Boeke

5 Boekminute met Jaco Louw

‘n Rugbyspeler wat skryf? Hoe het dit gebeur?
Ek het nie gedink ek sal ooit skryf nie, maar ek kom uit ‘n familie van skrywers. My pa, Kobus Louw, was een van die eerste skrywers vir televisie. Hy het Seepsteen Bataljon, Ben Brand, Dokter, Dokter, Klein Jakkalsies en Laaste Herberg geskryf. En my sussie Sonja Mae Louw skryf vir die sepie 7de Laan. Vir my was dit maar toevallig.

Hoe het jy op die idee vir ‘n boek oor rugbyreëls gekom?
Met die Wêreldbeker in 2007 was daar groot opgewondenheid in ons vriendekring, selfs onder die girlfriends. Maar meer oor die hype rondom die spel – van wat eintlik op die veld gebeur het, het hulle nie veel verstaan nie. Niemand van ons het geduld om tydens ‘n wedstryd die reëls aan hulle te probeer verduidelik nie en dis nie regverdig teenoor hulle nie. ‘n Gewone reëlboek is ontoeganklik en vervelig en ek wou rugby op ‘n vermaaklike tong-in-die-kies manier aan die girlfriends en ander oningeligtes verduidelik. Ek het ‘n tema gekies wat vroue na aan die hart lê – koop. Die spotprentkunstenaar Derrick Nesbit se sketse dra by tot die toeganklikheid van die woorde.

En jou eie meisie?
‘n Ou moet jou meisie help, want dit reflekteer darem sleg op jou as jy tussen die manne sit en sy is nie by met die spel nie. Maar ek glo ek help nou al my vriende ook!

Jy beskryf die spelers as diere: Stutte as renosters, slotte as kameelperde en die skrumskakel as ‘n jakkals. Hoekom juis diere?
‘n Tyd gelede het ‘n meisie gesê rugbyspelers is varke. Ek het gedink dis mos nie waar nie!  Ek is ‘n groot diereliefhebber en het nog altyd gedink mense se karaktereienskappe kan vergelyk word met die van diere. Dit het my laat dink aan beter voorbeelde uit die diereryk wat ook beskrywend is van die posisies waarin die spelers speel. Die tipiese geaardheid van spelers in sekere posisies is so opvallend soos sekere diere – ek kon die versoeking nie weerstaan nie!

Jy gee ook ‘n lysie van spelers en afrigters wat jy by elke posisie as die beste beskou. Hoe het jy die lysie saamgestel?
Dis my persoonlike keuses en ek het probeer om ook rugbylegendes in te sluit. Aanvanklik het ek net Suid-Afrikaners op my lysie gehad, maar daar was ‘n klompie internasionale name wat ek nie kon uitlaat nie. En natuurlik kon ek nie my vriende uitlaat nie – party is groter as ek!

Is spelers in die agterlyn regtig mooier as voorspelers?
Oordeel self. Kyk maar na ouens soos Jean de Villiers, Dan Carter, Jacque Fourie. Dis natuurlik nou benewens myself! Daar is darem hier en daar ‘n aantreklike voorspeler, Victor Matfield byvoorbeeld. Hy is nogal iemand na wie die girls kyk.

Buiten vroue, wie behoort jou boek te lees?
Alle ondersteuners, spelers en hulle families. Daar is baie inligting in die boek wat selfs kenners interessant sal vind. Ek dink die “rugbymanne” sal kan identifiseer met die situasies in die boek en die humor waardeer. So girlfriends, dis ‘n goeie geskenk vir HOM ook! Skeidregters en alle ondersteuners. Rugbyondersteuners blameer altyd die skeidsregter. Die boek sal hulle help om te sien waarop sy besluite gegrond word. ‘n Mens is mos oor emosioneel oor jou eie span. En skeidsregters leer dalk ietsie by oor rugby!

Wat is jou beste raad aan ‘n girlfriend oor rugby?
Lees die boek. Onthou, rugby is ‘n emosionele ervaring. As jou span verloor, kan jy nie net ‘n knoppie druk om die gevoel af te skakel nie. ‘n Girlfriend moet weet wanneer om nie te krap waar dit saak maak nie. Sy moet insig hê in die emosionele aard van ‘n stoere ondersteuner se buie.

Gaan die boek jaarliks heruitgegee word met nuwe wedstrydskedules?
Dis die plan. Die plan is ook om die boek later in Afrikaans uit te gee.

Ek sien jou boek is geborg.
Lefatshe het die druk van die boek geborg. Ek is baie opgewonde daaroor, want as deel van die borgskap doen ons rugby-ontwikkeling in townships soos Kagiso, Umlazi in KZN, New Brighton in PE en in die Kaap. Daar is geweldige geesdrif onder die hoërskoolseuns, maar daar is ‘n gebrek aan ordentlike sportvelde en geriewe. Daar is baie talent.

Is daar ‘n volgende boek in die pyplyn?
Ek wil graag my idee in ‘n reeks ontwikkel, oor golf en krieket en dalk ook ander sportsoorte.

‘n Lysie van jou gunsteling?

Skeidsregter: Jonathan Kaplan

SA speler:  Dis tussen Schalk Burger en Jean de Villiers

Internasionale speler: Richie McCaw en Dan Carter

  • Fanie

    Dis nou nice-hoeka met die rugby seisoen saam. Ek weet wat ek vir my girlfriend gaan gee!

  • Phyllis Green

    Ek gaan hierdie boek vir elkeen van my broers gee! Hulle is rugbymal en maak my soms mal met hulle uitsprake oor die skeidsregter se interpretasie van die game! So, Fanie dis die regte geskenk vir jou girlfriend.

  • Pierre Joubert

    ‘n Baie oulike boek deur ‘n baie humoristiese skrywer. Elke huis behoort een te he.

  • Fritz Pistorius

    Fantasties Jaco! Dat iemand nog nooit hieraan gedink het nie is ongelooflik. Die boek is baie humoristies en ek gaan seker maak dat my vrou die boek bestudeer!

  • Michael Green

    Ek sien my suster sê sy gaan dié boek vir my gee, maar ek dink sy moet dit liewer nie doen nie, ook nie vir my vrou nie, sy ken die game hoewel sy nie speel nie. Thanks anyway, suster, en sterkte Jaco, veral met die rugby-ontwikkelling, maar moenie die meisies renosters noem nie, hoor, nou-nou gaffel hulle jou.

  • Annette Olivier

    Wil weet waar ek Jaco se boek "Girlfriends Guide to Rugby" in AFRIKAANS in die hande kan kry.

    Baie Dankie