Boeke

5 Boekminute met Karin Brynard

Ek wil nie die storie weggee nie en daarom gaan ek net sê: Gaan koop die boek sommer nou en begin dadelik lees. Jy sal nie spyt wees nie. (Vir my indrukke oor die boek, sien my keuse van Top 5- lekkerleesboeke.) Ek het per e-pos gedagtes uitgeruil met Karin oor haar skryfwerk.

Plaasmoord is jou debuut Waarom juis ‘n spanningsverhaal aanpak?
Dis nou heel maklik – dis waarvan ek hou. Ek lees sedert kindsbeen hoofsaaklik spanningsverhale. Ja, ek is darem ook lief vir gewone stories en meer literêre soort boeke, maar as ek in ‘n boekwinkel instap, is dit altyd eerste na die afdeling met die bloederige boekvoorblaaie.
Ek self is ‘n groot, vet sissie. Skrik vir my eie skaduwee en gaan aan ‘t bewe as ek soveel soos ‘n pistool net sien, wat nog afvuur.
Maar ek is dol oor boeke wat my adrenalien aanjaag. Of wat ‘n raaisel inhou wat teen spoed en gevare in, opgelos moet word.

Was die oorskakeling van joernalistieke skryfwerk na kreatiewe skryfwerk ‘n moeilike proses?
Vreeslik, man!
Jy weet, as joernalis word jy gegiet in die streng vorm van feite, feite, feite. So dis vrek moeilik om skielik liksens te kry om soveel stertjies aan te las en spek te skiet soos wat jy wil.
En feite is lekker goed – want dis niks van jou nie. Jy doen ‘n artikel oor armoede of Vigs of ontgroening op die kampus, en dit hou in die versamel van feite en die neerskryf daarvan. Punt. Jy self, as persoon, bly egter verborge agter die drama van ander se lewens en lotgevalle.
Maar met romanskryf steek jy jou nek skielik ver uit. Elke woord op papier is jou eie maaksel en jy moet daarvoor verantwoording doen.
Toe ek aan Plaasmoord begin het, het ek die veiligheid van feite gemis. Ek wou kort-kort my verhaal toevou in feitelikhede. Maar doen jy dit, raak jou verhaal so droog soos ‘n bek vol saagsels. En dít wil ek darem niemand aandoen nie. Inteendeel, ek wou die soort storie skryf wat my eie hart laat klop soos tjoklits: ‘n Boeiende raaisel wat jou behoorlik laat naels kou. Dit mag ook maar ‘n bietjie pitkos gee – soos ek in Plaasmoord probeer doen het – maar die storie en die naelskouery kraai deurgaans koning.

Waarom het jy spesifiek plaasmoorde as ‘n sentrale tema gekies?
Seker omdat dit vir my so ‘n nagmerrie-gegewe is. Die stilte en afgeleënheid van Suid-Afrikaanse plase – veral in die Noord-Kaap waar my verhaal hom afspeel – dra vir my daartoe by.
En dan is daar die politieke hoek – en by name dié van grond. Dis só ‘n rou kwessie. En een wat al soveel eeue teruggaan in die geskiedenis van hierdie land, terug na die San wat oor die milennia heen stadig maar seker van die grond afgejaag is – eers deur swart groepe wat voortdurend nuwe weiding moes bekom en daarna deur blanke setlaars – dat die joernalistieke nuuskierige agie in my die saak van hoek tot kant wou deursoek. En watter beter dekmantel is daar nie as ‘n roman nie?

Hoe het jou karakters ontwikkel? Het jy hulle gegrond op mense wat jy ken?
Nee, dit is nog ‘n skakel met die joernalistiek wat ek genadeloos moes breek. Ek dink dis heel gevaarlik om die mense wat jy ken in te span om jou karakters te word. Op dié manier dink ek nie hulle sal vir my kan werk nie.
Dus het ek hulle bedink en hulle gedroom. En dalk daarom dat hulle so stadig uit die klei uit opgestaan het, almal van hulle. My twee hoofkarakters – Inspekteur Bert Beeslaar én Saar Swarts, die moordslagoffer se suster – het aanvanklik nogal heelwat gedaantewisselings ondergaan. Totdat Beeslaar homself kom staanmaak het as ‘n knots van ‘n man met ‘n beneukte streep in hom, maar ‘n brose hart. En Saar begin uitkristalliseer het as ‘n hardekoejawel jong vrou met issues.
Oor die res van die spulletjie wil ek nie te veel kwytraak nie, want een of meer van hulle hou natuurlik die sleutel tot die raaisel …

Het jy ‘n gunsteling-karakter en waarom?
Verskeie mense skryf vir my en vertel my welke van die karakters hul gunstelinge is. Die meeste is gefassineer deur die Griekwa/San-voorman van die plaas waar die moord plaasvind, Dam de Kok. Hy is ‘n valkenier van beroep en ‘n baie eiesoortige kêrel met ‘n hele paar tjippe op die skouer.
Ek self is mal oor die een polisiesersant, Ballies Pyl. So ‘n gretige gertjie-gatkruiper wat aanhoudend in die bollie beland.

Waarom juis die Noord-Kaap, en het jou eie grootwordjare ‘n invloed gehad op die keuse?
Die mense wat weet, sê mos altyd mens moet skryf oor dit wat bekend is, anders maak jy dalk jou naam haas. En ek het grootgeword in die Noord-Kaap, op die dorp Postmasburg. Die dorp lê min of meer op die rand van die Kalahari en ek is heeltemal versot op daardie deel van ons kontinent – van sy kameeldoringbome en versamelneste en koringkrieke tot sy harige rooi romanspinnekoppe (wat ou Beeslaar so ‘n harde tyd in die boek gee).
En toe dag ek dat as ek dan nou ‘n plaas moet hê as agtergrond, gebruik ek die omgewing wat aan my bekend is en waarvoor ek intens lief is. My ganse siel sing sodra ek die rooi stowwe van daardie landstreek betree.

Beeslaar en sy mede- SAPD-kollegas maak ‘n interessante ou lotjie. En terselfdertyd ‘n gekompliseerde emosionele groepie in die “nuwe SA”. Hoe voel jy oor politieke korrektheid en regstellende aksie? Beeslaar spreek homself nogal eerlik uit hieroor.
Ag, die arme ou Beeslaar. En die arme polisiemanne en -vroue wat daagliks die werk het om die bloed op te vee in ‘n gemeenskap wat soms waansinnig van boosheid geraak het.
Ek het nogal heelwat navorsing gedoen oor wat die omstandighede in so ‘n klein eenman-polisiekantoortjie op ‘n piepklein dorpie iewers tussen niks en nêrens in die wyd uitgestrekte Noord-Kaap sou wees. Met heelparty polisiepersoneel van allerlei kleure gepraat om ‘n prentjie te kry van die frustrasies en uitdagings wat die nuwe bestel aan hulle stel. En uiteindelik so ‘n veelheid van sienings teëgekom oor regstellende aksie, dat ek soms begin vergeet het hoe ek persoonlik daaroor voel. Want ja, in sommige gevalle trek jy werklik die beste uit mense deur hulle met meer verantwoordelikhede te vertrou. Maar ook: In baaaaie gevalle knak hulle eenvoudig as hulle nie die kundigheid en ervaring het wat ‘n “reggestelde” pos vereis nie.
Dit is in laasgenoemde geval dat bekwame mense óf weggedryf word óf saam na benede gesleep word. Dat die moraal in duie stort en die slegte ouens die lewens van gewone mense hel maak.
Die idee van so ‘n stelsel is goed, maar soos alle goeie dinge werk dit net goed as dit ook reg bestuur word. En ek glo nie dis wat by ons gebeur het nie.

Daar is ‘n klomp kinkels in die verhaal. Grondeise, regse politieke faksies, misdaad, boerdery . . . Hoe het jy die navorsing benader?

Soos ek ‘n reep Belgiese donkersjokolade sou benader: watertand.

Grondeise alleen is sewe boeke, dikker as die Statebybel werd. Dis geil grond vir enige navorser, want dis ‘n verskriklike tameletjie waarby baie van die politiek van die toekoms gaan staan of val. En daar is meer as genoeg materiaal om te lees en nie-regeringsorganisasies en instansies soos die Agri SA om te spreek, ens.

Wat die regse politiek betref: As koerantjoernalis in die tagtiger- en vroeë jare negentig het ek ‘n buik vol regse politiek opgedoen – van die AWB en ander verspotte splintergroepe deur tot by die hoofstroom-verkramptes in die Parlement.

Dit was egter oor plaasmoord self dat my navorsing my die verste paaie laat ry het. Ek het veel inligting van landbou-organisasies en politieke groepe gekry, maar ek moes ook by die mense self uitkom wat slagoffers was. Dis mense wat geliefdes aan die dood afgestaan het tydens ‘n plaasmoord. Of mense wat die verskrikking van plaasaanvalle oorleef het. Dit was regtig nogal uitmergelend. Maar bitter leersaam.

Dis interessant dat jy gekies het dat Freddie se suster ‘n joernalis is. Was dit met voorbedagte rade, sodat sy die raaisel rondom die moord kon oplos?
Dit was weer eens ‘n kwessie van hou-jou-by-die-bekende. Ek wou hê dit moet ‘n hardegat meisiekind wees met ‘n wil van haar eie en ‘n natuurlike nuuskierigheid, wat nooit tevrede is met die eerste antwoord wat sy op ‘n ingewikkelde vraag kry nie en dus kompulsief verder sal soek.

En waar het jy nou ‘n beter beskrywing van ‘n joernalis as dit, hè?

Dis ‘n eg Suid-Afrikaanse verhaal wat baie sê van die komplekse samelewing waarin ons woon. Is dit moeilik om al die kompleksiteite uit te beeld, sonder om die verhaal af te water?
Nee, hoor. Want ons leef tog daagliks hierdie kompleksiteite – gewone mense soos ek en jy. Ons het in ons daaglikse handel en wandel daarmee te kampe. Ek dink dit sou vir my uiters moeilik wees om te skryf oor ‘n Finse of Switserse karakter – jy weet, ‘n polisieman in ‘n samelewing waar drie gewelddadige sterftes per jaar as ontsettend hoog beskou word. By ons praat ons natuurlik van sowat 55 per dag!

Ek kon die boek nie neersit nie en het letterlik gedeurnag om dit klaar te lees. Hoe het jy die spanningslyn so behou?
Dit was eintlik heel maklik – ek het die goeie raad by Deon Meyer gekry om altyd die snelle pas van ‘n goeie spanningsfilm in gedagte te hou. En ek het die boek ‘n aantal male herskryf om ontslae te raak van oorbodige ankers wat die pas vertraag. Dis soos ‘n lem wat jy haal vir haal skerper maak tot hy seepglad deur ‘n kraaines van kinkels en knope kan glip.

Toe jy uiteindelik jou gedrukte boek in jou hande gehad het, hoe het jy gevoel? Was dit anders as om ‘n stuk van jou joernalistieke skryfwerk gepubliseer te sien?
Dit was onwerklik. Gewoonlik is ek hoogstens een van vele bydraers tot ‘n publikasie – en staan my naam iewers in bitter klein lettertjies onderaan ‘n artikel of by die inhoudsopgawe. Maar toe ek nou ‘n ganse boek sien met nét my naam daarop, was my eerste impuls om in ontkenning in te gaan. Want ek wil my helpers en raadgewers se name ook daar sien – mense soos Deon Meyer en Hettie Scholz, wat my baie gehelp het met skaafwerk aanvanklik, en uiteindelik my uitgewer en redakteur, dr. Etienne Bloemhof, met sy fyn aanvoeling vir hierdie genre.
Dit het vir my darem bitter onveilig gevoel om so alleen-op-jou-eentjie pa te staan vir ‘n stuk werk. Maar nou ja, gee jou uit vir ‘n toffie …

Wat lees jy graag en het jy ‘n mentor of iemand wat ‘n diep indruk op jou maak deur hulle skryfwerk?
Ek lees heel graagste whodunnits, oftewel misdaadverhale, verkieslik met spanning daarby. Dus is ek ‘n groot Deon Meyer-aanhanger. Maar onder die internasionale skrywers het ek, soos iedere andere misdaadleser tans, my hart op Stieg Larsson (Girl with the Dragon Tattoo en ander) verloor. Maar my groot-groot ou staatmaker is Ian Rankin, die Skot wat die Inspekteur Rebus-reeks geskep het. Ek lees sy boeke oor en oor. Natuurlik ook mal oor John le Carré.
Weg van misdaad, lees ek alles wat Marlene van Niekerk kwytraak. Ek beskou haar as eenvoudig geniaal. Ook mal oor Eben Venter, ag en ‘n hele boel ander soos Antjie Krog.
My mooiste boeke ooit was Fugitive Pieces van die Kanadese digter, Anne Michaels, Atonement van Ian McEwan (het dit oor en oor gelees), The Corrections van Jonathan Franzen.
Lees ook ontsettend baie nie-fiksie: Wetenskap, godsdiens en sielkundige, politiek, noem maar op. Enigiets oor die geskiedenis wat Max du Preez kwytraak, byvoorbeeld.

En volgende uit jou pen?
Bevrees ek het nog nie klaargespeel met Inspekteur Beeslaar nie. Ek en hy gaan saam Krismis deursien in my kantoor daar op Stellenbosch …

  • Ansie du Toit

    Lekkerste boek denkbaar, dit le op my kerstafel, voorwaar!

  • Dania van der Walt

    Ek het die boek werklik geniet en die spanning het gebly tot aan die einde.
    Al wat bietjie gepla het was die kru taalgebruik, sekere daarvan is seker aanvaarbaar aangesien dit ‘n geharde speurder is, maar dit ontstel tog.

  • Japie Erasmus

    Waarom moet jy die naam van die Here Jesus Christus God so op die manier gebruik.Dit is my Here Jesus Christus God wat vir my en jou aan die kruis gesterf het van wie jy so sonder ontsag skryf.

  • j s erasmus

    wat is die kreteria waarvolgens kretiek geplaas word of nie

  • Pietie du Toit

    Die boek kon ek ook nie neersit nie. Dit is puik!! Die growwe taal EN die gebruik van al die Godsname was hinnerlik, vir my persoonlik.