FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Ingrid Winterbach vierde keer vereer!

Ingrid Winterbach is vir die vierde keer met die W.A. Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie bekroon.

Dié aankondiging is gemaak by die bekendmaking van die wenners van die Media24 Boeke Literêre Pryse vir 2016 in Kaapstad. Haar roman, Vlakwater, uitgegee deur Human & Rousseau het Ingrid vir die vierde keer met dié prys laat wegstap. Vlakwater is deur die beoordelaars beskryf as “’n besinning oor die rol en aard van kuns in roerige tye; ’n moedelose wekroep teen die tirannie van middelmatigheid en geestelike vervlakking, asook ’n soeke na mistieke rigtingwysers in ’n andersyds onherbergsame heelal.”

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die Kaapse skrywer Finuala Dowling se roman, The Fetch, uitgegee deur Kwela, is bekroon met die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse fiksie. Sy is geprys vir haar subtiele, humoristiese taalgebruik en haar vermoë om geloofwaardige, komplekse karakters te skep wat die belangstelling prikkel.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

A Perfect Storm: Antisemitism in South Africa 1930-1948, uitgegee deur Jonathan Ball, van die skrywer Milton Shain is met die Recht Malan-prys vir nie­fiksie bekroon. Dié werk is deur die beoordelaars beskryf “as ’n wonderlike boek en ’n gepaste waarskuwing, in ’n tyd waarin xenofobie gereeld in Suid-Afrika en oor die wêreld heen tot geweld lei, teen wat kan gebeur wanneer magsbehepte politici ’n weerlose groep as boos uitmaak.”
A perfect storm

Die Elisabeth Eybers-prys vir poësie het gegaan aan Gilbert Gibson vir sy bundel Vry-. Die M.E.R.-prys vir jeugromans is toegeken aan Carin Krahtz vir Elton amper famous April en juffrou Brom, uitgegee deur Tafelberg, en die M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinderboeke aan Elizabeth Wasserman en Astrid Castle (illustreerder) vir Die Dingesfabriek 4: Jannus en Kriek en die tydmasjien, ook uitgegee deur Tafelberg.

Meer as 50 boeke wat in 2015 by uitgewerye in die Media24-stal verskyn het, is ingeskryf vir dié pryse.

Die beoordelaars was: Vir die WA Hofmeyr-prys: Thys Human, Danie Marais en Bernard Odendaal; vir die ­Herman Charles Bosman-prys: Johan Jacobs, Molly Brown en Ann Donald; vir die Recht Malan-prys: John Maytham, Elsa van Huyssteen en Max du Preez; vir die Elisabeth Eybers-prys: Henning Pieterse, Antjie Krog en Francois Smith; vir die M.E.R.-prys vir jeugromans: Louise Steyn, Verushka Louw en Wendy Maartens; en vir die M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinderboeke: Lona ­Gericke, Paddy Bouma en Magdel Vorster.

Lees hier wat ons resensente op SARIE.com oor Finuala Dowling se boek, The Fetch,  geskryf het,

en oor Carin Krahtz se jeugboek, Elton amper famous April en juffrou Brom.