FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Inkleur is lekker vir groot en klein

Inkleur is deesdae ’n groot gier vir volwassenes. Boonop sorg dié boeke vir baie goeie boekverkope plaaslik en oorsee.

Wêreldwyd is dit ’n gewilde tydverdryf, maar hier in Suid-Afrika is dit ook glad nie snaaks om ’n vrou in ’n koffiewinkel te sien sit met haar inkleurpotlode en boek nie. Volgens Laura Hammond, bemarkingsbestuurder van Panmacmillan, was ses uit die top-20 boeke wat die beste verkoop het op Amazon so tydjie gelede inkleurboeke vir volwassenes. Sy sê ook dat hier in Suid-Afrika in een week sowat 2 000 eksemplare van ’n Afrikaanse inkleurboek vir volwassenes verkoop het.

Erika Oosthuysen (uitgewer: niefiksie) by NB Uitgewers vertel dat hul verteenwoordigers verlede jaar by die Frankfurt Boekeskou opgemerk dat inkleurboeke skielik baie opwinding begin veroorsaak het – in veral Frankryk het die soort boeke fantasties verkoop. Engeland was nie ver agter nie. In die lig hiervan het hulle besluit om dit te waag om hul eerste Kreatiewe inkleurboek vir grootmense uit te gee.

Dit was feitlik onmiddelik ’n groot treffer en moes inderhaas herdruk word, en weer, en weer . . . ! ’n Mens sou wou spekuleer dat Suid-Afrikaners gestres is en ontvlugting soek in hierdie nuwe soort terapie, maar dit is in feite ’n wêreldwye verskynsel. Inkleur vir grootmense gaan orals volstoom voort, ook in Europa en Brittanje.  Ons hoor gereeld van terapeute en beraders wat die boeke met groot sukses in hul praktyke aanwend, en sommer anekdoties van baie mense dat hulle die inkleurproses ontspannend en terapeuties vind. Dit is in lyn met die groeiende tendens vir aandagtigheid – of hoe vertaal mens mindfullness? Mense soek sielerus en stilte te midde van die dolle gejaag en dit is presies wat inkleur bied. Daar’s boonop iets magies aan die terugkeur na die kryte of inkleurpenne van jou jeug.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Kreatiewe Inkleurboek vir Grootmense 3(Human & Rousseau, R135) is die jongste toevoeging in dié uitgewer se stal.

 

 

 

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Skeppende Inkleurboek, Emma Farrarons (Panmacmillan, R145)
Emma is ’n illustreerder en grafiese ontwerper. Sy is oorspronklik van Frankryk, maar woon nou in Londen. Sy is ook ’n ontwerper van kinderboeke, asook ’n vryskut illustreerder. Sy het ’n kursus in tekstielontwerp gedoen en mens kan dit sien as jy deur haar inkleurboek blaai. Haar voorliefde vir patrone is duidelik sigbaar in die ontwerpe. Haar boek is reeds in 14 tale vertaal en is wêreldwyd ’n top-verkoper. Die boekie is klein genoeg om gerieflik in jou handsak te pas, sodat jy dit kan saamdra vir wanneer die inkleurgier jou beetpak. Of wanneer jy jouself in ’n vervelige vergadering wil vermaak!

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Colour Brings Hope, Tanya O’Connor (Naledi, R145)
Die boek is saamgestel spesifiek as ’n terapeutiese inkleurboek vir almal wat deur kanker geraak word en die uitgewers het dit saam met KANSA gedoen. Gevra oor waar haar inspirasie vir die prente vandaan kom, sê Tanya O’Connor dat dit haar herinner aan haar kinderdae. Toe was die teken van prentjies haar terapie, omdat haar ma nie meer in haar lewe was weens depressie nie. Op die vraag hoe die die boek saamgestel is, antwoord sy: “Ek het baie gehuil met hierdie boek se teken, want ek het gedink aan wié die boek gaan inkleur, hoe lank gaan die persoon lewe? Haar/sy pyn? Geliefdes, vriende, familie wat ook inkleur nodig het en dan natuurlik het ek dit geteken as ode aan die wat nie meer hier is weens kanker nie.” Sy het elke skets self geteken en haar wens is dat die boek waarde sal toevoeg aan elkeen se lewe. Op hierdie bladsye het jy beheer en kan jy self besluit hoe jy wil inkleur. Dit moet jou terapie wees, tyd wat jy net vir jouself uithou. Vir elke boek wat verkoop word, word R10 aan KANSA geskenk vir hul versorgings- en ondersteuningsprogramme.

LIZE cover outlinesColouring for Adults: Mandala Art by Lize Beekman (R280, bestel by www.artlizebeekman.com)
Lize het die boek met 10 gedetailleerde mandala’s saamgestel omdat sy oorval is met navrae vir hulp en die teken van mandalas nadat sy in 2013 op Kwêla oor haar kuns gepraat het. Sy sê weens die detail van die sketse het dit lank geneem om die tekeninge te voltooi, en die handgetekende mandalas is nou saamgevat in hierdie inkleurboek. “Elke mandala is ’n ‘sirkel’ waarin jy kan ‘wegraak’ wanneer jy dit nodig het. Wie weet watter mooi gaan ontvou wanneer ons saam skeppend is. Ek wens vir almal menige oomblikke gevul met vreugde en vrede,” sê sy. Die boek is 28 x 28 cm en gedruk op ’n hoë gehalte papier geskik vir verskillende mediums.