FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Boeke

Jy kan egskeiding oorleef!

Wat doen jy om emosioneel te oorleef as jy skielik met ’n versoek vir ’n egskeiding gekonfronteer word? Daardie donker dae wanneer jou hele lewe ineenstort en jy voel asof jou hele lewe in splinters gespat het …

Vir Stacey Lewis van Johannesburg het haar man se versoek om ’n egskeiding as ’n geweldige skok gekom. Sy was salig onbewus daarvan dat hy ongelukkig in hul huwelik was en toe hy haar doodluiters om ’n egskeiding vra, het dit uit die bloute gekom. Sy beskryf in haar boek, Divorce 101: Survive & Thrive (Batya Bricker Book Projects, R250) hoe sy letterlik en figuurlik uitmekaar geval het. Binne enkele weke het sy 35 kg verloor, want sy kon nie sluk nie. Sy het haar lus vir die lewe verloor en was gereed om ’n einde aan haar eie lewe te maak. Ongelukkig vir haar kon haar man net nie tot die punt kom om uit te trek en aan te beweeg nie. Die onsekere maande wat gevolg het, het haar gek gemaak – totdat sy dit nie meer kon hanteer nie en self vir hom gesê het hulle moet nou skei. Vir haar was die maande daarna een groot verwarring van slapeloosheid, kettingrokery, nie eet nie en huil van die oggend tot die aand. Haar deperaatheid om tog net beter te voel, het gemaak dat sy by verskeie mense om hulp gaan aanklop het, ’n sielkundige, ’n maatskaplike werker, verskeie leefstyl afrigters en ander genesers. Dit was die moeite werd, want dit het haar op ’n pad van oorlewing en genesing geplaas en beskryf sy haarself vandag as ’n oorwinnaar van egskeiding. Die uiteinde van haar ervaring is hierdie boek, ’n handleiding waarin egskeiding van begin tot einde onder die loep geplaas word. Hierin word persoonlike verhale, lesse, advies en ondersteuning deur professionele leefstyl afrigters en sielkundiges gedeel. Die boek is toeganklik, direk en eerlik en sal as ’n hulpmiddel dien vir enigeen wat die stukke van hul lewe weer bymekaar wil maak ná of tydens egskeiding. Stacey se ervaring het gemaak dat sy The Divorce Source begin het, ’n plek waar geskeide vroue en vroue wat besig is om te skei om hulp kan aanklop vir ondersteuning. www.thedivorcesource.co.za

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Stuff that sucks, Ben Sedley (Little Brown, R240)
’n Klein boekie met ’n belangrike boodskap. Dit fokus op die emosies waardeur tieners gaan wat maak dat hulle een oomblik sielsgelukkig is en die volgende oomblik hul polse wil sny. Om die minste te sê, dis ’n wilde rit – en nie een wat altyd pret is nie. Vra maar vir enige ouer wat tieners in die huis het! Die ding wat tieners dan die minste wil hoor, is ‘toemaar, almal gaan hierdeur’. Dis vanuit hierdie oogpunt wat die sielkundige Sedley dié boek skryf. Hy ondersoek die verskillende gedagtegang en emosies waardeur tieners leef en beskryf dit op ’n nugtere en logiese manier. Hy is ’n aanhanger van Acceptance and Commitment Therapy (ACT) waardeur mens geleer word om pynlike gedagtes en gevoelens effektief te hanteer sodat dit ’n baie kleiner impak het en ’n kleiner rol in jou lewe speel. Die tegnieke wat hy jou leer, help jou om te besluit wat belangrik en betekenisvol vir jou is sodat jy daardie kennis kan gebruik om jou lewe in ’n beter rigting te stuur. Die tegnieke word in die boek bespreek. Die boek is vir tieners, maar dis ook vir enigeen wat betrokke is by tieners; of jy ’n ouer of ’n onderwyser is, jy sal baat vind hierby. Wat my van die boek beïndruk, is dat dit nie net een opinie in jou keel af forseer nie, maar jou lei om self ’n afleiding te maak.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Dink en eet jouself slim, Dr. Caroline Leaf (Christelike Utgewersmaatskappy, R249,95)
Ek dink die een ding waaroor meeste vroue bekommerd is, is gewig. As mens maar kyk hoeveel boeke daar in die mark is wat die of daardie dieet aanbeveel. Maar hoe kies jy uit die derduisende die een wat die beste is? Dis waar hierdie boek inkom. Dr. Leaf help jou om besluite te neem oor kos, want elke mens het sy eie unieke voedingsbehoeftes. Sy kyk na hoe sleg tradisionele eetgewoontes vir jou is en wil hê jy moet kennis hê wat jou sal help om ’n ingeligte en gesonde besluit te maak. Jy moet dink oor wat jy eet: waar kom die kos vandaan? Is dit organies? Is dit geprosseseer? Kan jy herken wat dit is? Vir haar gaan dit oor ’n ingesteldheid oor kos, gesondheid, genesing en voedinsgwaarde. Die boek bestaan uit drie dele:
– Erken dit! – ondersoek die probleme met ons hedendaagse eetgewoontes.
– Stop dit! – fokus op die krag van ons denke en die impak van toksiese gedagtes en kos op ons liggaam en verstand.
– Oorwin dit! – kyk na leefstyl-veranderinge wat jou sal help om jouself slim te eet en bied 21 wegspring-resepte.
Die hoofstukke oor slaap en suiker is insiggewend en laat jou dink oor hoe jy leef. Die boek is vir almal wat ernstig voel oor bewustelik gesond leef.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Omvattende swangerskap-, geboorte- en ouerskapgids, Suster Lilian (Human & Rousseau, R330)
As jy daaraan dink om swanger te raak en jy het voorbehoude, dan is hierdie boek vir jou. Suster Lilian beantwoord al jou vrae wat jy oor swangerskap kan hê. Die eerstepaar  hoofstukke wei sy aan of jy gereed is vir swangerskap en wat jou fisieke en emosionele voorbereiding behels. Dit geld nie net vir ’n eerste baba nie, maar ook vir nommer twee. Op haar webwerf skryf sy oor die boek: “Daarom bied dié boek dit wat ek glo die noodsaaklikste feite is, asook menings en wenke wat jou sal help om ouerskap te geniet.” Ander afdelings in die boek gaan oor die geboorte en kind grootmaak, alles wat jy wil weet van kindersiektes, borsvoeding, koors en allergieë en nog baie ander onderwerpe. Dis regtig nuttige raad vir enige onervare ouer en behoort sommer byderhand gehou te word in die babakamer.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

The Precious Years, Jacqui Cooper (Struik Lifestyle, R220)
Hierdie boek fokus is geskryf deur ’n arbeidsterapeut met jare se ondervinding, en sy is ook ’n ma. Dis belangrik dat ’n kind in die eerste drie jaar van sy lewe sekere mylpale bereik, want dis die boustene vir sy toekoms. So, die ontwikkeling van die kind moet dop gehou word om te sien of die kind wel die mylpale bereik. Die inligting wat sy hier deel, het sy versamel uit die vrae en besprekings wat sy gehad met met ma’s uit verskillende agtergronde wat na kinders omgesien het. Uit hierdie vrae kon sy ’n beeld saamstel van wat die vrae is waaroor alle ma’s wonder oor die ontwikkeling van hul baba’s. Sy het ook navorsing gedoen om die nuutste tendense by te werk. Sy bespreek wat kinderontwikkeling en mylpale van die verskillende ouderdomsfases van die kind behels. Agter in die boek verskaf sy ook ’n lys van webwerwe, boeke en organisasies waar ouers nog hulp kan kry. Die boek is in eenvoudige en verstaanbare taal en die uitleg daarvan maak dit maklik om te gebruik.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

A Mindfulness Guide for the Frazzled, Ruby Wax (Penguin RandomHouse, R300)
Meeste van ons jaag van die een plek na die volgende en dis die een stres op die ander. Ons ervaar nie die lekker van ons lewe nie, want ons is die heeltyd net een bol stres. In hierdie baie leesbare boek help Ruby Wax ons om kalm te raak, of so kalm soos jy kan. Sy verduidelik hoe die brein werk en hoe aandagtigheid jou breinwerking kan affekteer. Om die begrippe te verduidelik gebruik sy voorbeelde uit haar eie lewe en dikwels is van die voorbeelde nogal snaaks, maar terselfdertyd hartverskeurend. Mens kan jou met haar vereenselwig, omdat baie van die dinge waaroor sy stres ook dinge is waaroor ons self stres. Sy gee vir jou die gereedskap om stres bewustelik te hanteer. Stres sê sy (en ander kenners) is die siekte wat in die toekoms sy tol onder mense gaan eis. Sy leer jou hoe om te fokus, want dit gaan jou kalmeer om meer bewustelik en aandagtig te leef. Sy gee praktiese oefeninge wat jy elke dag in jou lewe kan toepas om ’n gelukkiger lewe te lei met minder stres.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Skoon & Skraal Dieet, James Duigan (Metz Press, R235)
Die bekende model, Elle Macpherson, het saam met die afrigter, James Duigan, gewerk met haar oefenprogram. Sy het gehou van sy benadering tot oefen en sê in die voorwoord van hierdie boek: “James se benadering is eenvoudig en sonder foefies. Hy werk van binne na buite: deur die suiwering van liggaam en gees, en deur afwisselende oefening.” Volgens haar was sy gou fikser as ooit in haar lewe. Hy is nou al 20 jaar lank deel van haar lewe as afrigter en soos sy skryf, gaan hy nog lank deel wees. Die eerste afdeling van die boek is die skoon-seksie waarin hy sy eetfilosofie bespreek, dat diëte tydmors is en dat kos een van ons vernaamste lewensbronne is. “Dit voed ons, hou ons sterk en kan ons uitsonderlik goed laat lyk en voel omdat dit ons opbeur en ons energievlakke verhoog.” Jy moet kos as jou vriend beskou, nie as jou vyand nie. Dit gaan vir hom oor jou verhouding met kos. Hy bespreek die nadele van suiker, kaffeïen, alkohol en verwerkte voedsel. Deel Twee is die skraal-seksie waarin hy eetplanne met resepte, skoonheidswenke en oefeninge bespreek.As jy sy 14-dag-detoks- en eetprogram volg, kan jy jou lyf vorm sonder om ingewikkelde reëls te volg.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Pharos Afrikaans vir Almal, Isabel Uys (Pharos, R245)
Die naslaanboek is gemik op leerders en behandel al die onderwerpe wat KABV vereis vir Afrikaans Huistaal en Eerste en Tweede Addisionele Taal in een volume. Uys sê in die voorwoord die boek is ’n nuttige taalgids en bevat inligting wat wissel van baie eenvoudig tot meer ingewikkeld. Die eerste deel handel oor taalreëls en naslaanlyste en die tweede deel bevat algemene inligting wat hoofsaaklik oor Suid-Afrika handel. Dis onderwerpe soos die hoofstede van die land, die vlag, die provinsies, die landswapen en volkslied, sowel as die nasionale simbole van die land en die amptelike tale. Die boek is ook beskikbaar in Engels as English for All.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

101 Inspirasie-Oomblikke, Lindie Strydom (Christelike Uitgewersmaatskappy, R179,95)
Lindie vra in die voorwoord van haar boek watter tipe inligting neem jy in in jou lewe, verdiep dit jou lewe of verflou dit jou lewe. Sy vra ook dat jy moet dink aan wat jy oor ander mense se lewens uitspreek. Vir haar gaan dit in hierdie boek met sy 101 inspirasie-oomblikke oor die soeke na God se hart. “Dit is eintlik een lang waarneming van iemand wat in verwondering staan oor God se werk in die lewens van mense wat ek raakleef en stories wat ek raakhoor.” Dis die dinge waaruit sy self inspirasie put wat sy met lesers deel. Elke dagstuk begin met ’n kerngedagte wat sy dan met Skrifverwysings bind.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

#KiesDieLewe, Johan Smit (Christelike Uitgewersmaatskappy, R190)
Die boek met oordenkings wat inspireer, is gemik op jongmense. Elkeen van de oordenkings word met ’n hutsmerk aangedui, soos byvoorbeeld: #2 Fokus op ander mense se geluk, #4 Moenie moed opgee nie, #13 Kies vir uitdagings en avontuur en #80 Die geveg tussen jou ore.  Dan gebruik hy die lewenslesse van uiteenlopende rolmodelle waaronder Gary Kirsten, Penny Heyns, Boeta Dippenaar, Natalie du Toit en selfs moeder Teresa is. Die lewensles by Gary Kirsten gaan oor mens se waardestelsel. “Gary beskou roem en die bekendheid van bekendes as ’n rookskerm. Dit vrywaar jou nie van uitdagings in die lewe en seer en swaarkry nie.” Die lewenslesse is toepaslik en sal spreek tot jongmense.