ys4f3765
Boeke

5 Boekminute met Jak de Priester

Dis ‘n versameling van liedjies, bladmusiek, foto’s, uittreksels uit onderhoude en selfs ‘n paar reseppies en inkleurprentjies! Die bonus is die CD agterin, waarop hy die storie van sy seuntjie se koms vertel en ook die liedjie, Hippie Haai – song vir Jamie waarin hy dié gebeure besing.

As jy deur Brood (Griffel, R250) blaai en die woorde lees, besef jy jy lees oor Jak se lewe. Hy skryf oor die dinge wat met hóm gebeur, sy verliefdheid en liefde, sy musiek en kunstenaarskap, oor sy familie en hoe dit is om te reis en die verlange wanneer jy genoeg gehad het en eintlik net by die huis wil wees. Jy kan nie anders as om die lewe ‘n bietjie deur sy oë te aanskou nie – ‘n unieke beskouïng deur ‘n talentvolle storieverteller. Ek het een oggend by Jak, Michelle en klein Jamie gaan tee drink om te gesels oor sy boek en sy werk.

Jy noem jou boek Brood en die eerste liedjie in die boek se titel is ook Brood. Waarom die titel?
Laurika Rauch het die liedjie nou opgeneem op haar nuwe CD. Brood – dit beteken ontsettend baie. Daai werk, die liedjies, poems en ander skryfwerk is my brood en botter. Dis ook my daaglikse brood. Dis ook brood vir my fans se siele. Alles het vir my bymekaar gekom. Daar is soveel simboliek in brood. Dit kom mos al van die Bybelse dae af. Brood is stapelvoedsel vir die volk. In die chorus van die liedjie sê ek: “Ek gee vir jou brood as jy honger na my kyk.” Ek is ‘n kunstenaar wat vir mense iets gee wat hulle honger stil. Dis my job op aarde om mense beter te laat voel. Dis soos brood.

Wat maak skryf so belangrik vir jou?
Dis so spesiaal. Alles het begin toe ek besluit het ek wil ‘n sanger wees. Ek wil my eie liedjies sing. En my inspirasie kom van kunstenaars soos Kerkorrel, Amanda Strydom en Koos Kombuis. Ek wou altyd ‘n verhoogkunstenaar wees en het ‘n liefde vir musiek en sing. Ek het geweet as ek ‘n sanger word, sal ek my eie werk wil skep. In die begin was my liedjies soetsappig, maar met die jare het ek anders begin dink en skryf. As ek op die verhoog staan en ek wil brood gee, moet dit iets wees wat ek ervaar het. Ek skryf dit en deel dit met mense. Die substansie van my shows sal nie dieselfde wees as dit nie my eie ervaring is nie. Ek wil hê mense moet my binne-wêreld ontdek deur my musiek – deur my woorde.

Is stories vertel in jou liedjies belangrik?
Ja, dis vir my belangrik. Daar is ‘n groot platform vir Afrikaanse musiek met al die feeste oral, soos die Perskefees tot die Aambeifees. Almal tree daar op, maar as gevolg van die crowds het storie vertel verdwyn. Almal wil eintlik net ‘n bier drink en jol by so ‘n fees. Maar met my shows is dit anders. Ander kunstenaars het groter geword deur die musiek wat hulle speel. Ek is die middeweg. My job is om die storievertel-ding aan die lewe te hou. Ek is goed in ‘n teater met kleiner gehore, want ek wil mense se lewens beïnvloed. Ek sal nooit daarvan kan afsien nie, want dis waar my sterkte is.

In “Die pad is lank en swaar” skryf jy oor kunstenaarskap. Wat is die pad van die kunstenaar?
Die oomblik wanneer dit totaal jou werk is, waar jou geld vandaan kom en jy word ‘n baas en jy moet mense lei – dis moeilik. Almal het nie dieselfde visie nie. Om te reis met ‘n band maak dat jy baie armer is. Jy moet heeltyd werk aan menseverhoudings, want jy is baie op die pad. Jy kan nie net ‘n kunstenaar wees nie. In my agt jaar van kunstenaar wees, het ek baie anders begin kyk na die dinge. In die begin het dit net oor die passie gegaan, maar jy moet ook aan die besigheidsaspek dink. Dis ‘n professionele job en eintlik wil ek net my songs sing. My droom is om ‘n Kentucky te besit, sodat ek amper nie geld moet maak uit my musiek nie. As jy arm is, werk jy hard. Suid-Afrika is nie Hollywood nie. Hier sing jy in ‘n lapa, ‘n teater, ‘n skoolsaal, op ‘n plaas of in iemand se tuin. As jy wil werk, moet jy gaan waar mense jou soek, want dis hoe jy jou musiek by mense uitbring.

Uit die aard van jou werk reis jy baie, maar jy reis ook vir plesier. Hoe beïnvloed reis jou?
Reis inspireer my. Dis hoekom ek travel. Al kry ek my stories in my eie land. Daar is niks so ongeloofliks soos om op ‘n vliegtuig te klim en na ‘n ander land te reis nie. My wortels is belangrik, want jy wil weet waar jy vandaan kom en jy weet wat biltong en braaivleis in jóú kultuur in die wêreld is. Dit anker mens. My kind kan alles leer, ander tale, maar hy moet weet waar hy vandaan kom, want as jy geanker is dan weet jy waar jy hoort. Reis maak my volwasse en help dat my gehoor met my kan connect.

Jou reise bring jou in aanraking met misplaasde mense soos Dahlia en Solly van Linge oor wie jy skryf . Het jy ‘n sosiale gewete?
Definitief. Ek voel as ek kon, sou ek die wêreld wou red. Ek wil liedjies skryf om die stories te vertel van die straatkinders, sodat dit ander mense ‘n sensitiewe kykie na dié dinge kan gee. Die wêreld maak my hartseer, veral noudat ek my eie kindjie het. As ek my kind soen, dan dink ek aan al die kinders wat nie daai voorreg van liefde het nie. My sosiale gewete raak groter. My doel met musiek is om met mense te deel en daai stories te vertel.

Jy skryf dikwels oor familie en spesifiek jou broer. Is familie belangrik vir jou en mis jy jou broer?
Veral in my eerste digbundel het ek baie geskryf oor my broer en die dood. Dis oor ons so ‘n hegte familie is. Dis steeds vir my lekker om terug te gaan huis toe. Die tyd vlieg vinnig. Ek was ‘n eerstejaar en my broer ‘n derdejaar op universiteit toe hy siek geword het. Dis eintlik so ‘n kritieke tyd in ‘n mens se lewe. Jy staan aan die begin van jou grootmenslewe en sy sterfte het vir my die kortstondigheid van die lewe laat ontdek. Later, toe ek oorsee was, was ek so bang iemand gaan dood en ek is nie hier nie. Dit het my familievas gemaak. My beroep maak ook dat my gesin belangrik is, dis my ondersteuning en fondament en ek moet dit oppas, want dis maklik om dit te verloor. Niks beskerm ‘n mens teen daardie aanslae nie. My ma is wonderlik en ek skryf baie oor haar. Sy het my gevorm. As mense lees hoe wonderlik dit vir my is, hoop ek dit gee vir hulle meer waardering vir hul eie familie.

Wat beteken vaderskap vir jou en hoe het dit jou verander?
Ek is baie ernstig oor vaderskap. Ek het lank gevat om te trou. Dit was moeilik om ‘n musiek career op te bou. Trou en kinders was nie my prioriteit nie, maar dis die beste ding wat ek kon doen. Toe die baba kom, het my hele lewe verander. Dis fantasties as jy nie meer die belangrikste mens in jou eie lewe is nie. Ek wil goed wees vir my kind en ek wil he hy moet trots wees op my.

5 minute call - het jy steeds daardie gevoelens waaroor jy in die liedjie skryf voor jy op die verhoog stap?
Ek het dit steeds. Dis belangrik vir my om ‘n goeie show te gee, waarde vir geld en om my aanhangers nie teleur te stel nie. Daar is sekere dinge wat uit jou hande is, soos die klank en dit maak my senuagtig. En dan die gehoor, daar is altyd een vreemde mens wat die show opneuk! Hy staan op op die verkeerde tyd of sy selfoon lui, jou hele ritme is versteur. Verlede maand in Sasolburg het so ‘n onvoorspelbare ding gebeur. Ons het die klank getoets voor die tyd en alles was reg en toe ek op die verhoog stap, toe speel my klavierspeler in die verkeerde sleutel. Ek het begin sing, maar besef die sleutel is te hoog en moes stop en die show oor begin. Dis die 5 minute call, onvoorspelbaar.

Jak se gunsteling-bestemming: Londen, dis soos my tweede huis.
Aakligste bestemming: Dubai, dis te warm en die mense is weird.
Gunsteling-kunstenaar: Dis moeilik om te sê, Jamie Cullum (ek koop sy musiek). In Afrikaans Amanda Strydom. I will always be the biggest fan!
* Jak lewer sy nuwe vertoning Brood by die Jacaranda Festival in die ouditorium van die Groenkloof Kampus op 28 April om 20h00. Kaartjies by Computicket.

  • http://www.pomp.co.za mendi

    dit lyk baie oulik, frek fêncy as ek mag sê (praat mens nog so?)anyhow, dit is gehak!

  • Stella van der Walt

    Lyk of dit die moeite werd is om te kry. Baie van die goed in die stukkie kan ek as mens ook mee identifiseer.

  • http://rjludsolwiun.com/ ijlnojk

    nbOOAR nszhlkhwesbq, [url=http://iowxqzekmxcb.com/]iowxqzekmxcb[/url], [link=http://cjjzopbcccgw.com/]cjjzopbcccgw[/link], http://iegmwpghrwqa.com/