FOTO: verskaf

Boeke

Jannie Putter help ouers om uitdagings te trotseer

Ouerskap is deesdae baie moeilik, want vandag moet ouers baie uitdagende omstandighede trotseer. Kinders leef nou baie anders as ’n paar jaar gelede weens die ontwikkeling van tegnologie in die digitale era.

Jannie Putter is ’n kundige op die gebied van mentorskap vir kinders en het al ’n hele paar boeke oor die uitdagings wat kinders in die oë staar, geskryf. In sy jongste boek, Wenplan vir jou kind se lewe (Christelike Uitgewersmaatskappy, R119,95) deel hy waardevolle wenke wat ouers se lewe kan vergemaklik. Ouers kry in sy boek die gereedskap om hul kinders te help om hul volle potensiaal te bereik. Putter, ’n ervare sportsielkundige, gebruik sy ervaringe as ouer om ander te mentor oor die verskillende uitdagings van ouerskap. Ouers moet uit hierdie boekie praktiese antwoorde kry op hul vrae. Mari Rheeder het met Jannie gesels oor sy boek

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

.

Hoekom dink jy is daar ’n behoefte aan so boek?
Deur die jare is dit nog altyd dieselfde – mense kry kinders en hulle wil ALLES vir hul kinders doen om te sorg dat die kinders ’n sukses van hul lewens maak. Die meeste mense besef egter nie dat jy nie ’n kind suksesvol kan maak nie. Kinders word wat hulle sien by ouers. Die vraag is: “Wat sien hulle by ons?” Daarom weet ek ons moet begin by die begin – by ons kinders in ons eie huise!

Hoekom dink jy het kinders vandag soveel emosionele probleme soos depressie? Waar begin dit?
Een van die grootste redes is dat ons deurentyd gebombardeer word met nuus van geweld en wetteloosheid wat soos ’n veldbrand versprei. Die hoë egskeidingsyfer beteken natuurlik baie meer emosionele geweld en teleurstelling – iets wat kinders in huise waar egskeidings plaasvind persoonlik ervaar en beleef. Ons sien op televisie meer en meer tonele van geweld en wetteloosheid en die realiteitskanale waar die “slegte” kant van die lewe vir ons gewys word. Ons kinders begin hoop verloor op hul toekoms.

Hoe moet ouers so iets hanteer?
Ouers moet seker maak dat ons in ons eie huise “gesond” leef – in vrede, met hoop en volgens sterk morele waardes. Depressie beteken dat ’n mens net “duisternis” sien. In plaas daarvan om ons kinders gedurig bewus te maak van die “slegte” nuus – doen moeite en soek dinge op waar oorwinnings gebeur, stories van hoop en die verhale van mense wat dit gemaak het ten spyte van slegte omstandighede.  Ons moet ons kinders vul met hoop.

Hoe gemaak met jou kind wat teveel tyd spandeer op die web? Hoe kontroleer mens dit?
Tegnologie is deel van hierdie era, maar ons hoef nie al ons tyd daaraan te spandeer nie. Solank ’n kind in jou huis bly het julle mos ’n ooreenkoms oor wat in die huis gebeur en wat elkeen se rol is. Wanneer daar ’n ooreenkoms in ’n huis bestaan, is dit nie moeilik om kontrole uit te oefen oor die gebruik van die web nie. Sorg dat daar geleenthede is waar die familie elke dag saam dinge doen.  Dis nie onderhandelbaar nie; geen persoonlike voorkeur word voor die GESIN geplaas nie.

Dink jy hoe mens as ouer optree kan sekere sosiale gedrag wat by kinders voorkom, soos selfmoord, seksuele-misbruik, alkoholmisbruik voorkom?
Verseker. Ouers het ’n plig om nie stil te bly oor die uitdagings, die versoekings en die gevolge daarvan in ons lewens nie. Elkeen van ons het deur dinge gegaan as kind waaroor jy gewonder het, foute wat jy gemaak het en dinge waaroor jy spyt is. Hierdie lesse van die lewe moet ons aan ons kinders oordra sodat hulle nie dieselfde foute hoef te maak nie. Ongelukkig bly die meeste ouers stil oor hul foute van hulle kinderjare en hoop hulle kinders sal beter besluite neem. Moenie wag dat jou kind van sy/haar maats leer van seks, masturbasie en pornografie en so aan nie. Bespreek dit met jou kind en bespreek die nagevolge van elkeen met jou kind.

Pas jy dit waaroor jy skryf toe op jou kinders se lewe?
Ons DOEN die lewe elke dag.  Ons herinner mekaar elke dag aan die klein “disciplines” wat ’n groot verskil maak.  Ek wens soms ek kon mense nooi om net een dag saam met ons deur te bring. My kinders inspireer my!

Waar kom jy aan die onderwerpe wat as hoofstukke gebruik word in hierdie boek?
Dis daaglikse vraagstukke wat ek in my kantoor hanteer met kinders en ouers. Dis ’n werklikheid in soveel gesinne se lewens. Baie van ons is dikwels te trots om hulp te vra. Ek kom uit so gesin en om uit die “tradisionele Afrikaner-kultuur van min praat oor persoonlike sake” te kom, was ’n ware kopskuif.

Hoeveel navorsing moes jy doen vir jou boek?
Ek werk die afgelope 19 jaar in my eie praktyk met derduisende kinders.  Ek tree op by baie skole en werk met talle sportspanne. Navorsing is altyd vir my fassinerend en statistieke gee ons duidelike tekens van simptome. My soeke is na die oplossings, die wortel van die simptoom.

Wat dink jy is die grootste fout wat ouers maak rakende hul kinders se opvoeding?
Hulle wil dit vir hulle kinders “maklik” maak sodat die kinders nie die “swaar” hoef te beleef wat hulleself moontlik as kinders deurgemaak het nie.