Boeke

Top-5 vakansie intrige-verhale

Vir die langpad is daar ook die oudioboek van The Girl who Kicked the Hornet’s Nest wat beslis sal sorg dat die reis in ‘n oogwink verby is. Onthou om ons boekwinkel te besoek as jy die boeke wil bestel.

Bottelnek, Piet Steyn (Tafelberg, R180)
Mens is aanvanklik agterdogtig as jy na die voorblad kyk: “Nog ‘n Pine Pienaar-misterie” is nie woorde wat alle lesers laat regopsit nie. Maar in die baie suksesvolle opvolg op Snoeiskêr, skryf Steyn teen sy kenmerkende haastige pas, hoe Joe Smit, dwelmslaaf, twee mense skiet. Steyn laai die spanning amper ondraaglik, en vertel hoe Joe verskeie mense vermoor teen wie hy griewe koester. Ons lees hoe superintendent Pine Pienaar en sy span probeer om die onderwêreld van misdadigers te ontrafel.
Bottelnek beteken gewoonlik stadiger deurgang weens ‘n opeenhoping. Steyn verwys meer direk na ‘n bottelnek, hoe ‘n gebreekte bottel gebruik word om dagga te rook, asook Joe se manier om sy ‘handtekening’, ‘n kopbeen, op sy slagoffers daarmee te maak!
Steyn skep driedimensionele karakters wat oortuigend optree en lewendig reageer. Hoewel die woordgebruik soms as banaal beskryf kan word, kry lesers ‘n seldsame blik en moontlik selfs insig in die regte dagtaak van polisiemanne. – Mariette Postma

 

The girl who kicked the hornet&aposs nest
The girl who kicked the hornet’s nest
, Stieg Larsson (Quercus, R199,95)

Dit gebeur nie altyd dat die laaste boek in ‘n trilogie die beste is nie, maar Larsson se derde boek span eenvoudig die kroon. Die skrywer se persoonlike lewe is van belang hier, aangesien ons leeslus dalk bevredig kan word as sy lewensgenoot en sy gesin kan ooreenkom en sy nog ‘n laaste een kan uitgee. Na elke boek wonder mens hoe hy die karakters uit hul penarie gaan help, en telkens doen hy dit beter as die vorige keer.
As mens Hornet’s nest klaar gelees het, kan jy maklik verstaan hoe die skrywer ‘n hartaanval kon kry toe hy die trilogie by sy uitgewers afgegee het! Soveel spanning raak byna ondraaglik en hy laat geen detail uit nie. Die hofsaak in Swede bied ‘n blik op hulle interessante regstelsel, wat saam met die besonderhede oor rekenaartegnologie en hulle bankwese genoeg detail inhou om sy lesers te laat huil vir meer van dieselfde. – Mariette Postma
Die boek is ook nou as ‘n oudioboek (R279,95) beskikbaar en word voorgelees deur die akteur Martin Wenner.
Relentless, Dean Koontz (Harper Collins, R189,95)
Shearmann Waxx, gevreesde en daarom gerespekteerde boekresensent is ‘n misterieuse figuur in die literêre wêreld. Hy skryf ‘n skreiende resensie oor Cubby Greenwich se nuwe boek, One o’clock jump. Cubby probeer homself oortuig om hom nie aan die resensie te steur nie, want ander resensente het gloeiend geskryf oor sy boek. Tog is hy obsessief oor Shearman se resensie. Kort voor lank word Cubby en sy vrou in hul huis aangeval. Hy besef Shearman is nie net ‘n gevreesde resensent nie, maar ook ‘n sosiopaat en moordenaar. Cubby en sy familie word gedwing om te vlug. Hoe lank kan hulle uit Shearman se kloue bly? Gaan Cubby se ergste vrese bewaarheid word? Hoe meer hy uitvind oor Shearman en sy verlede, hoe meer besef hy hoe naïef sy ergste vrese werklik was. Kan Cubby homself, sy vrou en seun red? ‘n Riller vol intrige en humor. – Karien Labuschagne
Romanno Bridge Romanno Bridge, Andrew Greig (Quercus, R189,95)
‘n Lekkerlees-boek geskryf met ‘n liefde vir taal. Die verhaal het ‘n vinnige tempo en daar is genoeg moord en doodslag om te keer dat jy dit kan neersit!
Die storie gaan oor ‘n selfmoord, vier gesteelde edelstene, drie ringe,’n sluipmoordenaar met ‘n lang mes, ‘n rugbyspeler, baie whisky, mitiese maan-hardlopers en ‘n klomp eksentriese avonturiers. Die lotjie word beheer deur ‘n vrou met ‘n kort maar duistere verlede. Hulle deurkruis Skotland en Noord-Europa in hulle soeke om die een egte kroonjuweel te vind en dit moontlik aan hulle kroonprins terug te gee.
Mooi beskrywings van landskappe, atmosfeer, historiese gebeurtenisse en goeie navorsing rond die boek met sy vele draaie en intriges af. Dit maak die ietwat vergesogte verhaal geloofwaardig. – Deirdre Holzer
Bad Company Bad Company, Saamgestel deur Joanne Hichens (Pan Macmillan, R180)
In dié versameling van sewentien kortverhale maak lesers met die room van Suid-Afrikaanse gruwelskrywers kennis, en sover dit internasionale standaarde aanbetref, blyk dit duidelik dat hierdie outeurs met die beste in hul klas kan meeding; intrige, geweld en moord laat bloedige voetspore op elke bladsy.
Soos met reg verwag kan word van hierdie genre word die grieselrige wêreld van misdaad op eksplisiete wyse weergegee – ofskoon die grootste gros van hierdie stories aangebied word vanuit ‘n unieke Afrika-perspektief, is die res bepaald deur die heersende Amerikaanse en Britse riller-tradisies beïnvloed.
Gemeet aan wêreldwye verkope, neem die gewildheid van grilfiksie toe: As die teorie waar is dat die leesstof van ‘n samelewing gesien kan word as ‘n barometer van hul psige, sal hierdie klompie verhale die bloed in lesers se are laat stol – verwag ‘n nagmerrie of twee ná die lees daarvan. – Emsie Viljoen