FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Jy hoef nie aftrede te vrees nie.

Baie mense vrees aftrede weens verskeie redes. Die grootste vrees is of jy genoeg geld gaan hê om jou aftrede te kan geniet.

Vir ander mense is dit weer kommer oor hoe hulle hul tyd gaan benut, en of hul lewensmaat se verwagtinge oor aftrede dieselfde is as hulle s’n. In haar boek oor aftrede, Retiremeant (Jacana, Kim Potgieter met Giselle Willcox, R225) sê Kim Potgieter dat aftrede gaan oor effektiewe beplanning, nie net oor die geld-aspek nie, maar veel eerder oor hoe jy jou lewe tydens aftrede gaan bestuur. Die oorgang van ’n aktiewe beroepslewe na aftrede is genoeg om menige persoon in ’n diep donker put te laat beland, want ewe skielik het jy nou baie tyd op hande en niks om jou mee besig te hou nie. In hierdie praktiese, toeganklike werkboek neem sy jou deur ’n stap-vir-stap proses van alles waarna jy moet kyk en al die vrae wat jy vir jouself moet vra oor aftrede. Sy deel mense se persoonlike verhale rondom aftrede as gevallestudies vir praktiese oefeninge waardeur die leser moet werk. Die fokus van die boek is hoe jy meer betekenisvol kan lewe tydens aftrede en hoe jy jou geld moet aanwend om jou daarvoor te bemagtig. Ek het per e-pos met Kim gepraat.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Wat laat jou kop werk?
Mense. Ek is mal daaroor om mense te sien wat werklik lewe en nie net bestaan nie.
Ek is passievol daaroor om ander te inspireer om ’n betekenisvolle lewe te lei, veral tydens aftrede, en om hulle te laat te verstaan hul verhouding met geld is ’n aktiveerder om hul drome waar te laat word. Ek is ook ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en direkteur by ’n finansiële beplanningsmaatskappy in Johannesburg. Ek is ’n eggenote, ma, vriend, familielid, lewenslange leerder, prolifieke reisiger en geesdriftige kok.

Waarom is jy so passievol oor aftrede?
Albei my ouers is oorlede voordat hulle kon aftree. Hulle het gereeld gesê: “Wanneer ek aftree, sal ek . . .” Dit het my passie versterk om te weet dat hulle nooit daardie drome volbring het nie.
In my reis om ’n finansiële beplanner te word, het ek heelwat geleenthede oor aftrede bygewoon – en almal het ’n donker prentjie oor aftrede geskilder, toegespits op geld en hoe om te belê.
Ek dink aftrede was vir lank iets wat met jou gebeur. Dit was beskou as ’n einde, eerder as ’n begin. Ek moedig kliënte aan om NA iets toe af te tree, nie VAN iets nie, en om die tweede helfte van hul lewe te sien as ’n gulde geleentheid om hul onvervulde drome te bewaarheid, in hul eie tyd en op hul eie terme. Aftrede is nie wat dit was nie en gelukkige en vervulde afgetredenes (mense wat miskien nooit ophou werk nie) kan ’n gemeenskap transformeer.

Hoe het jy die skryf van die boek benader en hoe lank het dit jou geneem?
Die boek het vir ’n paar jaar in my kop gebroei. Ek het geweet hierdie boodskap kan mense se lewens radikaal verander. Ek kon dit sien in die lewens van kliënte wat reeds deur die lewensbeplanningsproses gegaan het. Die inhoud het oor drie jaar vorm gekry. In 2012 het ek eindelik besluit om pen op papier te sit en die hulp van ’n skrywer ingeroep om my te help om my idees in woorde om te sit wat lesers graag sou wou lees. Die finale proses het ’n jaar geduur.

Wat het jy oor jouself geleer deur die skryf van die boek?
My betekenisvolste les is iets wat Walt Disney gesê het: “Jou drome kan waar word, as jy die moed het om dit deur te voer.” Die idee dat finansiële beplanning sonder enige lewensbeplanning nie genoeg is nie, het 20 jaar gelede reeds in my kop rondgewoel. Om by die skryf van die boek uit te kom het jare se ervaring, en gesprekke met mense wat aftree en kenners van aftrede, geneem. Ek het byna nie die boek geskryf nie, omdat ek getwyfel het dat ek ’n skrywer kan wees. Maar Disney se aanhaling het my aangespoor om deur te druk.
Na die publikasie van my boek, laat dit my nog meer glo in moed en deursettingsvermoë en om mens se innerlike stem te volg waarheen dit jou lei.

Wie is jou grootste mentor?
Dis moeilik om een uit te sonder. My persoonlike krag lê daarin dat ek ’n leerder is. Ek moet Colleen-Joy Page krediet gee vir die onskatbare waarde van haar mentorskap wat my gehelp het om in my eie kragte in te tap. Sy het my aangemoedig om die beste ek te wees deur geloofwaardig te wees.
Mitch Anthony, Amerikaanse skrywer van The New Retirementality en baie ander boeke oor lewensbeplanning, het my gementor en geleer wat die lewensbeplanningsproses is; hy het sy filosofie met my gedeel en my aangemoedig om sy werk te integreer met myne.

Wat is die grootste wanopvatting wat mense het wanneer hulle vir hul aftrede beplan?
Om nie vir aftrede te beplan nie, is ’n besliste manier om ’n ellendige aftrede te hê. Mense beplan nie, moontlik omdat hulle vrees wat aftrede vir hulle kan beteken. Mense besef nie hoe groot oorgang aftrede is nie. Hulle het ’n idee van dis meer tyd vir gholf, bietjie reis, etes met vriende, maar hulle maak nie tyd om ’n ware prentjie te skep van wat hulle regtig in hulle aftrede wil hê nie. Die goeie nuus is daar’s baie voorbeelde rondom ons van hoe ons nie wil aftree nie! Om ’n betekenisvolle lewe na aftrede te hê, is makliker as wat ons dink, ons moet net tyd maak vir beplanning.

Wat is die grootste fout wat mense oor geld maak?
Die omvang van mense se verhouding jeens geld is gegrond op hul heel eerste geld-herinnering wat hul besluite en houding teenoor geld bly vorm wanneer hulle volwasse is, en dikwels ook in aftrede. Die gevolg is dat baie mense toelaat dat geld hul meester word, eerder as hul dienskneg. Hulle laat toe dat dit dikteer hoe hulle hul tyd bestee en waar hul prioriteite lê, en hoe hul hulle verhoudings bestuur . . . en hulle beplan vir aftrede volgens hul geld. Ja, geld is belangrik in aftrede, en jy moet vroeg begin beplan sodat dit jou in staat kan stel om die lewe te lei wat jy wil hê. Maar dis al wat geld is, ’n bemagtiger. Ek vra dikwels vir mense: “Wat moet die geld waarvoor jy jou hele lewe lank hard gewerk het vir jou doen?”

Wat is die beste raad wat jy in jou lewe gekry het en wat jy daagliks koester?
Toe ek een maal getwyfel het of ek braaf genoeg was om iets aan te pak, het Colleen-Joy Page my gevra: “Wat is die ergste wat kan gebeur? Sou dit gebeur, kan jy dit hanteer?”
Dink vir jouself: as jy dit kan hanteer, en ek sê altyd jy kan, doen dit dan! Die ergste ding wat kan gebeur, is om nie iets te doen nie. Ek sien meer mense wat teleurgesteld is oor die dinge wat hulle nie in hul lewe gedoen het nie, as die dinge wat hulle wel gedoen het.

Hoe wil jy eendag aftree?
Ek ag myself reeds as afgetree. Ek doen waarvoor ek lief is, op my eie terme en in my eie tyd. Ek geniet elke dag en sal graag wil aanhou om ander te help om betekenisvolle lewens te lei so lank ek kan!