Karin Hougaard

Boeke

Karin Hougaard oor om weg te wees uit Suid-Afrika

Om weg te wees uit Suid-Afrika laat Karin Hougaard met ander oë na Suid-Afrika kyk, maar ook anders na haarself.
In haar digbundel, Wegkaner (Karin Hougaard Produksies) gee sy uiting aan hoe haar gevoelens en uitkyk verander het en sy skryf ewe ontroerend in Engels en Afrikaans. Die gedigte vertel ‘n verhaal van hoe sy haar lewe daar waar sy in Amerika woon, ook in seisoene meet. En dié seisoene het baie te make met emosie. Om te probeer om weer te ‘behoort’ aan ‘n plek, ‘n gevoel, ‘n lewe, of soos sy in een gedig sê:

“Now
I am holding it together
the not belonging
the strangeness
the foreignness
the unfamiliar
Balancing precariously”

Daar is die gewoond raak aan hoe die hemel daar lyk en dat die sterre op ander plekke lê,  maar daar is ook die onthou van hoe dit in haar geboorteland is. Hierdie nuwe en oue word deur die hele bundel met mekaar verbind en jy kan nie anders as om te besef dit vat moed om jou te ontwortel uit die bekende en geliefde, en om oor te begin in die vreemde, maar dat Karin tog tot ruste kom, te midde van die andersheid.
Die digbundel is beskikbaar by Graffiti Books & Stationery Lynnwood Bridge, lynnwood@graffitibooks.co.za
Wegkaner (2)

Waar kom die titel van jou digbundel, Wegkaner, vandaan?
Ek het nog altyd daarvan gehou om te speel met woorde – nuutskeppings, neologismes te bedink. Vir my was die woorde “Diaspora” of “Verwaaide” te wyd, neutraal selfs om vas te vat wat ek wou sê. “Wegkaner” dui vir my spesifiek op Suid-Afrikaners wat “weg” is uit hul vaderland.

Jy noem dit ook “Seisoene van Verlang”. Het jy verskillende seisoene van verlange?
Alles het ʼn leeftyd. Ek reken soos seisoene, kom en gaan verlange, heimwee, liefde, passie, hunkering, jeug en en en en . . . Seisoene (letterlik of figuurlik) maak die proses sigbaar.

Jy skryf in Afrikaans en Engels. Hoe werk dit? Gebeur ʼn gedig bloot in Afrikaans of in Engels, of besluit jy jy skryf iets in een van die twee tale?
Nee, skryf is vir my spontaan. Ek vind egter dat ek wel in ʼn soort van “skryfmodus” inbeweeg. Wanneer dit gebeur, raak ek meer in myself gekeer en fokus binnetoe. Ek broei, kan nie regtig sê waaroor, of vir hoe lank nie. Ek het geen idee wat gaan gebeur as ek dan begin uiting gee aan my gedagtes nie. Die taal waarin ek skryf word bepaal deur wat my sneller is op ʼn gegewe oomblik. Uiteraard speel my omgewing en dié se invloede ʼn baie groot rol in my werk. Om in die VSA te wees impakteer beslis op my taalgebruik.

Vanwaar die gedig La Mantra?
Geïnspireer deur Servantes se “Don Quixote van La Mancha”. In La Mantra verslaan ek soos Don Quixote my eie windmeule – my denkbeeldige “vyande” soos strykwerk, skoonmaak, tuinwerk. My skuif van Suid-Afrika na die VSA het my op verskeie vlakke laat kennismaak met ʼn ander Karin. Ene wat nie bang is vir verandering nie, maar wat wel die bietjie-vir-bietjie wegraak in ʼn tsunami van klein huishoudelike takies, vrees. My stryd met die proses van my identiteit wat noodgedwonge metamorfeer danksy my nuwe omgewing. Word my “mantra” : “ek sal nie disintegreer nie!”

In Vervreemding skryf jy dat “my ontheemdheid
my buitestaander wees
nou uiteindelik
verantwoordbaar is.”

Voel jy anders oor jouself en Suid-Afrika noudat jy in Amerika woon?
Ek kan beslis daarvan getuig dat afstand perspektief gee. Die fisiese skuif was vir my gewis ook ʼn positiewe kopskuif. Op sekere vlakke voel ek nou vir die eerste keer werklik tuis met myself, wie ek is, watter bydrae ek gelewer het en nog kan lewer; hoe ek staan in verhouding met myself, my verhouding met ander, my verhouding met my land.
Dat om ʼn Wegkaner te wees my eintlik soveel digterby gebring het.

Wat verkies jy, lirieke skryf, dig, kuns maak  of sing?
Ek vergelyk dit graag met ouerskap. Ek verkies nie die een kind bo die ander nie, hulle is individue in eie reg, maar steeds deel van die groter familie. Onlosmaaklik. En elkeen maak my geweldig gelukkig.