die_verdrinking_van_josua_van_eeden
Boeke

Top-5 jeugverhale

Daar is deesdae dinge soos lewensgevaarlike rekenaarspeletjies, verbrokkelende gesinne en varkgriep en ander viruse! En moenie vergeet van die druk wat vriende op mekaar plaas nie. Die week se boeke raak aan baie van dié kwessies.

Die verdrinking van Josua van Eden, Carina Diedericks-Hugo (Umuzi, R120)
Josua van Eden is ‘n tipiese tiener. Verveeld met skool, opgepiekel met seunspêlle wat net in meisies belangstel en dan het hy nog ‘n computer nerd vir ‘n boetie en ‘n sosiale vlinder vir ‘n sussie. Sy pa en ma is ook maar vreemderig. Om als te kroon word die tienerjarige blonde bom, Titania, deur haar voogde gedump by die Van Edens. Josua is skielik nie meer so verveeld nie.

Hy raak betrokke by ‘n lewensgevaarlike “game master”-spel wat met behulp van selfone en rekenaars gespeel word. Gooi daarby in alle ander tienergoed wat gebeur (partytjies sonder ouertoesig, skoolgevegte, ens.) en jy het ‘n boeiende verhaal. Bestel die boek by Kalahari.

Lien se lankstaanskoene

Lien se lankstaanskoene, Derick van der Walt (Tafelberg, R110)
‘n Aangrypende verhaal van ‘n tienermeisie wie se gesin uitmekaargeskeur word deur ‘n egskeiding. Lien Jooste moet aanpas in ‘n nuwe skool, met ‘n ma wat ‘n hengse drankprobleem ontwikkel het en ‘n jonger broer wat versorg moet word.

Sy het nie eintlik ‘n ondersteuningsnetwerk van vriende en familie nie, maar stadigaan raak ander mense betrokke by haar dilemma. Sy self maak ongewone planne om geld te verdien. Dit lei tot vreemde vriendskappe wat haar help om haar trauma te verwerk.

Een van die lekkerste jeugverhale wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Bestel die boek by Kalahari.

Virus

Virus, Jaco Jacobs (Lapa, R80)
As jy hou van futuristiese verhale is hierdie een vir jou. ‘n Onbekende virus breek uit en tas mense oor die hele wêreld aan. Hulle verander in ‘n soort zombie wat die mense wat nie deur die virus geraak is nie, aanval en vermoor.

Sewentienjarige Jake se lewe word omvergewerp. Die stad word verwoes rondom hom. Hy is een van die enigste oorlewendes. Hy besluit om na sy pa te gaan soek, waar dié in die Karoo ‘n dokumentêr maak. Sy paaie kruis met ander oorlewendes en hy vertel almal se verhaal uit sy oogpunt.

Jy sal maar self moet lees om te sien of hy die ekspedisie oorleef. Die boek is ‘n aksiebelaaide mengsel van fiksie en strokieskuns. Bestel by Kalahari.

Spore in die Arep

Spore in die Arep, Marie Reyneke (Human & Rousseau, R79,95)
Uschi, ‘n Duitse meisie, maak vriende met Wessel op Facebook. Vir drie jaar is dit die manier hoe hulle mekaar leer ken. Sy leer selfs Afrikaans. Dan vra sy hom of hy haar sal help om haar oupagrootjie se graf in Namibië te gaan soek. Haar oupagrootjie was ‘n soldaat tydens die Duits-Nama oorlog en het op die plaas Arep gesneuwel.

Wessel vra vir Jurgen, die plaaseienaar se seun, om hulle te help. Lukas, die jong Nama wie se familie al jare op die plaas woon en werk, is deel van die soektog. Om dinge te kompliseer kom Wessel se meisie ook nog saam. En dan is daar die vreemde Engelse kind Donovan wat homself bloot saamgenooi het.

Lekker baie aksie tussen die karakters met ‘n opwindende kinkel wat deur Lukas geskep word.

Fred se storie

 Fred se storie, Lien Roux-De Jager (Protea, R130)
Arme Fred het dit maar hotagter in die lewe. Hy is nou nie die mooiste ou wat daar is nie en boonop is hy amper so blind soos ‘n mol sonder sy bril. Dan is hy ook nogal naïef oor die lewe. Hy woon by sy ouma en oupa ná sy ouers geskei is. Sy ma is weg saam met ‘n nuwe man en Fred is nie heeltemal welkom in hul nuwe lewe nie.

Fred besluit om sy eie geluk te soek in die lewe en hike dan Kaap toe om na sy pa te gaan soek.

Treurmare op treurmare – Fred word beroof van al sy besittings en word dan deur die barmhartige Samaritaan, Vusi. gehelp. So beleef hy ‘n hele spul ervarings en dan het Fred uiteindelik ook ‘n eie storie.