute met Ilse van Staden

Soms oor skryfwerk – sy is ‘n digter. Soms oor skilderwerk – sy is ‘n kunstenaar. En dan is daar sommer die filosofiese gesels oor die lewe, mense en die dinge wat hulle doen. Die Woordhuis is altyd ‘n belewenis. Dis die huis wat Ilse met die hulp van haar ma eiehandig gebou het. Dis ruim, koel, kalm, met enkele son-spatsels wat deur die alfabet-gekleurde glasvensters van die studio op die kleivloer dans. Oor ‘n koppie tee het ek en Ilse gesels oor haar kortverhaalbundel Tafel vir Twee (Protea Boekhuis, R150). Heel gepas is die omslag ‘n afbeelding van ‘n skildery deur Marcella de Boom van ‘n twee mense om ‘n teetafel!

Jy is baie kreatief, skryf en skilder. Waar kom dit vandaan?
My ma, Marcella de Boom, het altyd geskilder. Ek het daarmee groot geword. In standerd 6 is ek toe Pro Arte Hoërskool toe, waar my skoolopleiding meer ingestel was op die kunste en musiek.

Jy het ‘n kunsuitstalling gehad verlede jaar.
Ja, en ek skilder steeds. Ek was ook met die Versindaba in November op Stellenbosch deel van ‘n uitstalling van digters wat almal skilder.

Maar jy is ook prakties, want jy het jou eie huis van klei gebou.
Ek hou daarvan om goed met my hande te doen en is seker ook prakties. Ek sou nie heeldag net met pen en papier kon werk nie.

Vertel bietjie van die huisbouery?
Dis anders om so iets vir jouself te doen, om jou eie ruimte te skep. Dit gee mens ‘n gevoel van geborgenheid, jy het jou skuiling gebou. Dit maak jou vaster aan jou eiendom en dit sal moeiliker wees om pad te gee. Ek moet bieg, ek sou dit nie op my eie gedoen het nie, maar kon dit doen omdat my ma my gehelp het. Dis wonderlik as ek in my huis sit en ek kyk na die muur en ek dink, ek het self hierdie klei met my voete getrap en uiteindelik hierdie muur gevorm.

Jou ma is verlede jaar skielik oorlede. Dit moet baie moeilik wees?
Dit is. Ons het ‘n baie hegte verhouding gehad. Sy was my mentor seker in alle aspekte van die lewe. Selfs met my digkuns. Sy was my klankbord. Met my skilderye het ek gewerk en tot op ‘n punt gekom en dan moes ek eers gaan tee drink by haar, sodat sy kan kyk na die skildery en my dan sê hoe verder. Sy het altyd gebel en gevra of daar tee by die Woordhuis is. Dis iets wat ek baie mis.

Het jy ‘n gunsteling-genre wat jou skryfwerk betref?
Dit bly tog maar poësie. Ek sukkel met plot. Elke nou en dan het ek ‘n wonderlike idee om ‘n roman te skryf, maar dis vir my moeilik om die drade almal bymekaar te trek. (Ek is ook een van Versindaba se bloggers en geniet dit vreeslik om weekliks iets oor poësie te kan sê).

Waar kom jou inspirasie vandaan?
Ek weet nie. Van goed rondom my, wat ek sien, wat ek hoor. Ek kom soms op ‘n dooie punt. Maar skryf is vir my ‘n daaglikse proses as ek by die huis is. Ek is ook al vir 23 jaar ‘n dagboekskrywer en geniet dit om terug te blaai en te sien wat ek skryf oor o.a. die skryfproses.

Op LitNet word daar na jou kortverhale verwys as mistiek en esoteries?
Ek sien dit nie as mistiek nie, eerder as subtiel. My gunsteling-kortverhaalskrywer is Katherine Mansfield. Sy skryf so op die rand van die werklikheid, van onwaarskynlikhede, en dis waarvan ek hou.

In baie van jou kortverhale is kommunikasie of die gebrek aan direkte kommunikasie tussen die karakters deel van die storie. Is dit beplan?
Die kommunikasieding. Ek glo nie. Ek beplan nie die verhale noodwendig vooruit nie. Die verhaal vorm homself wanneer ek begin skryf. Miskien is dit waarom daar nie direk gekommunikeer word nie, omdat ek nie van die begin af weet waarheen die verhaal gaan nie.

Baie van die karakters is ook nogal introvert.
Dis omdat ek nie weet hoe ‘n ekstrovert is nie. Die kortverhale is vir my ‘n lekker eksperiment.
Ek kan dalk vir jou verduidelik hoe van die verhale begin:
“Die man in die bokamer” het begin met die titel. Dit het vir my geklink of dit tot ‘n interessante storie kan lei.
“Anna en die singende dood” is ‘n storie wat Marcella altyd vertel het en ek het dit net in ‘n storie verwerk.
“Perdfris” was ‘n opdrag vir Unisa as deel van my skryfkunsstudie en gedeeltes van die storie kom uit my kinderervaring. Nie die storielyn soos dit in die verhaal gebeur nie, maar wel die insident tussen die perd en bul.
“Oupa knik” is gebaseer op my oupa en oupagrootjie wat saam gereis het.

Baie van jou karakters is ook alleenmense. Is dit opsetlik?
Dis vir my makliker om oor enkelkarakters te skryf omdat ek in prosa nie veilig voel met meer karakters nie.

Wat lê vir jou nou voor met skryfwerk?
Ek het verlede jaar saam met my kleinniggie Elize van Niekerk ‘n digbundel gemaak. Ons het net twaalf eksemplare gebind van ‘n manuskrip waarmee ek Augustus klaar was. Ek wou dit as Kersgeskenk gee aan die mense naaste aan my. Die dood is ‘n mooi blou blom het ek geskryf voor Marcella se dood, n.a.v. ‘n skildery van haar met dieselfde titel. Dis ironies, dit kon net sowel ná haar dood geskryf gewees het. Dis vreemd. Ek is weer besig om te skryf en sal seker weer formeel laat uitgee.

Het jy ‘n ritueel of so wanneer jy skryf?
Ek skryf altyd my gedigte met ‘n potlood op papier en ek skryf meeste van die tyd in my studio. Soms as ek ‘n blok het, dan sal ek buite gaan sit.

Jou gunsteling-digters?
Sheila Cussons vir die mistiek.
T.T. Cloete omdat hy so goed is met taal.
Seamus Heany, omdat hy so gemaklik skryf, dis net soos praat. Ek het nog nie in Afrikaans iets soortgelyks teëgekom nie.
Ted Hughes, ook so ‘n weird skrywer, soms te onverstaanbaar, so bietjie van die rand af.