jana03
Boeke

5 Boekminute met Jana Luther

En as jy gedink het dis ‘n ou vaal mannetjie wat in ‘n vaal kantoortjie wegkruip en net met woorde werk, dink weer. Jana Luther, wat aan die hoof staan van HAT-woordeboeke, is alles behalwe vaal, en vir haar is die Afrikaanse taal die een ding wat haar die naaste aan die hart lê. Ek het haar per e-pos uitgevra oor woorde, woordeboeke en hoe woordeboeke saamgestel word. Alles nuwe en interessante inligting vir my. Hoop vir julle ook!

Waar kom jou vurige passie vir Afrikaans vandaan?
Dit was maar net nog altyd daar. Vandat ek my kom kry het. Ek dink dit was wyle Johan Combrink wat gesê het: “My moedertaal is die naaste wat ek het aan ‘n eie vaderland.” En Jan Rabie: “Sonder Afrikaans is ek niks.” Ek voel presies net so. Om na ver, vreemde plekke te reis is wonderlik, maar selfs op die mooiste, veiligste plek sal ek nooit te lank kan vertoef as ek nie meer Afrikaans kan praat en dit in al sy reënboogvorme om my kan hoor nie.

Was jy op skool reeds geïnteresseerd in taal en woorde?
Ja. Ek is ‘n enigste kind en was ‘n eenkantkind, verslaaf aan lees. Afrikaans, Engels, Duits, geskiedenis was my kos. Oor matriekwiskunde kry ek vandag nog nagmerries.

Vertel so bietjie meer oor jouself?
Dié wat my ken, sal waarskynlik twee trekke uitlig: Ek is ‘n introvert. Ek praat nie baie nie en gesels en dink die maklikste op papier. Aan die ander kant het ek ‘n hardkoppige streep. Ek sal mooi dink voordat ek ‘n besluit neem, maar as ek eers ‘n einddoel in die oog het, wyk ek nie maklik daarvan af nie. Dan raak ek moeilik om mee huis te hou!

Hoe het jy betrokke geraak by die saamstel van woordeboeke?
Ek het in Johannesburg grootgeword, aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit gestudeer – Afrikaans-Nederlands en Engels, letterkunde, semantiek, leksikografie. Toe vier jaar lank skoolgehou om my studieskuld te betaal en daarna sak en pak Kaapstad toe getrek om as kinder-en-jeugboekredakteur by Tafelberg-Uitgewers te kom werk. Van 1993 tot 1996 was ek verbonde aan Tafelberg se woordeboekafdeling en van 1996 tot 2006 was ek by Pharos, die woordeboekafdeling van NB-Uitgewers, waar ek eindredakteur was van verskeie woordeboeke en mederedakteur van onder meer die groot Pharos Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaanse Woordeboek en die Pharos Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaanse Kernwoordeboek.

Wat maak juis woordeboeke vir jou so ‘n uitdaging?
‘n Woordeboekmaker hou ‘n spieël vas waarin gebruikers kom kyk hoe die taal gebruik word. Die ideaal – en die gebruiker se verwagting – is dat die nuutste uitgawe van ‘n woordeboek altyd ‘n akkurate weerspieëling van eietydse taalgebruik sal bied. Ongelukkig is dit ‘n ideaal wat nooit ten volle verwesenlik word nie, geen woordeboek slaag ooit volkome daarin nie, want die taal is nooit staties nie. Dit verander gedurig, net soos en saam met die dikwels duiselingwekkend snelle ontwikkelings in die moderne wêreld waarin ons leef. Om met ‘n klein begroting en ‘n handjievol medewerkers aan woordeboekgebruikers die getrouste moontlike beeld van Afrikaans te bied, die woordeboek te laat tred hou met die tyd . . . Dit is die uitdaging. Die mate waarin ons dit regkry, daarin lê die groot bevrediging, wanneer ‘n nuwe woordeboek ná drie, vier, vyf, selfs tien jaar se werk eindelik verskyn. En dan begin ons weer van voor af. Dit raak ‘n roeping en ‘n lewenstaak.

Raak dit ooit vir jou vervelig om net aan woordeboeke te werk?
In die vyftien jaar wat ek by Tafelberg en Pharos was, het ek baie gereeld ook aan ander manuskripte gewerk – sowel fiksie as nie-fiksie, vir beide volwassenes en kinders. Ek het jare lank as vryskutter in Die Burger se nagkantoor gewerk, en in die ses maande voordat ek my in 2007 by Pearson, die uitgewer van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT), aangesluit het, het ek selfs ‘n draai as teksredakteur by Huisgenoot gemaak. Werk aan woordeboeke lê my die heel naaste aan die hart, maar om dit behoorlik te kan doen is ervaring van werk met die grootste moontlike verskeidenheid ander tekste onontbeerlik.

Is jy goed met blokkiesraaisels en woordspeletjies?
Ek kan nie onthou wanneer laas ek ‘n blokkiesraaisel ingevul het nie.

Hoe lank duur dit om ‘n nuwe uitgawe van die HAT saam te stel?
Die werk aan ‘n nuwe, ingrypend hersiene, bygewerkte en verbeterde sesde uitgawe het in 2008 begin. Die sperdatum vir die voltooiing daarvan is einde 2012.

Hoe werk die woordeboekmaakproses?
Voordat die werk aan HAT6 kon begin, is die teks van die vyfde uitgawe volledig ontleed. Ek het nou met ‘n programmeerder saamgewerk, elke inskrywing is rekenaarmatig gekodeer en in ‘n gesofistikeerde nuwe woordeboekwerkbank-databasis ingelaai. Die suksesvolle afhandeling van hierdie eerste fase het ons in staat gestel om verlede jaar die e-HAT, die vyfde uitgawe van die HAT, op CD-ROM uit te gee. Nou is die hooftake wat ons in die volgende twee jaar moet afhandel: die weglating van verouderde woorde en uitdrukkings; die opsporing en opname van nuwe woorde en uitdrukkings; semantiese ontleding (‘n deeglike herondersoek en omskrywing van betekenisse, betekenisverskuiwing, betekenisuitbreiding); en dan moet ons seker maak die inhoud van die woordeboek voldoen aan die nuutste Afrikaanse spelreëls.

Het jy ‘n gunstelingwoord in die woordeboek?
Nee, glad nie. Die woord wat die betekenis, die fynste nuanse wat ek op ‘n bepaalde tydstip wil oordra, die beste raakvat – as ek daarin slaag om daardie woord te vind, is dit op daardie oomblik my gunstelingwoord, of dit my nou help huil, of lag, of kla, of skel. As ‘n mens sukkel om die regte, juiste woorde te vind, hoe vertel jy vir iemand wat jy regtig op die hart het? Woordfiksheid verg oefening. Mens eet tog nie elke dag dieselfde kos nie. Trek nie elke dag dieselfde klere aan nie. Hoekom oor en oor, tot vervelens toe, dieselfde ou stopwoorde gebruik as daar in Afrikaans, en in die HAT, nog soveel ander is om van te kies? As van Afrikaans se lui Englikaanse kodewisselaars tog net weer woordproewers wou raak! Roosmaryn, katjiepiering, koekemakranka, vergeet-my-nietjie; doringdraad, donderweer, vonkpos, selfoonlaaier. . . ‘n Mens se moedertaal lê anders, knusser, op jou tong as enige ander taal.

Is daar ‘n eienaardige woord wat nie algemeen bekend is nie, wat nou in die nuwe uitgawe van die HAT sal verskyn?
Eienaardige woorde word gewoonlik nie dikwels gebruik nie. As ‘n woord nie algemeen inslag vind nie, sal ons dit nie opneem in die hoop dat gebruikers in die woordeboek daarop sal afkom en dit dan sal begin gebruik nie. Nuwe, nodige, funksionele woorde wat algemeen gebruik word en nog nie in die vyfde uitgawe van die HAT opgeneem is nie, dié moet plek in die nuwe uitgawe kry: biobrandstof, blog, koolstofvoetspoor, die menslike genoom, lugtyd, makarapa, mikrofinansiering, realiteitsprogram/werklikheidsprogram, skottelbraaier, vuvuzela. Die hooffunksie van die HAT is om die “standaardvorm” van Afrikaans te weerspieël. Dit beteken nie ‘n verhewe vorm wat geskryf en gepraat behoort te word nie; bloot die verteenwoordigende vorm van Afrikaans soos dit vandag algemeen geskryf en gepraat word. Dit bepaal ons met behulp van woordelyste, frekwensietellings en gebruiksvoorbeelde uit elektroniese korpusse van eietydse taalgebruik. Ons vernaamste bron is die geskrewe vorm van Afrikaans, soos dit in die gedrukte media (Afrikaanse koerante, tydskrifte en boeke) neerslag vind. Ons gee ook aandag aan gesproke Afrikaans soos dit oor die radio en televisie gebruik word. Benewens die papieruitgawes is van die onmisbare bronne wat ons daagliks fynkam, die internetargiewe van Afrikaans se belangrikste koerante (Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport), die webtuistes van al die verskillende Afrikaanse tydskrifte (vanselfsprekend ook Sarie), LitNet, en nog baie meer. Daarby het die HAT sy eie, groeiende taalbank van Afrikaanse manuskripte wat die afgelope vyf jaar by twee boekuitgewers verskyn het, ‘n tydskrifkorpus en ‘n korpus van al die skoolboeke en universiteitshandboeke van Suid-Afrika se twee grootse opvoedkundige uitgewers.

Waarom die uitbreiding van die HAT tot ‘n familie HAT-woordeboeke?
Die HAT is al dekades lank Afrikaans se bekendste, mees geliefde woordeboek. In 2008 het Pearson besluit om ‘n nuwe woordeboekafdeling te begin en HAT as druknaam van ‘n reeks nuwe woordeboeke en taalprodukte te vestig. Ons fokus op belangrike leemtes in die mark. Afrikaans het dekades lank geen behoorlike skoolwoordeboek gehad nie. Ook min ware woordeboeke vir kinders. Die meeste Afrikaans-Engels-skoolwoordeboeke is erg verouderd. Deur deurlopende navorsing en grondige ontleding van eietydse taalgebruik, in samewerking met taal-, onderwys- en ander vakkundiges, wil ons van hierdie leemtes help vul.

Vir gebruikers van 2 tot 8 jaar het reeds My eerste HAT verskyn, ‘n skitterende herskrywing deur die bekroonde digter Daniel Hugo van die Nederlandse woordeboekuitgewer Van Dale se Mijn eerste Van Dale. Dit is ‘n vrolike woordeboek waaruit grootmense aan kinders kan voorlees, waarin die kind kan saamlees, en wat hy of sy later self kan lees. Die betekenis van elke woord word deur ‘n prettige volkleurtekening deur die Nederlandse illustreerder Paula Gerritsen en ‘n rymende versie verduidelik.

Nog twee lede van die nuwe HAT-familie, die HAT Afrikaanse skoolwoordeboek en HAT Afrikaanse sakwoordeboek (die skoolwoordeboek in ‘n kleiner formaat), het begin vanjaar verskyn. Hierdie nuwe woordeboek is spesiaal saamgestel vir leerders van Afrikaans as huistaal en eerste addisionele taal. Dit is in skole getoets en deur taalkundiges, onderwysdosente en onderwysers goedgekeur. Om die gebruik van die woordeboek in die klaskamer te ondersteun, kan ‘n groeiende versameling woordeboekaktiwiteite en -speletjies van ons webtuiste – www.longman-hat.co.za – afgelaai word. (Longman, ‘n bekende uitgewer van Engelse woordeboeke, is HAT se susteruitgewer by Pearson en ons werk ook aan ‘n nuwe, Engels-Afrikaanse HAT-Longman-skoolwoordeboek. Dit behoort volgende jaar die lig te sien. Wees ook op die uitkyk vir ‘n nuwe Afrikaanse gids waaraan ons meewerk en wat later vanjaar in Pearson se X-kit-eksamenhulpreeks verskyn.)

Lees jy enigsins ander boeke vir ontspanning?
Vir seker. Mees onlangs: Baie melk en twie sykers (Anastasia de Vries), Die benederyk (Ingrid Winterbach), Dis koue kos, skat (Marita van der Vyver), The Elegance of the Hedgehog (Muriel Barbery), Solar (Ian McEwan).